Vrydag, 25 November 2016

Appelkooskonfyt

In die Suid-Afrikaanse kos kultuur is appelkooskonfyt seker die item wat die meeste in vele disse gebruik word. Dink aan jamtertjies, wildebeesogies of te wel lepelsteeltjies, konfyt skywe, tussen lagie met koeke, asynpoeding, gemmerkluitjies en die lys hou aan. Dus, moet elke huis ’n potjie appelkooskonfyt vir die wis en die onwis besit. Onthou dat wanneer appelkooskonfyt gekook word die kleur van die konfyt deur paar faktore bepaal word.

Hoe jonger die vrug, hoe ligter die konfyt. Hoe vinniger jy kook, hoe ligter die konfyt.

1 kg appelkose, halveer
750 g witsuiker
5 appelkoos pitte (in lappie verbind)
1k water

Sprinkel die witsuiker oor die appelkose en pitte en laat oornag staan om vog te trek.

Volgende dag verhit die mengsel met die water baie stadig en roer aanhoudend. Was kante van die kastrol af en sodra die suiker opgelos het, kook baie vinnig totdat die mengsel verdik vir ongeveer 45 minute.

Bottel die appelkooskonfyt dadelik in gesteriliseerde warm flesse. Onthou om die pitte uit te haal.


Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Maandag, 21 November 2016

Songedroogde Vye

Songedroogde vrugte en groente is so oud soos die berge en deesdae is ons geneig om meer gesond te wil leef en sonder preserveer middels te droog. Dus deel ek met julle my manier van songedroogde Vye.

Kies vrugte waarvan die boudjie gedeelte net begin sag word maar nie pap nie. 

Blansjeer die vrugte in kokende water van ongeveer 3 liter waarby 3 e vars suurlemoensap gevoeg is. Dompel die vrugte vir 1 minuut in en verwyder. Plaas op ’n drup rakkie en laat droog word. Jy kan vrugte heel of gehalveer droog. Grootte van vrugte bepaal ook die tempo waarteen die vrugte droog. 

Berei ’n sif voor om die vrugte in te droog. Ek gebruik ’n klerehanger wat van gaas gemaak is om die vrugte in te droog. Sien foto. Of jy kan ’n klere droog rakkie gebruik om panne bo-op te balanseer en dan met gaas toe te maak om gogga’s weg te hou. Of jy kan 'n dun garintjie deur die vye se stingels ryg en ophang, bedek met gaas en pennetjies.
Image result for Ideas for drying racks for fruit

Hanging food dehydrator~great for preserving without electricity.:
Dag 1: Pak die afgedroogde vye opdroog rakke. Plaas buite waar dit lekker warm is en genoeg ventilasie. Onthou om dit saans in te bring om dou vry te spring.

Dag 2: Draai die vye om. Jy sal sien dat daar sousies uitdrup, dit is reg so, vee af, maak skoon. Herhaal dag 1-2 vir 7 dae. Teen dag 7 sal die vye minder taai wees en begin droog word. Die vye is gereed die oomblik dat dit geen taaiheid het. Pak in flesse met stukkies lourierblaar om gogga’s af te weer. Seel lugdig. Ek verkies om die vye te vries vir die duur van 12 maande.


Sien, geen preserveermiddels!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Gepekelde Vye met Balsamiese asyn

Ek het by ’n Lebanese vroutjie hierdie resep gekry. Omdat ons jaarliks baie vye het en ek nie tyd kry om alles te bottel en bere nie, word baie vye gedroog. Hierdie gedroogde vye vind dan hul pad na hierdie heerlike piekelagtige blatjang. Heerlik as smeer met kaasborde en dan ook vleis disse. Ek het onlangs dit saam met soutterte, quiches en sout kaaskoeke bedien...die gaste was gaande oor die kombinasie.

2 k gedroogde vye, grof gekap
2 k heel pekans, grof gekap
2 lourier blare
2 ster anys peule
3 e swart peper korrels
1 k sagte bruinsuiker, treacle sugar
½ k water
1 k pinotage
1 ½ k balsamiese asyn
6 e lemoensap konsentraat
½ t sout
1 e mielieblom (maizena)
3 e water om mielieblom in aan te maak

Plaas al die bestanddele behalwe die mielieblom en water in ’n diep kastrol. Verhit oor medium hitte en roer gereeld sodat die suiker kan oplos. Kook die mengsel totdat die vog met die helfte verminder het. Maak dan die mielieblom en water aan. Roer in die kokende mengsel in en kook verder vir 5 minute tot verdik.

Bottel warm.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 500g



Kortrib met Tuisgemaakte Braai sout

Hierdie braai sout het vele gebruike en kortrib se grootste maat. Ek gebruik die sout resep ook in my wors en droëwors resepte. Loer gerus op die blog vir die resepte. Die sout maak ’n eie sousie en die geure is heerlik. Hierdie sout is ook 'n wonderlike Vadersdag of Manne geskenk!

1 kg kortrib skywe
250 mℓ (1 k) Woestersous sout
125 mℓ (½ k) Medium growwe sout
125 mℓ (½ k) Sagte bruinsuiker (treacle sugar)
125 mℓ (½ k) Koljander saad
½ t fyn naeltjies
½ t fyn gemmer
½ t fyn chillie poeier
2 t gerookte paprika (Cape Herb & Spice)
1 t rysmeel (voorkom klonte)

Rooster die koljander saad in ’n droë pan op die stoofplaat. Maal die sade daarna totdat dit medium grof is. Meng al die bestanddele, behalwe vleis saam. Stoor gegeurde sout in lugdigte houers.
Die Woestersous sout maak wat ek gebruik

Voorverhit oond na 150 en pak die kortrib skywe in die pan. Sprinkel met die gegeurde sout aan beide kante. Bak die vleis vir 3 ure. Geniet!

Hoeveelheid: 6 porsies
Bron: Annelien Pienaar, Geskenke uit jou koskas reeks 2015, Klasse:boerekostwist@gmail.com





Donderdag, 17 November 2016

Churros

Ek het die eerste keer Churros in Kanada geproe met ‘n koppie Cafe Grande! Dit is een groot sopkommetjie gevul met melk koffie en dan met hierdie happie op die kant. Dit was ongelooflik. Die geskiedenis kan die saak nou nie mooi uitpluis nie, want die Spanjaarde reken dit is eie aan hulle, die Portugese en Chinese sê dit is hulle gereg. Maar as ek nou my stuiwer in die armbeurs kan gooi, dan dink ek dit is die Chinese sin! Die Portugese was mos seevaarders en ek vermoed met hul reise, dat hul op hierdie eenvoudige maar smaaklike happie afgekom het en dit hul eie gemaak het....maar ja, die geheim is graf toe!

Wat is churros? Dit is basies Choux deeg wat diep vet gebraai word soos in die geval van Pomme Dauphines (aartappel wat in die choux deeg ingemeng word). Sien resep op blog daarvoor. Daarna word die bros vingers met kaneelsuiker gesprinkel en met ’n sjokolade drankie bedien. Deesdae is die neiging met sjokolade sous koppies. Heerlik vir kinder partytjies, skemerkelkies, vingerhappies.

150 g (1 k plus 1 e) koekmeel – gesif
15 mℓ (1 e) witsuiker
250 ml (1 k) water
½ t sout
60 g (4 e) botter
1 eier
200 g witsuiker
15 mℓ (1 e) kaneel

Kook die water met botter en sout saam. Verwyder van hitte en roer die meel en suiker by. Die meel sal van die kante van die kastrol lostrek. Bedek en laat afkoel.

Voorverhit olie asook oond na 120 C. Plaas stukkie brood in warm olie om te toets of dit warm genoeg is. As die broodjie dadelik opkom is die olie gereed.

Klits die eier by die deeg en plaas in versierbuis met groot ster punt. Spuit lang werpige vorms direk in olie en knip met skêr af. Druk die skêr se punt gereeld in olie. Braai die churros vinnig bruin. Laat afdrup. Hou warm in oond.

Sodra al die churros gemaak is: meng die suiker en kaneel saam. Sprinkel oor die churros en bedien met warm sjokolade drankie in die winter maande of sommer net vir die lekker met sjokolade of karamel sous.  Soms drup ek heuning of koeksisterstroop oor...die lys hou nie op nie!

Skakels na souse
Sjokolade sous: http://boerekostwist.blogspot.co.za/2015/05/sjokolade-dekadensie.html
Karamel sous: http://boerekostwist.blogspot.co.za/2015/09/karamel-sous.html
Brandewyn sous: http://boerekostwist.blogspot.co.za/2016/11/brandewynsous.html

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Bos en Berg gasteplaas

Hoeveelheid: 50 vingers van 5 cm lank.

Dinsdag, 15 November 2016

Ekonomiese Vrugtekoek van Dorette

Dorette se moeder het vir jare hierdie wonderlike koekgebak en vandag word die tradisie voortgesit. Die koek is heerlik klam en kry fyn pynappelstukkies in die beslag. Die koek is regtig ekonomies en almal kan Kerskoek op die tafel hê. Baie dankie vir die deel van jou familie juweeltjie.

500 g (3 1/3 k) vrugtekoekmengsel
125 g (½ k) bakmargarien of botter
200 g (1 k) witsuiker
1 blik 310 g, fyn pynappel
140 g (1 k) heel glanskersies
5 mℓ (1 t) gemengde speserye
5 mℓ koeksoda
100 g (1 k) pekans of gekapte verglansde vrugte

Kook al die bestanddele saam behalwe die koeksoda en pekans vir 5 minute. Haal van hitte af en roer die pekans en koeksoda by. Laat in erdebak of glasbak oornag staan sodat die vrugte kan uitswel. Indien jy haastig is, sal 2 ure genoeg wees.

2 ekstra groot eiers, geklits 
140 g (1 k) koekmeel
140 g (1 k) bruismeel
1 mℓ sout

Voorverhit oond na 180 en berei een pan van 23cm deursnit voor met ‘n dubbel laag waspapier.

Roer eiers by vrugtemengsel in. Sif droë bestanddele en roer in. Skep in voorbereide pan(ne). Bak bedek teen 180 vir 30 minute en dan verder teen 150 vir nagenoeg 2 ure.

Indien jy verkies om die koek te “dokter” gebruik 125 mℓ sjerrie en giet oor die warm koek. Laat die koek goed afkoel en dokter na ‘’n week weer die koek met 125 mℓ sjerrie. Draai goed toe in foelie en kleef plastiek en die koek kan vir maande gestoor word.

Bron: Dorette Standeer van Rooyen, 2016 vir BKT

Hoeveelheid: 750-800g koek

Kersfees inspirasie vir Klein en Groot


10 of the best DIY Christmas ornament ideas to try out this year for the most unique tree #christmasideas:


In my familie is die gebruik om elke jaar vir Kersfees ornamente vir die kersboom te maak. Hierdie versierings is ook vir ons gaste 'n blykie van waardering en hulle mag 'n versiering van die boom neem. Dit is tradisie dat daar geen kommersiele geskenke gegee word nie. Die ouer wat vir sy kind 'n duur geskenk wil gee, kan dit tuis doen. By ons, is daar nie sulke stories nie. Samesyn, liefde, kers-sang, swem, buite speel tot die son weer opkom is wat ons deel.
Beings I have lots of sheet music from years ago I love this idea! Can't wait for Christmas! Haha:

This Spare Sock Snowman is adorable. Check out the website for the tutorial with all the tips and tricks you need to make it.:

{Muffin Pan Calendar} Excellent idea for advent or a countdown to anything really!:
Advent Kalender met Muffin pan

Toiletpapier rolletjie sterretjies


Toilet Paper Roll Art TP Tube ideas:

Cupcake doillies
DIY Crafts with Coffee Filters | Crafts for Kids by DIY Ready at http://diyready.com/uses-for-coffee-filters-diy-projects-and-ideas:


Alternatiewe kersbome
"Uradi sam" - božićne dekoracije - Uređenje doma:

Mooi kersboom versierings
Easy fun craft for #kids:
De 9 leukste en origineelste kerstversieringen om zelf uit te proberen!

Wooden Sled Ornaments | Fireflies and Mud Pies:

How To Fold Lovely Origami Hearts:
Sheet Music Mason Jar Christmas Candle. This is a awesome gift idea for music lovers. It also adds vintage style to your home decorations:
pallet wood christmas trees, christmas decorations, painted furniture, pallet:
Rustic Angel Christmas Tree Topper- Angel Tree Topper Decoration made from reclaimed wood by KentuckyReclaimed on Etsy https://www.etsy.com/listing/170645651/rustic-angel-christmas-tree-topper-angel:

Pallet wood Christmas tree - work in progress ❤️:
Cookies for Santa, pallet Christmas serving tray, reclaimed wood tray, rustic…:

Sondag, 13 November 2016

Brandewynsous

Ons ou volkie is maar lief vir geurige kos en brandewyn sous kom al jare saam met ons. Bedien hierdie sous saam met enige nagereg, stroop tipe koeke en onlangs uit gevind hoe heerlik dit is saam met wafels, roomys en gevulde pannekoeke en pampoen poffers! Geniet...

Die oorspronklike resep gebruik net witsuiker. Ek het gevind dat die brandewyn beter gekomplimenteer word met die gebruik van die donkerder suiker. Damarera is ongewoon ryk en regtig die element wat hierdie sous een stappie verder neem. Maar vir diegene met 'n knap begroting sal gewone Treacle sugar ook die ding doen. 

750 mℓ (3 k) kook water
100 g (1/2 k) witsuiker
100 g (1/2 k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
1 duimpie vars gemmer, gekneus
2 kaneel stokkies
10 mℓ (2 t) mielieblom
15 mℓ (1 e)vlapoeier
45 ml (3 e) botter
60 mℓ (4 e) brandewyn

Plaas die gemmer en kaneel stokkies oornag in ‘n vlekvrye staal bak en bedek met kookwater.

Volgende dag verhit die gegeurde water met suiker. Laat die mengsel vir 10 minute kook. Verwyder kaneelstokkie en gemmer.

Maak die mielieblom en vlapoeier met 50 mℓ water aan en voeg by kokende suikerstroop. Kook 5 minute om te verdik. Verwyder van hitte en voeg brandewyn by.

Brandewyn kan voor bediening ook bygevoeg word as jy die alkohol element wil behou. Vir kinders sal ek dit by die kokende stoop voeg sodat die alkohol kan uitkook.


Kan in die yskas vir ’n maand gestoor word.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 500 ml

Saterdag, 12 November 2016

Outydse Doekpoeding of Jan-in-die-sak

Doekpoeding is ’n basies vrugtekoek wat gestoom word binne-in ’n lappie binne ’n diep kastrol. My opinie is die oumense het dalk soms nie toegang tot oonde gehad om vrugtekoek te bak nie en het dan planne soos hierdie gemaak om die koek bo-op die stoof plaat of oop vuur te maak. Ek het baie ou Afrikana kookboeke en het toe die idee gekry dat dit die situasie mag gewees het. Die ander naam wat hierdie poeding genoem word, is Jan-in-die-sak!

Jan-in-die-sak kan met ’n ou kussingsloop of stuk laken gemaak word. Die materiaal moet van dunnerige linne wees. Selfs melkdoek nie kaasdoek, sal ook geskik wees asook ongebleikte linne. In ouer geskrifte lees ek ook dat niervet gebruik is i.p.v. botter, as die smeer in die gebak. Gelukkig is ons dit vandag gespaar!

Vir interessantheid: Die Engelse, gebruik dieselfde waterbad manier om die nagereg gaar te maak. Die nagereg word in ‘n keramiek bak geskep en dan met ’n linne lappie aan die bo-kant toe gebind. Die toutjie word lank gelos aan beide kante om die bak maklik uit te lig. Selfde gaar word tyd, met die waterbad metode. Ek het persoonlik beide tegnieke probeer en dit werk goed. Verlede Kersfees het ek mooi keramiek bakke gekoop en as geskenk die poeding daarin gebak, mooi toe gedraai en die lap hoedjie weer opgesit. Daarmee saam het ek ’n potjie van my dekadente karamelstroop bygesit en die familie was in die wolke.

Wees gewaarsku: Moenie die kastrol se deksel oplig voordat 2 ure verbygegaan het nie!

Bedien met 'n Brandewyn sous of ons is lief vir Karamelsous op die blog. 

1 kg (6 ½ k ) koekvrugte mengsel
160 g (1 k) kersies
100 g (1 k) pekan neute of amandels gebreek
60 mℓ (4 e) gekapte gemmer konfyt
500 g botter
8 eiers
200 g (1 k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
250 mℓ (1 k) gouestroop
500 g (3 ¾ k) koekmeel
5 mℓ (1 t) bakpoeier
2.5 mℓ (½ t) sout
5 mℓ (1 t) koeksoda
5 mℓ (1 t) fyn kaneel
5 mℓ (1 t) fyn neutmuskaat
5 mℓ (1 t) fyn gemmer
120 g (2 k) vars witbrood krummels
2 appels gerasper
125 ml (½ k) brandewyn
125 mℓ (½ k) sjerrie
80 cm x 80 cm linne doek
Ekstra koekmeel

Neem die doek waarin jy die koek gaan stoom en dompel in warm water, droog uit, sprinkel dik met ekstra koekmeel en laat staan. Gebruik ’n siffie om die koekmeel te strooi. Onthou hierdie deel is baie belangrik want dit voorkom dat die koekbeslag sal uitsypel uit die doek.

Meng die vrugtekoek mengsel, kersies, neute, gemmerkonfyt saam. Sprinkel die mengsel met ongeveer 4 e van die koekmeel uit die resep. Werk deur die vrugte. Rede: Die meel keer dat die vrugte in die beslag na onder sak as dit gebak word. Hierdie beslag is loperig teenoor ’n normale vrugtekoek. So dit is belangrik dat dit gedoen word.

Klits die eiers en suiker saam totdat dit lig en romerig is vir ongeveer 5 minute op vinnigste verstelling van jou elektriese klitser. Voeg die stroop by en klits goed. Voeg dan die brandewyn by en plaas eenkant.

Sif al die droë bestanddele saam. Voeg die botter by en vryf in met vingerpunte totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg dan die gerasperde appels en witbroodkrummels by.

Meng die meel- en eiermengsel saam. En roer goed deur. Die beslag sal loperig wees...

Neem doek en skud die oortollige meel versigtig af. Plaas in diep bak en skep die beslag in die lap. Knoop die punte saam, maar laat genoeg spasie vir die poeding om te rys of met toutjie vasbind. Jou keuse.

Neem ’n groot eetbord en plaas in gepaste kastrol, hierdie dien as ’n valsbodem anders kan die poeding brand. Vul dan die kastrol met ’n derde kook water en laat die water borrelend kook. Plaas die poeding versigtig in kokende water, maak seker die poeding is met die water bedek, anders, vul aan met kookwater.

Maak seker die deksel seel dig. Indien nie, plaas ’n ekstra gewig op die deksel. Kook dan 5-6 ure oor lae hitte. Loer by die 2 ure merk of die water nog genoeg is, vul aan met kokende water tot die poeding bedek is.

Sodra die poeding gaar is lig uit en knoop oop en sprinkel die sjerrie oor die warm poeding. Bedien warm of stoor soos vir vrugtekoek.

Bedien met karamelstroop van die blog.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 12 porsies

Vrydag, 11 November 2016

Romany Creams

Groot dank aan my Kos-ikoon, Caroli de Koster en outeur van menige kookboeke vir haar wonderlike resep wat sy met ons deel. Indien dit jou ooit beskore kan wees om haar boek reeks: The Art of Cooking aan te skaf, sal ek jou beloof, die boeke is van hoogstaande gehalte wat Vakkundige inligting aanbetref. Grootste belegging wat ek jare gelede as jong Voedsel dosent gemaak het!

Hierdie reseppie is ’n “no nonsense” resep. Al die bestanddele word opeens saam geklits, gerol en gebak. Sommerso een, twee, drie en jy is klaar. Vir my hang die sukses van die koekie af van die smeer wat gebruik word. Hou by die drie wat ek aanbeveel. Jy kan later goedkoper gaan as jy waaghalsig wil wees...vir eers wil ek verseker dat jou eerste poging ’n klinkende sukses sal wees.

250 g (1 ¼ k) botter of Rama/Stork bake margarien
210 g (1 k) strooisuiker
280 g (2 k) koekmeel
5 mℓ (1 t) bakpoeier
60 mℓ (4 e) kakao
120 g (1 ½ k) klapper
2.5 mℓ (½ t) sout
5 mℓ (1 t) vanieljegeursel
15 mℓ (1 e) melk

Berei bakplate voor met Koekepanne smeer van die blog. Voorverhit oond na 180 .

Hand elektriese klitser: Klits botter en strooisuiker saam tot lig en donsig. Voeg dan die res van die bestanddele by en knie liggies.

Staan menger: Gebruik deeg hak en meng al die bestanddele saam totdat ’n deeg vorm.

Indien dit ’n warm dag is en die mengsel is effens pap, verkoel vir 30 minute voordat jy balletjies maak. Ek plaas ook my bakplate in die vrieskas as dit so warm is, die koekies bak net beter.

Meet 1 e (15 mℓ) deeg af of druk deur koekie drukker. Rol balletjies en spasieer 20 mm uitmekaar. Druk die koekies effens plat met vurk indien bolletjies gemaak is.

Bak vir 10 minute by 180 . Sodra koekies klaar gebak het, haal uit panne en laat afkoel op draadrak.

Smelt 200g bak sjokolade in dubbel koker. Die water moet net effens kook en die bak wat bo die kastrol hang moenie aan die water raak. Plak die koekies twee-twee op mekaar.

Bron: Carolie de Koster, Art of Cooking, 2016
Hoeveelheid: 60 halwes of 30 koekies.




Maandag, 07 November 2016

Gestoofde Vrugte (Compote)

Gestoomde gedroogde vrugte is vir my ‘n heerlike bykos saam met ontbyt asook sekere soort nageregte soos roomys, wafels, pavlova...en die lysie hou nie op nie! My gewoonte is om die droëvrugte van my keuse eers oornag in rum gegeurde water te laat hidreer. Die volgende oggend is dit 10 minute se kook en voila!

500 g pruimedante (of enige van jou gunsteling gedroogde vrugte)
500 mℓ (2 k) kook water
1 kaneel stokkie of ster anys peul
5 mℓ rum geursel
100 g (½ k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
15 mℓ (heuning)

Plaas vrugte in vlekvrye staal kastrolletjie en voeg die kookwater, kaneelstokkie by en roer goed deur. Voeg die rum geursel laaste by. Laat oornag staan met deksel op. Indien jy nie oornag laat staan het nie, is ‘’n uur meer as genoeg vir hidrasie.

Verhit die vrugte met suiker en heuning, kook vir 10 minute tot sag en uitgeswel. Laat afkoel.

Vir my ontbyt happie wat ek gemaak het, het jy nodig:
500 mℓ Yoghurt van keuse
200 g Bessies van keuse (kersies gebruik)
500 g Meusli (resep op die blog)
1 takkie vars ment blare gekap
Eetbare blommetjies

Pak die vrugte in lagies net soos dit jou die dag pas...ek pak nooit die lagies dieselfde nie...so lekker speel en lekker eet. Onthou...jy kan dit saam met nageregte ook bedien.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016
Hoeveelheid: 6 porsies



Vrydag, 04 November 2016

Suurlemoenstroopkoek met Mascarpone versiersel

As ek aan 'n fyn en dekadente happie dink, dan sien ek altyd hierdie heerlike botterkoek van my moeder met die klam tekstuur en die geure van suurlemoen. Hierdie resep is 'n alles in een resep met die koek, stroop en versiersel ingesluit. Geniet. 

Koek
250g Botter of Rama bak margarien
400 g (2 k) Suiker
4 ekstra groot Eiers
125 mℓ (½ k) Melk
420 g (3 k) Koekmeel
15 mℓ (1 e) Bakpoeier
5 mℓ (1 t) Vanielje geursel
15 mℓ (1 e) suurloemoenskil
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
2.5 mℓ ½ t Sout

Voorverhit oond na 180 en smeer twee ronde koekpanne van 25 cm deursnit met koekepannesmeer. Voer die panne se bodems uit met waspapier.
Verroom die botter en suiker saam tot lig geel en donsig.

Voeg dan die eiers een vir een by, klits eers baie goed voordat die volgende eier bygevoeg word. Die mengsel moet weer lig en donsig word.

Voeg die melk, suurlemoenskil en –sap by en meng deeglik.

Sif koekmeel, sout, bakpoeier saam en vou met draadklitser by die eiermengsel in.

Bak die koeke vir 45 minute totdat die toets stokkie skoon uitkom. Haal uit oond en giet suikerstroop oor koek en laat afkoel.

Suikerstroop
250 mℓ (1 k) water
100 g (½ k) witsuiker
125 mℓ (½ k) vars gedrukte suurlemoensap
1 kaneelstokkie
15 mℓ (1 e) suurlemoenskil

Kook al die bestanddele saam vir 10 minute en giet oor warm koek en laat goed afkoel. 

Mascarpone versiersel
200 g Botter of Rama/Stork bake koud, gerasper
500 g Versiersuiker
30 mℓ (2 e) Melk
60 ml (4 e) Kook water waarin 1 e gelatien opgelos is
30 mℓ (2 e) Suurlemoensap
15 mℓ (1 e) Suurlemoenskil
15 ml (1 e) Cocorico of klappergeursel
20 ml Vanielje geursel of geursel van keuse
150 g Mascarpone (kan ook met roomkaas vervang word)

Gelatien: voeg gelatien in kook water, roer tot opgelos en soos stroop lyk. Indien nog korrelrig, plaas bakkie in kookwater en roer weer.

Klits die botter tot sag en romerig. Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die mascarpone en gelatien mengsel. Klits weer tot baie lig en donsig. Dit neem met 'n elektriese klitser ongeveer 5 minute. Voeg dan die mascarpone en gelatien by en klits weer 5 minute.

Halveer elke koek sodat daar vier lae is. Smeer met versiersel en eindig met mooi versiersel rose. Indien versiersel loperig is, verkoel vir 5 min en voel die dikte of dit reg is vir spuit. Oppas om te lank te los dit kan kaaskoek word!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, vir Bos en Berg gasteplaas.

Hoeveelheid: dubbel lag koek

Woensdag, 02 November 2016

Torrone Nougat

Hierdie metode van Nougat maak is vir my persoonlik die maklikste manier. Jy sal dadelik teen die einde van die proses die gevoel kry en ook sien as die nougat gereed is. Die tegniek wat hier gebruik word, is lank, maar dit is die oer oue manier van nougat maak. Dit is egter baie belangrik om heeltyd te roer en wanneer die neute bygevoeg word, seker te maak dat al die bestanddele warm ingaan. Indien dit nie gedoen word sal die nougat onmiddellik set en jy kan nie dit vorm nie. So, hou neute en vrugte warm in die oond. Ek het vir hierdie resep pekans gebruik maar jy kan met die 400 g neute speel en 100g vrugte stukkies in werk en die res gemengde neute. Jou keuse.

Indien jy nie ryspapier het nie: 250 ml mielieblom saam gesif met 250 ml versiersuiker. Voer jou bak net met kleefplastiek uit. Spuit lagie kleefwerende kos sproei en sif dik laag mengsel. Sodra die nougat in die bak gedruk is, sprinkel weer met mengsel en bedek met kleefplastiek. 

350 g (1 1/3 k) heuning (hoe ligter in kleur die heuning, hoe ligter die nougat)
50 g glukose stroop (indien jy nie het nie kan dit met heuning vervang word)
250 g witsuiker (1 k + 3 e)
2 jumbo eierwitte, kamertemperatuur
Knippie sout
1 t vanieljegeursel
4 k (400 g) Pekannneute
Ryspapier
Ballon klitser van metaal

Voer 'n A 4 grootte bakplaat kleef plastiek uit, ongeveer 4 cm diep. Plaas ’n vel ryspapier met die glanskant na buite op die bodem.

Plaas heuning, glukose stroop en suiker in kastrol en verhit teen lae hitte vir 30 minute en roer heeltyd. Die suiker moet teen die einde gesmelt wees.

Klits die eierwitte tot sagte punt stadium met ‘n draadklitser of ballon klitser (whisk). Gebruik hier asb. ’n metaal draadklitser en nie plastiek nie, die mengsel word baie dink teen die einde en plastiek sal inmekaar te druk.

Skep met die draadklitser ’n hopie van die eierwitte en klits met die hand deur die heuning mengsel. Hou so aan totdat al die eierwitte ingewerk is. Dit sal ongeveer 6 byvoegings wees.  Onthou jy kook die hele proses oor lae hitte, niks mag borrel nie.

Plaas so lank neute in bakplaat en verhit by 100 .

Hou aan roer oor lae hitte vir ongeveer 40 minute. Die mengsel sal dik begin word, die kleur sal glansend wit wees. Om te toets of die meringue gereed is: Lig die klitser op en as dit linte trek en bo-op die meringue gaan lê, moet dit meer as 5 sekondes neem om te verdwyn en nog steeds bo-op  lê. Is die mengsel  gereed om die verhitte neute by te voeg.

Voeg die neute en vanielje by die meringue en werk baie, baie vinnig. Roer alles met houtlepel deur en skep in bak. Neem ‘n skoon deegskraper wat met olie afgevee is en druk die mengsel plat. Plaas weer ryspapier bo-op die mengsel met die blink kant na bo. Plaas kleef plastiek bo-op en neem ’n nog ’n bakplaat wat presies dieselfde grootte is en druk dit bo-op die nougat sodat die oppervlakte van die nougat gelyk kan word. Druk op die kante van die bakplaat en nie in die middel nie, verwyder die bakplaat en laat die nougat goed afkoel en stol vir 5 ure. Sny met skerp mes in blokkies.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Notas: Lekkergoed klas vir Boerekos Twist

Hoeveelheid: 1 A4 vel 

Dinsdag, 01 November 2016

Eenskottel Aartappelgereg

Wanneer ek kook, kook ek groot. Die Filistyne van my kry ongelukkig twee dae agter mekaar dieselfde kos! Soms moet mens maar net so beplan vir besige dae dat daar kos is as jy nie tuis is. My een staatmaker resep bly maar aartappelgereg. Ons geniet hierdie dis soms as ‘’n hoofmaal of as ‘’n ligte middagete. Koud of warm, die gesin hou daarvan.

500 g baba aartappeltjies, gewas, halveer
4 e olyfolie
1 groot ui, gekap
1 soet rissie, gekap
250 g sampioene
1 e knoffel
250 g spekvleis, bros gebraai
5 skyfies salami
250 mℓ room
2 e koekmeel
2 e mielieblom
1 k kaas, gerasper
1 e dill tippies (Cape Malay reeks)
1 t gerookte paprika (Cape Malay reeks)
1 eier
1 blikkie room mielies
Sout en peper na smaak

Pak aartappels in gesmeerde oondvaste skottel en voorverhit oond na 180 .

Braai uie en soetrissie tot gaar. Voeg sampioene by en kook totdat al die vol verdamp het. Voeg knoffel, spek en gekapte salami by en braai vir 1 minuut lank.

Voeg die res van die bestanddele by mekaar en klits deeglik,  sout en peper na smaak. Voeg gebraaide bestanddele by eiermengsel en sprinkel ekstra kaas oor indien verkies. Bak vir 45 minute.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 6-8 porsies