Maandag, 31 Oktober 2016

Koekstruif / Triffle

In my kinderjare het ek nie baie goeie herinneringe van Koekstruif nie...die mense wat dit gemaak het, het die bestanddele saamgegooi en deurmekaar geroer en dan het dit glad nie aptytwekkend gelyk nie. Ek het die dag toe ek trou maar moes leer om die gedoente te maak en wel, ook geleer dat dit nie ’n “moer en roer” storie is nie. Nee, jy kan die mooiste lagies met bestanddele van jou keuse insit.

Hierdie spesifieke foto was een waar ek die gesin betrek het. Ek het elkeen gevra wat hul gunsteling happie is wat hul in die Koekstruif wil hê. Sussie skree kliphard nog voordat die twee Filistyne kan praat: “Jellie, mam’s, jellie”. Ouboet skud net die kop en vra vir ouma se Koejawelskuim en rooikop vra vir dik vla. Pappa soek natuurlik rolkoek.

Ek moet erken ek was lui. Na kerk het ek ’n rolkoek en reeds aangemaakte vla gekoop. Met my pakkie onder die arm is ek by die winkel uit en reguit huis toe om te begin. Die kinders moes gaan aarbeie pluk en natuurlik het daar net ’n handjie vol hul weg na die kombuis gevind. Want sussie se rooibek verklap die pad wat die res gevolg het...Ek het oor die twee ouer Filistyne se skouers geloer en bietjie leiding gegee...dus, hierdie foto is 'n uitbeelding van hulle eie kreatiwiteit. Ons het lekker gespeel!

1 gekoopte rolkoek
1 pakkie rooi glans kersies
Vars aarbeie soveel as wat jy wil
1 blikkie geblikte perskes
1 k pekans

Jellie
1 pakkie rooi jellie
240 mℓ kook water
240 mℓ yswater

Voeg kookwater by jellie en roer goed totdat al die jellie opgelos het. Voeg die koue water by en roer goed deur. Plaas in yskas om te set.

Gestolde vla
500 mℓ Ultramel
15 mℓ gelatien poeier
50 mℓ kookwater

Los die gelatien in die kookwater op en roer totdat alles gesmelt het. Voeg by die vla en laat eenkant staan.

Koejawel skuim
1 pakkie rooi jellie
1 blikkie koejawels
1 blikkie ingedampte melk, verkoel
250 mℓ kookwater


Los die jellie in die kookwater op. Hou aan roer totdat dit gesmelt is. Plaas eenkant om af te koel, nie yskas nie.

Plaas die blikkie ingedampte melk in yskas oornag, want dit sal nie styf klits as dit nie koud is nie. Klop dan die ingedampte melk totdat dit styf is. Voeg die fyn gedrukte koejawels by en roer goed deur. Voeg nou die jellie by.

Laat eenkant staan en begin om die ander bestanddele voor te berei. Sny die rolkoek in 1 cm skywe en pak dit in mooi glase of  ’n glasbak tot ongeveer ‘’n kwart van die houer met die skywe. Gooi nou ‘’n laag van die koejawelskuim. Plaas die gevulde houer in yskas en verkoel vir 15 minute.

Haal houer uit yskas en pak ’n laag rolkoek bo-op die koejawel skuim en pak vrugte teen die kante en vul op met vlamengsel...hou so aan totdat al die bestanddele opgebruik is. Rond af met gebreekte jellie laag en neute.

Bron: Die Pienaar kinders! 2016

Hoeveelheid: 6 - 8 persone

Woensdag, 26 Oktober 2016

Annelien se Vrugtekoek-twist!

Hierdie koek is ongelooflik klam. Die bestanddele het ek so uitgewerk dat dit ’n ekonomiese koek is om te bak. Jy kan wel luuks gaan met die koek soos om ’n kwart van die koekvrugte met glansvrugte soos makataan stukke of vye te vervang. Verder kan die resep sonder alkohol gemaak word en die alkohol kan met vrugte sappe soos appelsap en lemoensap vervang word. Ek sit bietjie kakao by die mengsel om die smake van die speserye op te tel. Dit is regtig subtiele geure wat so perfek trou met die res van die bestanddele, wat hierdie dus ’n buiten gewone vrugtekoek maak wat smake aan betref. Alles in fyn balans gedoen.

VOORBEREIDING VAN VRUGTE
1 kg gemengde koekvrugte
400 g (2 k) sagte bruinsuiker (Treacle sugar)
300 g (2 k) glanskersies – gesny
200 g (2 k) pekans
150 g (1 k) gekapte dadels
250 g botter - Rama of Stork bake is ook geskik
750 mℓ (3 k) water
10 mℓ (2 t) suurlemoensap
125 mℓ (½ k) sjerrie
10 mℓ (2 t) koeksoda

Kook gemengde vrugte, bruinsuiker, kersies, dadels, botter, water en suurlemoensap saam. Kook vir 20 minute.

Verwyder van hitte en voeg koeksoda, sjerrie en pekans by warm vrugtemengsel en meng goed. Laat die mengsel tot koud afkoel.

KOEKBESLAG
560 g (4 k) Eureka mills se koekmeel
45 mℓ (3 e) kakao
15 mℓ (1e ) bakpoeier
5 mℓ (1 t) fyn gemmer
5 mℓ (1 t) fyn kaneel
4 eiers - goed geklits
½ t sout
125 mℓ (½ k) Sjerrie of Brandewyn

Berei panne van ongeveer 23 cm deursnit voor deur dit met ‘n dubbel laag waspapier uit te voer. Plaas eenkant. Voorverhit oond na 160 .

Sif die koekmeel, kakao, bakpoeier, sout, gemmer en kaneel saam, meng nou die meelmengsel en geklitste eiers om die beurt in die vrugtemengsel in.

Skep in panne. 850 g koekvulsel per 15cm pan is perfek. Jy kan met die vorms van die panne speel. 

Bak die koek vir 3 tot 3 ½ ure by 150 . Sprinkel alkohol oor die warm koek en laat dan heeltemal afkoel voordat uit die panne gehaal word.

Bedek koek met waspapier laag, draai toe in kleefplastiek en laaste met foelie. Stoor by kamertemperatuur en maak ’n merk sodat jy weet wat die bokant en die onderkant van die koek is. Sodra jy die koek wil “dokter” na ’n week moet die onderkant na bo gedraai word, sprinkel met alkohol, onthou dat hierdie nou so na bo moet wys en so gestoor word sodat die alkohol na onder kan sypel. Doen so vir 4 keer. Na 4-5 weke is die koek gereed.

Mikrogolf kan ook ingespan word vir die bak van die koek: 18 minute op hoog, bedek bak met kleefplastiek. Onthou om nie meer as 850g beslag per baksel te bak nie. Laat afkoel soder om oop te maak na lou, sprinkel dan met alkohol of sap.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Boerekos Twist kook klasse: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 4 x 15 cm koeke van 750 g elk of 2 x 1.5kg groot koeke van 23cm 

Dinsdag, 25 Oktober 2016

Vis en Chips Twist

Onlangs staan ek by ‘n kettingwinkel groep se vis afdeling en die kwyl loop behoorlik vir ‘n stukkie vis. Ek kyk na die prys en skielik is ek nie meer so lus, want dit is duur. Ek loop ’n draai en staan voor die vleis rak om iets vir aandete te kry. Ek begin appels met appels te vergelyk en kom tot die gevolgtrekking dat die visfilette wat ek so pas oorgestaan en droom het, wel tog goedkoper uitwerk as die vleis. Dat ek vir X bedrag nog steeds die gesin se aandete met dieselfde begroting kan kook en dat daar ekstra sal wees.

Vreeslik in my noppies koop ek die vis en kom tuis. Pluk vars suurlemoene, suurlemoenblare, dill en begin met die voorbereidings. Ek het in die yskas baba aartappeltjies in sy jassie van gisteraand se ete en haal dit uit om as stysel bykos te bedien. Wel, die slaai was ’n kwessie van gooi in wat ook al gesond in die yskas is. My gesin het soos konings op ’n klein begroting geëet.

5 Stokvis filette, skelvis, tongvis en vele ander kan gebruik word
150 g botter
100 mℓ vars suurlemoensap
5 e dill, tippie gedeelte gekap of 5 ml gedroog
45 mℓ (3 e) fyn knoffel
500 g gaar baba aartappel
60 mℓ (4 e) olyfolie
60 mℓ (4 e) Parmasaan gerasper
Sout en peper
2 vars suurlemoene in wiggies gesny

Voorverhit oond teen 120 en plaas opdien borde in die oond om warm te word.

Verhit botter en skep die skuim af. Voeg die suurlemoensap, dill en knoffel in die warm botter en verhit. Plaas filette met vel kant na onder op binne-in die kokende botter mengsel. Braai vir 4 minute aan die eenkant en draai dan. Plaas op absorbeer papier en skep in warm borde.

Terwyl die vis gaar word verhit nog ‘n pan met olyfolie en braai die aartappeltjies met sout en peper na smaak tot bros en goed warm. Sprinkel die aartappeltjies met Parmasaan. Sodra die vis gaar is, skep die aartappels in die vis se pan en meng om die sous oor die aartappeltjies te kry.


Bedien warm met suurlemoen wiggies en mengsel slaai van keuse. Sous wat ek aanbeveel is die Tartare sous op die blog. 

Bron: Annelien Pienaar, 2016, epos: boerekostwist@gmail.com

Moerbeikonfyt

Ek het altyd gedink ek sal daardie fase van moerbei vingers nooit weer sien nie! Ek was gek oor moerbeie maar die vuil voete en vingers het my as kind afgesit. Ja en toe word ek mos ‘n mamma! Jongste Filistyntjie kom gereeld van die boord af terug saam met pappa en dan sit ek met die vuilbekkie, rooi vingertjies en swart voetsole...ja en ook die vuil klere! Ek het ook geleer om makliker moerbeie te oes en slimmer te werk gegaan. Ek het skadunet gespan onder die bome en dan skud ons die boom met die trekker...voor dit moes ou George (tuinwerker met wie ek so ‘’n love hate aksie aan het...want altyd dronk..seker al vir 28 jaar!) met sy dronk stert die boomklim om te skud. Die net word opgelig en al die vruggies rol na een sentrale punt binne-in die emmer. Daarna spoel ons die moerbeie goed en verwerk soos nodig.

2.5 kg moerbeie, gewas en stingel afgeknip
1.6 kg (8 k) wit suiker
500 mℓ (2 k) water
60 mℓ (4 e) vars suurlemoensap
80 mℓ (1/3 k) appel pektiensap (sien les oor Appelpektien op blog)
1 kaneelstokkie (opsioneel)

Plaas moerbeie en water in diep kastrol. Sprinkel witsuiker oor die moerbeie en laat oornag staan om sap te trek.

Variasie: die moerbeie kan vooraf puree word en dan met suiker dadelik gekook word.

Volgende dag, verhit die mengsel en kaneelstokkie oor stadige hitte om die suiker op te los en roer aanhoudend. Onthou om die kante van die kastrol waar suiker kristalletjies vasklou af te was met ‘’n nat kwassie.

Sodra al die suiker opgelos het kook die moerbeie op baie vinnige hitte vir 60 minute of totdat die mengsel begin verdik en ‘’n derde van die mengsel weg gekook het. Voeg die appelpektien en suurlemoensap by en roer goed deur, kook 10 minute.

Verwyder mengsel van hitte en rus 5 minute voordat die mengsel gebottel word in warm gesteriliseerde flesse.

Bron: Annelien Pienaar, 2016 vir Bos en Berg gasteplaas. Preservering klas.epos: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 1.5 liter

English Version
2.5 kg mullberries, washed, stem removed
1.6 kg (8 cups) white sugar
500 ml (2 cups) water
60 ml (4 tbsp) fresh lemon juice
80 ml (1/3 cup) apple pectin juice (see lesson on Apple Pectin on blog)
1 cinnamon stick

Optional step: Mulberries may be liquidized if preferred. From this stage the mulberries may be cooked immediately or stand over night with sugar.

In a large enough soup pot add the mulberries and water. Sprinkle with sugar and let sit overnight.

Next day, let simmer over low heat while stirring constantly until sugar has dissolved. Wash sides op pot with wet brush to remove sugar crystals. 

When sugar has dissolved boil rapidly for 60 minutes or until a the jam has reduced by a third. Add lemon juice and pectin and boil for 10 minutes. Remove from heat and let sit for 5 minutes. Bottle in warm sterilized jars. Seal airtight.

Woensdag, 19 Oktober 2016

Eiervrug blatjang

Hierdie resep is eens op ‘n tyd uit nood gebore. My groentetuin was op “turbo boost” en die eiervrugplant wou nie ophou vrugte produseer nie. So was ek uit nood gedwing om maar verskeie opsies te ondersoek om die vruggie weg te werk, want weggooi dit doen ek nie. Uitdeel ja! Maar as jou buurvrou begin verskonings soek, dan is ‘n geskenk dalk ook soms ’n oorlas!

2 kg eiervrug
3 e sout
5 groot uie, geskil en grof gekap
1 liter asyn
1.3 kg (6 ½ k) witsuiker
4 e geel mosterdsaad
1 k rosyntjies
4 e swartpeperkorrels
1 k water
3 e mielieblom
1 e achaar masala (sien resep op blog)
1 e fenegriek sade
4 e fyn knoffel
½ t fyn gemmer
½ t mosterdpoeier

Sny eiervrug sonder om te skil in 2 cm repe. Sprinkel elke skyf met sout en laat 10 minute staan, spoel af.

Kook asyn, suiker, mosterdsaad, rosyne, peperkorrels saam. Voeg uie en eiervrug by en kook die mengsel vir 45 minute op hoë hitte.

Maak die mielieblom aan met water, masala, fenegriek, fyn knoffel, gemmer, mosterd poeier. Kook die mengsel totdat dit verdik vir ongeveer 5 minute.

Bottel warm in gesteriliseerde flesse.

Bron: Annelien Pienaar, boerekostwist@gmail.com, 2016

Hoeveelheid: 2 liter

Maandag, 17 Oktober 2016

Waarom Sourdoughbrood eet?

Baie mense is op allerlei diëte vir allergieë en kinders word toenemend gediagnoseer met ADHD, ADD en my vraag is: Is Gluten of brood regtig die “culprit”? Ja, jy gaan my seker nou hard oor die vingers tik, maar lees eers my artikel voordat jy baklei. Ek erken dat mense allergies kan wees vir gluten, maar die persentasie allergiese reaksies kan verlaag en mense kan beter gediagnoseer word. Konstante kortisoon behandeling is glad nie gesond nie en het weer ‘n ander slegte uitwerking op jou liggaam. Verder is die ADD en ADHD medikasie inhiberend op kinders se groei en maak sommige kinders aggressief...alles omdat die industrie goed in ons kos gooi wat doodeenvoudig sleg is vir ons! Die FDA doen nie hul werk nie.

Kom ons begin by die begin en die spil waarom alles draai...die graankorrel en gluten. Wanneer die graankorrel in die landery groei, word dit aan omgewings elemente blootgestel soos mikro-organismes, in die vorm van skimmels en bakterieë. Hierdie mikro-organismes word vervoer na die verwerkings aanleg na afloop van die oesproses. Die graankorrel word deur die industrie op twee maniere verwerk naamlik die kommersiële- of natuurlike verwerkingsproses. Hier is dus waar die waterskeidings merk vir allergieë begin.

Kommersiële proses: die korrel se drie dele, kiem, endosperm en semel laag word geskei. Die endosperm word dan deur metaal rollers gerol en dit veroorsaak dat die meel warm word. Hierdie proses het strukturele veranderinge wat plaasvind t.o.v. proteïene en stysel. Daarna gaan die meel na ’n kamer waar dit dan deur chemiese middels soos peroksiede en bromate wit gekleur en ook gedroog word. Hierdie proses is ’n baie vinnige proses en meel se draai tyd is baie vinnig vir die kommersiële mark. Daarom dat die meel goedkoper is deur vinnige prosesse. Die kiem word nie met die wit meel verenig nie. Verder moet daar vir jou vraagtekens opkom oor hoekom daar gesê word dat ‘n produk verryk word. Hoekom moet dit verryk word, hoekom het dit verlore gegaan? Dieselfde geld vir winkelbrood...vol preserveermiddels wat ’n sneller is vir ADD en ADHD kinders. Ek praat hier uit ervaring! Wat gebeur in die bloedstroom as vreemde elemente dit betree? Witbloedselle (leukosiete) is soos soldaatjies. Ek noem hulle packman mannetjies waarvan elkeen se mondjie ’n ander vormpie is om die vreemde voorwerpe wat daarin pas te verwyder wat sleg is vir die liggaam. Goed, nou kom daar iets in wat daar nie voor ’n mannetjie is nie, dan gaan die liggaam en produseer teen die spoed van witlig antiliggame om die vreemde voorwerpe te  vernietig. Dit is hoe ‘’n allergiese reaksie gebeur! Jou DNA is nie gemaak om peroksiede en bromate te herken nie...dit is dus die outjies wat deel is van die probleem.   

Natuurlike proses: die korrel se drie lae word geskei. Die endosperm word teen ‘n lae spoed gemaal om friksie wat hitte opwek te minimaliseer en dus ook veranderinge in strukture te voorkom. Daarna word die kiem wat die voedsame deel is met vitamiene, olies en minerale teruggesit by die endosperm (wit deel). Dus is hierdie meel ook op ‘n normale manier verryk. Daarna lê die meel vir ’n wyle en suurstof word daardeur geblaas om oksidasie en verkleuring van die manier op ‘n natuurlike manier plaas. Hierdie is wel ‘n lang proses en kos duurder, maar gesonder by uitstek. Meeste van die grane in SA wat deur die verskillende meulenaars gebruik word, is gesertifiseer as G.M.O vry.

Wanneer ons sourdough doen gebruik ons glad nie kommersiële meel nie, omdat dit vol chemiese middels is wat die goeie mikro-organismes gaan dood. So moenie eers probeer om ‘n plantjie aan die gang te kry met kommersiële meel. Die plantjie wat gebruik word kan verskeie name kry soos Levain, Altus, Pate Fermente ens...beginsel vir almal is: meel en water word saamgemeng en is die omgewing waarin al die mikro-organismes sal intrek en dit sal laat fermenteer. Nou kyk ons dieper in hierdie proses. Die mikro-organismes wat intrek is hoofsaaklik Sacchromyces Verguus (giste) en Lacto Bacillus (bakterieë). Hierdie is die goeie mikroörganismes wat gebruik gaan word om die brood mee te rys. Dit is ook hierdie mikroörganismes wat voordelig is vir spysvertering en goeie ensiematiese werking bevorder.

Die proses van sourdough is een van geduld en tyd. As ons na die prosesse kyk is daar elemente wat mooi verstaan moet word wat gebeur in die meel. Wanneer water en meel saamgemeng word vind daar struktuur vorming plaas in die meel. Die proteïene gliadien en glutenien absorbeer water en vorm gluten. Hoe langer die deeg gelos word, hoe beter die bindings...hierdie proses word “autolyze” genoem en skakel ellelange knie prosesse uit. Gedurende die proses van autolyze word daar ’n ensiem met die naam “amylase” geaktiveer. Hierdie ensiem breek komplekse suikers in die stysel van die meel af, na eenvoudige suikers vir die mikroörganismes om te gebruik vir fermentasie. Hoe langer die proses hoe meer komplekse suikers word afgebreek en beter strukturele bande in die gluten word gevorm. Kan jy dus sien dat die kommersiële brode nie deur ’n lang proses gaan van brode produseer nie? Jou liggaam reageer baie meer positief op hierdie natuurlike prosesse.

Wanneer giste hierdie vereenvoudigde suikers verbruik word daar CO2 (koolstof dioksied gas) en alkohol (smaak komponent) vrygestel. Die bakterieë in die plantjie gebruik ook die vereenvoudigde suikers en stel ook CO2 vry maar lewer ’n suur in die vorm van Astetic- en melksuur. Hierdie suur is baie belangrik omdat dit ’n pH van die plantjie na voedsel veilig verlaag. ’n Veilige pH vir plantjies is pH 4.1. Indien jy nuuskierig is om te toets gebruik swembad strokies.

Nou is jy seker lekker deurmekaar en nie meer lus om die proses aan te pak nie. Dit is makliker as wat dit lyk. Die punt is jy moet eers verstaan wat in jou liggaam gaan gebeur as jy winkelbrood eet of sourdough brood. In die klas is daar die 10 gebooie van broodbak en as jy dit eers ken bak jy toe-oë sourdough brood. Onthou ons oumas het hierdie brood gebak en in hulle tyd het jy nie gehoor van enige gluten allergie en nonsens nie. Hulle het met plantjies gebak en die aand voor die tyd ingesuur. Dan vroegoggend deeg opgemaak en dan middag se tyd gebak. Sien, dit is nie veel anders as wat ek nou beskryf het nie, ons het vandag yskaste en die laaste rys kan gemanipuleer word...

So, kom kuier vir my en doen jou eerste Sourdough klas en maak ‘n belegging soos ek, in die gesondheid van jou hele gesin.

epos my by: boerekostwist@gmail.com


Bakkers vla of Crème Patisserie

Ons het met hierdie resep grootgeword as melktertpap. Min het ek geweet dit is Crème Patisserie totdat ek die dag verder gaan studeer het. Basies is dit ‘n eiervla wat verdik word met stysel en uitsluitlik met eiergeel gemaak word.

500 mℓ melk
6 ekstra groot eiergele (eierwitte kan gevries word, of gebruik word in Pavlova of meringues)
75 g (80 ml )(6 e) strooisuiker
20 g (45 mℓ) (3 e) mielieblom
25 g (45 mℓ) (3 e) koekmeel
5 mℓ (1 t) vanieljegeursel
15 ml (1 e) botter

Verhit melk totdat dit begin kook....wenk: smeer kastrol se bodem met olie om aanbrand te voorkom.

Klits eiergele en suiker saam tot liggeel en romerig vir ongeveer 5 minute. Voeg die mielieblom en koekmeel by en klits weer baie goed. Voeg kokende melk by mengsel en klits goed deur. Giet terug in kastrol en kook vir 10 minute terwyl jy roer tot gaar. Verwyder van hitte en giet in skoon bak.

Voeg vanieljegeursel en botter by. Klop tot glad. Plaas kleefplastiek opwarm vla en laat afkoel.

Gebruik om doppies, terte ens. te vul.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Patisserie klasse: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 600 mℓ vla.


Maandag, 03 Oktober 2016

Botterskorsie-Karamel Pekan gebak

Die gereg het ’n sagte binnekant wat in sy eie karamelsousie gaar bak en afgerond word teen die einde met ’n krakerige Pekan streusel lagie. Hierdie gereg is uit nood gebore omdat ek vergeet het om gas te koop vir my hob en wel en net aangewese was op my oond! Eintlik is hierdie dis moeite-vry om te maak. Geluk by die ongeluk.

1 kg botterskorsie blokkies
60 mℓ (4 e) olyfolie
100 g (½ k) sagte bruinsuiker

Voorverhit oond na 180 en smeer ’n oondvaste skottel met botter.

Plaas botterskorsie in oondskottel met dig passende deksel of bedek met foelie. Sprinkel olyfolie oor en rond af met sagte bruinskuiker. Roer om goed te meng. Bak in oond vir 60 minute tot sag.

Streusel
100 g (1 k) pekans
1 t kaneel
100 g (½ k) sagte bruinsuiker
115 g (½ k) botter
100 g (1 k) gemmerkoekies
1/2 t sout

Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en kap totdat dit soos fyn broodkrummels lyk. Sprinkel ’n dik laag op die botterskorsie. Bak by 200 vir 15 minute tot bros en krakerig.

Bron: Annelien Pienaar vir Bos en Berg gastehuis, 2016. Kook klasse: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 6 porsies

Saterdag, 01 Oktober 2016

Komyn en Papawersaad broodstokkies

Broodstokkies is vir my persoonlik, een van daardie uiters veelsydige happies, wat amper by alle geleenthede kan inpas op die spyskaart. Dit kan as ‘n happie by ‘n skemerkelkie bedien word, by ‘n ontvangs van ‘n bruilof terwyl die gaste rondstaan en kuier, gewoon net met ‘n braai, wat van die kinders met ‘n partytjie, of...’n lekker boek klub kuiertjie bedien met die aller heerlikste doopsouse en smere.

Daar is geen reël wat sê dat jy komyn en papawersaad moet gebruik nie. Ek het al parmasaan en biltong gebruik, gedroogde olywe, stukkies spek, son gedroogde tamaties en vele meer...Of...bak 3 lekker groot brode!

1kg (7 k)  Snowflake witbrood meel (ek vind Snowflake se meel is ekstra fyn gemaal)
10 ml (2 t) Sout
10ml (2 t) Suiker
1 Kitsgis, sakkie
50 ml (4e) Olyfolie
50 ml (4e) Melk, lou warm
600 ml Sterk lou water (250ml vir gis aanmaak en res vir knie)

Bolaag opsies:
Geroosterde Komyne saad (bo-oor sprinkle)
Cheddar kaas gerasper
Papawersaad
Uie saad

Los die gis en suiker in 250ml sterk louwater op en laat staan 5 minute totdat skuim vorm. Sal lyk soos ‘n diklaag skuim op bier.

Sif meel en sout saam en meng goed.

Vryf die olyfolie in die meel in totdat dit nie meer sigbaar is.

Voeg nou die oorblywende water en melk by meel mengsel en knie vir 10 minute. Todat die deeg los kom van jou hande en die kante van die skottel

Laat deeg rus en rys tot dubbel die volume. Knie af. Weeg die deeg af in 30g balletjies en rol elke bolletjie ongeveer 30cm lank uit. Twist nou die lang stokkie op beide punte Laat die strootjies op ‘n bakplaat vir 30 minute rus sodat dit weer kan rys. Smeer met geklitste eier en strooi die saadjies of kaas oor.


Bak vir 35 minute by 200°C in voorverhitte oond. Die brood is gaar as jy daarop klop en dit het ‘n hol geluid en trek los van die kante van die panne. 

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm,co.za
Hoeveelheid: 100