Sondag, 30 Augustus 2015

TUISGEMAAKTE KAASSMEER

My Ma kon nie voorbly om ons dogters en ons maats te voer nie. Een van die dinge wat altyd in ons yskas was, was kaassmeer. Die kinders het gedink ons is vreeslik ryk maar min het hulle geweet my ma maak dit self. Vir my is dit die lekkerste geskenkie om saam te neem vir kuiertjies met my vriendinne, mooi toegedraai met ‘n lepeltjie by.

Net een woord van waarskuwing: 
Daar is resepte soortgelyk soos hierdie een wat sê die bottels kan netso in die kas gestoor word. Nee, dit is nie so nie, jy kan jou gesin doodmaak met sulke praktyke. Dus in die yskas vir maksimum 3 maande. 

RESEP
2 - 3 kop Melk afhangend hoe dun of dik jy die smeer wil hê
1 kg Geprosseseerde kaas, tussers, gouda, cheddar
500 g Bake Margarien of Botter
500 g Fyn biltong of gaar spek fyn gemaal - opsioneel
Sout na smaak

METODE

1. Verhit die melk oor lae hitte en roer om aanbrand te voorkom. Voeg die kaas by en hou aan roer oor lae hitte totdat die kaas heeltemal gesmelt het.

2. Voeg die margarien by en laat dit verder smelt en roer goed sodat die mengsel homogeen en eenvormig word.

3. Roer nou die spek of biltong by en geur na smaak.

4. Skep in warm gesteriliseerde flesse en laat goed afkoel.

5. Hou vir 3 maande in die yskas.

HOEVEELHEID: 1.5 liter se smeer.

BRON: Hantie Bezuidenhout.


Saterdag, 29 Augustus 2015

BEES EN BIERPOTJIE MET SPESERY SOUSKLUITJIES

Hierdie potjie kan met enige beesvleis gemaak word. Ek het skenkel, stert, steak en ander snitte al so gemaak afhangende van die tyd tot jou beskikking. As jy nie tyd of plek het vir die wat in woonstelle woon, wel dan maak jy dit soos 'n stowe gereg en bak dit in die oond of op die stoofplaat!

RESEP
POTJIE
3 e Olyfolie
2 groot Uie - dun in ringe gesny
8 Wortels - ringe gesny
2 stingels Seldery in lang vingers
2 groot Aartappels - in blokkies
250 g Knopie sampioene - afgevee en heel
4 e Koekmeel
1.5 kg Beesvleis
1 blikkie Bier van ongeveer 425 ml
3 e Muscavado suiker of sagte bruinsuiker
2 Loerier blare
1 e Knoffel vlokkies
1 e Vars gekapte Roosmaryn
Sout en peper na smaak

METODE
1. Braai uie en wortel in die olyf olie tot sag.

2. In ‘n plastiek sakkie plaas sout en peper na smaak en gooi die vleis in die sakkie om deeglik bedek te word. Doen dit in klein hopies op ‘n slag.

3. Verwyder die uie mengsel uit die pot en braai die vleis dan bruin.

4. Voeg dan die groente by die vleis asook die oorblywende meel in die sakkie.

5. Voeg die bier by en die res van die bestanddele en kook die vleis tot sag.


SPESERY KLUITJIES
120 g Bruismeel
knippie Sout
55 g Botter
2 e Gemengde kruie
5 e Water

METODE
1. Sif die bruismeel en sout saam.

2. Vryf die botter in die meel in totdat dit soos broodkrummels lyk en voeg die res van die bestanddele by en maak ‘n deeg.

3. Rol 6 bolletjies van ewe groot en plaas op die amper gaar kookvleis en bedek weer en kook vir verdere 30 minute in die pot.

PORSIES: 6.

BRON: Annelien Pienaar.

Donderdag, 27 Augustus 2015

LEMOEN EN PAPAWERSAAD KOEK

As daar nou een ding is wat nie twee is nie dan is dit my dood, die papawersaadkoek met sy lemoen geur en roomkaas vir die ekstra soet in jou lewe! Dekadent verby!

Nou wil ek eers preek oor roomkaas vs maaskaas! 
Suiker is higroskopies, dit beteken dit sal altyd water onttrek om homself op te los. Wanneer ons na maaskaas kyk, is maaskaas gewoonlik glad en effens romerig en nie so dik nie. 

Daar is nog baie wei in die mengsel teenwoordig. Wei is die water gedeelte in die joghurt of maaskaas voorkom wanneer jy bv. van die produk uitskep en die volgende keer wat jy die bakkie oopmaak sien jy water, wel dit is wei. 

Nou met dit ingedagte gaan jy dus kan verstaan dat maaskaas dunner is as roomkaas en gevolglik nog slapper gaan word as jy suiker by die mengsel sit. 
Roomkaas daar teenoor het reeds meeste van sy wei verloor en is gevolglik baie dikker. 

So my eerste keuse vir 'n roomkaas versiersel is roomkaas en nie maaskaas nie, ek soek nie iets wat die hele wêreld rondloop en nog verder smelt as ek dit uit die yskas haal om vir my gaste voor te sit nie.


Versiersel wat te slap is, maaskaas jou skelm!
RESEP
KOEK
210 g Botter - kamertemperatuur en sag
210 g Strooisuiker
3 ekstra groot Eiers
Lemoenskil gerasper
60 ml Papawersaad
310 g Koekmeel
knippie Sout
10 ml Bakpoeier
160 ml Melk
125 ml Lemoensap - vars indien mootlik

METODE
1. Berei ‘n ringkoek pan voor en voorverhit oond na 160 ˚ C.

2. Room die botter en suiker saam tot lig geel en donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.

3. Voeg 1 teelepel lemoenskil en al die papawersaad by die mengsel en meng goed sodat die bestanddele mooi verprei is in die beslag.

4. Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam.

5. Meng die melk en lemoensap saam en vou om die beurt in die beslag in tesame met die gesifte koekmeel.

6. Skep in pan en bak vir 45 - 50minute.
Roomkaas jou doring, kyk dit hou sy vorm!

STROOP
130 g Strooisuiker
140 ml lLmoensap
5 ml Karamel geursel

METODE
1. Smelt die suiker in die lemoensap oor lae hitte en kook vir 5 minute oor lae hitte om te verminder.

2. Gooi warm stroop oor die warm koek.
Laat die koek goed afkoel voordat die roomkaas versiersel opgesit word.
Moenie gaatjies in die koek insteek nie.

ROOMKAAS VERSIERSEL

230 g Roomkaas
½ k Botter
450 g Versiersuiker
1 t Vanielje geursel

METODE
1. Room eers die botter en die roomkaas appart sodat dit romerig en lig word.

2. Voeg die botter en roomkaas saam en klits goed deur.

3. Voeg die versiersuiker en vanielje geursel by.

HOEVEELHEID: 1 ringkoek of 1 lang broodjie.

BRON: Annelien Pienaar.


Maandag, 24 Augustus 2015

PICCALILLI

Ek vermoed dat een my voorvaders dalk in die spesery handel besigheid gedoen het. Ek is gek oor enige krui en spesery, die reuk, die kleur en die proses wat sommiges moet onder gaan om tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Ek dink in ‘n sekere mate is die lewe ook so, jy sien iets maar sien dit net as gewoon totdat jy begin inspeksie doen en iets ongewoon ontdek. Ek het hierdie smaak vir Fennegriek (Fenucreek) ontwikkel.

In my kleintyd het my Ma baie by ‘n Indiese vroutjie hier op my tuisdorpie Skeerpoort gaan kuier. Die twee het mekaar hul onderskei kulture se kos leer kook. 
My Ma het regtig die beste kerrie gekook. Na my Ma se dood was daar ‘n spesery wat ek nie my vinger op kon lê nie want soos meeste van haar resepte was dit in haar kop of sommer so neer geskribbel. 
So bel my vriendin Naceema my ek moet my bederf pakkie kom haal. 

Ek staan voor haar hekkie by die voordeur en skielik slaan die reuk wat ek nie kon eien my en daar bars ek verdrietig in trane uit. 
Ek huil so dat Naceema dink ek het slegte nuus gekry. 
Toe ek kalmeer na ‘n heerlike koppie kamilla tee, vertel ek haar van die reuk wat letterlik my hart ‘n paar slae laat mis het en my maag laat draai het. Ek kon nie glo watter groot impak daardie “onthou” krui op my lewe sou hê nie! Ek kon nooit na my Ma se heengaan huil want dit was wat sy wou hê, maar daardie huil het my baie beter laat voel. Watter krui of spesery geur roep vir jou herinneringe op?

Wel jy kan met of sonder die Fennegriek die piccalilli maak.

GROENTE
1 kg Piekel uitjies
1 kg Groen boontjies
1 kg Murgpampoentjies
300 g Wortels
50 g Rooi chillies - pit en al
½ Komkommer
½ Blomkool kop
250 g Sout
2½ liter Water

SOUS
¾ k Koekmeel
½ k Mosterd poeier
½ t Borrie
2 liter Asyn
2 ml Fennegriek - gemaal

METODE
1. Skil en doen jou groente se voorbereiding. Los die uie heel en sny die res van die groente in ewe groot stukkies, ek hou van 3 cm by 3 cm of kleiner.

2. Meng die groente se sout en water saam en roer goed sodat die sout kan oplos. Plaas die groente in die water en laat vir 24 uur staan. Plaas ‘n glas bord op die groente om dit af te druk en ten volle bedek is met die sout water. Roer so 4 keer om die sout oplossing eweredig te versprei. Onthou die groente gaan sout absorbeer en water gaan onttrek word.
Dus is die water om die groente dan nie meer so sout nie, daarom die roer. Werk met plastiek vir hierdie proses as jy die weking doen. Metaal reageer met die sout en jou groente gaan grys word.

3. Dreineer die groente goed voordat dit by die sous gevoeg word.

4. Berei die sous deur al die droë bestanddele saam te sif. Voeg die asyn by en maak ‘n pasta aan. Skep die pasta oor na ‘n kastrol op die stoof en oor matige hitte verhit die mengsel totdat dit verdik het.

5. Voeg die groente by die kokende sous en kook verder vir 20 minute saam.

6. Steriliseer solank jou bottels en hou in die oond totdat dit gevul word. mengsel moet asb dadelik gebottel word en die bottel moet omgedraai word en op sy prop koud word om goed te seël.

BRON: Naceema Patel, Skeerpoort.

Sondag, 23 Augustus 2015

OUTYDSE PANNEKOEK

My man reken mos dat hy net kook vir oorlewing en ek kook met instink. Dus is ons twee in die kombuis 'n groot gevaar! Met hierdie stelling ingedagte het ek besef dat daar soveel resepte in my kop is en niks op papier neergepen is nie. Dat ek nou maar sit en dit wat instink is nou vir my kinders en ander kan nalaat. Ja, ek het my les met my Ma geleer, daar is soveel geheime saam met haar begrawe dat ek net weer besef het, juwele steek jy nie weg nie, jy polleer dit en gebruik dit!

LES
1. Die pannekoek is lig en donsig weens die asyn wat bygevoeg word wat die bakpoeier ekstra woema gee. Die bakpoeier word aan die einde van die 30 minute rustyd van die beslag bygevoeg, onthou die asyn sal dit onmiddellik laat skuim, dus bak die beslag sodra jy die bakpoeier bygesit het, anders na 1 uur verloor dit sy werking.

2. Olie in die beslag help om te keer dat die pannekoeke nie vas klou aan die pan nie.

3. Bereiding van die pan voordat jy bak. Ek het nou 'n ou Hart pan, cheepie ek weet maar jinne sy kan bak, soms raak sy halstarring dan moet ek haar skuur sodat die pannekoeke nie vas sit nie. Jy verwarm die pan en drup bietjie olie in, sprinkel met sout (½ tl) en vat dan kombuispapier en vryf goed oor die oppervlakte sodat die kolle wat aanbrand geskrop is.
Vee goed af en bak jou pannekoek. As jy 'n kleefvrye pan het dan is dit nie nodig nie.

4. 'n Pannekoek moet vinnig bak.

5. Ek gebruik 'n gewone ballon klitser (whisk) om die beslag aan te maak, los maar die elektriese goed.

6. Die resep vermeerder met gemak sonder enige aanpassings.

7. Die beslag kan sonder bakpoeier in yskas vir 2 weke gehou word.

8. Pannekoek kan gevries word in lae van 10.

RESEP
1 k Koekmeel
½ t Sout
¼ k Olie
1 e Asyn
1 Eier
1½ - 2k Water
1 t Bakpoeier

METODE
1. Sif koekmeel en sout saam.

2. Meng al die vloeistowwe saam en klits met water. Voeg by koekmeel en gebruik 'n ballonklitser om te klits.

3. Voeg die res van die water by, die dikte moet soos room wees.

4. Laat staan vir 30 minute.
Toets die dikte, moet soos room wees en voeg die bakpoeier by.

5. Bak in warm pan. Sodra die beslag van die kante los trek kan jy die deeg om draai.

VARIASIES

Pannekoek koek soos in foto. Ek pak 20 - 30 pannekoeke op mekaar met lae van kaneel suiker met fyn gekapte pekans gemeng. Elke 2de laag kry chantilly room tussen in.
Smeer die buitekant van die koek met Chantilly room en sprinkle met kaneel en neute.

CHANTILLY ROOM

1 kop vars room styf geklits met 4 el strooisuiker en 5 ml vanielje geursel.

HOEVEELHEID: 10 medium grootte.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

CRUNCHIES MET 'N TWIST

Ons het hierdie as kinders baie saam met my ma gebak. Vandag sit ek die tradisie voort en elke vakansie bak ons crunchies. Soms sit ek so bietjie vrugte mengsel in of deesdae vir die kinders sit ek sjokolade splinters of selfs oorskiet fudge in die beslag, ek het selfs nou die dag korente ingesit om van pekans nie eens te praat nie! Om dit te doen kan jy so 100 ml bysit van die bo genoemde sonder om die balans van die resep te versteur. 

Hoop julle gaan lekker eet!

RESEP
125 ml Nutty wheat
125 ml Koekmeel
250 ml Sagte bruinsuiker (treacle sugar)
250 ml Hawermout
250 ml Klapper
2.5 ml fyn Gemmer of kaneel
10 ml Sesame saad
125 g Botter
5 ml Koeksoda
30 ml Goue stroop
30 ml Warm water

METODE

1. Meng die nuttywheat, koekmeel, bruinsuiker, hawermout, klapper, gemmer en sesame saad saam.

2. Meng die koeksoda, goue stroop, botter en warm water saam en roer deeglik om te meng.

3. Meng die droë bestanddele by die vloeistof om ‘n sagte deeg te vorm.

4. Jy kan die deeg op twee maniere vorm. Rol balletjies of bak koekies met dit. Vir stafies druk alles in gesmeerde oondpan en bak en sny dadelik as dit uit die oond kom.

5. Bak by 160 ˚ C tot goudbruin vir 10 - 15 minute vir die balletjies of 20 - 25 minute vir die oondpan.

6. Onthou hoe langer die beslag bak hoe harder word dit. Sommige mense hou van dit sag en kluitjierig en ander hou daarvan krakerig.

7. Sodra die vingers of koekies afgekoel het sprinkel gesmelte sjokolade oor.

English Version
CRUNCHIES

125 ml Nutty wheat
125 ml Flour
250 ml soft Brown Sugar ( Treacle)
250ml Oats
250 ml Coconut
2.5 ml ground Ginger or Cinnamon
10 ml Sesame seed
125 g Butter
5 ml Bicarbonate of Soda
30 ml Golden Syrup
30 ml hot Water
Optional
100 ml of either the following can be added; fruit mix, chocolate, pieces of fudge, currants, pecans, the list is endless…..

METHOD

1. Mix the nuttywheat, flour, brown sugar, oats, coconut, ginger and sesame seeds together.

2. Mix the bicarbonate of soda, syrup, butter and hot water together and stir the mixture thoroughly.

3. Mix the dry ingredients to the liquid, to form a soft dough.

4. You can choose from 2 methods for the baking. Roll balls to bake cookies or for finger, press the dough into a greased baking sheet and bake. Cut as soon as it comes out of the oven.

5. Bake at 160°C until golden brown.
Bake the balls 10 – 15 minutes; and the baking sheet  20-25 minutes.

6. Some people like their Crunchies to be soft and chewy, and other like it to be crisp. Remember the longer the baking, the more crispy it becomes.


7. Once either the fingers or cookies have cooled, it can be decorated with melted chocolate.

HOEVEELHEID: 20 stafies as dit grotes is en 40 koekies.

BRON: Annelien Pienaar, Boerekos met ‘n Twist.

Vrydag, 21 Augustus 2015

PIESANGBROOD MET 'N TWIST

Kyk ek kan die wonder van ‘n piesang nie genoeg besing nie! Van gesondheids voordele tot in kos. 
Omdat piesangs hoog in Kalium en Magnesium is neem die liggaam dit dadelik op omdat dit in sy natuurlikste en eenvoudigste bron voorkom. Hoe wonderlik is dit nie? Dit voorkom spier krampe, as jy bloeding het soos met ‘n neus dan eet jy so 2 piesangs en die bloeding stop na ‘n rukkie. Dit gee ‘n diabeet wat se suiker val ‘n hupstoot en vir sportmanne ‘n goeie energie bron.

Hierdie piesangbroodjie is vir my ‘n noodbroodjie, ek bak sommer 20 op ‘n slag as ek goedkoop papperige piesangs kry, dit vries soos ‘n droom en smaak heerlik as dit ontdooi word. 
Ek kroek so bietjie en verhit dit in die mikrogolf oond en bedien dit lou warm, my kinders is dol oor die piesangbrood. Ek maak ook kolwyntjies met hierdie beslag en sit papawersaad (30ml) en pekans (100 g) in vir ‘n twist.


Lekker bak!

RESEP
120 g Botter - sag en by kamertemperatuur
140 g Suiker
2 Eiers, ekstra groot
4 Piesangs, medium grootte
15 ml Suurlemoensap
240g Koekmeel
knippie Kaneel
knippie Sout
5 ml Koeksoda
2.5 ml Bakpoeier
40 ml Melk

METODE
1. Klits die margarien en suiker saam tot lig geel en donsig. Die klits proses neem ongeveer 5 minute.

2. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Moenie kommer nie, dit gaan lyk of die eiers en botter skif, hou net aan klits.

3. Maak die piesangs fyn en voeg die suurlemoensap by om verkleuring te voorkom. Die suurlemoensap dien ook as katalisator vir die koeksoda om te reageer.

4. Sif al die droë bestanddele soos koekmeel, sout, koeksoda, bakpoeier saam.

5. Voeg die meel en melk en piesangmoes om die beurt by die suiker en eiermengsel.

6. Bak by 180 ˚ C vir ongeveer 45 - 60 minute of totdat die toets stokkie skoon uitkom.

HOEVEELHEID: 2 medium grootte brode.

BRON: Hantie Bezuidenhout, 2000.




Woensdag, 19 Augustus 2015

WAFELS MET KARAMELSOUS




















Hierdie wafel resep is deel van my naweek kos. Dit is my huiskos, dit laat 'n plekkie in my hart so 'n wollerige gevoel kry as ek aan my Ma se wafels dink. As student wat sondag middae met ‘n trae hart my hartseer Moeder agter gelaat het, het sy altyd vir my ‘n bondeltjie wafels gegee om in die vrieskas te bêre as ek trooskos soek. Die wafels het baie kuiersessies deur staan in die koshuis, ons het saam oor 'n beker koffie gelag, gehuil, geheime gedeel en mekaar getroos. Met my Ma was dit ook so, ek kon met haar oor die intemste dingetjies gesels en dan was dit oor 'n koppie koffie en 'n skyfie wafel en stroop, vandag het ek net die herinneringe van die soet goue oomblike saam met haar!

Die gaar wafels vries baie goed. 
Ek haal dit ‘n uur voor die tyd uit om sag te word en plaas dit dan in die oond by 160 ˚ C vir 5 minute om net weer heerlik bros te word. 
Vandag doen ek nog voort met daardie tradisie van wafels maak. 
Ek betrek my hele gesin by die bakproses en bak dan so 50 op ‘n slag vir die vrieskas. 
Natuurlik is daar altyd “floppies” wat sommer gou gou in belustige magies verdwyn. 

Ek het weer hierdie naweek die waarde van hierdie dis besef, toe ek baie besig was by die gastehuis en moes kook vir die gaste. 
My mense moet mos ook soos konings eet! 
Ek bedien die wafels soet of sout as ontbyt, middag en aandete asook nagereg.

RESEP
As jy nie 'n wafel pan het nie dan maak jy hierdie plan!
BESLAG
220 g Koekmeel - gesif
15 ml Bakpoeier
knippie Sout
15 ml Suiker
300 ml Melk
50 ml Sonneblom olie
2 groot Eiers - geskei

METODE
1. Sif die koekmeel, bakpoeier, sout en suiker saam.

2. Klits die melk, eiergele en olie saam.

3. Meng die droeë bestanddele met die vloeistowwe en klits om alle klonte uit te kry.

4. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium. As jy die bak met die geklitste eierwitte omdraai mag dit nie uitval nie. Onthou ook dat daar geen eiergeel teenwoordig mag wees nie, die olie in die eiergeel verhoed dat die eierwitte styf klits.

5. Vou die eierwitte in en laat die beslag 30 minute rus om verder te verdik.

6. Bak in voorverhitte wafel pan. As jy nie een het nie, kan jy plaatkoekies bak!


KARAMELSOUS
200 g Sagte bruinsuiker (Treacle sugar)
60 g Margarien
250 ml Volroom melk - warm (hou 50 ml melk eenkant vir vlapoeier)
25 ml Vla poeier
knippie Sout
5 ml Karamel geursel

METODE
1. Smelt die botter en suiker totdat meeste van die suiker opgelos en soos karamel lyk.

2. Kook die melk eenkant en voeg dit by die karamel suiker en roer weer oor medium hitte sodat al die suiker kan oplos.

3. Meng die vlapoeier eers met die melk en voeg dan by die kokende stroop om te verdik.

4. Sodra die mengsel verdik het verwyder van die hitte en voeg die karamel geursel by.

HOEVEELHEID: 6 wafels.

BRON: Hantie Bezuidenhout - mis Ma!


Dinsdag, 18 Augustus 2015

PANEER VS FETA - MET 'N RESEP VIR PANEER

Paneer
Nou goed, ek buig die knie! Daar was ‘n resep wat die rondte gedoen het wat skynbaar “Feta” genoem was. Wel dit is nie Feta nie! Hoekom nie? 

Kom ons gaan kyk eers na die proses waar Feta gemaak word, dan sal julle beter die verskil tussen die Paneer en Feta kan sien. 


Ek skiet glad nie die resep wat aangestuur is af nie. Ek wil nie hê julle moet die verwagting koester dat dit soos die winkel sin gaan wees nie. Hierdie Paneer het ‘n ander doel en is pap en nie so ferm en “mat” nie soos feta in ‘n soliede blok nie. Dit is amper smeerbaar. 


FETA SE PROSES
1. Pasteuriseer rou melk.
Feta
2. Inokuleer of suur jou melk aan met ‘n kultuur vir Feta, mesofiel.
3. Byvoeging van Rennet om die melk verder te laat stol.
4. Roer.
5. Inkubasie.
6. Pekeling.

*OPMERKING
Punt 2 en 3 by die Feta proses kan nie omseil word nie.
As jy kommersiële kaas wil maak dan moet jy kulture en rennet gebruik.

Jy gaan nie sonder hierdie die kenmerkende Simonsberg, Spar, Checkers of Pick ‘n Pay teksture kan kry nie.
Jy en jou termometer en horlosie gaan onafskeidbaar wees in hierdie proses!

PANEER SE PROSES - DIE RESEP WAT DIE RONDTE GEDOEN HET AS "FETA"
1. Melk word verhit.
2. Suur soos asyn, suurlemoensap of gewone yoghurt word bygevoeg vir aansuur.
3. Dreineer.
4. Geen pekeling.

RESEP VIR PANEER
2,4 liter rou melk of melk wat net gepasteuriseer is en nie UHT ondergaan het nie
90 ml suurlemoensap (gee ‘n suurder smaak maar verdik vinniger) OF 125 g gewone joghurt (gee ‘n romeriger smaak en langer neem om te verdik)

METODE
1. Verhit die melk oor medium hitte en roer aanhoudend sodat die melk nie kan aanbrand nie.

2. Sodra die melk begin kook draai die hitte laer en voeg die suurlemoensap of joghurt by.


Skeiding van wei(waterige gedeelte) en wrongel (soliede gedeeltes)
3. Jy behoort na ‘n minuut vlokkies in die melk sien vorm. Dit is die wrongel (soliede stukkies) genoem. Die waterige gedeelte is die wei. As dit nie gebeur nie moet die melk net aanhou verhit word by medium hitte totdat die vlokkies vorm.

4. Sodra die wrongel deeltjies vorm verwyder van die plaat. As jy die melk te lank verhit word die wrongel taai en hard, dit gaan proe soos uitveer wat jy eet!

5. Voer ‘n kolander of sif uit met kaasdoek en gooi die mengsel in sodat die wei kan dreineer.

6. Bind die punte van die kaasdoek saam en druk van die vog uit. Plaas die bondel dan op ‘n skinkbord wat met ‘n vadoek uitgevoer is. Plaas dan ‘n broodplank bo op die bondel.
Dan neem jy ‘n 2 liter melk bottel en balanseer dit op die gedoente en laat dit dan so staan vir 4 ure sodat meeste van die vog kan dreineer.

GEBRUIKE
Kan met room gemeng word om 'n doopsous te maak met kruie en speserye.
Kan in bredies gebruik word om die gereg romerig te maak.
Hou heel en gebruik in slaaie en groente geregte.
Smeer dit op vars gebakte brood in plaas van botter.
Geniet met Rotti en naan, vele gebruike!

HOEVEELHEID: Ongeveer 450 g Paneer.

BRON: Annelien Pienaar, 2013.


Sagte (Vars) kaas Beginners kursusse en Gevorderd aangebied deur: Annelien Pienaar by boerekostwist@gmail.com. 

Maandag, 17 Augustus 2015

SAMPIOEN EN GORILLA SOUS

Mhhh, hierdie sous is uit nood gebore! So stuur ek die dag vir manlief met my inkopielys winkels toe. Ek het verwag dat ek wel weer soos die gebruik ‘n paar oproepe sou kry met die vreemde goed wat ek op die lysie skryf. So kom die eerste oproep in: “Bokkie, die man by die groente afdeling weet nie van Brussels en Spruite nie”, kyk daar lê ek soos ek lag vir die dierbare man van my. Geduldig help ek hom reg, jy lees die lysie seker onderste bo of jou bril is skeef. Goed hierdie een is afgeweer. 

Toe kom die tweede oproep:” Bokkie, daar is honderde kase om van te kies, hier is ‘n vrou wat sê sy sal kan help.” 
So gesêls ek en die vrou en ek verduidelik mooi ek soek Gorgonzola kaas. ”Nee, mevrou ons hou nie gorilla kaas aan nie.” Hoe meer ek verduidelik hoe meer wil ek huil, nie my man of die vrou maak kop of stert uit nie. Uit radeloosheid vra ek my man om maar Cammenbert kaas te kry aangesien dit een was wat hy opgenoem het soos hy deur die rakke gekrap het. Dus hier is my Gorilla sous wat nou ‘n Twist met Cammenbert gekry het. Beide werk heerlik!

RESEP
3 e Olyf olie of druiwepit olie
250g Sampioen snippers
1 Knoffel toontjie
250 ml Room
175 g Gorgonzola, Brie of Cammenbert (dit smelt vinnig en voorkom dat die room te warm word en skif) verwyder net die skilletjies
sout en peper na smaak
2 e Vars Dill tippies - of 1 el gedroog
100 g Pekan neute - gekap

METODE
1. Soteer die sampioene vir 5 minute en voeg dan die knoffel by en braai vir 1 minuut. Oppas knoffel kan brand en dan word dit bitter.

2. Voeg die room by en laat dit vir 1 minuut lank kook. Voeg die kaas by en roer versigtig dat die kaas kan smelt oor medium hitte, die mengsel moenie kook nie.

3. As die kaas en room goed gesmelt het voeg al die bestanddele in  die kastrol en roer deeglik deur. Bedien as pasta sous, vleis sous vir steaks, schnitzels en seekos dip.

HOEVEELHEID: 4 - 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar, 2009, Bos en Berg gaste plaas.


Sondag, 16 Augustus 2015

BASIESE WITBROOD DEEG

Nou goed ek gaan so bietjie van die “aap uit die mou laat”oor wat ek vir ‘n lewe doen.

LES
1. Ek gebruik bakterieë wat uiters “vriendelik” is vir mense wat Candida lyers is. Dus is die proses waar die suurdeeg gemaak word baie lank, maar produseer ‘n brood met goeie tekstuur en smaak asook ‘n goeie raklewe. Daarom gebruik ek nie gis in die broodbak proses nie.

‘n Plantjie neem enige iets van 6 - 12 ure om aan die gang te kom. Ek verkoop die bakterië net aan mense wat ‘n klas by my bywoon en ek hul geleer het hoe die bakterie werk. Maar vir nou kan julle op die blog die Suurdeeg plantjie resep soos in die ou dae volg wat wel gis in kry om eers te oefen.

2. In hierdie resep wat ek nou vir julle gee word die water en melk uitgehaal en die plantjie wat jy aanmaak word dan in die plek van die water en melk gesit. Daarom gaan jy 230 g plantjie insit. Sodra jy die deeg knie sal jy gou agter kom of die deeg hard of sag is. As die deeg hard is moet jy nog so 100 ml water by die beslag sit.

3. As die deeg so hard soos die palm van jou hand is, is dit te droog. Dit beteken jou gis sal nie optimaal kan werk en ontwikkel nie. Die gluten (protein) in die deeg sal nie voldoende kan ontwikkel nie. Tydens die bakproses sal die min vog teenwoordig ook nie genoegsame stoom produseer om die deeg te “lig” nie.

4. Deeg wat te slap is, as jy met jou vinger daaraan raak en dit klou aan jou vinger vas is te nat dan maak jy maar Ciabata of voeg nog bietjie meel by. Onthou as jy te veel meel bysit (meer as 100 g) gaan jy die balans van die deeg versteur en die deeg gaan dalk meer gis kort ens. Die tekstuur van die brood word dan ook drasties benadeel.

5. WAT IS GLUTEN?
In die koring se endosperm (die wit gedeelte) kom daar twee proteine voor nl. gliadien en glutenin. Sodra hierdie twee proteine vog kry en hanteer word verbind dit en vorm gluten. Gluten is soos die tent pale van ‘n tent. Dit is die struktuur van enige koringmeel gebak. Sodra dit verhit word, rek dit en stol dit (omdat dit ‘n protein is) op ‘n sekere stadium. Onthou as ouma gesê het jy mag nie die oond se deur oopmaak voor 20 minute van die baktyd om is as sy koekbak? Wel, die gluten het nog nie geset nie. Die eier is ook ‘n protein en dit help met die ondersteuning van die gluten raamwerk.

6. WAT IS DIE FUNKSIE VAN SUIKER?
Dit is die kos vir die gis of bakterieë om vanaf te groei om CO2 en alkhol te produseer. Dit het ook ‘n versagtende effek op die gluten.

7. WAT IS DIE FUNKSIE VAN VETTE SOOS BOTTER? 
Dit versag hoofsaaklik die gluten en verleen kleur en ‘n sagte tekstuur aan die eindproduk.

8. WAT IS DIE FUNKSIE VAN EIER?
Eier bevat Lesitien wat ‘n vet is en help met die versagting van die gluten raamwerk. Gee ook kleur en help soos vet met preservering.

9. WAT IS DIE FUNKSIE VAN MELK?
Dit gee smaak, kleur en help met tekstuur verbetering.Dien ook as ‘n vloeistof vir die gluten om in te ontwikkel.

RESEP
420g Koekmeel of witbrood meel
5g Sout
30g Suiker
10g Kits gis (1 pakkie)
60g Margarien
1 groot Eier
100ml Lou melk
130g Lou water

METODE
1. Sif  die koekmeel, sout, suiker en gis saam.

2. Vryf die margarien in die droë bestanddele in.

3. Meng die eier, melk en water saam.

4. Maak ‘n holte in die meel en gooi die vloeistof mengsel in en begin om die bestanddele van buite na binne te meng. Hou aan meng totdat die meel nat is.

5. Keer uit op werks oppervlakte en knie vir 10 minute totdat die deeg glad en elasties is.

6. Laat die deeg dubbel die volume rys, dit kan enige iets van 30 minute tot 6 ure neem (indien jy suurdeeg plantjie gebruik).

7. Keer die deeg versigtig uit en verdeel dit sodat dit nou gevorm kan word vir die doel waarvoor jy dit beplan het. Moenie die deeg soos in die ou dae af boks of knie nie, nee, vou dit oor mekaar om dit te fatsoneer. Plaas in panne om weer dubbel die volume te rys.

8. Voorverhit oond dan tot 200 ˚ C en bak die gerysde deeg vir 20 - 60 minute afhangende van die grootte van die brood.

HOEVEELHEID: 12 x 50 g bolletjies ongeveer of een groot brood of 2 Baugette.


BRON: Annelien Pienaar.



Saterdag, 15 Augustus 2015

EENPOT HOENDER GEREG

Hierdie is een van my gunsteling disse om sommer in die week te maak as ek weet die tyd is min maar wil graag 'n gesonde ete aan die gesin voorsit. My hutspot is so deel van my ek kan nie my lewe sonder dit indink nie! 

Ek sit 'n heel knoffelbolletjie in die holte van die hoender om ekstra geur aan die vleis te gee wat dan van die binnekant versprei word. 


Hier leer ek jou ook hoe om die vel van die hoender los te maak en dit te vul met die heerliste mengsel van kruie en botter. Die karringmelk in die resep maak die vleis murgsag en gee dit 'n ekstra romerige smaak.


RESEP
2.5 - 3 kg Heel hoender
vars Dill takkies
200g Feta kaas
3e Songedroogde tamatie pesto (pesto resep is in files)
60g Sagte botter
100ml Karringmelk
1 Knoffel bolletjie (ja die hele een)
1kg Baba aartappeltjies
1 Groen soetrissie - grof gekap
1 Geel - soetrissie - grof gekap
4 Murgpampoene - in lengte gesny
2 pakkies Babaworteltjies - gewas
2 Rooi uie - in kwarte
3e Olyfolie
3e Koekmeel
400ml Hoender aftreksel
200ml Witwyn

METODE
1. Sit solank die hutspot aan op hoog.

2. Spoel eers die hoender onder lopende koue water af. Druk droog.

3. Maak die hoender se vel los tussen die vleis en die vel. Begin deur vanaf die nekkie die vel oor die bors en rug gedeeltes los te maak met jou vinger. Jy gaan ‘n mengsel tussen die vel en die vleis indruk om die vleis murgsag en geurig te maak. Jy moet tot teen aan die boudjies en vlerkies los maak.

4. Kap die dill tippies versigtig op sodat jy ongeveer ‘n ¼ kop het. Meng die feta kaas, songedroogde tamatie pesto, botter, karringmelk en sout en peper na smaak. Druk dan hopies van hierdie mengsel onder die vel van die hoender in.

5. Neem die knoffel bolletjie en sny in die helfte. Plaas die twee helftes in die karkas van die hoender, verwyder dit nadat die hoender gaar gemaak is of los dit net so en druk die sagte knoffel uit as deel van die ete, dit is heerlik so gebak!

6. Berei al die groente voor en plaas dit in die onderkant van die hutspot. Plaas die hoender bo op die groente.

7. Maak die sous aan deur die koekmeel, olyfolie, aftreksel en wyn saam te kook vir 5 minute en sprinkel oor die hoender en groente in die hutspot. Bak vir 4 - 6 ure met ‘n handdoekie oor die hutspot om dit vinniger te laat kook, gesig handdoekie werk goed.

8. As die hoender dan te bleek is na jou sin, plaas dit onder die rooster van die oond vir 5 minute om te verbruin. Bedien met Couscous of stysel van keuse.

HOEVEELHEID: 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar vir Bos en Berg gasteplaas.



Vrydag, 14 Augustus 2015

HOE OM KOEK IN PERFEKTE LAE TE SNY

Hallo julle

Gedink om die onderwerp van hoe om die perfekte koeklae te sny aan te spreek.


Onlangs het ek weer deur die internet geblits en paar oulike items gesien wat ons lewens aansienlik makliker kan maak om hierdie belangrike takie te voltooi. 
Een maatskappy hier in SA, Yuppie Chef verskaf omtrent al hierdie goeters en katoeters, so google maar! 
Soek woord is: Cake Leveller.

My eerste keuse is.

Eerste keuse: Die band is verstelbaar vir verskillende grootte koeke.


Hierdie is my 2de keuse as ek nie die boonste gedoente kan bekostig nie.

Hierdie is eintlik 'n kaas snyer, ek het een maar werk nie so goed om die lae te sny nie, baie krummels.

Hierdie een werk met 'n mes wat jy vasknip tussen die 2 plastiese goedjies en jy kan dit verstel vir die verskillende lae wat jy wil sny.

Die video demonstreer dit baie mooi.


https://www.youtube.com/watch?v=hsOgfuD8yfA

BRON: Annelien Pienaar 2015.

Donderdag, 13 Augustus 2015

GEMARINEERDE SAMPIOEN EN SPEK SOUTTERT

Hierdie vinnige en maklike ligte middagete is vullend en saam met 'n heerlike somer slaai net die regte ding om die seisoen mee in te wag! 

RESEP
VULSEL
250g Sampioene - klein knopies
200ml Witwyn - Chardonnay
50ml Druiwepit olie
250g Spekvleis - repies gesny
1 medium Rooi ui - ringe gesny
1 Knoffel toontjie - fyn gedruk
150g Gruyere kaas of Bloukaas of Brie
250ml Vars room
15ml Dill tippies - gedroog
4 Eiers
2e Koekmeel

METODE
1. Marineer eers die sampioene in die wyn en druiwepit olie vir 4 ure.

2. Braai die spekvleis eers tot krakerig en voeg dan die ui by.
Soteer ui tot glansend.

3. Voeg die knoffel by en braai vir 1 minuut. Laat eenkant om af te koel.

4. Meng die kaas, room, dill, eiers en koekmeel saam. Sout en peper na smaak.

5. Meng dan die res van die bestanddele by die eier mengsel in.

6. Skep in die tertkors en bak vir 35 - 40 minute by 180 ˚ C tot gaar.

KORS
250ml Koekmeel
250ml Gerasperde cheddar kaas
250ml Gerasperde Rama of Stork bake

METODE
1. Plaas die bestanddele in voedselverwerker en werk dit totdat dit soos broodkrummels lyk.

2. Druk die krummels in gesmeerde tertbak of flan bak en maak seker dit is goed vas.

PORSIES: 6.


BRON: Annelien Pienaar.



Woensdag, 12 Augustus 2015

TIPSY TERT MET 'N TWIST

My Ma kon darem die wonderlikste terte op tower. Sy het eendag nie Rum geursel gehad nie en het toe 'n Amarula weergawe van die Tipsy tert gedoen met bietjie koffie by. Lees verder by die variasies hoe hierdie Tipsy tert 'n Twist of twee by kry!

RESEP
KOEK
1½ k Dadels - grof gekap
5ml Koeksoda
1¼ k Kookwater
2 Eiers
250ml Suiker
3e Botter - hoogvol
2k Koekmeel
2t Bakpoeier
1t Vanielje geursel
knippie Sout

METODE
1. Meng die dadels, koeksoda en kookwater saam sodat die dadels sag kan word. As daar baie water is moet dit dreineer word.

2. Room die eiers en suiker tot lig en donsig.

3. Klits die botter by die eiermengsel in en laaste die dadels.

4. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vou in by eiermengsel en laaste die vanielje geursel.

5. Bak by 180 ˚ C vir 30 minute.

STROOP
2k Wit suiker
1k Water
1e Botter
2t Rum geursel

METODE
1. Kook die suiker, water en botter saam. Sodra die suiker opgelos het voeg die rum geursel by.

2. Gooi die warm sous oor die warm koek.

VARIASIE
1. Bak die beslag in mini kolwyntjie pannetjies vir vingerhappie groottes. Bedien met room en glans kersies.

2. Om die tert nog erger stout te maak. Laat die koek eers heeltemal afkoel en smeer dan 1 blik gekookte kondensmelk oor en rondaf met styfgeklopte room en neute!

3. Onthou die rum geursel kan met koffie, amandel, karamel of enige ander geursel van jou keuse gegeur word, selfs alkhol!

HOEVEELHEID: 1 langwerpige pyrex bak, 40 mini kolwyntjies of 12 groot kolwyntjies.


BRON: Hantie Bezuidenhout