Donderdag, 31 Maart 2016

Heuningkoek

My moedertjie het my geleer lekkergoed maak. Dit was die dae waar daar nie goeters soos suiker termometers beskikbaar was. Ek onthou die lang glaswater en dan die drup van die kokende suiker in die glas om die hardheid van die balletjie wat vorm te bepaal. Tegnologiese vooruitgang het my die kans gegee om my ma se resep bietjie af te stof en te restoureer!

Ja, ons praat van Crunchies soos in die binnekant van ‘n Crunchie sjokolade. Daar is baie resepte wat vra dat jy koeksoda in die kokende stroop sit en as jy nie jou storie ken nie, wel dan sit jy met seep! So het ek ander alternatiewe geraadpleeg en op ‘n dag op my ma se resep afgekom en ek het dit gemaak met ‘n breë glimlag in my hart! Ja, dit kry koeksoda in, maar dit proe nie soos seep nie!

Resep
¼ t Gelatien
10ml Water
300g Wit suiker
125ml Glukose- of Goue stroop
125ml Water
12.5ml Koeksoda (sif asb deeglik om klontjies te verwyder)

Metode:
1. Ek is maar lui vir die smeer van panne, so ek span maar waspapier in vir die takie. Gebruik ‘n bak van ongeveer 15cmx15cm. Net glas of metaal is geskik vir hierdie projek.

2. Sprinkel die gelatien oor 10ml water en laat dit staan sodat die gelatien kan hidreer.

3. In ‘n vlekvrye staal kastrol wat redelik diep is, meng die suiker, glukose stroop en water saam. Verhit die mengsel oor medium hitte en roer totdat al die suiker opgelos het. Was die kante versigtig met ‘n kwassie wat in water gedoop is af. Sodra al die suiker opgelos het, kook die mengsel sonder om te roer totdat jou suiker termometer 153℃ lees.

4. Verwyder die stroop van die hitte en laat dit vir 2 minute afkoel of totdat die borrel opgehou het. Voeg nou die gelatien by die mengsel, wees versigtig die mengsel gaan op kook en jy kan lelik brand. Werk vinnig met die ballon klitser en werk die gelatien deur. 

5. Nou vir die deel waar jy gaan skuim maak, jy kan hier ook brand. Sprinkel die koeksoda eweredig oor die oppervlakte van die suiker stroop. Moenie die koeksoda in een hoop gooi nie!!! Klits die mengsel so vinnig as wat jy kan met die ballon klitser en plaas die kastrol terug op die hitte en klop weer vir halwe minuut. Die storie gaan woes skuim...moenie skrik, dit moet so wees.

6. So gou as moontlik keer die inhoud van die kastrol uit in die uitgevoerde bak. Jy sal sien dat die hele suiker besigheid in een blob uit die pot sal val. Jy het nie nodig om dit uit te skep nie. Moet ook nie poog om die mengsel eweredig te versprei nie. Laat dit net so anders druk jy die lug uit. Laat die mengel staan vir 2 ure of langer voordat jy dit uit die pan haal.

7. Nou vir die breek en sny slag. Dit is ‘n storie der stories om hierdie outjie in netjiese stukkies te sny! Ek het op ‘n keer my man se vleis saag ingespan om die blokkies mooi eweredig te sny. Dus, gebruik ‘n mes met tandjies om die besigheid te sny. Maak eers ‘n snytjie om die lyntjies in te trek. Jy hou aan om so te “score” totdat jy onder uit kom. Of as jy lui en belustig is...wel dan laat jy die bak val op die toonbank sodat dit kan kraak!

8. Plaas in ‘n lugdigte houer. Ek sprinkel rysmeel onder in die bak want dit absorbeer baie van die vog wat in die lug mag wees en voorkom dat die gedoente aan mekaar vasplak of smelt.

9. Jy kan ook die stukke in sjokolade doop!!! Sprinkels opsit! Aaag dit is sommer net ‘n heerlike projek waar jy die kinders kan betrek.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 750ml bottel vol.

Maandag, 28 Maart 2016

Piesang en Pynappel tert



Ek weet ek tree nou teen my goed denke op maar ek het ‘n jaar gelede hierdie reseppie vir die “Banana split salad” by ‘n vriendin gekry. Ek het geskaaf en skuur en my eie stempel afgedruk op die resep. Die resep gebruik ietsie uit ‘n dosie en ek haat geriefsvoedsels. Maar hierdie sondetjie sal ek so een keer per jaar aandurf! Julle gaan hierdie enetjie sommer baie geniet!

Resep
1 Dosie Kits Piesang poeding
1 Blikkie kondensmelk
125ml Suurlemoensap
250ml Room, styf geklits
1 Blikkie fyn Pynappelstukkies
250ml Malvalekkers gesnipper of mini malvalekkers
2 Piesangs, in ringetjies gesny (kan met bessies ook vervang word)
½ k Kersies, indien jy dit kan bekostig, marachino cherries!
½ k Neute van keuse

Metode:
1. Maak die Kits poeding aan deur die sap van die pynappels met die poeier te meng. Meng dan die stukkies by.

2. Meng die kondensmelk en suurlemoensap saam en laat eenkant om dik te word.

3. Vou die styf geklitste room in by die kitspoeding mengsel asook die kondensmelk mengsel.

4. Vou die malvalekkers, piesangs, neute en kersies in by die res van die mengsel. Skep in bak en laat om te set.

5. Indien jy kreatief wil wees kan die mengsel in ‘n tertpan geskep word en met ander vrugte versier word en neute. Jy kan ook suiker bakkies neem en die vulsel daarin bedien. So speel met die aanbieding van hierdie lekkerny!

Bron: Anke Pienaar, 2016 
Hoeveelheid: 6 porsies

Saterdag, 26 Maart 2016

Boere Samoosa’s



Ek is baie bevoorreg om toegelaat te word om deel te wees van my Moslem vriendin se gesin. Sy bel gereeld en dan moet ek kom kuier as hulle besig is om vir spesiale geleenthede te kook. In haar nederige kombuisie op die plaas het ek al soveel ure wat ek eintlik in jare al kom omsit, beleef. Vir hierdie wonderlike gesin is dit heerlik om my boerekos te eet en die gevoel is wederkerig. Naceema is veral trots op my fyn oog en hoe vinnig ek tegnieke optel. Ek dink die eending wat ek altyd gevrees het was die eie filodeeg maak. Naceema het lekker gelag oor hierdie reseppie wat ek nou vir julle gaan gee, en dit Boere Samoosa’s gedoop. Eendag as ek moed het sal ek vir julle probeer leer om die regte ding te maak. Maar vir nou...sal hierdie een moet doen! Die verskil met die deeg is dat dit blasies maak en dit dra by tot 'n meer growwer voorkoms as die gladde filodeeg of Puri wat Naceema hulle maak.

Mens is geneig om te dink dat Samoosa vulsels veronderstel is om “nat” te wees. Maar nee, die samoosa vulsel moet droog wees. Wanneer die samoosa gebak word en daar is te veel vog in die vulsel, sal dit in stoom omgesit word en die deeg sal oop bars en die vulsel sal uitloop. Daarom word samoosa’s altyd met ‘n pikante sousie bedien vir indoop om die droëe vulsel aan te vul. 

Ek het ‘n goedkoop pasta masjientjie en ek gebruik dit om die deeg mooi egalig en dun uit te rol. Hoe dunner die deeg hoe krakerigier kom die deeg uit. Ek stel voor jy speel met die deeg en vind uit watter dikte vir jou geskik gaan wees. Ek gebruik die deeg nie net om samoosa’s te maak nie. Ek voeg by die meel 2t Komyn of Vinkel saad en rol dit dan dun uit en vlak vet braai die deeg en bedien dit soos “chips en dip”. Moet asb nie ontmoedig wees om die deeg te maak nie. Die hoeveelheid van die deeg is van so ‘n aard dat maklik gerol kan word met ‘n koekroller.

Resep
Deeg
250g Koekmeel
30ml Olyf olie
130g Water, ja jy lees reg, ek weeg my water! Meeste maatbekers is verkeerd gekalibreer!

Metode:
1. Meng die deeg en knie tot glad en egalig. Laat die deeg vir 2 ure rus voordat jy dit begin rol.

Vulsel
250g Hoender of Bees maalvleis
15ml Olie
1 Ui, klein, fyn gekap
¼ t Kerrie poeier
¼ t Gerookte Paprika
¼ t Fenegriek
Sout en peper na smaak

Metode:
Braai al die bestanddele saam totdat al die vog uit is. Laat eenkant om af te koel.

Tamatie Raita
1k Yoghurt
100g Tamaties, pitte en sap verwyder, vleis fyn gekap
30ml Ui, fyn gekap
15ml Vars koljander (Cilantro), fyn gekap (indien nie invoorraad enige groen kruie blaar)
¼ t Komyn, fyn

Metode:
1. Meng al die bestanddele saam en verkoel tot voorbediening.

Die Samoosa vou
1. Rol die deeg dun genoeg uit dat jy amper daar

deur koerant kan lees...ongeveer 1mm dik. 

2. Sny die deeg dan in repe van 6cm by 20cm. Die deeg wat oorbly word weer saam geknie en uitgerol.

3. Skep ongeveer 2e vulsel op die punt van die samoosa en vou dan in driehoekies. Seel die punte met eierwit. Verkoel die klaar gerolde deeg voordat jy dit gaarmaak. 

4. Voor verhit olie in ‘n pan, diep genoeg sodat die samoosa bedek sal wees. Braai die deeg vinnig tot goudbruin en bros. Bedien warm.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2013 
Hoeveelheid: 10-12 Samoomsa’s

Donderdag, 24 Maart 2016

Fyn tee tafel broodjies!

"Al die foto's wat op hierdie werk gebruik is, is sommiges nie my eie nie. My doel is nie om geld met dit te maak nie, maar vir navorsing en inspirasie..." Groete Annelien


Hierdie is vir my 'n pragtige idee met die olyf. Maak 'n salsa van soetrissies en bind met bietjie gelatien. Onder maak jy 'n ricotta en feta lagie. Hou alles bymekaar met 'n stokkie en pragtige gevulde olywe. 

Om toebroodjies altyd klam te hou vind ek dit goed om vars blare tussen die broodjies in te sit om klamheid te behou. Verder het ek 'n spuitkannetjie met water en olie gemeng wat ek goed skud voordat ek spuit. Spuit met 'n ekstra fyn mis net een spuit oor die broodjies voor opdiening.

Hierdie broodjies het avokadopeer vulsel, eiergeel vulsel met mayonnaise gemeng. 


















Vars bruinbrood broodjies. Gebruik enige van die bruinbrood resepte op die blog om hierdie uiters vullende broodjies mee te maak. Avokadopeer, mozzarella en blaarslaai afgerond met vars suurlemoensap, sout en peper.






Hierdie verpakking help ook om  te voorkom dat broodjies uitdroog. Hier het ons van onder na bo: tamatie pesto, salami, mozzarella, baba spinasie.
Wens ek kon nou hierdie broodjie gryp en in my piekniekmandjie gooi en hol vir die dam se wal waar die son sopas begin sak het. Parma ham, avokadopeer en slaaitjie.
Volgraan broodjie reseppie van die blog met vars groen kruie, heerlike vars gemaakte ricotta (resep is ook op die blog)...die res laat ek aan die verbeelding oor.
Hierdie styl Ciabata is my gaste se gunsteling waarvan hulle nie genoeg kan kry nie...Ek sny skywe brood, smeer met olyfolie en dan met 'n knoffeltoontjie oor gevee. Daarna pak ek gerookte hoender, groen goeters in die tuin, spek, uie en tuisgemaakte mosterd (resep op die blog).
Nog 'n idee van broodjies wat in bruin papier toe gedraai is om te voorkom dat dit te vinnig uitdroog. Die lae vertel self die storie.














Halwe pannekoek met salm opgerol

Ek het onlangs van hierdie vurkies by Woollies gekry. Tuis gegroeide alfafa sade, maaskaas en komkommer lagies...
Ek dink hierdie kan nogal heerlik afgaan met so 'n stukkie spekkie tussen in...spek en heuning werk baie goed saam.
Koekie drukkers is 'n goeie idee om spesiale tee partytjies se temas mee uit te beeld soos 'n baba tee of ietsie fyn vir 'n verjaardag..
Die foto sê alles!

















 Soet maaskaas vulsel, ietsie soortgelyk aan 'n bloubessie kaaskoek! Dekadent en keurig.
 Pragtige oop broodjies.
 Maaskaas is en bly altyd 'n goeie neutrale basis om brood lagies aan mekaar te hou. Maaskaas kleur ook maklik met kruie en speserye soos borrie, saffraan, bessie sap ens.
 Hierdie is wel nou nie broodjies nie maar Skilferkors deeg wat in klein vierkantjies gesny is met kouevleis en kaas vulsel. Verder aan mekaar gehou met 'n tande stokie. Hierdie happie kan ook gevul word met 'n tuna mousse om te voorkom dat die degie droog is en in die keel vas steek...
Hierdie broodjie skree "hap my asb!" Eenvoudige vulsels, maar die kontrasterende oranje wat afgerond word met die tikseltjie groen van die blaartjies maak dit net sprokies mooi.
 Hierdie brood neem ek is vooraf gekleur tydens die knie proses en dan so in lagies gensy. Perfek vir 'n ooievaars tee.


 Onlangs het die broodbakker in my dorp my baie skuins aangekyk toe ek vra dat hy die brood vir my deur sy snymasien moet sit...Daai ene by die deur waar jy die brood self kan laat sny. Die brood moes nie soos gewoon ingaan nie, dit moes in baie lang skywe gesny word. Dus het ek uit een brood ongeveer 8 snye gekry, Met dit kon ek lang repe kry wat mooi spirale kon vou om broodjies soos hierdie te maak sonder dat die bene soos die van sleg vroue oopspring!
 Ham, kaas en tamatie broodjies met sout en peper bly my gunsteling. Maar ek HAAT dit as brood pap word van die sap van tamatie. Dus maak ek seker ek sny die tamatie en laat dit vooraf op kombuispapier droog word voordat dit op die broodjie gaan. Sit liefs die kaas en ham eerste en laate die tamatie...
 Verskeie spesialiteitsbrode met ham, komkommer en gekookte pasta toegedraai.

As jy van lyne hou is hierdie die perfekte "canape" vir jou...kyk hoe mooi kan eenvoudig bestanddele rangskik word. 
 Moenie bang wees om met Canapes te speel nie...kyk hoe mooi vertoon die broodjies.
Kyk hoe slim! 
 Wees versigtig as jy vulsels maak soos met die beet een dat dit nie te nat is en in die broodjie bloei. Onthou, mens eet eers met die oog, dus is netheid en goeie afronding van uiterste belang.


Kinder speletjies!!! Aarbei konfyt en room? 

Woensdag, 23 Maart 2016

Die beste Boontjiesop ooit!

1. Boontjies bevat 'n aflatoksien genaamd Phaseolus vulgaris. Hierdie toksien op die buitekant van die boontjie veroorsaak erge winderigheid, maagkrampe, diaree en hoofpyn. Nou verstaan ek hoekom my man van kompressie pitte praat!

2. Om van die toksiene ontslae te raak moet die boontjies oornag in water geweek word sodat dit kan afkom. Die bone moet vir 10min gekook word dan om die toksien maksimaal te verwyder. Spoel met elke proses die bone deeglik af.

3. Verder kan jy normaal kook...ek kook altyd my boontjie sop in die Slow cooker en hou dit daarin vir opskep en dan weet ek dit bly ook heelik warm.

4. Ek het al uit ondervinding geleer om maar die pakkie boontjies uit te gooi in 'n skinkbord en al die klippies en stokkies te verwyder...


Resep
2k Suiker bone, droog
2 Uie, grof gekap
8k Koue water
250g Spek vleis of beesskenkel
2k Melk
1 pakkie Beesstertsop
2e Suurlemoensap
Sout en peper na smaak

Metode:
1. Verwyder eers alle onsuiwerhede in die bone en was dit voordat dit oornag in koue water geweek word.

2. Gooi die water die volgende dag af, spoel bone weer, en vul kastrol waarin jy die bone gaan kook weer met nuwe vars koue water.

3. Verhit die bone en kook stadig tot dit kook en voeg die spek by. Laat vir 1 uur kook.

4. Voeg die uie by en kook nog 'n uur.

5. Druk die bone met 'n masher effens fyn, of soos jy daarvan hou.

6. Verhit weer totdat die sop kook en voeg geurmiddels by.

7. Verdik die sop met die aangemaakte beesstert sop en melk, laat opkook en bedien met tuisgbakte bruibrood en varkvet.

Lewer: 6 porsies

Bron: Hantie Bezuidenhout, 1975

Bief Stroganov (ja die spelling is reg!)

Die resep is van Russiese afkoms. As voedsel student was hierdie gereg een van die disse wat van jou as student verwag was om te maak sonder om na ‘n resep te kyk. Eintlik is dit ‘n tegniese dis om te maak. Nommer een moet jy die vleis goed seel deur klein hopies vleis oor hoë hitte te braai sodat die vleis sappe behoue bly. Daarna word die vleis in meel gerol en dan verder met ‘n aftreksel, uie en sampioene gekook tot murg sag. Die dis word dan later met room afgerond voor opdiening. Na jare se resepte toets het ek soveel weergawes van die resep gesien, sommiges verdik hul souse ander doen dit glad nie. Die resep wat ek vir julle gee is iets wat van my studente jare kom en so aangepas totdat ek van die smaak hou. Dus het ek die oud met nuut gekombineer. Deesdae as ons bees slag gebruik ek die taaier snitte soos bolo om die dis mee te maak. Ek gebruik ook dan die hutspot sodat die vleis heerlik sag kan word. Geniet!

Resep
15ml Olyf olie
15ml Botter
1 Ui, fyn gesny
250g Knopies sampioene, fyn gesny
5 Stingels seldery, fyn gesny
500g Beesvleis blokkies of repies
30ml Koekmeel
90ml Brandewyn
250ml Vleis aftreksel
2 Lourier blare
15ml Geel mosterd sade
250ml Suur room
5 Stingels seldery, fyn gesny

Metode:
1. Voor verhit ‘n pan oor hoë hitte. Sny die vleis in blokkies of repies en braai in klein hopies (handjies vol) tot gaar. As jy te veel vleis op ‘n slag in gooi gaan die pan se hitte val en die vleis sappe gaan uitvloei. Dus werk vinnig en klein. Plaas die gebraaide vleis in ‘n kastrol waarin die res van die bestanddele later gevoeg gaan word. Sodra al die vleis gebraai is voeg die koekmeel oor die blokkies vleis en meng deeglik deur. Hierdie meel dien as die verdikker van die sousie.

2. Braai die uie, sampioene en seldery in die vleis pan. Verwyder van hitte en voeg by die vleis. Plaas die pan terug oor hitte en voeg die brandewyn by en steek aan die brand. Die brandewyn dien as geurmiddel, maar indien jy kinders gaan voed, flambe eerder die alkohol sodat dit kan verdamp. Voeg die aftreksel by die pan en kook sodat die vleis en groente kan oplos. Voeg dan die sous by die vleis en groente in die groot kastrol. Voeg die lourier blaar en mosterd sade by.

3. Kook oor medium hitte en roer van tyd tot tyd. Hou die deksel op vir hierdie tyd. Indien jy die hutspot gebruik sal dit 6-8 ure duur. 

4. Net voor opdiening roer die suurroom by die gereg en sout en peper na smaak.

5. Bedien met rys, pasta, aartappels of cous-cous.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za,2016 
Hoeveelheid: 4 porsies

Baklava

Hierdie is een van my stoutste bederfies aan myself. 

Resep
500g Fillo deeg
1k Amandels gemaal
4-5k Amandels of Pekans grof gekap
1k Pistasio neute gekap
300g Strooisuiker
1t Kardamom, gemaal
345g Botter

Stroop
400g Suiker
500ml Water
125ml Goue stroop of heuning
30ml Suurlemoensap
15ml Rooswater

Metode:
1. Meng die neute en die suiker met die kardamom saam. 

2. Smeer ‘n 36x27xm bak met gesmelte botter uit.

3. Sny die deeg in die grootte van die pan. Hou die deeg sag deur dit op ‘n koekroller te rol en dan met ‘n klam doek toe te maak.

4. Pak nou eers ‘n laag filodeeg teen die kante van die bak asook die basis. Gebruik die afval stukkies vir hierdie deel. Pak dit in twee lae. Sprinkel nou die neute mengsel eweredig oor en plaas weer twee velle filo deeg op die neute, hou so aan totdat die lagies voltooi is met ‘n laaste dubbellaag filo.

5. Sny nou die filo met ‘n skerp mes direk in die bak in die vormpies wat jy wil hê, dit kan in diamantvorm, vierkantig of reghoekig gesny word.


OF 

Sny die deeg in lang repies van ongeveer 4-5cm breed en 25cm lank. Skep van die vulsel oor en rol op. Gaan aan met stap 6.

6. In ‘n dun straaltjie laat die gesmelte botter oor die deeg loop. Bak die deeg by 160℃ vir 60 minte tot 90 minute. Die deeg moet goudbruin wees voordat dit uitgehaal word.

7. Maak dan die stroop terwyl jy die laaste 10 minute wag. Kook die water en die suiker saam, totdat dit ‘n stoop word oor hoë hitte. Voeg die stroop of heuning by asook die suurlemoensap. Laat weer opkook en haal van hitte af. Sodra die mengsel afgekoel het tot lou, voeg die rooswater by. Laat goed afkoel. Voeg die koue stroop oor die warm deeg en laat dit vir ‘n dag staan om goed in te trek.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: Ongeveer 50 stukkies as jy mooi sny

Dinsdag, 22 Maart 2016

Growwe Karringmelk beskuit met 'n Les

Ek is lief vir my beskuitjie in die oggend en dan weer by 15h00 middag koffietjie. Maar deur die jare sien mens al hierdie dieete wat verby kom en weer ‘n stille dood sterf. Eending is verseker mens kan nogsteeds gesond eet en op ‘n natuurlike manier jou dieet aanvul.

Ek gebruik deesdae gemaalde roulynsaad (Milled Flaxseeds) in my beskuit resepte. Hierdie sade is baie ryk aan Omega’s en verder wanneer dit vog kry swel dit uit. Dus voel jy gouer versadig deur hierdie wonderlike saadjie jou dieet in te sluit. Ongelukkig as jy dit in die onverwerkte formaat gebruik kan die omga’s nie ten volle ontsluit word en jou liggaam absorbeer nie soos wat dit moet. In die gemaalde vorm (jy kan self die sade tuis fyner kap) is die olie ontsluit en kan dit dadelik in die spysverteringstelsel absorbeer word. 

Nog ‘n belanrike feit van omega’s is dit verskaf elektriese geleiding tussen die breinselle...ja, hoeveel keer het ons nie al goed vergeet en kan nie onthou waar ons dit gesit het? Wel, omega’s help met dit. Verder voorkom dit hartvatsiektes en help ons are mooi skoon hou van aanpaksels wat later ander slegte gesondheids toestande tot gevolg kan hê. Dus eet jou liggaam gesond! 

Tekstuur probleme?
Onlangs het ek die navraag gekry van beskuit wat baie hard uitkom. Wel, paar dinge kan fout wees. Begin om na jou rysmiddel te kyk. Ek sit altyd koeksoda as veiligheidsnet in al my gebak. Vir elke 1kg meel wat gebruik word sit ek 5ml Koeksoda by. Ek bly weg van Bruismeel omrede ek al paar keer probleme gekry het. Op die blog het ek vir julle ‘n resep op gesit om jou eie te maak. Loer gerus. 

Die tweede probleem vir ‘n harde beskuit is die margarien wat jy gebruik. Onlangs ontdek ek dat ‘n lid gewone broodjie smeer gebruik. Jy kan net bak margariene gebruik, daar staan op die baksteenagtige blok “bake”, Rama of Stork werk vir my persoonlik baie goed. Maar botter bly die beste. 

Wanneer ons na die derde faktor gaan kyk wat die tekstuur van beskuit kan beinvloed dan is dit die karringmelk wat gebruik word. Amasi is puik want dit is suurmelk en suurmelk is Karringmelk soos ons dit deesdae ken. Oor hierdie punt sal ek ook nog ‘n artikel skryf, want wat ons as karringmelk koop is suurmelk, ons word deur die mark gekondisioneer om verkeerd te leer. Terug by die punt, ek vind dat mense asyn by melk gooi en dan het jy karringmelk, jong nie eintlik reg nie. Jy moet die melk eers verhit, dan die suur by gooi, dan skei die melk dan het jy suurmelk. As jy dit nie so doen nie gaan jou beskuit soos ‘n baksteen wees en nie eens die koffie of tee waarin jy dit doop gaan dit sag maak as dit ‘n volkoring beskuit is.

Resep
500g Botter of Bak margarien
400g Treacle sugar (sagte bruinsuiker)
2 Eiers geklits
500ml Karringmelk
1kg Koekmeel
20ml Bakpoeier
5ml Koeksoda
5ml Sout
200g Allbran flakes
75g Semels
120g Roulynsaad gemaal of 90g heel roulyn sade (Flax seeds)
90g Neute van keuse of Rosyne of enige gedroogde vrugte
50g Klapper

Metode:
1. Smelt die botter en sagte bruinsuiker saam en laat dan afkoel tot lou warm.

2. Klits die eier met die karringmelk en roer by die margarien mengsel.

3. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg die res van die droeë bestanddele by en meng goed deur. 

4. Voeg nou by die droëe bestanddele die karringmelk mengsel en roer totdat al die bestanddele goed gemeng is. Moenie te veel meng nie, jy wil nie gluten ontwikkel nie. As jy te veel meng gaan jou beskuit sy krummelrige tekstuur verloor. As daar nog wit dele sigbaar is, nie te kommer...dit moet so wees.

5. Druk in 30x40 cm pan of twee oondpanne. Sny die vingers vooraf en bak by 180℃ vir 45minute. Half pad met baktyd draai die panne om sodat dit eweredig bruin kan bak.

6. Laat goed afkoel en sny die vinger binne in die pan. Keer uit. Voer jou oond aan die onderkant met foelie uit. Pak dan die beskuit op die draad rakke van die oond uit en droog by 100℃ vir ongeveer 3-5 ure afhangende van die area waar jy woon. Onthou om die oond deur op ‘n skrefie oop te hou sodat die vog kan ontsnap. Kus gebiede neem langer. Laat vingers goed afkoel voordat jy verpak.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 66-70 vingers

Maandag, 21 Maart 2016

Geurige Hoender gereg

Soms is mens lus vir iets wat maklik en eenvoudig is sonder veel fieterjasies. Ek is baie lief vir die gebruik van my Hutspot of alom bekend as die Slow cooker. Hierdie heerlike gereg kan dan met verskeie soorte rys, stampmielies of verdik word om as pasteivulsel te geniet.

Resep
30ml Botter
4 Hoender borsies, ontvel en ontbeen
Sout en peper na smaak
250g Sampioene, gesnipper
1 Ui, klein, opgekap
2 Knoffel toontjies, gekap
15ml Dill of Tiemie, gedroog
15ml Borrie
5ml Paprika, gerook verkieslik
100ml Wit wyn
125ml Hoender aftreksel
125ml Room
15ml Growwe Dijon mosterd, sade kan ook werk as jy nie mosterd in voorraad het
15ml Gladde Dijon mosterd of enige ander
30ml Heuning

Metode:
1. Braai die hoenderborsies met botter tot goudbruin aan die buite kant, maar nie gaar. Die vleis sappe moet net ingeseel word. Verwyder uit pan en sit in Hutspot. Voeg die sampioene en uie by en braai verder tot die sap van die sampioene uitgekook is. Plaas alles in hutspot.

2. Meng die res van die bestanddele by behalwe die room. Laat die vleis kook vir ongeveer 6-8 ure. Indien jy verkies om groente by te voeg, kan jy teen ongeveer 3 ure bysit.

3. Sodra die vleis baie sag en gaar is voeg die room by en roer goed deur. 

4. Bedien dadelik met ‘n bed van gegeurde rys, soetrissies en skyfies suurlemoen.

Bron: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 4 porsies

Honde koekies

Die bordjie lees: No Dog Biscuits Today!
Ek sal seker nooit groot word nie. Ek is gek na diere en het ‘n hele plaas vol van hulle...Skape,perde, honde, katte, ganse, visse en ook die kinders!

Ek geniet dit om ook gesonde bederfies vir hulle te maak. As ek honde opleiding doen dan is hierdie snoep happies net perfek vir die ekstra aanmoediging om die dier se aandag te trek en te hou! My katte hou ook van die snoepery...maak klein bolletjies vir hulle.

Onthou versoete grondbone botter met suiker of xylotol is uiters gevaarlik vir jou diere se gesondheid. Daarom gebruik ek net Blackcat Peanut botter omrede dit nie versoet is nie. Lees asb die etikette van produkte om seker te wees. Grondbone botter is propvol engergie vanwee die hoë protein en ook olie inhoud. Jou diere se pelse sal glinster. Dr Pienaar skryf dus een per dag voor...met liefde.

Resep
150g Koekmeel
15ml Bakpoeier
240g Grondbone botter
125ml - 250ml Melk
knippie sout

Metode:
1. Meng eers die grondbone botter en melk saam in ‘n voedsel verwerker. Voeg dan die meel en sout by en meng tot ‘n deeg.

2. Rol bolletjies of rol uit met rolstok en druk in vormpies.

3. Bak by 200℃ vir 10 minute of tot goudbruin. Laat goed afkoel voordat dit geblik word.

Bron: Annelien Pienaar
Hoeveelheid: Jy bepaal die grootte!

Vrydag, 18 Maart 2016

Ouma Joyce se Groente sop

Ons het ‘n huishulp gehad wat ons help groot maak het, sy het van die lande gekom met net St1, maar so gewillig gewees om te leer. Net die feit dat sy kon lees en skryf het vir haar werelde oop gemaak. Haar naam is ouma Joyce Mokone en sy is my familie. My ma het haar leer groente sop maak, koekbak en alles van kosmaak. So het ouma Joyce deel van ons lewe geword en is nou al meer as 35 jaar deel van die familie. Sy was ook die een wat hierdie resep begin verander het tot wat dit vandag is.

Ouma Joyce en ek het altyd agter naby die asgat ons eie groente tuintjie gehad, so het ons probeer groente kweek vir die huis. Een van ouma Joyce se beste eienskappe was haar vrede liewende siel. Sy is kort en goed geset, ‘n breë bors waarteen menige baba van my aan die slaap geraak het as ek gaan kuier. Sy is lekker bekkig en sit jou gou op jou plek as jy verkeerd is. Sy is regverdig, werk hard vir haar kerk, en saam met my ma het die twee sop, koeksisters en koeke gebak om haar kinders deur die skool te kry. Ouma Joyce se kinders was slim en het almal verder gaan studeer. Dankie ouma Joyce vir jou liefde en omgee, jou gebede vir my en my gesin...God seën vir jou uit jou skoene!

Resep
1/2k Rooi soetrissies, gekap
1/2k Groen soetrissies, gekap
1/2k Ui, gekap
1k Seldery, blare en stokkies, fyn gekap
2k Wortels, gerasper
2k Botterskorsie, gerasper
2k Rape of radyse, gerasper
2k Aartappel, klein blokkies
2k Murgpampoentjies, gerasper
1/4k Olyf olie
4 liter water
5e Ina Paarman, Vegetable stock powder
2t Kerrie poeier, medium, rajah
3 Sopbene (opsioneel as jy vegetaries is)

Metode:
1. Plaas die aand voor jy die sop maak die bene in water om die vleis sappe te onttrek. Braai die soetrissies, ui en seldery saam met die kerrie poeier om geure te ontwikkel.

2. Voeg die res van die groente by en braai liggies.

3. Voeg die water en aftreksel by en kook totdat die groente sag is...ongeveer 'n uur.

4. Druk die groente effens fyner en voeg sout en peper na smaak by.

Bron: Joyce Mokone, 1999, www.bosenbergguestfarm.co.za
Lewer: Ongeveel 5-6 liter sop

Koekepanne smeer

So kuier ons vandag en ek soek al vir weke na my ma se resep vir “Tin glide”. Ja, diegene wat nie baie bak sal wonder waarvoor die goete gebruik word. Ek het as kind asma ontwikkel en selfs nou as volwassene moet ek uiters versigtig wees vir kleefwerende kos sproei. My ma het hierdie reseppie altyd gebruik in die plek van Spray ‘n Cook. Dit werk op die ou einde baie goedkoper uit. Ek het self vir my tuisnywerheid gebak en het hierdie stukkie papier soos goud opgepas. Ek waarsku egter om nie botter te gebruik in die plek van die smeer nie. Die produk word by kamertemperatuur gestoor en die botter gaan baie gou af. Die margarien hou baie lank. Indien jy die mengsel in die yskas wil stoor haal dit net lank genoeg voor die tyd uit om weer loperig te word. Anders kan jy net 'n stukkie waspapier neem en smeer soos jy met botter sou doen in die ou dae.

Resep
115g Rama of Stork bake, sag by kamertemperatuur (1/2k)
125g Sonneblom olie (1/2k)
70g Koekmeel (1/2k)

Metode:
1.      Plaas al die bestanddele in ‘n mengbak of voedselverwerker, en meng die mengsel totdat dit goed deur gewerk is en eenvormig lyk.

2.      Stoor die produk lugdig by kamertemperatuur om smeerbaar te bly.

3.      Gebruik ‘n kwassie en wend die mengsel mildelik op alle baktoerusting aan.

Bron: Hantie Bezuidenhout, 1975, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 310g ongeveer





Donderdag, 17 Maart 2016

Romerige Botterskorsie sop

Sop is en bly feesmaal....veral as jy die slowcooker inspan om die werk vir jou te doen!

1. Wanneer ons van sop praat dan moet ons eers terug kyk na die ontstaan van soppe...my idee van sop toe ek klein was...dit is vir mense wat baie siek en swak was. Maar hoekom sop? Wel die Franse het die antwoord...al hulle soppe en souse se basisse is 'n goeie aftreksel wat as basis vir elke sop gebruik word.

2. Aftreksel kan van bees, vark, skaap, hoender en selfs groente gemaak word. Meeste van die tyd word bene opgesny, gerooster om effens te verbruin en dan eers in koue water gesit om al die "goeie goed" uit die bene te onttrek. Hierdie proses neem so 2-3 ure...wat ek met my bees skenkels doen is om dit die aand voor die tyd in die slowcooker te sit met koue water...cooker nie aan nie...en dan voeg ek die volgende dag die res van die bestaddele by en vanaand het ons heerlike sop. Julle sal merk as jy die bene in die koue water sit vir die onttrekking van die nutriente dat na 3 ure jy sal sien hoe die water om die bene en vleis 'n rooi sirkeltjie vorm...dit is waar die krag vir die siekes vandaan kom.

3. Die resepte is geskryf sonder die aftreksel...ons gebruik hier kits aftreksel...wat ek wel tuis doen is om vir beide resepte se water 'n paar bene voor die tyd in te sit en dan punt 2 toe te pas... al die heilsaamheid van die bene is in die water wat ons gaan gebruik. 

4. Die Maleiers en Indiers is baie lief om suurlemoen wiggies saam met alle soppe te bedien...ek het eers gedink dit is nie lekker...maar prober dit...die suur komplementeer die kruie en speserye ongelooflik.

5. Vir 'n bykos bedien ek dyn repe butternut wat met olie gespuit is en in die oond gebak is...ek skep sommer my soppe met dit...soos jy crutons of brood sou gebruik...

Botterskorsie sop (Butternut)
6k Botterskorsie blokkies (3 medium pampoene)
750ml Water
1 Strooitjie van Ina Paarman se Vegetable stock
500ml Melk
2ml Neutmuskaat
1ml Gemmer
1ml Kaneel
Sout en peper na smaak
250ml Room (opsioneel, net vir garnering)

Metode:
1. Plaas al die bestanddele behalwe die room in ‘n slowcooker en skakel op “high” en laat vir 8 ure of oornag gaar word.

2. Puree die bestanddele en vryf die mengsel deur ‘n sif om dit sysag te laat.

3. Roer die room by net voor opdiening. Plaas ekstra room op die tafel vir diegene wat hou van daar die ekstra skeutjie room.

Lewer ongeveer: 2 liter sop
Opgestel deur: A Pienaar, Bos en Berg guestfarm, 2009

Woensdag, 16 Maart 2016

Kort vierkantige "cupcake" papiertjies?

Die foto reeks is nav 'n navraag vir vierkantige "cupcake" papiertjies. Ek het self ook 'n stel van die pannetjies en in die handel is daar glad nie vierkantige papiertjies beskikbaar. Daar is wel vierkantige versierde bakkies waarin jy kan bak. Maar ek weet nie of dit so gesond is as dit verhit word. Ek bly maar weg daarvan. Ek bedien wel die cupcakes binne in die bakkie.

Maar vir nou het ek vir julle 'n fotoskyfie reeks saam gesit om te verduidelik hoe dit werk. Jy kan die mooiste waspapier by bakkerswinkels vind. Hierdie was die Kerskoeke se waspapier...Klik asb op die foto om dit groter te maak. 

Die foto's moet van links na onder en van onder na regs en dan weer regs op gelees word.

Foto 1
Dit is nou die middelste foto en 'n voorbeeld van hoe 'n netjies gevoude papiertjie moet lyk. Sny solank 'n stukkie papier perfek vierkantig.

Foto 2
Begin deur 'n harde stukkie karton te meet en te sny nav die basis van die pannetjie se grootte.

Foto 3
Vou en plak nou die hoekies aan mekaar.

Foto 4
Pas die templaat in die pannetjie en maak seker dit pas maklik in.

Foto 5
Vou eers die papiertjie van hoek tot hoek. Hierdie diagonale lyne gaan jou help as ons nou die papiertjie op die templaat pas. Maak seker die skuinslyne pas perfek oor die hoeke. Vryf nou die kante van die templaat sodat dit duidelik as voulyne kan wys. Haal die papiertjie af en vou nou die lyne wat jy gemaak het weer oor sodat dit duidelik sigbaar is.

Foto 6
Soos jy op die foto kan sien het ek net vir hierdie demonstrasie doeleindes die lyne ingetrek. In die regte opset gaan dit nie nodig wees nie want jy sal die lyne wel met die blote oog kan sien.

Foto 7
Hier verduidelik ek dat die hoekies na mekaar gevou moet word sodat dit perfek kan invou in die vierkantige holte van die pannetjie. As jy dit nie so doen nie en die papier inforseer, gaan die gebakte koekie soms diep kreukels maak en die papier kan selfs afskeur en daar binne bly.

Foto 8
Voorbeeld van hoe die reguit lyne op die diagonale lyne gaan pas, vou al die voulyne wees goed in.

Foto 9
Kyk hoe perfek pas die hoek in die pannetjie in. Dit laat ook die haasoortjies perfek regop staan.

Bron: Annlien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016

Sagte broodrolletjies / Soft breadrolls

Ek was bederf met my ma se weergawe van haar vriendin se Amerikaanse Dinner rolls. Later toe ek brood as spesialiteitsveld kies met verdere studies het ek met nuwe oë na die resep gekyk en verstaan hoe hulle so sag kon uitkom.

Suiker, melk en botter het 'n versagtende effek op gluten. Gluten is die raamwerk van alle gebak wat gemaak word met koringmeel. Hierdie bestanddele het ook 'n natuurlike preserverings aksie op die deeg. Moenie jou klaar gebakte, afgekoelde broodjies in plastiek dadelik verpak nie. Plaas dit in of draai dit toe in bruinpapier om die krakerige korsie behoue te laat bly. Plaas dan die volgende dag in 'n plastiekhouer. Ek het nog 'n broodblik van hout en ek kom agter dat die brood beter "hou" in die hout blik....sal nog navorsing doen uitvind hoekom...Maar voor ons verder ondersoek instel, laat ons bak!

Resep
1kg Koekmeel
10g Sout
25g Suiker
40g Melkpoeier
65g Botter
10g Kits gis
1 Eier, liggies geklits
550g Water, lou (gram en ml vir water werk dieselfde uit) Om akkuraatheid vir die resep te verseker weeg ek vir goeie resultate altyd die water. Maatbekers is nie reg gekalibreer nie.

Metode:
1. Sif die droeë bestanddele saam en vryf die margarien met jou vingerpunte in.

2. Meng die water en eier by en meng totdat al die bestanddele goed gemeng is. Laat staan sonder om verder te knie vir 15minute vir die deeg om sterker gluten drade te vorm. Dit vergemaklik ook die knie proses.

3. Knie die deeg vir 8 minute totdat die deeg glad en elasties is.

4. Plaas in ‘n olie gesmeerde bak met ‘n deksel wat ook gesmeer is. Maak seker die bak is groot genoeg vir die deeg om dubbel sy volume te rys. Sodra die deeg dubbeld gerys het, ongeveer 30 minute, verdeel die deeg in 30 ewe groot bolletjies.

5. Vir hotdog rolletjies: rol eers die balletjies rond uit en rol dan plat met ‘n koekroller en rol dan van een punt op soos ‘n swissroll en plaas met die naat na onder op ‘n gesmeerde bakplaat.

6. Vir bolletjies: rol rond en plaas op bakplaat.

7. Laat gevormde broodjie vir 45-50 minute rys en bestryk met eier vir ‘n mooi glans lagie. Neem een eier en ½ t sout en meng met mekaar vir die glanslaag.

8. Bak die broodjies vir 12-15 minute by 230℃...ja jy het reg gelees...die tyd en temperatuur is korrek!

9. ‘n Wenk wat ek altyd gee vir ‘n ekstra sagte buite korsie vir kleiner broodjies is om ‘n vlek vryestaal bakkie onder in die oond te sit as dit voorverhit. Sodra die broodjies in die oond is plaas 5 blokkies is in die pannetjie om stoom te produseer vir die eerste 8minute. As jy sien die ys is klaar voeg nog drie blokkies by. Sodra die broodjies uit kom, spuit dit met melk. Plaas melk in ‘n spuit kannetjie en spuit met ‘n baie fynsproei.

10. Laat goed afkoel. Stoor die broodjies in bruinpapiersakkies vir die eerste dag en daarna in die papiersakkie binne ‘n plastiek sak om uitdroog te voorkom maar varsheid te behou.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 30 rolletjies of 2 lang brode wat elk 15 snye lewer.

English Version
Recipe
1 kg cake flour
10 g salt
25 g sugar
40 g Milk powder
65 g butter
10 g instant yeast
1 egg, lightly beaten
550 g water, lukewarm (grams and ml of water works the same) to ensure accuracy of the recipe I weigh for best results always water. Measuring cups are not calibrated correctly.

Method:
1. Sift the dry ingredients together and rub the butter in with your fingertips.

2. Mix water and egg and mix until all ingredients are well blended. Leave without further knee for 15 minutes, to form stronger gluten wires. It also makes the kneading process easy.

3. Knead the dough for 8 minutes until the dough is smooth and elastic.

4. Place in a greased bowl with a lid that is also greased. Make sure the bowl is large enough for the dough to double its volume. Once the dough doubled about 30 minutes, divide the dough into 30 equal balls.

5. FOR HOT DOG ROLLS
Roll the balls round and then roll flat with a rolling pin and then roll from one end like a swissroll and place seam down on a greased baking sheet.

6. FOR BUNS
Rolls round and place on baking sheet.

7. Let shaped bread prove for 45 - 50 minutes and brush with egg for a nice glossy coat. Take 1 egg and ½ teaspoon salt and mix together for the gloss layer.

8. Bake the bread for 12 - 15 minutes at 230 ℃ ... yes you read right ... the time and temperature are correct!

9. A tip I always give for a extra soft outer crust for smaller rolls is to put a stainless steel bowl in the oven when preheated. Once the bread is in the oven put 5 blocks of ice in the pan to produce steam for the first 8 minutes. If you see the ice is finish add 3 more cubes. Once the bread is out out of the oven spray it with milk. Place milk in a spray bottle and spray with a very fine mist.
10. Cool the rollss. Save the rolls in brown paper bags for the first day and then in the paper bag inside a plastic bag to prevent drying out but to retain freshness.

SOURCE: Annelien Pienaar www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 


QUANTITY: 30 rolls or 2 long loaves that gives 15 slices.