Donderdag, 28 Januarie 2016

Hemelse Patat’s / Sweetpotato Delight

Rista Greyvenstein se patat resep is voorwaar iets om te probeer....Dit is vir kinders definitief iets om voor te sit, veral as hulle langtand aan groente eet.

Resep
6 Patats
100g Bruinsuiker
50ml Goue stroop
1 pak Mini Marshmellows (wittes)
250ml Room
Pakkie gemmerkoekies - fyn gedruk of grof gebreek
30ml Amarula (of na smaak) opsioneel

Metode:
1. Kook patats in soutwater tot amper gaar.

2. Haal skille af . Sny in blokkies of sirkels.

3. Meng suiker, stroop, amarula en room.

4. Pak lae patats en koekies, gooi suiker- en roommengsel oor. Bak in matige oond – 180°C - tot sous dik word.

5. Haal uit en pak marshmallows bo-op. Sit onder die grill dat dit net oppof en bruin word.Dit lyk  pragtig!

Bron: Rista Greyvenstein, admin van Boerekos met ‘n Twist, 2016. Fotografie en toets van resep...Annelien Pienaar
Hoeveelheid: 4-6 porsies

English Version

RECIPE
6 Sweet Potato's
100 g Brown Sugar
50 ml Golden syrup
1 package mini marshmallows (white)
25 0ml Room
Package ginger - crushed or coarsely broken
30 ml Amarula (or to taste) optional

METHOD
1. Boil potatoes in salted water until almost cooked.

2. Remove peels. Cut into squares or circles.

3. Combine sugar, syrup, amarula and cream.

4. Arrange layers of potatoes and biscuits, pour sugar and cream mixture over. Bake in moderate oven - 180 ° C - until the sauce thickens.

5. Remove and pack marshmallows on top. Place under the grill untill the marshmallows browns and puff's  up. It looks beautiful!

SOURCE: Rista Greyvenstein admin of Boerekos with a Twist, 2016. Photography and testing recipes ... Jane Pienaar


QUANTITY: 4 - 6 portions.

Dinsdag, 26 Januarie 2016

Babka (Cinnamon rolls met 'n Twist)

Een van ons lede het navraag gedoen vir ‘n Joodse brood wat sy as kind by iemand geëet het. Ek het dit as ‘n ander dis leer ken en nie as Joods geassosieer nie. Maar so leer mens elke dag nuwe dinge. Die brood was tydens Paasfees tyd geniet as gesinne saam gekuier het. Ek het die Babka as Kulich leer ken en met my navorsing vir die navraag besef dit is een en dieselfde ding!

Babka is ‘n Poolse verrykte soet broodjie wat baie dunner uitgerol word as cinnamon rolls of Chelsea buns. Alhoewel die deeg met suurdeeg gemaak word en dan baie styf opgerol word. Die broodjie kan in verskeie vorms gerol word. Die geheim is die lagies wat gevorm word en die lagies gedefinieer word deur die speserye, sjokolade en suiker lagies. Die broodjie rys ook baie hoog en word tradisioneel in ‘n broodpannetjie gebak.

Die deeg wat ek gebruik is soortgelyk aan die Mosbolletjie deeg of Brioche. Dit word verryk deur botter, eier en melk asook 'n hoë persentasie suiker. Die deeg word dan oornag koud gefermenteer in die yskas.

Resep
Stroop
100g Witsuiker
170g Water

Metode:
1. Kook die suiker en water saam vir 3 minute en laat eenkant om af te koel totdat dit nogdig is as die brood uit die oond kom.

Deeg
190g Melk, lou warm
10g Kits gis (basies 1 sakkie)
700g Koekmeel
2 Eiers, groot (110g)
110g Wit suiker
1t Vanielje geursel
½ t Sout
115g Botter of Rama, kamertemperatuur

Metode:
1. Voeg die melk, gis en 5ml suiker by mekaar en laat dit staan sodat die gis begin skuim.

2. Meng die koekmeel en die sout saam en sif deeglik. Voeg nou die eiers en botter by die gis.

3. Meng al die bestanddele saam en knie die deeg vir 10 minute tot glad en elasties.

4. Druk die deeg in ‘n effense reghoek op ‘n stukkie kleefplastiek wat geolie is. Vou toe en sit in die yskas op ‘n verkoelde bakplaat. Verkoel vir 8-12 ure.

5. Na 12 ure haal die deeg uit die yskas en rol dit in ‘n reghoek uit van ongeveer 60cm x 40cm. 

6. Dit is baie belangrik om die Sjokolade smeer of Nutella eweredig te versprei oor die lengte van die deeg. Moenie oor die kante van die deeg gaan nie anders gaan alles uitloop wat jy opgesmeer het. Plaas die sjokolade splinters ewerdig op die deeg en rol dan versigtig op soos 'n rolkoek...swissroll.

7. Sny die deeg in die helfte om twee rolle te vorm. Daarna word die rolle in die helte op die lengte gesny sodat jy die lagies perfek kan sien. Draai nou die bene om mekaar soos ‘n X en plaas dan in die vooraf gesmeerde pannetjies. Laat die deeg 60 minute rus om dubbel die volume te rys.


8. Bak die brood by 200℃ vir 25-30 minute. Sodra die deeg uit die oond kom, verf die bokante met die suiker stroop wat jy in die begin gemaak het. Hou so aan. Sodra die lagie droog is, verf weer ‘n lagie. Hou so aan vir 3 keer.


9. Bedien koud of lou!

Sjokolade vulsel
850g Sjokolade smeer of Nutella *sien nota onderaan om self te maak
170g Sjokolade splinters

*http://boerekostwist.blogspot.co.za/2015/05/sjokolade-dekadensie.html

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 2 groot brode van 30cm elk

Saterdag, 23 Januarie 2016

Gebakte Sago Poeding

So 'n effense twist...aarbei konfyt ipv appelkoos konfyt
Sandra Bryce-Borthwick, het hierdie sago resep van haar met ons gedeel. Sy is een van ons engelse lede en hier is so ‘n kort uittreksel van haar briefie aan my: “Baked sago pudding recipe as promised. Taught to us in Standard Eight at Tempe High School in Bloemfontein in 1981 by our wonderful Institutional Management teacher, Mrs C S Verwey.” 

Sandra, thanks a million for this wonderful recipe. Ek het dit gemaak en wat ‘n plesier vir die oog en ook die maag! Lekker onthou kos met die ekstra kaneel wat ek rojaal oorgooi!

Resep
200ml Sago
500ml Melk
500ml Water
1ml Sout
125ml Wit suiker
2ml Karamel of Amandel geursel
25ml Botter
3 Eiergele

Metode:
1. Kook die sago, water en melk saam oor matige hitte, totdat die sago deurskynend is. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, week die vorige nag die sago in die water, want dan kook dit baie vinnig deurskynend en voorkom aanbrand. Net soos met melktert maak of vlabasisse, smeer ek die kastrol se bodem met olie of botter om aanbrand te voorkom.

2. Voeg 125ml Suiker, sout, geurmiddel en botter in die warm sago in. Roer goed deur sodat die suiker kan oplos. Laat die mengsel tot lou warm afkoel. Voeg nou die eiergele by en roer goed deur. 

3. Bak die sago mengsel by 180℃ vir 25 minute. Terwyl die mengsel bak kan jy die laaste 10 minute die meringue begin voorberei.

Meringue
50ml Suiker
3 Eierwitte
Knippie Kremetart
50ml Appelkoos konfyt

Metode:
1. Klits die eierwitte in ‘n glas- of vlekvrye staal bak, maak seker die bak is nie olierig. Vee liefs die bak met asyn lappie uit om al die ekstra olierigheid wat dalk daar kan wees te verwyder. Dus, klits die eierwitte tot skuimerig en voeg die kremetart by en klits tot stywe punt stadium. Voeg die suiker by en klits weer goed deur.

2. Smeer die appelkoos konfyt oor die gebakte sagomengsel...ek is mal oor appelkoos konfyt en smeer dit nie op nie, maar sit klein klontjies oral sodat dit self kan smelt wanneer dit gebak word.

3. Skep die meringue op die appelkoos konfyt en bak verder onder die grill van die oond totdat die puntjies begin verbruin.

4. Bedien warm of koud.

Bron: Sandra Bryce-Borthwick, 2016-01-23
Hoeveelheid: 1Pyrex bak

Donderdag, 21 Januarie 2016

Die Chillie Eskapade

Hierdie is Dwerg Chillies en nie so verwoestend nie
So leer ek mos die duurste les wat enige dom boervrou ooit kon leer...die van die krag van ‘n chillie se brand! O, Moeder van alle moeders...ek het nie geweet watter kant om te keer.

My liefste vriendin Naceema Patel het dit goed gedink om vir my van haar Chinese capsicums te gee. Ha! Maar later sou ek mos die ander naam hoor en dit is wraggies soos die steek van ‘n Skerpioen...die ander geleerde naam vir die wettertjies is Moruga Scorpion! Ek kry so ‘n yoghurt bakkie vol van hulle by haar en ek vra haar of dit sal werk vir die Roasted Garlic and Ginger Masala wat sy my die resep van gegee het. Ja, maar ek moet maar versigtig werk want dit is sterk. Mense, die vrou vertel mos toe nie vir my dat die outjies op die brandskaal (as daar so iets is) op nommer 4 of 5 van die wêreld se warmste chillies val.

Op die oog af is dit nie ‘n mooi vruggie nie, dit lyk amper asof dit sulke bulte soos selluliet maak. Daar is nie ‘n definitiewe punt nie en soms is dit sommer so in mekaar getrek. Gewoonlik werk ek met plastiek handskoene as ek met chillies werk, want die Hemele weet dit kan nogal ‘n hewige vel reaksie ontlok. Ek begin met die verwerkingsproses en so met die eerste sny kry ek ‘n gaatjie in die een vinger se punt van die handskoen. Aag, dink ek by myself dit is seker soos die ander chillies en sal na hierdie enetjie op gesny is gou ‘n ander een aan trek. Moeder van alle moeders...daar kom die steek...dit brand, dit brand so, dat ek dadelik die handskoek afpluk. Met die afpluk is ek nie versigtig nie en die vuil kant van die handskoen tref my teen die voorarm van die ander hand. Ek voel die steke, die vlamme...ek dink wat de hel is nou aan die gang. Spoel my arm en vinger, hoe meer ek spoel en vryf hoe erger word dit. My arm maak eers sulke rooi kolle en toe word dit sommer sulke op gehewe bulte. Ek begin paniekerig hardloop na die medisyne kas en sluk sommer twee Celestemine pilletjies want dit lyk soos ‘n bysteek net erger.

Ek bel vir Naceema en vra vir die antidood. Sy lag dat die trane loop en ek huil. Ek word gewaarsku dat ek moet goed hande was en die aangetaste dele moet afvee en weer spoel. Ek moenie my baba se boude afvee nie of selfs as ek badkamer bebruik nie. Ek dink so by myself, wie het hierdie wreedaardige chillies ontdek. Want daar waar vandaan dit kom, moes dit as ‘n indringer gesien word en verwoes word. Dit voel of kokende water oor my lyf uit gegiet is. Naceema sê daar is niks wat ek kan doen nie, en moet die hand net in koue water sit. Maak toe so, maar dit voel soos ‘n vel wat in die son verbrand het en nou in badwater moet lê. Dit is regtig seer. Ek blaas my neus so tussen die pyn en hitte golwe deur en die Vader alleen weet, my neus gate is aan die brand, my oë is bloed rooi, ek vloek sommer sulke lang stringe, want ek was gewaarsku om nie weer aan ‘n lewende ding te vat nie!

My man kom by die huis en dink ‘n by het my gesteek en vra ewe besorg of ek ‘n pillejtie gedrink het. Ja, kom dit deur die trane. Ek vertel hom wat gebeur het en dat ek net een chillie gesny het en nou met jare se probleme sit. Hy raas dat die dak amper lig, hy het my al soveel keer gewaarsku oor my en Naceema se kerriekos. Iemand volgens hom gaan nog seerkry eendag. Wel, ek het nooit in my lewe kon dink dat so ‘n klein dingetjie sulke groot probleme kan veroorsaak nie. Hy het die chillies dadelik weg gegooi saam met die res van die toerusting wat ek gebruik het...kap plank en mes weg!


Ek het gaan slaap met die brandende lyf, die volgende oggend toe ek gaan stort en myself lekker seep smeer kry ek toe mos weer die brandery van vooraf. Want daardie sap is gif...dit hou vir twee dae aan met brand. 

Nee, ek is klaar met chillie spesies wat se naam en nie ken nie.

Woensdag, 20 Januarie 2016

Kwepers is nie vir Sussies nie!

Nou goed, daar maak ek mos die fout en luister na my man en hy laat die werkers vir my Kwepers pluk, want hy mis sy ma en wil Kweper jellie hê.  Ek was onder die indruk die bome is so oud, dat dit nie meer dra nie. Regtig, die goed is seker al 50 jaar oud en dra net in die heel boonste toppe so een of twee vruggies. Wel wat bring ou George vir die Mê? Mense, ‘n hele 50kg krat van die harige goedjies! Ek het nog nooit in my hele lewe alleen sonder my briljante moeder se hulp hierdie vruggie in haar jellie omskep nie.

Mmmmh het ek maar net geweet wat lê voor! Ek het ‘n ou wastrog so groot soos ‘n bad buite in die derde kombuis. Begin die harige goeters in die wasbak met water gooi en ek jeuk dat selfs my tone kriewel. My neus begin loop en my arms brand...maar ekke gee nie aandag aan die jeuk nie. Ek wil die goed net gewas kry. Ek begin om die hare met die kombuis sponsie se growwe kant te skrop, maar nee, die verdomde haartjies sit soos dinges. Ek begin kriewelrig te raak, gaan soek ‘n nael borsel en begin skrop, nee die vervloekste hare verstop die naelborsel so...dat ek nou ergerlik begin raak en ek roep vir pappie om te kom help skrop. Na so ‘n uur moet hy gou iewers heen gaan en verdwyn die res van die aand. Die nael borsel het toe in die asblik op geindig en ek vat toe die skrop borsel. By 20kg gee ek moed op en los die res in die water tot die volgende dag. Die volgende oggend begin ek so vloek-vloek skrop. Pappie kom verby en maak of hy niks hoor nie. Ek roep vir George en raas met hom hoekom pluk hulle so baie van die goed, skuins weg lag hy, nee Endrew (Hanru), hy sê die Mê soek baie.

Kyk as my ogies dolke was, was my man dood. George stem in en help my toe die goeters klaar skrop. Ek begin heel ywerig die monstertjies wat nou soos mooi groen Granny Smit appels lyk, met my groot mes op sny. Hier kom toe nou weer nonsens. Die verdekselse goed is harder as ‘n lemoenpampoen! Dit skiet die hele wêreld vol soos ek probeer om die rond borstige goedjies ‘n sny plek te gee. Sit dit toe op ‘n handdoek en hierdie oorlog is afgeweer. Begin sny, met stampe en stote, blaaie wat brand...maar ek sny om verby die ervaring te kom. Ek pak die 30 liter potte met ‘n groot glimlag. Dit vat my die hele saterdag om die goed op te sny. Nou kom die kook slag. Jy moet dit kook totdat dit net sag is, dan dreineer en dan die vog afmeet en suiker by sit en weer kook.  Kyk my ma se resep so...in haar eie handskrif en dink so by myself: My ma staan seker hier agter my en loer oor my skouer en kry my terug vir al my stoutigheid. Hoekom het sy nie al die slag gate uit gewys nie?

Want die laaste sin van kook tot net sag, dreineer, meet vog....wel ons trek vandag by dag 3 en ek is nogsteeds nie klaar nie. Hoekom? Want, nommer een, ek het die wasbak verstop met die harige besigheid, dit het soos velt ‘n laag gevorm. Hoe meer ek dit donsies probeer op vang met die kaasdoek hoe meer verstop ek die kaasdoek, nee ek was verby bedonderd! Pappie dik vies...en mammie boos vir pappie se blink planne begin toe die pype ontkoppel en daar spoel die hele kombuis vloer vol van die hare, ek kommer nie ek is net te bly, begin geduldig skoon maak.

Toe kom die dreineer slag van die klaar gekookte kweper, die goed so glibberig en slymerig en verstop die gaasdoek, die goed dreineer so stadig dat ‘n skilpad lyk of hy op witblits loop! Ma sê die stroop moet deursigtig en helder wees, jy moet op 30cm dwarsdeur sien. Nou goed, myne lyk nog nie naasten by soos haar beskrywing nie. So, toe werk ek my eie plan uit, skep met ‘n groot sif die stukke uit, gooi dan die vog deur die ekstra fyn tee siffie wat elke keer gespoel moet word na ‘n koppie vol sap deur gaan. Daarna gaan dit deur 4 lae kaasdoek en die laaste keer deur twee lae kaasdoek. Nou is ek te vrede die 30cm ding kan ek nou sien in die onderkant van die 30 liter potte! Dit het die hele oggend geneem. Toe lees ek weer deur die resep en sien ek moet die goete weer terug sit...die vrugte wat gekook was en weer kook vir 'n tweede ekstraksie, my lip was erg dik. Ek dink by myself gaan ek kroek en weg gooi of aangaan. Besluit om my reel te volg en eers die resep te volg soos ma geskryf het en dan volgende keer kroek. 50kg se werk gaan nie opgemors word nie!

Doen die pektien toets en daar is nie ‘n druppel brandspiritus in die kas! Ek skel, dit is laat en dorptoe is nie ‘n opsie nie. Besluit om maar ‘n kans te neem en kook die spulletjie met suiker en besluit toe om dit ‘n Turkish delight geur op die kooptoe te gee. Die kleur is ook nie mooi pienk nie en ek dam 'n bottel goeie Cabernet by en gooi die hele bottel in, nou lyk sy mooi, nog 'n handvol Cardamom peule en siedaar! Die reuk is fantasties en proe heerlik. O, ek het ook 'n paar slukke van die wyn weg net om my pyn te vedoesel en moed te kry...natuurlik uit die glas gedrink, net nou kyk ek dalk te diep in die bottel!

 Nee, ek sal nooit weer in my lewe soveel vrugte op eenslag kook en dreineer nie. Alles was taai, die vloere, tafels, stowe, my hare, my tone, die wasbak was die ergste...alles was taai! Nie soet taai nie...nee so ‘n gommerige, slymerige gedoente wat jou die horrie piep gee elke keer as die kaasdoek uitgespoel moet word vir die volgende liter sap wat dreineer moet word. Nee, ek het altyd gekla oor die kook van Makataan...weet julle wat? Makataan is nie werk nie, dit is ‘n plesier om meet te werk. Dus ek vra R80 vir 500ml en nou weet julle hoekom...Na 4 dae se regtig harde hande arbeid en ‘n seer rug, gaan ek die arbeid meer ag as die bestanddele

! Nooit weer in my lewe sien ‘n kweper my twee hande nie!


Probleme by die Bak van Brood

Kom ons kyk na die probleem kant van brood bak...ek tel op dat mense nie graag wil vrae vra nie. Daarom het ek besef dat daar praktiese aspekte is wat mense mis. Dus, lees mooi...


Kluitjierige brood of digte tekstuur
1. Te min geknie
My hande is op 'n stadium dat dit baie seer word van knie, dus meng ek my deeg totdat al die droeë bestanddele in gemeng is en los dit vir 30minute sodat die proses autolaze plaasvind. Dit is baies ‘n proses waar gluten drade kan sterker strukture vorm. Daarna wanneer jy knie, is die deeg baie sagter en uiters hanteerbaar, dit sny ook uit op die knie tyd per hand. Deeg moet ongeveer 10 minute lank per hand geknie word of 5-8 minute per staanmenger.

2. Die deeg het koud gekry
Deeg wat moet rys moet warm genoeg bly. Dit moet snoesig by liggaamstemperatuur rys. Dus maak jou eie inkubasie kas deur ‘n koelhouer te gebruik en sit die deeg in ‘n bak, toegemaak in die houer met ‘n botteltjie warm kraan water. Maak die deksel toe en loer elke uur.

3. Die deeg het nie genoeg gis in nie
As die gis nie genoeg is nie sal die deeg baie lank neem om sy volle potensiaal te bereik. Dan is jy besig om ‘n ander soort brood te bak wat oor 2 dae gaan loop. Dus wanneer die resep aandui, dubbel die volume, dan moet dit so wees. Hoe weet jy dit? Ek vind dat die druk met die vinger en die gat moet bly werk nie vir die studente nie, veral die beginners. Dus plaas jou deeg in ‘n plastiek of glas bak wat deurskynend is, maak met ‘n permanente merkpen ‘n merkie waar die deeg se vlak tans is. Daardie volume moet dan verdubbel word, maak dan ‘n geskatte merkie van waar die deeg behoort te gaan. As jy nie van die merkery hou nie, kan jy met rekkies ook dieselfde doen. Plaas die rekkie om die houer en dan die volgende een vir die verdubbel merk. Slim ne?

4. Die deeg het nie genoeg kos in vir die gis om te kan werk nie
Soms dink mense as hulle die suiker uit die resep haal dat dit gesonder gaan wees...Jammer vir jou maar jy het sopas die kos vir die gis selle uitgehaal en hulle het dit nodig om twee goed te doen. Nommer een die gis selle skei CO2 af vir die rys effek en produseer alkohol vir die smaak. Suiker kan vervang word met heuning, melasse, bruinsuiker van jou keuse.

5. Die brood het nie lang genoeg gerys nie
Net soos ons die merkie maak vir die dubbel in volume rys, so moet dit ook in die pan gebeur voordat die brood gebak word. Die brood rys nie so baie bv soos ‘n koek nie. Dus moet die meeste volume rys werk buite die oond gedoen word. Maak dus vir jouself ‘n merkie of vang hom met die oog as jy gekonfyt is!

6. Die brood het nie lank genoeg of by die regte temperatuur gebak nie
Alle brood word aanvanklik by die hoogste temperatuur vir ongeveer 5 minute gebak en dan word die brood verder by 200℃ voltooi soos die tyd op die resep aangedui. Hierdie geld net vir suurdeeg brood. 

Die hoë hitte laat die volgende proses “oven spring” plaasvind. Indien die temperatuur te laag is, gaan die ekstra rys in die brood nie plaasvind en die brood gaan “sit” dan soos ‘n ou tannie wat wortelskiet! Dit gaan nie beweeg nie, nie ‘n sentimeter nie. Die deeg gaan dan definitief soos ‘n kluitjie uitkom. ‘n Klei os se agterent is minder toe as die brood! 

Verder as die temperatuur te laag is gaan dit ‘n korsie om die deeg vorm en dit vashou soos ‘n stywe kombers en dit sal nie kan rys nie. Dus, hierdie laaste punt is soms die probleem by alle brood wat kluitjierig uitkom. Te lae hitte. Moenie skrik nie, die hoë hitte klink erg, maar dit is nie so! Ek het 20 jaar plus ondervinding in hierdie veld!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm. Uit treksel van Sourdough1 klas.

Mikrogolf Lemoen Koek

Hierdie resep was een van ons heel eerste resepte toe die Faceboek blad gestig was. Rista Greyvenstein het my herinner aan Sandra Saayman se wonderlike en vinnige Lemoenkoek resep wat in die mikrogolf gebak word, asook ‘n heerlike versiersel. Graag deel ons dit weer met die lede!


Resep
1k Koekmeel 
3t Bakpoeier
2t Lemoenskil, fyn gerasperde
knippie Sout
250ml Strooisuiker
250 ml Lemoensap, vars uitgedruk 
60 ml Olie
2 Eiers

Metode:
1. Smeer mikrogolf tuitpan goed met margarien.

2. Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.

3. Klits strooisuiker, lou lemoensap, olie en eiers en goed saam.

4. Voeg meelmengsel by eiermengsel en meng.

5. Skep in voorbereide koekpan en kap koekpan so 2 keer op kas om lugblasies te breek.

6. Sit omgekeerde piering in mikrogolf, sit koekpan bo op neer en mikrogolf vir 7 minute by 100 % krag. Laat 'n rukkie afkoel voordat koek uitgekeer word.


LEMOEN BOTTERVERSIERSEL
125 g Sagte botter
2k Versiersuiker - gesif 
45 ml Lemoensap (3 el) OF meer indien verkies
Gerasperde skil van 1 lemoen

Metode:
1. Klits die botter in ’n elektriese menger tot liggeel en donsig. 

2. Voeg versiersuiker by en meng goed, voeg lemoensap by todat jy tevrede is met die dikte van die versiersel.

3. Voeg die lemoenskil by en meng deur.

*Ek sny die koek middeldeur en smeer versiersel in die middel ook.

Bron: Sandra Saayman,2015, vir Boerekos met 'n Twist

Dinsdag, 19 Januarie 2016

Visarende, riviere, perde en kinders, maak alles in die lewe die moeite werd!

Sussie saam met pappa in die boord...lekker moerbeie geëet en vir mamma die gemors gelos!
So sit ek en blaai deur Faceboek en sien ‘n foto van ‘n visarend wat sy kop agtertoe gooi om daardie kenmerkende roep van hom uit te bassuin. Oom Hannes Britz se foto het soveel nostalgie in my binneste geroer. Ons woon amper aan die voet van die Magaliesberg en tussen die berg en ons plaas is die Skeerpoort rivier. Op die plaas is ‘n hoekie waar die Skeerpoort en die Magaliesrivier ontmoet by die keerwal, en die gebruis wanneer die twee riviere ontmoet as dit afkom kan tot by die opstal gehoor word. Dit is juis by hierdie groot water gat waar die riviere saamkom, waar ons ‘n Visarend broeipaar het. Ons hoor hulle gereeld roep, veral laat middag as ons op die stoep van ons 1930 plaas opstal sit en koffie drink.  Die geluid laat my elke keer hoendervleis kry, dit maak my diep in my siel en nersderm kalm...as daar iets is soos ‘n nersderm. Dan sit ek met my toe oë en wens vir nog ‘n roep en dan hoor jy dit oor en oor! As daardie stoep kan praat van al die lekker koffie en kuiertjies wat al deur generasies hier plaasgevind het...dan was daar hordes boeke al volgeskryf. Ons area is ongelooflik onder ontgin wat die geskiedenis aan betref, maar ek en my man is tans besig om met die “oumense” te gesêls oor die geskiedenis van Skeerpoort. Die stories en staaltjies wat uitkom is ongelooflik. Sal julle nog eendag van oom Hans en oom Maans vertel!

Maar terug nou by die Visarend en die rivier. Ek het my kinders leer perdry op my manier van natuurlike “horsemanship”. Dit beteken hulle het nie in ‘n ring al in die rondte geploeter nie. Nee, ek het hulle met die perde uitgevat in die bebosde rivier in. Daar het ons in die digte rietbos met sy tonnels gery...daar het ons op en af teen groot en lang walle gehardloop, gallop en geloop om hulle balans te leer. So het ek hulle op ‘n natuurlike manier leer spring met hul perde. Die waarde van die kinders uitneem met hulle perde was ongekend in hulle fisiese asook kognetiewe ontwikkelling. Op die pad moes die seuns (Hardus toe 4 en Peet 8) geleer het om probleem situasies vanuit die saal te identifiseer en die perd op sy gemak te stel. Te leer om in ‘n span te werk, jy en jou perd, wat vertroue is en die rotine van versorging...dit alles kweek dissipline by ons toekomstige volwassenes.  Dit was goeters soos ‘n hoop bale of ‘n klomp kunsmis sakke wat eenkant lê wat verdag lyk, die kinders het dan geleer om die perd vooraf die ding te wys, die kop effens te draai na die “kamstige vyand” en ook dan so verby die sakke te gaan met die perd wat bewus is van die ding is nie ‘n gevaar. Ja, probleem oplossing skills was hier geoefen op ‘n daaglikse basis. 

Wat vir my opvallend was, was my rooikop knapie van 4 jaar oud, wat sy perd die beste hanteer het. Hy het net daardie rooikop willetjie gehad en kon sy weghol perd self onder beheer kry as ons huistoe gedraai het. Kinders verbaas mens...maar perd se kind nog meer! So het die seuns ouer geword en die perde ook. Toe ons na 12 jaar uitvind ek is al 3 maande swanger moes ek ophou perd ry, en dit was vir die seuns en vir myself baie erg gewees. Maar ons het aangepas en toe ‘n arena ingerig vir hulle om in te speel asook ‘n ring om die nuwe perde wat kom te werk.  Ons ou perd Kloppe was die wildste, maar net ek kon hom ry, hy het maar ‘n moeilike tyd gehad voor hy na ons gekom het. Ek het baie lank met hom gewerk om sy vertroue te wen, my man sou hom lankal slagpale toe gestuur het as hy hom moes werk. Maar Kloppe het soos ‘n skip gery, pragtige lang treë, egalig en gebalanseer. Bene vas op die aarde en die mooiste houding! Tigger was Peet se perd, hy het boerperd en polamino bloed in hom gehad...hy was die rustigheid vanself. Ek het hom kleintyd “gedesensitize” en was bomproof. Eendag het die reën die seuns in die boord oorval en hulle het onder sy vet pens weg gekruip en hy het mooi sy basies opgepas. Dan was daar ou Boesman...wat ‘n meneer. Dit was my man se perd! Sterk en fors, regop en dapper! Was ook ‘n boerperd met die mooiste gesig en ‘n vette boud aan hom. Slim en altyd die hekke vir al die diere op die plaas oop gemaak. Ek het my perdry tye geniet...nou is Kloppe op die ouderdom van 40 in vrede heen, Boesman is verlede jaar gesteel...ja wie steel ‘n perd? Mmmmh mense wat weet hy is van ‘n goeie bloedlyn! Die storie van Tigger is vir ‘n volgende keer....’n Hartseer storie...met ‘n goeie einde!

My lewe op die plaas is soms besig, rof, vuil van diere werk, bome snoei, kinders opvoed en wie weet alles...soms vra mense of dit nie te veel is. My vriende van die stad wat my in die formele werksopset leer ken het...Kan nie dit indink dat ek mooi klere, juwele en grimering verruil het vir ‘n stukkie hemel op aarde! Maar ek hoort hier op my mishoop, dis hier waar ek kan asemhaal geen knellende bande in my bors...ek kan leef!

Groete tot ‘n volgende keer!

Saterdag, 16 Januarie 2016

TOFFIE KARAMEL LEKKERS

Antoinette Kok Oosthuizen is ‘n vrou van vele talente. Sy is ‘n werkende vrou, Ma, tuinier, kok, goeie en lojale vriendin. Wat ek nie van haar geweet het nie en sy lewe baie gesond, is dat sy so ‘n soet tand het! Toe sy vir my lekkergoed klas gekom het, het sy behoorlik geproe aan alles! Ons het tydens klas gesêls oor toffie lekkers en ek het paar resepte vir hulle ekstra gegee. Hierdie resep is een van hulle.

RESEP
250 ml Suiker
Knippie sout
200 g Goue stroop (sit eers die koppie of maatbeker in water sodat die stroop maklik uitkom)
350 ml Room - gewoon
5 ml Vanielje geursel of karamel geursel of koffie geursel of sjokolade

METODE
1.  Meng die suiker, sout, stroop en 150 ml room, verhit en roer om die suiker te laat oplos.
Was die kante van die kastrol met nat kwassie. Onthou die mengsel mag nie kook voordat die suiker opgelos is nie.

2.  Kook oor lae hitte tot die sagtebal stadium (115 ˚ C).Roer aanhoudend om aan brand te voorkom.

3.  Voeg 100 ml room by, roer en kook weer oor lae hitte tot 115 ˚ C.

4.  Voeg die laaste 100 ml room by en roer en kook oor lae hitte tot die stywebal stadium (120 ˚ C).

5.  Roer die vanielje geursel by en gooi 15 mm dik in ‘n gesmeerde pan, 120 mm x 180 mm groot uit.

6.  Laat oornag staan en sny in 15 mm vierkante. Laat ‘n dag of twee staan om te droog en draai elke stukkie in waspapier toe. Die blokkie is heerlik ryk en sag.

BRON: Annelien Pienaar. Sagte lekkergoed klas 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

PYNAPPEL MALVALEKKERTERT

My Ma kon darem die lekkerste terte maak. 
Alles het so moeiteloos gelyk en gevoel of dit in ‘n japtrap gemaak is. 
Ons het op die plaas groot geword en room was altyd vryelik beskikbaar. 
My Ma het self dit gepasteuriseer om langer te kon hou en dan kan sy elke naweek vir ons ietsie lekker maak.

Om malvalekkers op te sny is nie vir sissies nie. 

Ek het soveel rate al gekry so ek noem maar op en kyk watter een werk vir jou. 

1. Spuit die skêr met kleefwerende kos sproei.

2. Plaas die malva lekkers in die yskas om hard te word en sny dan.
3. Doop die skêr in kook water, vee droog en sny.
4. Ek doen niks van die bo genoemde dinge nie, ek koop die kleintjies vir koffie maak!

RESEP
1 x 397 g Blik kondensmelk
500 ml Vars room
750 g Malvalekkers - fyn gesnipper
250 g Glanskersies - gesnipper
150 ml Suurlemoensap
1 x 410 g Pynappelstukke - gedreineer - opsioneel
4 e Cremora met 150 ml Kookwater aangemaak
Klapper vir versiering - opsioneel

METODE

1. Maak die cremora aan met die kookwater en laat staan om af te koel.

2. Meng die kondensmelk en suurlemoensap saam.


3. Voeg die malvalekkers, kersies en pynappel by asook die afgekoelde cremora


4. Klits die room tot styf en vou in by die malvalekker mengsel.


5. Skep die mengsel in koekiekrummel voorbereide kors.


6. Laat stol in die yskas.


BRON: Hantie Bezuidenhout 1990.  www.bosenbergguestfarm.co.za

MALVALEKKER VERSIERSEL

Nou goed...ek het so ‘n effense swakte vir ‘n goeie versiersel wat sy vorm behou en in ‘n kits gemaak kan word. Hierdie resep het my moeder eendag so aanmekaar gesit toe my sussie verjaar het. Van toe af maak ons die heerlike versiersel!

Die versiersel het 'n pragtige, amper meringue-agtige glans. Dit is nie so erg soet nie en het geen botter in nie. Dit smelt nie so maklik as die weer warm is nie. Ek dink dit is 'n wenner!


RESEP
150 g Wit suiker
80 ml Water
6 - 8 Malva lekkers
1 Eierwit - groot eier tot Jumbo

METODE

1. Hier gaan jy ‘n dubbelkoker nodig hê. Dit beteken eenvoudig net jy moet ‘n kastrol vul tot op so ¼ vol en die water dan kook op medium hitte. Plaas dan ‘n bak met ‘n ronde bodem of ander kastrol wat kan hang oor die kokende water. Dit is baie belangrik dat die water nie die boonste kastrol of bak raak nie. 

2. Los eers die suiker in water op oor lae hitte direk op die stoof. Sodra die stroop kook plaas die kastrol op die dubbelkoker en voeg die malvalekkers by. Kook die mengsel verder op vinnige hitte en roer af en toe. Net voordat die mengsel begin draderig word, klits die eierwit tot stywepunt stadium. As jy die bak omdraai moet die eierwit nie uitgly of uitval nie.


3. Klits nou die gesmelte malvalekker stroop by die eierwitte in en hou aan klits totdat die mengsel dik word. ‘n Elektiese handklitser is geskik vir die projek.


4. Versier!


Variasie: 1-2 t kleursel of die kombinasie geursel soos verduidelik: Gebruik 'n sjokolade geursel om die kleur te verander na 'n ryksjokolade kleur. Bakkerswinkels hou tans hierdie soort alles in een kleursel/geursel aan en maak die mooiste glansende versiersel. 

HOEVEELHEID: Genoeg vir 1 koek of 12 cupcakes.


BRON:  Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za


Vrydag, 15 Januarie 2016

CREME CARAMEL (GEBAKTE VLA MET KARAMEL SOUS)

Hierdie nagereg lê my baie na aan die hart. Dit was een nagereg wat vir my altyd as student gefasineer het en eers in ons 3de jaar die geleentheid gekry om te sien hoe ‘n professionele chef die dis maak. Ek het nog altyd ‘n fyn oog gehad om bestaddele te skat. Deel van die uitdaging met die onderliggende teoretiese kennis van die afgelope jare, was om die resep se bestanddele te skat soos ons dit waargeneem het tydens Francois Rautenbach van Georgina’s se demonstrasie. Ek het alles baie fyn waargeneem, niks gemis nie, daar het ek snelskrif klasse sommer baie meer waardeer. 

So, spring ons weg en elkeen by sy stasie. Ek het nie gewyk van ‘n woord wat ek neergeskryf het nie, al het van sy goed verskil van wat die dosent vir ons verduidelik het. Soms is die mense in die praktyk tog beter toegelig met hul praktiese kennis. Daar het ek eerste hands gesien hoe hy die karamel maak sonder om water by te sit. My Creme Karamel was perfek in elke aspek. Dit was sysag, glad, die karamel stropie was genoeg, die vla het sy vorm behou en perfek gebak. Ons was 85 Voedsel en Kleding studente wat vir die kursus ingeskryf was en na die 4 jaar was ons 8 wat klaar gemaak het. Die kursus was taai, harde ure, seer vingers, geen naweke of vroeg slaap. Ons was toe onder die werk maar vandag pluk ons die vrugte van die tawwe kursus! 


Ek bak Francoise se resep gereeld in my gastehuis. Hy het daardie dag nie vir ons die resep gegee nie. Maar in die einde van my 4de jaar toe ek prakties doen by sy restaurant het hy dit vir my gegee, want ek moes dit oor en oor maak. Ek het ‘n vriendin, Vanessa de Beer, en tot vandag toe dink ek aan haar pleidooie as sy kom kuier, dat ek vir haar Creme Caramel maak!


Nou ernstiger sake...Ja, dit is ‘n tegniese dis om te maak...maar raai wat? As jy die stappe in die resep nougeset volg, wel dan is sukes gewaarborg! Die karamel laag kan op twee maniere berei word. Indien jy vertroud is met die smelt van suiker vir suikerkuns, wel dan het jy nie die water nodig om die suiker te laat smelt nie. Opsie nommer twee: voeg die water by as jy 'n beginner is. MOENIE ROER NIE!!! 


Ek onthou so goed wat Francoise gesê het: “Lees eers jou resep noukeurig deur, al dink jy, jy weet alles. Dan voordat jy wil eksperimenteer, maak eers die resep soos wat dit is. Daarna laat waai!” Ek volg hierdie raad as die riglyn van al my eksperimentele gebak. 


RESEP
KARAMEL LAAG
200 g Witsuiker
120 ml Water

METODE

1. Plaas die suiker in ‘n kastrol met die water. Roer goed deur en moenie weer roer nie....soos in glad nie! Jy gaan opeindig met ‘n kristalle gemors van epidermiese proporsies!

2. Hierdie mengsel moet op hoë hitte gemaak word. Dus kook dit so vinnig as moontlik. Lig van tyd tot tyd die kastrol op en dit sodat die mengsel in die rondte draai. Dit is jou enigste manier wat jy mag roer...lig die kastrol en kantel (swirl). Onthou die karamel kan baie maklik brand, dus is dit noodsaaklik dat jy die proses met valk oë dophou.


3. Sodra jy sien dat al die suiker kristalle opgelos is en die kleur van die karamel lig en soos heuning lyk verwyder van hitte en drup dit dan in jou ongesmeerde rammekins.


VLA RESEP

Vul bakkies en plaas in waterbad (Bain marie)
500 ml melk
5 ml vanielje geursel
70 g suiker
2 eiers - groot eiers
2 eiergele - groot eiers

METODE

1. Voorverhit oond na 170 ˚ C en vul ‘n oondpan met water. Plaas jou rammekin bakkies daarbinne en maak seker die watervlak is halfvol. Dus maak jy 'n bain marie tuis...waterbad metode.

2. Verhit die melk en suiker totdat die suiker goed opgelos het. Verwyder van hitte en voeg die geursel by. Indien jy vanilla peule wil gebruik gooi dit by die verhittingsproses van die melk. Laat die melk afkoel tot kamertemperatuur.


3. Klits die eier en eiergele liggies met ‘n vurk. Voeg dit dan by die louwarm melk en meng goed deur. Gooi die mengsel deur ‘n teesiffie. Jy gaan dit so twee keer doen. Jy sal merk dat die siffie effens verstop, spoel die siffie met koue water af en skud die ergste water af en sif voort.


4. Vul die rammekin bakkies met die mengsel tot so 1cm van bo. Plaas in die oond en bak vir 30 minute totdat die vla geset is. Jy kan ‘n toetspennetjie in steek en as dit skoon uitkom is dit gaar. 


5. Haal die rammekins uit die kokende water en laat dit dan baie goed afkoel. Sodra dit afgekoel is, sny net die boonste velletjie versigtig los van die kant. Plaas die bakkies wat nou bedek is met foelie of kleefplastiek in die yskas. Hoe langer (verkieslik oornag) die vla staan hoe meer karamel los op en jou stropie word dus meer! Daardie stropie is werklik die groot geheim wat bydra tot die smaak sensasie van ‘n leeftyd! 

6. Keer die rammekin in ‘n diepbakkie om en laat eers so staan. Sodra jy almal omgekeer het, verwyder die bakkies. Jy kan die vla effens verhit of koud voorsit.


HOEVEELHEID: 1 groot rammekin van 1 liter of 6 - 8 klein rammekins.


BRON: Annelien Pienaar, verwerking van Francoise Rautenbach se resep, www.bosenbergguestfarm.co.za




Donderdag, 14 Januarie 2016

CREME BRULEE

Akkedis Viljoen is een van ons Boerekos met ‘n Twist lede wat baie kundig is op die gebied van kosmaak. Sy woon en werk tans in Engeland en soos ek kon aflei berei sy gereeld feesmale vir die Engelse voor. Verder is sy vir my altyd baie goed gesind as dit kom by die deel van haar puik foto’s! Sy is ook ‘n top fotograaf van formaat. Akkedis noem hierdie ‘n Creme Brulee sonder fieterjasies en ‘n wenner. 

Akkedis: “Ek het hierdie resep gekry by ‘n vriendin wat ‘n restaurant gehad het in St Mawes (Cornwall) en sy was ‘n wonderlike kok. Ek het hierdie resep beproef en maak dit telkemale en vinnig en maklik. Die tekstuur is soos fluweel! Geniet!”.



Gladde tekstuur
RESEP
500 ml Dikroom (double thick, kyk by Woollies)
5 - 6 Eiergele - groot
30 ml Strooisuiker
15 ml Vanielje geursel

METODE

1. Voeg al die bestanddele saam en klop deeglik met ‘n vurk.

2. Dan vir die geheim: sif die spulletjie vir 10 keer tot jy van al die eierwit stringe ontslae is. Die mengsel moet glad wees. Hierdie is die enigste manier hoe die fluweelagtige tekstuur verkry word.


3. Gooi die mengsel in rammekin bakkies en plaas dit in ‘n oondpan. Vul die oondpan dan met kookwater tot die bakkies se halflyn merk. Plaas in oond en bak by 150 ˚ C totdat dit gestol is. 


4. Sprinkel suiker oor die brulee en plaas terug onder die grill van die oond en laat dit karameliseer of gebruik ‘n vlam om die werkie in ‘n japtrap te doen. 


HOEVEELHEID: 6 porsies.


BRON: Akkedis Viljoen, resep en foto, 2016.


Woensdag, 13 Januarie 2016

‘N CHILL PIL OF 'N KAS WYN MET EISH!

Naceema se persent: Soetrissies en Banana chillies!
Ek was lanklaas so bly dat ‘n dag sy end begin kry!

Gisteraand gaan die krag weer af en ek het 8 kg vye en 8 kg appelkoos blatjang wat aan die kook is, en die potte is te swaar om na die ateljee te karwei om op die gas te kook. Sit toe maar ‘n lappie oor die konkoksies en dink toe ek sal môre oggend klaar kook. ‘n Kliënt laat weet sy is môre in die area en vra of ek tamaties wil hê, ja, is my antwoord en ons tref reëlings. So by 23h00 besef ek met ‘n skok toe ek in my dagboek kyk, ek het die volgende dag ‘n radio onderhoud by Pretoria FM! Dink toe by myself ek kan nie nou die mense in die middernagtelike ure pla en kanselleer nie.

Erika en Diane Pretorius se persent aan my.
Vier uur vanoggend staan ek op om gou die notas te druk vir die praatjie, doen die oggend groet en begin die kinders se kospakkies pak. Vyf uur jaag ek die Filistyne uit die bed en sussie lê soos Gertjie die voël verskrikker van haar skool, stok stywe bene, bewegingloos en wille bos hare (waarvan jy nie weet of dit die voorkant of agterkant van die kop is). Ek los haar om nog te slaap. Ek sal die dame maar pla by 06h00 as ons ry. Pak dag klere, borsel en rekkies in haar tas en sal haar aantrek as ek by die skooltjie kom. Dit is terug skooltoe na 6 weke se heerlike Desember vankansie. Goed, die manne kam die hare, ouboet nog nie klaar geskeer, klein boet het sy ouboet se naaskeermiddel beet gekry en jy ruik net “eu-de-too-much die gang vol! Ek skel en oor die nare reuk en ouboet vervies hom vir die “vermorsing” van sy lekker ruik goed. Ek gee die half gekookte vye ‘n kyk en besluit ek sal klaar kook as ek terug is. Al die Filistyne is in die kar, geskenkpakkies vir die klankman en Alet gepak, rekenaar in en daar gaan Piet se trek!

Op die pad skree sussie sy gaan nie skool toe nie! Sy gaan nie haar tee drink nie! Ons is almal lelike mense....Ons ignoreer haar. Draai by Jasmyn plaasprodukte se pad in, op gaan ons met die pad tot by haar plaas skooltjie. Maak haar skaflik en vergete is al die trane. Goed, dit was maklik.

Ry Pretoria toe vir die onderhoud en is betyds. Die verkeer was maklik. Sit in die parkeer area en wil gou net weer deur die nota’s gaan. Ok, ek het die nota’s in die printer vergeet! Gelukkig is die rekenaar in gepak en ek sit toe maar so en werk. Gaan vir die onderhoud en dank Vader alles verloop vlot en my gehue laat my nie in die steek, met die kant nota’s wat nie op die rekenaar is nie! Soos gewoonlik het ons almal in die ateljee heerlik saam gekuier en ek moet groet. Weg trek ek en my blou karretjie om die hele Makro se suiker en asyn op te koop vir die berge vars produkte wat voor my deur afgelaai word. So tussen die betaal deur bel my Indiese vriendin en vra of ek nog green peppers wil hê, wil nie ongeskik wees nie en aanvaar die aanbod en ek beloof om vanmiddag nog die pakkie op te laai.

Appelkoos blatjang
Ek kry vir sussie en ons twee drink ‘n pienk melkskommel by Jasmyn (ter viering van haar 5de verjaardag) se restaurantjie langs die boekwinkel. En natuurlik is sussie weer met ‘n boek daaruit voor ons die melkskommels gaan drink het. Ons koop gou die bestanddele wat kort vir die soetrissie sous en die pasta sous. Ek kan nie wag om tuis te kom en die berg bottels vol te maak nie. 

So met die uitstap, loop ek my vas in tannie Doris van Meerhof skool. Ek vra uit hoe dit gaan en ons praat weer oor die skool se spyskaart wat ek gedoen het en hoe dit met die spesiale dieëte gaan. Ons het baie probleme met die diabete. Meeste van die kinders se ouers is nie vermoënd nie en die een geval wat ons nou al vir meer as twee jaar gespook het, wel sy het geen ouers. Haar boetie en sussie help na haar kyk oor naweke. Die boetie het altyd per taxi gereis vanaf Rustenburg en haar kom haal. Dan eet sy van die kos wat hy koop by Spur waar hy gewerk het. Hy het goed bedoel om haar te probeer help. Maar aai, elke Maandag tot Dinsdag is dit ‘n gesukkel om die kind se suiker af te kry. Sy het kos onder die kaste, haar bed en lessenaar weg gesteek...alles verkeerde goed. So moes almal maar polisieman speel. Dit was ‘n tawwe tyd. Sy het verlede jaar skool verlaat en tannie Doris deel my mee die kind is laat in Desember oorlede wees ongekontrolleerde suiker. My bene wil, wil onder mekaar invou en ek hou krampatig vas aan die trollie om die newels van naar, skok en lighoofdigheid af te weer. Sussie staan salig onbewus van ons gesprek en voer die vissies op die bruggie. Ek kon nie verder praat nie en tannie Dorris totsiens gesê met 'n moewiese knop in die keel en belowe om hierdie jaar meer te kom hallo sê. So versonke in my eie gedagtes ry ek om die twee Filistyne te kry en gaan plaas toe.

Min besef ek my bui is donker...meer ‘n donder wolk. My man vra net: “Is dit veilig om in te kom?” toe hy my hoor rumoer met die seuns wat lui is om die kar uit te laai. Ek het hom een kyk gegee en uitgebars in trane. Die arme man het hom des dinges geskrik oor die tranedal. Hy dink iemand is dood soos ek huil en beduie. Hy maak vir my tee en gee my ‘n soet koekie. Toe ek bedaar vertel ek hom van die kind. Hy ken die omstandighede en net sy kop geskud.

Vye gereed vir die bottel!
Ek het opgestaan en toe weg gespring met die vye, appelkose...die tamaties en peppers is môre se werk...nou wil ek net een berg weg kry. Soos ek werk raak my gemoed rustiger ek dink aan die kind en wonder hoekom ‘n oom of tannie nie kon help nie? Hoekom alles op die ouer kinders afstoot? Nee, soms maak die lewe nie sin nie... Ek draai elke warm botteltjie vye sorgvuldig toe, draai dit op sy kop en begin met die nuwe een. Dit ritmiese werk, die eentonigheid van die inskep en toe draai, bring nog meer kalmte in my siel, trane vloei nie meer nie, net ‘n stille gebed dat haar siel in vrede mag rus.

My werk vir die aand is klaar. Die lamsblad in die slowcooker is reg, cous-cous slaai en mengselslaai is klaar gemaak, want Pappie het gesien dat selfs chill pille en wyn die situasie mag verger en toe maar ingespring en die mengelslaai klaar gemaak!

Alles in eendag...soms wonder ek of die duiwel my toets as ek my voete van die plaas af sit! Maar buig die knie vir hom, nooit!

Groete Annelien!

MARGERETHA SE GEBOTTELDE GROEN TAMATIES

Elba Groenewalt, ook ‘n lid van Boerekos met ‘n Twist op FB, het hierdie wonderlike resep vir my gestuur! Baie dankie ek het lekker gewerk met die maak van hierdie resep. Die tamaties word basies eers droog gesout vir 12 ure en daarna gepekel. Waarna dit in olie verder preserveer word.

“Hierdie resep kom reg uit Italië, wat een van my Italiaanse kliënte vir my gegee het. Ek het agter gekom die Grieke, Lebanese en Italianers is baie gasvry. Hulle wil mens altyd voer. En kan hul lekker kos maak.” Elba Groenewalt, 2015.


RESEP
Groen tamaties gesny in ½ cm skywe
Wit asyn (60%) bv. 600 ml asyn
Water (40%) bv. 400 ml water
Knoffel
Origanum
Pietersielie
Growwe sout
Peper 
Sonneblom olie

METODE

1. Gooi growwe sout oor tamaties om water uit te trek. Laat lê vir 12 ure.

2. Meng asyn en water na smaak. Ek hou van rapsie meer suur. Laat tamaties weer 12 ure daarin lê.


3. Haal tamaties uit asyn-water en druk goed droog.


4. Maak lae in bottel eers tamaties dan knoffel, origanum, pietersielie en peper. Jy kan n rissie bysit as jy wil. So 3 lae van kruie is genoeg. Maak bottel goed vol deur tamaties vas te druk in bottel.


5. Gooi kookolie in die bottel en haal lugborrels deeglik uit.


6. Laat tenminste ‘n maand staan vir geure om deur te trek. Hou in die yskas.


7. Dis onnodig om olyfolie te gebruik die kombinasie in bottel is heerlik. Saam brood of vleis kies maar wat vir jou die lekkerste is.


BRON: Elba Groenewalt, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 12 Januarie 2016

SOETRISSIE EN PYNAPPEL SLAAISOUS

Baie, baie dankie Ancoise Venter van LuCoffee shop in Luckhoff. Die dame mag maar kos maak, koekbak en jou heerlik bederf. As jy ooit die geleentheid kry om deur Luckhoff te ry, moet jy by LuCoffee shop stop. Hierdie slaaisous van haar kan met gemak gebottel word en op die rak gehou word vir ‘n geruime tyd. Maak seker jou sterilisasie is gedoen van jou bottels om te verseker dat die produk lank sal hou.

Ek dink dat hierdie slaaisousie nie net tot slaai beperk is nie. Ek het dit vanmiddag saam met 'n kaasbord en beskuitjies bedien, wat ongelooflik heerlik was. Wat van 'n marinade omdat dit reeds die pynappel en ook olie in het vir vark en hoender? Kyk ek dink hierdie gaan die wonder sous van die eeu word!


RESEP
1 liter Sonneblom olie
2 liter Wit asyn
500 ml Water
1 kg Soetrissies - fyngekap 
2 kg Pynappel - fyngekap
2 kg Uie - fyn gekap
2 kg Suiker 
100 ml Sout 
25 ml Peper 
50 ml Gemmer - fyn 
15 ml Cayenne peper
200 ml Maizena aangemaak met 1 k water 

METODE

1. Voeg al die bestanddele saam behalwe die maizena (mielieblom) en kook die mengsel terwyl jy gereeld roer eers oor lae hitte totdat al die suiker opgelos het. 

2. Sodra die suiker opgelos is kook oor vinnige hitte vir ongeveer 15 - 20 minute. Voeg die aangemaakte maizena by die kokende mengsel en kook weer vir 10 - 15 minute totdat die mengsel verdik het.


3. Skep die warm mengsel in skoon en warm gesteriliseerde flesse en draai baie dig toe. Draai die bottel op sy kop en laat so afkoel. Hou ongeveer 6 maande tot 12 maande in donker kas.


HOEVEELHEID: Ongeveer 7 liter, die resep kan met gemak halveer word.


BRON: Ancoise Venter van LaLu Koffiehuis te Luckhoff, getoets deur Annelien Pienaar, 2015.




Maandag, 11 Januarie 2016

MA SE KERRIEBONE

Ek kan nie vir julle vertel hoeveel groenbone my Ma se hande verwerk het in haar lewe! Ons het so ‘n oulike boontjie kerwer van Pineware, so ‘n groene, wat ons male sonder tal moes draai. Vandag is dit ‘n antieke stukkie mooi in my kombuis vir uitstal doeleindes. Maar ja, sy werk nog!

Ons het dit saam met kerrie en rys, vetkoek en maalvleis, kook kos, noem dit en die kerriebone was uitgehaal!



Honderde kg se bone al gewerk!
RESEP
2 kg Groenbone - nie langer as 2 cm gekerf
1 kg Uie - grof gekap
30 g Knoffel
750 ml Asyn
600 g Suiker
3 e Kerrie poeier
3 e Maizena
1 e Borrie
3 e Mosterd poeier

METODE

1. Kook die bone en uie tot sag in ‘n bietjie water.

2. Voeg asyn en suiker by bone en kook oor matige hitte totdat al die suiker opgelos het, ongeveer 10 minute lank.


3. Maak die kerrie, maizena, borrie en mosterdpoeier aan met genoeg water om ‘n pasta te maak. Voeg by die kokende mengsel en kook weer vir 10 minute. Bottel die bone dadelik in warm gesteriliseerde flesse.


HOEVEELHEID: Ongeveer 3 kg.


BRON: Hantie Bezuidenhout verwerk deur Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za