Dinsdag, 30 Junie 2015

SJOKOLADE BALLETJIES

Ons het as kinders lekker help bolle rol maar eish, daar was na elke rol sessie wel net die helfte van die poging oor!
Ons het meer gerol en proe as gerol en bêre.

RESEP
200 g smelt sjokolade
150 g room
5 ml rum geursel of 10 ml brandewyn
200 g Tennis beskuitjie krummels
50 g neute van keuse - gemaal
50 g versiersuiker - gesif

METODE
1. Smelt die sjokolade in dubbelkoker en laat effens afkoel.
Ek kap die sjokolade baie fyn met my mes, dan smelt die stukke vinniger.
As jy ‘n dubbelkoker bebruik onthou die water in die kastrol moet liggies kook en dit moet ook nie die bak wat bo op pas se bodem raak nie.
As die water te vinnig kook kan daar water druppels in die gesmelte sjokolade kom en dan word dit een growwe massa, so wees versigtig met hierdie proses, dit is die maak of breek.

2. Roer die room en laaste die geursel by.

3. Roer die koekies, versiersuiker en neute by.

4. Verkoel in yskas en maak 15 ml balletjies wat jy rol in versiersuiker vir wit ballejties, kakao vir bruin balletjies en sjokolade gerasper, speel...selfs 100’s en 1000’s, klapper, en vermicilli.

PORSIES: 30 balletjies.

BRON: Annelien Pienaar.

Maandag, 29 Junie 2015

ARTIZAN BROODBAK KURSUS KOMPETISIE


VRAAG 5
Is Fennegriek 'n krui of 'n spesery?

VRAAG 6
Waar of Vals - Panini is dieselfde as Ciabata, dit is net die baba van 'n Ciabata.

Stuur al die antwoorde voor en of op 4 Julie 2015

na: boerekostwist@gmail.com

Voorwaardes: 
Hierdie prys kan nie vir kontant omgeruil word nie en is 6 maande geldig vanaf die datum wat die wenner aangekondig word op 5 Julie 2015.

REËNBOOG JELLIE VINGERS


As kinders het my Mammie hierdie dromerige jellie reënbogies vir ons gemaak. 
Deesdae maak ons dit vir die kinders met hul “markdag” of “entrepreneurs” dae. 
Plaas dit in deursigtige houertjies, kinders is gek daarna! 
My seuns maak dit self en natuurlik moet ek die heeltyd keer of daar eindig geen kondensmelk in die mengsel op! 
Hoop julle kinders gaan ook groot-oog na hierdie lekkerny staar soos myne het die eerste keer dat ek dit gemaak het!

RESEP
2 blikkies kondensmelk
150 ml gelatien (ja ek weet dit lyk na baie, maar dit moet so wees)
5 pakkies jellie in geel - groen - rooi, blou - pers net soos jy wil
2.5 liter kookwater
Lagies besig om te set

METODE
1. Meng beide blikkies kondensmelk met 450 ml kookwater.

2. Neem nog 450 ml kook water en laat 60 ml van die gelatien in die water oplos terwyl jy roer.
Daar mag geen korreltjies sigbaar wees nie.

3. Voeg die kondensmelk mengsel by die gelatien water en laat effens afkoel.

4. Maak elke kleur jellie in ‘n apparte bakkie aan.
Voeg 25 ml gelatien en 300 ml kook water by elke kleur jellie en roer goed totdat al die gelatien opgelos het.

5. Voer bakplate met kleefplastiek uit en gooi die jellie elkeen in sy eie pannetjie uit.
Die kleefplastiek sal help om die jellie later maklik uit te lig en die lae op mekaar te stapel.
Ek gebruik ‘n 33 cm by 23 cm pannetjie.

Ringkoek reênboog
6. Sodra die jellie effens begin set, as jy aan dit raak moet dit nie aan jou vinger vas sit nie, dit mag dalk nog loperig wees onder die lagie solank dit net nie sal oplos as jy die kondensmelk lagie bo op smeer nie.

7. So smeer dan die kondensmelk op en laat die kondensmelk ook net effens set.

8. Lig dan die een laag na die ander uit en plaas die lae op mekaar en onthou om die plastiek af te trek.
Hou so aan totdat al die lae opmekaar is.

9. Laat weer stol in yskas vir 3 ure en sny in vingers, koekie drukkers is ook pret om die verskillende vormpies te maak.
Of maak een groot koekerasie.

10. Lekker speel!

HOEVEELHEID: 40 blokkies

BRON: Annelien Pienaar

Saterdag, 27 Junie 2015

TANNIE TASIA SE VENISIESE VINGERS


In die gemeenskappie waar ek groot geword het van Skeerpoort, was daar ‘n Italiaanse vrou, tannie Tasia Cappitani. Ek onthou die tannie het vreeslik baie geraas, maar sy het ‘n hart van goud gehad. As ons 3 dogtertjies saam met my Mammie die melk gaan haal het dan het sy ons in genooi om van haar “Italiaanse” koekies te kom eet met Oro’s. Ek kon as kind net nie genoeg van hierdie koekies kry nie. Om ekstra koekies te kon kry moes ek die slingertjie draai van die room afskeier, ek hoor nou nog die geping-ping van die kontrepsie, vandag het ek ‘n rooie en ‘n bloue in my kombuis. Sy het vir my Ma hierdie reseppie gegee, soos die tyd verby gegaan het, het ek paar kinkels ingewerk. Hier is die oorspronklike resep en onder aan variasies.

RESEP
175 g botter - kamertemperatuur
½ kop mielieblom (maizena)
1 kop koekmeel
¾ kop versiersuiker
1 ml sout

METODE 
1. Voorverhit oond na 180 ˚ C. Berei 'n bakplaat soos volg voor - spuit kleefwerende kos sproei op en sif dan mielieblom op en skud die ekstra af.

2. Verroom die botter en versiersuiker tot lig geel en donsig, dit sal ongeveer 5 - 8 minute neem. As jy dit nie ordentlik doen nie, gaan die koekie nie suksesvol wees nie.

3. Sif die mielieblom, koekmeel en sout saam.

4. Meng die meelmengsel met die bottermengsel.

5. Neem nou ‘n versier sak en pas ‘n groot stêr punt in. Ek verkies om die materiaal sakke te gebruik omdat dit nie so maklik skeur nie. Die rede hoekom - jy gaan die sak vul met die mengsel en die bo kant baie styf opwen om die mengsel afwaarts te dwing. Soos jy die heeltyd spuit, moet jy die sak opwen.

6. Trek in die stoffies van die mielieblom op die bakplaat strepies met jou vinger vir die lengte wat jy die koekie wil hê.

7. Bak vir 10 - 15 minute totdat mooi goudbruin van kleur.

8. Laat die koekies afkoel en doop punte in gesmelte sjokolade en sprinkel met 100’s ‘n 1000’s of doop die punte in glans versiersel.

Plaas die gedoopte vingers op gesmeerde bakpapier om later maklik te kan verwyder sonder om die koekies te breek.

VARIASIES
1. Neem die helfte van die mielieblom en vervang dit met vla.

2. Voeg 50 g fyn gekapte pekans by die mengsel en spuit met ronde punt.

3. Spuit blommetjies en plak met sjokolade aan mekaar vas.

HOEVEELHEID: 20 vingertjies

BRON: Tasia Cappitani




Vrydag, 26 Junie 2015

SJOKOLADE BESKUITJIE BLOKKIES

Hierdie is die ideale reseppie vir die jongspan om tuis self te maak, natuurlik onder Ma se wakende oog of hopelik Ouma!
Ouma’s en tannie’s het nou maar een maal net die gawe om ‘n kind te bederf en goed toe te laat wat Mamma nie sal nie.
Dus is hierdie reseppie veilig en maklik vir ‘n kind om te volg, ek dink in ‘n mate het my een seun, so ‘n klein ondeunde rooikoppie vinnig geleer lees met begrip.
Ons het altyd gesukkel om hom die liefde vir lees aan te leer totdat die kook gogga hom gebyt het, toe kom ek mos agter die man wil goed lees wat sin maak!
Hopelik maak dit die lees gogga ook vir ander maters wakker.

RESEP
250 g Rama of Stork Bake
500 g versiersuiker - gesif
5 el kakao - gesif
2 tl vanielje geursel
1 eier - geklits
2 pakkies Marie koekies - ek het al met Tennis beskuitjies ook gemaak - breek met die hand in Rice Crispie groottes (Fyn sensoriese en middellyn kruising spiere word hier geoefen!)

METODE
1. Smelt die margarien oor medium hitte en roer die versiersuiker, kakao en vanielje geursel by.

2. Haal van die stoof af en klop die eier vinnig by.

3. Gooi die koekies in die kastrol en meng deeglik met die kakao mengsel.

4. Druk in gesmeerde panne in die dikte van jou keuse uit.

5. Laat effens afkoel en sny in blokkies.

6. Laat heeltemal afkoel in die yskas.

7. Maak jou Ma se kombuis skoon en eet alles alleen op!

VARIASIES
1. Haal 'n ½ pakkie koekies uit en sit 1 kop gekapte pekans in.
2. Haal 'n ½ pakkie koekies uit en sit 1 kop gekapte kersies in.
3. Smeer bokant met karamel kondensmelk en gooi gesmelte baksjokolade oor.

HOEVEELHEID: Halwe oondpan

BRON: Onbekend

Donderdag, 25 Junie 2015

OUTYDSE KAAPSE MELKTERT

Hierdie skilferkors het ek 8 keer gevou en gerol om die ekstra lagies te kry.
Hierdie was altyd ‘n treffer melktert by elke kerkbasaar op Skeerpoort.
Die wyse waarop die skilferkors die melktert so om arm was altyd net vir my te mooi vir woorde.
My ma het net die kuns geken van pastei deeg verstaan of ek dink die 2 het mekaar gevind na jare se bak!

RESEP
VULSEL
1 liter melk
200 g witsuiker
6 eiers - geskei
30 g botter
25 g mielieblom (3 el afgeskraap) (maizena)
20 g koekmeel (3 el afgeskraap)
10 ml vanielje geursel
knippie sout

METODE
1. Smeer die boom van ‘n kastrol wat jy weet nie maklik aanbrand nie met olie.
Verhit 3 koppies melk tot kookpunt, roer gereeld met ballon klitser sodat dit aanbrand voorkom.

2. Meng die res van die melk met die koekmeel en maizena.

3. Klits die eiergele en suiker tot baie lig en donsig.

4. Meng die melk mengsel met die eiergele.

5. Voeg die eiergeel mengsel by die kokende melk en roer met ballon klitser deeglik deur.
Draai hitte af na baie stadig, stoof no 2 of gas op die laagste en kleinste brander.
Laat presies 10 minute kook.

6. Klits die eierwitte tot stywe punt stadium.

7. Sodra die melktertpap gaar is, klits die botter, sout en vanielje geursel by.
Klits die pap totdat dit glad en egalig is.
Vou die eierwitte by die mengsel in met figuur 8 aksie terwyl jy die bak in die rondte draai.
Gebruik ‘n metaal lepel vir die aksie.

8. Skep dadelik in warm gebakte tertdop en bak weer vir ‘n verdere 15 - 20 minute by 170 ˚ C of totdat die tert bo op wil bruin word.

9. Laat die tert by kamer temperatuur afkoel en MOENIE in yskas plaas om af te koel nie, dit gaan krake maak!

11. Sodra afgekoel, sprinkel kaneel of klapper op.


KORS
1. Een keer se aanmaak van die Skilferkors resep op die blog. http://boerekostwist.blogspot.com/2015/06/skilferkors-deeg.html

2. Deel die deeg in 2.
Rol die deeg ongeveer ‘n halwe sentimeter uit.

3. Ek gebruik ‘n erde skottel vir die bak van my melkterte.
Dus meet die deeg 5 cm groter as die omgekeerde bord op die deeg.

4. Sny die sirkel en tel versigtig met die hulp van die koekroller op en drappeer oor die tert bak.

5. Moenie die deeg in die bak in druk nie, lig die deeg se kante stukkie vir stukkie op en laat dit self in die hoeke in gly en druk dan saggies vas.
As jy net die deeg gaan vasdruk gaan die deeg uitermatig krimp tydens die blindbak proses en die deeg gaan ook nie ‘n eweredige dikte hê nie.

6. Prik die basis van die deeg met ‘n vurk en sprinkel met maizena sodat die basis bros kan bly.

7. Plaas dan bakpapier met die bone of rys binne in die tert bak en verkoel vir 30 minute.

8. Bak dan dadelik by 200 ˚ C vir 5 minute en verlaag hitte na 180 ˚ C en bak ‘n verdere 5 minute, verwyder bone en bak nog 5 minute sonder bone.

9. Verwyder tertdop uit oond en skep vulsel dadelik in en bak dan by 180 ˚ C vir 8 - 10 minute.

10. Laat buite afkoel en versier met kaneel of klapper

HOEVEELHEID: 2 groot melkterte 23 cm sirkels.

BRON: Annelien Pienaar


Woensdag, 24 Junie 2015

HOENDER PASTEI VARIASIE

Ryk Broskors deeg
Wat hierdie vulsel so besonders maak is dat die borsies gebak word in ‘n sousie in die oond en as dit uit kom is dit murg sag. 
Ek ondervind dat as jy die borsies kook dit nie so maklik in repies skeur nie. 

LES
1. Wanneer jy pasteitjies vir die hand maak moet die vulsels nie te loperig wees nie anders bak dit uit die kors uit.

2. Om die randte goed te seël het ek die volgende reseppie wat ‘n Indiese vriendin my geleer het.
Maak ‘n pasta van koekmeel en water aan en smeer jou randte met dit om as gom te dien, jy sal nooit weer bekkies kry wat oopspring nie!

3. Om ‘n mooi glans laag op die tertkors te kry, smeer vooraf met 1 eiergeel geklits met 1 el melk en verf op met kwassie.

4. Die rolletjies vries goed ongebak vir 6 maande, jy kan dit direk in die oond sit en bak.
 sit net 5 minute by die baktyd.

5. Onthou om altyd 'n gaatjie of kruisie in die deeg te maak vir stoom om te ontsnap.

Skilferkors deeg
BASIS RESEP
6 hoender borsies
1 medium aartappel
½ kop mayonnaise
3 el appelkooskonfyt
½ pakkie bruin uie sop poeier
1 kop water
1 el geel mosterdsaad
1 e dill tippies

METODE
1. Meng al die bestanddele saam en bak die borsies in ‘n toe kasserol bak vir 1 uur by 180 ˚ C totdat die borsies murg sag is.

2. Laat afkoel en skeur met 2 vurke teen die grein van die borsie sodat jy lang stringetjies kry.
Draai die borsie dwars sodat die lang kante se punte links en regs van jou lê.
Meng die sous en die repies.


VARIASIES
Skilferkors deeg klaar gebak
HOENDER SAMPIOEN
250 g sampioene - dun snytjies
1 medium ui - fyn gerasper
3 e olie

METODE
1. Braai al die bestanddele saam en meng met die basis hoender resep.

2. Gebruik as vulsel vir enige van die 3 pastei deeg resepte, ryk broskors, skilferkors en olie pastei deeg kors.

3. Sit glans laag op en sprinkel met papawer saadjies.

4. Bak by 200 ˚ C vir 15 - 20 minute vir klein hand pasteitjies.

SPINASIE - FETA EN HOENDER
½ kop spinasie puree
½ kop feta - gekrummel
1 knoffel toontjie - fyn gedruk
sout en peper-  na smaak - pasop, die feta het reeds baie sout in

METODE
1. Meng al die bestanddele met die basis hoender resep en gebruik soos nodig.

2. Gebruik as vulsel vir enige van die 3 pastei deeg resepte, ryk broskors, skilferkors en olie pastei deeg kors.

3. Sit glans laag op en sprinkel met sesam saad.

4. Bak by 200 ˚ C vir 15 - 20 minute vir klein hand pasteitjies

PORSIES: 50 rolletjies van 3 cm dik en 5 cm lank.

BRON: Annelien Pienaar.

Maandag, 22 Junie 2015

OLIE PASTEI KORS

Ouma Ria se Spek wielietjies
My skoonma was Ria (Bets) Pienaar, oud Duitse onderwyseres by Afrikaans Hoër Meisies skool vir jare. 
Sy het tot sy 70 was nog skool gehou en vakansie tye het sy hierdie vinnige pastei degie gemaak.
Daar was altyd pasteitjies vir al die honger klein kinders wat op die plaas kom kuier het.
My man hulle is 5 kinders en tussen ons almal is daar ‘n totaal van 15 kleinkinders! 
Almal was elke vakansie hier op die plaas.
Vandag is sy nie meer met ons nie en die oudste kleinkind maak matriek hierdie jaar. 
Tyd het gevlieg maar hierdie resep het die toets van tyd in die Pienaar familie deurstaan.

RESEP
7 kop koekmeel
3 el bakpoeier
1¼ kop olie
1 tl sout
350 ml of meer water - eie oordeel

METODE
1. Hier is die lekker deel van die resep, jy maak skaars jou hande vuil!
Neem ‘n groot genoeg sakkie om al die bestanddele in aan te maak.

2. Sif vooraf die koekmeel, bakpoeier en sout saam.

3. Plaas in sakkie en voeg die olie by en knoop toe.
Vryf die bestanddele totdat al die olie met die meel gemeng is.

4. Voeg nou die water by en vryf die sakkie weer totdat die deeg goed gemeng is en geen meel meer sigbaar is nie.

5. Verkoel die deeg vir 1 uur.

6. Rol 5 mm dun uit en sit vulsel in.

7. Bak klein pasteitjies vir 25 - 30 minute by 190 ˚ C of totdat dit mooi goudbruin is.

8. Groot pasteie 45 - 60 minute by 180 ˚ C.

HOEVEELHEID: 100 klein vleis rolletjies.

BRON: Ria Pienaar.

Sondag, 21 Junie 2015

PAMPOEN MUFFINS MET KARAMEL VLA SOUS


Pampoen Muffins met Karamel vla sous.
Hierdie resep is uit nood gebore nadat my Vadersdag ete in detail uitgewerk was en ek my Pa heerlik wou bederf, toe tref die noodlot my.
Die pampoen is waterig en my olie om die poffertjies in te braai, het uitgeloop.
Dus tyd was min en ek moes nood gedwonge dit in 'n muffin met 'n sousie by omskep.
Die koekmeel en eier is vermeerder om die pampoen 'n sponserige tekstuur in plaas van dig en swaar te gee.
Almal het heerlik geëet en nie van die krisis geweet nie.
Dankie Ma, ek weet Mammie het oor my skouer geloer en net kop geskud!


RESEP
500 g pampoen - gaar en goed gedreineer nadat dit fyn gemaak is.
2 eiers - geskei
Roomys scoop vir porsionering.
300 g koekmeel - gesif
15 ml bakpoeier
½ tl koeksoda
½ tl kaneel
½ tl sout
100 ml karringmelk of gewone yoghurt

METODE
1. Klits eierwitte styf.

2. Sif al die droë bestanddele 2 keer saam, net om seker te maak die koeksoda en bakpoeier is eweredig versprei in die meel.

3. Meng die eiergeel, pampoenmoes en karringmelk saam.

4. Meng die droë bestanddele met die karringmelk mengsel.

5. Vou die eierwitte in by die beslag in 'n figuur 8 beweging.

Kyk hoe netjies!
6. Skep in vooraf bereide muffin panne en bak vir 30 minute by 180 ˚ C. Ek gebruik my roomys scoop om eweredige porsies te kry.
Onthou om die pannetjies nie te vol te skep nie, ¾ vol is perfek.

7. As die pannetjies leë gaatjies het soos in die foto, vul dit met water sodat al die muffins eweredig kan bak.
Half vol is perfek.

STROOP
300 g suiker
300 ml water
150 ml melk
50 g botter
10 ml mielieblom
10 ml vlapoeier
knippie sout
5 ml karamel geursel

METODE
1. Maak die mielieblom en vlapoeier aan met 100 ml van die water en hou eenkant.

2. Smelt die suiker in die melk en water oor lae hitte.
 Sodra die suiker gesmelt is voeg die botter by en kook die mengsel vir 2 minute.

3. Voeg die mielieblom mengsel by en kook vir verdere 2 minute totdat die mengsel verdik het.

4. Verwyder van hitte en voeg die karamel geursel by.

5. Skep lepels vol van die mengsel op die warm muffins sodat dit goed absorbeer kan word...

HOEVEELHEID: 24 muffins.

BRON: Annelien Pienaar en Hantie Bezuidenhout.



OUMA HANTIE SE MALVAPOEDING

Ouma Hantie se Malva poeding.

Hierdie is een van ons Bezuidenhout familie se "trademarks" Malva poeding!
My ma het altyd net met regte botter en room gebak, ek het so bietjie verander om die erge rykheid te breek, veral in die winter na 'n groot sondag maal.

RESEP
1 kop sagte bruinsuiker (treacle sugar) jy moet dit indruk (packed soos die oorsese mense dit noem)
1 eier
15 ml botter
4 el appelkoos konfyt - tuisgemaak - suurder as die winkel sin
1 kop koekmeel
5 ml koeksoda
1 ml sout
1 kop Ideal melk of room - twist - ½ kop melk en ½ kop ideal melk / room - om dit te rek na die sous toe
1 el asyn
1 t vanielje geursel

METODE
1. Klits botter, suiker, eier en appelkoos konfyt saam tot baie lig en romerig.

2. Sif die koekmeel, koeksoda en sout saam.

3. Meng al die vloeistowwe saam.

4. Meng die mengsels om die beurt met mekaar.

5. Bak by 180 ˚ C vir 30 minute.

STROOP
1 kop Ideal melk of room (½ kop melk met room of Ideal melk)
4 el botter
80 ml bruinsuiker
2 el warm water

METODE
1. Verhit al die bestanddele saam en gooi warm oor die pas gebakte koek.
Die koek mag nie afkoel nie dit moet dadelik met die stroop bedruip word.

WENKE
1. Opsioneel - 2 el alkhol bysit.
Ek hou van Amarula of Kahula, Cape velvet enige room likeur, alkhol word nooit gekook nie, daarom as die sous gereed is vir oorgooi, sit dan die likeur by.

2. Ek verdubbel altyd die resep en tyd verander na 40 minute.

PORSIES: 4.

BRON: Hantie Bezuidenhout, 1971.



Saterdag, 20 Junie 2015

SJOKOLADE POEDING MET EIE SOUS


Gebak met Donker Kakao en Donker Sjokolade

Hierdie resep het al deur die jare in soveel tydskrifte en resepte boeke verskyn elke vrou wat dit gebak het, het sukses gehad. 
Ek is lief vir sjokolade en vandat ek die ekstra donker kakao ontdek het, het ek bietjie met die resep gespeel. 
Die vars pekans uit my tuin word ook hier ingespan vir 'n unieke nagereg, iets tussen 'n molten en brownie nagereg.
Hoop julle speel net so lekker met die resep soos ek!

RESEP
60 g botter
180 g strooisuiker
2 eiers - as dit klein eiers is of 1 as dit Jumbo of groter is
150 g koekmeel
Gebak met gewone Kakao en Sjokolade
30 ml kakao
20 ml bakpoeier
½ tl sout
210 ml melk
100 g pekanneute - opsioneel
100 g sjokolade splinters - opsioneel

STROOP
250 ml water
200 g sagte bruinsuiker (Treacle sugar)
40 ml kakao
5 ml vanielje geursel

METODE
1. Berei ‘n nagereg bak van omtrent 30 cm by 20 cm of individuele rammekin bakkies vir die nagereg.
Voorverhit oond tot 180 ˚ C.

2. Room die botter en suiker saam tot lig en donsig.

3. Voeg die eier by en klits weer tot lig en romerig.

4. Sif die droë bestanddele saam en vou om die beurt met die melk by die botter mengsel in.
Ek gebruik ‘n metaal lepel vir die invou omdat die kante mooi in die deeg in sny.
Dus figuur 8 die heeltyd totdat al die meel ingewerk in.
Nou kan jy besluit of jy die opsionele bestanddele wil invou.

5. SOUS
Verhit al die bestanddele behalwe die vanielje geursel tot kookpunt .
Sodra die suiker opgelos is kook vir 2 minute en verwyder van hitte en voeg die vanielje geursel by.

6. Skep die sous in die voorbereide bak.
Skep nou die deeg bo op die sous, ja as dit die eerste keer is wat jy hierdie nagereg maak, dit klink nie reg nie maar die deeg word op die warm sous geskep.

7. Bak vir 30 minute.

BEDIENINGS VOORSTEL 
Bedien met ekstra sjokoladesous, resep gevind op die blog!

PORSIES: 6.

BRON: Annelien Pienaar, aangepas van Hantie Bezuidenhout se oorspronklike resep.



Vrydag, 19 Junie 2015

RYK BROSKORSDEEG



Hierdie wonderlike resep kan vir soet en sout terte gebruik word, laat net die suiker uit en dit is perfek vir worsrolletjies, handpasteie en groot pasteie. 
Dit maak mooi vormpies as jy randte wil afwerk. 
Verder kan mense met eier allergieë net die eier uitlaat en die vog in die resep verhoog.

RESEP
500 g koekmeel
20 g strooisuiker
10 g sout
300 g botter
2 eiergele - kan vir eier allergieë uitgelaat word
120 ml koue water

METODE
1. Sif al die droë bestanddele saam.

2. Rasper die koue botter in die koekmeel in en vryf verder met die vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk.
Jy kan die voedsel verwerker vir hierdie stappie inspan.

3. Maak ‘n holte in die middel van die koekmeel en voeg die eiergele en die helfte van die water by. Onthou, al die eiers is nie dieselfde grootte nie dus sal jy self moet bepaal of die deeg te min of te veel vog in het.

4. Die deeg moet aan mekaar gedruk word en nie te veel geknie word nie, 2 minute is genoeg.
Die tekstuur van die deeg moet sag maar nie klewerig wees.

5. Laat die deeg 2 ure rus sodat die stysel korrels die vog maksimaal kan absorbeer.

6. Hierdie deeg kan vir soet en sout pasteie gebruik word.

7. Wanneer die deeg aanvanklik gebak word is dit by ‘n hoë temperatuur en later word die hitte verlaag, dit help dat die basis nie pap word en die kors mooi uit pof.
Bak by 220 ˚ C vir 10 minute en verlaag dan na 190 ˚ C totdat die deeg mooi bruin is.

8. GEHEIM
Wanneer jy ‘n baie nat vulsel gebruik (en wil voorkom dat die basis pap word) gaan soos volg te werk.
Voordat die tertdop blind gebak word, smeer die basis met eierwit en sprinkel met droë broodkrummels of polenta, dan blind bak jy, dit sal verseker dat die basis bros bly.
Hierdie het ek by ‘n Franse Chef geleer in my studie jare tydens indiensopleiding.

LEWER: 750 g deeg.

BRON: Annelien Pienaar.

KOEDOE POTJIE


RESEP
1 kg koedoe skenkels - nek - rugstring
1 liter aftreksel van keuse
1 ui - grof gekap
250 g sampioene
1 soet rissie - fyn gekap
5 ml fennegriek
15 ml kerrie poeier
15 ml koljander - geskroei en gemaal
1 ml naeltjies - fyn
100 g sagte bruinsuiker
100 ml balsamiese asyn
30 ml knoffel - fyn gedruk
250 ml karringmelk
sout en peper na smaak

METODE
1. Laat week die koedoe skenkels in die karringmelk vir ‘n paar uur of oornag.
Die karringmelk sal die bindweefsel afbreek en die vleis gaan heerlik sag word, die smaak van die wildsvleis is ook nie so skerp na die marinering.

2. Spoel die skenkels af en braai in vuurwarm potjie met olie om die vleis te seel.
Verwyder uit pot.

3. Braai die ui, sampioen, soetrissie en al die kruie saam.
Voeg die vleis terug en braai 5 minute saam.

4. Voeg die warm aftreksel by en kook vir 3 ure totdat die vleis sag is.
Voeg dan al die ander bestanddele by soos smaak middels, groente van jou keuse soos wortels, murgpampoen, patat, aartappels ens.

5. Verdik die potjie met 250 ml aftreksel en 30 ml Bisto poeier en voeg die knoffel ook by.
Laat 5 minute prut en verwyder pot van die hitte om verder te verdik.

BEDIEN MET
Stampmielies, soetpatat poffers, tuisgebakte brood of vetkoek!

Geniet Annelien.

Donderdag, 18 Junie 2015

ROOI UI MARMELADE


Met rooi uie gemaak en bruin asyn
RESEP
4 kg rooi uie - in ringe gesny
1,5 liter druiwe asyn
100 ml gouestroop
2 kg wit suiker
50 ml mosterd poeier
5 ml achaar masala
15 ml sout
150 ml maizena


METODE
1. Plaas die uie in 'n kastrol en bedek met warm water.

2. Kook tot net sag, maar nie pap nie.

3. Skep van die kook water van die uie uit en laat afkoel om die maizena mee aan te maak later.

4. Meng al die bestanddele behalwe die maizena saam in die uie kastrol.
Met geel uie gemaak en wit asyn

5. Verhit die mengsel stadig en hou aan roer totdat al die suiker opgelos het, die mengsel mag nie kook voordat die suiker nie deeglik opgelos het nie.
Kook vir 30 minute op vinnige hitte sodat die vog vinnig kan verdamp.

6. Maak die maizena aan met net genoeg koue uie water om 'n pasta te maak.

7. Verwyder die kerrie mengsel van die hitte en roer die maizena by.
Plaas terug op die stoof en kook tot verdik en gaar.

8. Bottel warm.

LEWER: 5 liter

BRON: Annelien Pienaar.

FOTO 1: Pinterest.

Woensdag, 17 Junie 2015

KARAMEL PEKANTERT SKYWE


RESEP
16 Salticrax koekies
⅔ koppie gekapte pekans plus ¼ kop vir bo oor sprinkel
3 eiers - geskei - gele word nie gebruik nie
½ tl bakpoeier
1 koppie suiker
1 tl vanilla geursel
250 ml room -  styf geklits
3 flakes
1 blik Caramel Treat

METODE
1. Klits die eierwitte styf.

2. Voeg die suiker bietjie vir bietjie by terwyl jy klop.
Hou aan tot al die suiker ingewerk is.

3. Vou die bakpoeier en vanilla geursel saam met die koekies en neute in die meringue in.

4. Druk in vooraf gesmeerde bakplaat en bak vir 30 minute by 180 ˚ C.

5. Nadat die tert afgekoel het smeer ek die karamel oor.
Hier is my twist op Annette se resep, jy kan dit uitlaat as jy wil.

6. Laat afkoel en smeer geklitste room op en sprinkel flake oor.

PORSIE: 23 cm ringkoek pan of halwe langwerpige pyrex bak.

BRON: Annette Viljoen.

Dinsdag, 16 Junie 2015

HOENDER POT (COQ AU VIN)


Coq au Vin: "Hoender gekook in rooiwyn"
Ons het as kinders hierdie Franse gereg “Kok ‘n wielie, Kok ‘n Waai” genoem, my Ma het opgegee om ons ordentlike name vir goed te leer.
Later toe ek spesialiseer met my studies en die Franse taal moes aanleer vir kullinêre doeleindes het ek te lekker gelag vir ons kinders se onkunde. 
My ma was ‘n fyn vroutjie, stil en altyd met haar neus in die boeke, oral was leêrs met nota’s en foto’s van resepte wat sy nog wil probeer. 
Na  haar dood het ek stelselmatig deur die argiewe gewerk en mensig het sy ‘n arsenaal van resepte, van Meksikaans, Mandareins, Frans, Amerikaans en ons eie boerekosse. 
Ek het nie besef dat sy tog op haar eie stil manier ‘n visuele reis gedoen het nie, sy wou nooit iewers heen gaan nie, verknog aan haar huis en die plaas. 
My pa het haar Kaja-vas genoem! 
Hier is een van haar resepte wat sy met ons vet werf hoenders gemaak het, hoop julle geniet dit!

LES
1. Vee sampioene met ‘n droë lappie af, moenie was nie anders absorbeer dit te veel water en jou eindproduk is loperig.

2. Julle gaan flambe, dit beteken alkhol word in die gereg gegooi en aan die brand gesteek sodat die alkhol kan verdamp, al wat dan oorbly is die geur van die brandewyn.

3. BOUQUET GARNI
Dit is ‘n bondeltjie met kruie en speserye wat in moeselien of gaasdoek saam geknoop word en in die gereg gesit word om saam te kook.
Aan die einde van die kook proses word die bondeltjie verwyder.
Vir hierdie resep het my bondeltjie die volgende speserye en kruie in.
swart peper korrels
½ tl salie blare
1 tl vars gemmer toontjie
kaneel stokkie
rooipeper korrels
½ tl fennegriek (fenucreek)
Bind in bondeltjie vas en plaas in kokende gereg.
Verwyder sodra die gereg gaar is net voor opdiening.

4. BEURRE MANIÉ
Maak ‘n mengsel van die oorblywende botter en meel in ‘n klein bakkie, sal soos ‘n pasta lyk. Hierdie is amper soos om ‘n witsous (roux) te maak, maar net ‘n ander manier.
Die pasta gaan aan die einde by die gereg gevoeg word om die vloeistof te bind en dik te maak.

5. Hierdie gereg kan ook in die Hutspot gemaak word.
Volg net eers stap 1 en dan pot toe!
Ja en dit kan ook as potjie gemaak word op die vuur.

6. Ek bedien dit saam met Tagliatelle pasta of enige ander soort, pêrelgort, kapok aartappels of stampmielies.

Hutspot...
RESEP
80 g botter
3 el olyf olie
2 kg hoender stukke - werf hoender is die lekkerste
250 g spek repies - in stukkies gesny (hou 6 repies heel vir garnering)
150 g piekel uitjies
250 g knopies sampioene - heel - afgevee
100 g wortel
3 knoffel toontjies
3 el brandewyn
250 ml rooiwyn
400 ml hoender aftreksel
1 bouquet garni - bondeltjie kruie in lappie toegdraai
20 g koekmeel
takkies roosmaryn - vir garnering
sout en peper
loerier blare

METODE
1. Smelt die helfte van die botter en al die olie saam.
Braai die hoender stukke 6 - 8 minute lank totdat dit mooi bruin aan die buite kant is.
Dit is nie nodig dat dit tot in die middel deur gaar is nie, ons het die kleur nodig.
Die hoender gaan later in ‘n kasserol verder gaar gemaak word.

2. Sodra die hoender mooi bruin is, haal dit uit en braai die sampioene, uie en spek tot spek gaar is en verwyder van hitte en voeg by die hoender.

3. Gooi die brandewyn oor die hoender en steek dadelik aan die brand.

4. Sodra die vlamme verdwyn het voeg die wortel, wyn, aftreksel en bouquet garni by.
Voeg ook sout en peper na smaak by.

5. Laat die gereg baie stadig prut op die stoof of in die oond by 160 ˚ C vir 1 uur.
Die hoender moet murgsag wees en amper van die bene afval.

6. Maak die beurre manié aan soos in punt 4 bespreek.
Verwyder die bouquet garni en skep die hoender uit met die groente in 'n mooi opdien skottel of individueel in die opdien borde sodat net die sous agter bly.

7. Voeg die beurre manié by die sous, bietjie op ‘n keer en klits met draadklitser deeglik deur voor die volgende bietjie bygevoeg word om klonte te voorkom.
Die sous moet net weer warm gemaak word om goed te kan verdik.

8. Braai die spek repies tot heerlik bros onder die element van die oond.
Gebruik as garnering.

PORSIES: 8 - 10 mense.

BRON: Hantie Bezuidenhout, aangepas en oorgeskryf deur Annelien Pienaar.



Maandag, 15 Junie 2015

KWEPER LEKKERS


Hierdie lekkerny het ons menige keer as kind help maak, veral die maal proses en die deurvryf deur die sif.
Dankie tog vir tegnologiese vooruitgang en die voedselverwerkers wat vandag alles soveel makliker maak.
Hierdie lekkerny val in die klas van vrugte lekkers en is wonderlik in die sin dat daar geen preserveermiddels in is nie.
Ons kosblikke het altyd geblom van hierdie kweper lekkers en die maats het altyd tou gestaan vir ‘n happie.

RESEP
gelyke dele moes tot gelyke dele suiker
25 ml sout
45 ml asyn

METODE
1. Was die kwepers deeglik en vryf die donsies met ‘n growwe lap af.
Al die dele, selfs die skille en klokhuis word gebruik, so moet niks weg gooi nie.
Maak seker dat al die dons afgevryf word anders gaan dit ‘n irritasie op die tong veroorsaak as dit geëet word.

2. Skil die vrugte af en verwyder die klokhuis en hou eenkant vir later.
Sny die vrugte in blokkies.

3. Plaas die vrugte stukke in 4 liter water aangemaak met sout en asyn om verkleuring te voorkom.

4. Kook die skille en klokhuis vir 30 minute in net genoeg water om dit halfpad te bedek.

5. Syg deur gaasdoek en moenie dit deur forseer om dit te druk nie.
Neem hierdie vog en voeg dit by die vrugte blokkies wat gedreineer is.
Voeg nog water by om die vrugte net-net te bedek.

6. Kook die vrugte by matig vinnige hitte totdat dit pap en sag is.
Plaas in voedsel verwerker en puree dit.
Vryf die moes deur ‘n sif om seker te maak die moes is egalig en nie klonterig.

7. Voeg gelyke dele suiker by gelyke dele moes.
Dit wil sê as jy 500 g puree het gaan jy 500 g suiker gebruik.

8. Smeer ‘n kastrol met olie en kook dan die suiker en puree saam totdat die puree lyk of dit begin wegtrek van die kante.

9. Gooi die moes in ‘n gesmeerde bakplaat met ‘n dikte van 3 cm, die vrugte moenie dikker wees as
3 cm nie anders neem dit te lank om uit te droog.

10. Laat die mengsel vir 4 - 5 dae staan totdat dit droog en nie meer taai is nie.

11. Sny in blokkies en rol in strooisuiker.
Laat weer 4 dae lank droog word en verpak in lugdigte houers.

BRON: Kit Bezuidenhout (Ouma Groot).

Saterdag, 13 Junie 2015

PALMIERS (PIGS EARS)


Hierdie wonderlike fyngebak is pragtig om voor te sit saam met 'n heerlike koppie tee of gee dit as 'n traktaaitjie vir 'n spesiale persoon.
Weet verseker, hierdie koekie is spesiaal.

500 g skilferkors deeg - ontdooi
1 kop witsuiker
2 el kaneel - opsioneel -  maar vir my ‘n moet!
1 eierwit - liggies geklits

METODE
1. Sprinkel die werksoppervlak deeglik met die kaneelsuiker.

2. Plaas die bevrore deeg daarop en rol dit ‘n ½ cm dik uit.

3. Die deeg moet ‘n A4 vel grootte wees.
As dit groter is, sny in verlande vorm.
Bêre die res van die deeg om later weer te rol in nog palmiers.

4. Smeer die deeg met die geklitste eierwitte en laat 2 minute om taai te word. Sprinkel ‘n halwe koppie suiker op die deeg en maak seker die suiker is eweredig versprei.

5. Deel die deeg met klein kepies net vir jouself eers in die helfte en deel elke helfte weer in 3 dele.
Palmiers word nie soos ‘n Switserse rolkoek gerol nie.
Dit word in 3 voue van links en 3 voue van regs gevou tot dit raak in die middel en dan word die 2 rolle op mekaar gevou en dan word die wiele gesny.

6. Plaas die wiele op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
Vorm die oortjies mooi in ‘n hartvorm.

7. Bak die palmiers by 220 ˚ C vir 10 - 15 minute op stukkie bakpapier tot mooi goudbruin.

BRON: Annelien Pienaar.

Hierdie resep word saam met die Skilferkors resep met ‘n les gemaak.

SKILFERKORS DEEG


Hierdie is seker DIE deeg wat almal die meeste vrees. Maar eintlik is dit nie te moeilik om te maak nie.
Net soos broodbak wat tyd neem, so neem skilferkors sy tyd, dus byt vas en ons gaan hierdie “deegwa” saam deur die drif trek!
Vir verdere naslaan vir julle op die internet het ek ‘n paar vakkundige terme tussen aanhalings tekens gesit in engels, daar is oneindig baie inligting deesdae beskikbaar.
Hierdie resep wat ek vir julle gaan aanbied, gebruik ek baie met groot sukses!

LES
1. Skilferkors deeg word deur lae van botter, koekmeel en water gevorm.

2. Die doel van baie botter, om tydens die bak proses wanneer dit smelt, die lagies deeg van mekaar te skei, sodra  die water wat teenwoordig is in stoom omgesit word en die deeg lagies begin op lig.

3. Daar is vinniger weergawes van Skilferkors soos die “Britse en Amerikaanse quick puffpastry”.

4. In baie foto’s sal julle sien dat die kors altyd gesny word in patroontjies, dit het sy doel.
Sodra die kors begin hard word, maak die snytjies oop en die deeg kan nog verder uitsit en mooi rys.

5. Wanneer die deeg berei word, werk met so koud as moontlik bestanddele en koel vertrek.

6. As die deeg gerol word word dit na elke verkoeling 2 keer gerol soos volg.
Eerste rol is om die deeg oop te maak, vou mooi toe in derdes en draai dit weer 90 grade.
Rol en vou en verkoel.

7. Maak seker dat die botter nie warm word tydens hierdie proses nie, want anders klou die lagies wat jy probeer vorm aan mekaar vas.

8. Hierdie deeg word by baie hoë temperature gebak omdat stoom die deeg laat rys.

9. Ek draai my deeg 6 keer.
Dus drie keer rus in die yskas vir 30 minute om die botter te laat set, met 6 keer rol.

RESEP
500 g koekmeel
500 g botter
10 ml sout
10 ml suurlemoensap
250 ml yswater

METODE
1. Neem 30 g van die botter uit.
Vat die res van die botter en slaan dit plat en vorm dit in ‘n reghoek van ‘n halwe A4 vel.
Plaas in kleef plastiek en laat staan in die yskas om te verhard.

2. Sif die koekmeel en sout saam en maak ‘n gaatjie in die middel van die meel.

3. Voeg die water en 30 g van die botter by die koekmeel.
Met ‘n mes sny die bestanddele in mekaar in.

4. Ek kroek en gebruik vir hierdie gedeelte die voedsel verwerker.
Sodra die deeg ‘n bol word, stop dadelik.
Die gluten moenie ontwikkel word nie, anders gaan die deeg oormatig krimp as dit gebak word.
Druk aan mekaar.

5. Neem die deeg en vorm dit op ‘n stukkie kleefplastiek in ‘n reghoek.
Laat die deeg in die yskas rus vir 30 minute.

6. Haal die botter en die deeg uit en laat staan vir 10 minute om net sag te word.
Rol die deeg ongeveer ‘n halwe cm uit en plaas die botter blok bo op in die middel van die deeg.
Vou die deeg mooi oor die botter.
Moet soos geskenk pakkie lyk.

7. Draai die deeg om sodat die naat na onder lê, en rol reghoekig uit tot ‘n dikte van 1 cm.
Vou die deeg in 3 en draai 90 grade en rol weer dun uit.
Vou op en plaas in die yskas om te rus vir 30 minute.

8. Herhaal hierdie proses vir nog 2 keer.

9. Wanneer die deeg gebak word moet dit by 220 ˚ C gebak word.

10. Geskik vir soet en sout vulsels.
Vries vir 6 maande.

HOEVEELHEID: 800 g - 1 kg deeg, genoeg vir 1 groot pastei of 12 klein handpasteie.

BRON: Hantie Bezuidenhout oorspronklike resep, gemetriseerd deur Annelien Pienaar.


Woensdag, 10 Junie 2015

MAKATAAN STUKKE


VERHOUDING VIR DIE KOOK VAN DIE KONFYT STUKKE 
500 g suiker
500 g vrug
750 ml water
gemmer toontjie
½ tl sitroensuur of wynsteensuur

Vir elke 1.5 kg vrugte wat gebruik word, maak nog suiker stroop soos volg aan. 
500 g suiker en 750 ml water. 
Die stroop raak maklik klaar weens die feit dat die stukke die stroop moet opsuig. 
Hierdie stroop word net bygevoeg as jy sien die vrugte is nog nie deursigtig nie en die stroop word te dik en min.

METODE
1. Skil die makataan af, die groen mag nie wys nie.
Die sagte binneste gedeelte moet uitgeskep word.
Moenie weg gooi nie, jy kan op ‘n ander keer met dit fyn gerasperde konfyt kook.

2. Sny die blokke so 4 cm x 4 cm groot.
Met ‘n vurk steek reg rondom die blokke gate in.
Die gate is baie belangrik sodat al die stroop maksimaal absorbeer kan word.

3. Die blokke moet oornag bros gemaak word.
Maak 5 liter water aan met 45 ml koeksoda.
Plaas die stukke daar in en druk dit onder die water deur ‘n piering of bordjie bo op te sit sodat dit onder bly.
Gebruik asb 'n erde of plastiek houer om die oornag staan te doen.
Die koeksoda het 'n chemiese reaksie met metaal, so jy wil nie grys makataan kook of metaal proe nie.

4. Die volgende dag spoel jy die blokke af en laat dit vir 2 ure in vars water lê om uit te vars.

5. As jy ‘n stoompot het kan jy die blokke sag kook in die stoom pot, bietjies op ‘n slag.
Anders moet jy die blokke sag kook op die stoof soos normaal maar wees gewaarsku, dit kan tot 6 ure neem.
Sodra jy ‘n vuurhoutjie met gemak deur die blok kan steek is dit gereed vir die stoop gedeelte.

6. Weeg jou vrugte af en maak die stroop aan.
Die suiker en water moet oor stadige hitte gesmelt word, die stroop mag nie kook voordat al die suiker nie opgelos is nie. Was die kante van die kastrol ook af met 'n kwassie en skoon water om sandsuiker te voorkom.
Voeg ook nou ‘n opgesnyde toontjie gemmer in moeselien doek by.

7. Voeg die vrugte in klein volumes by die kokende stroop. Die stroop mag nie ophou kook nie, sodra jy sien dat dit stadiger kook wag eers voordat jy weer vrugte in sit.
Hou so aan totdat al die vrugte bygevoeg is.

8. Kook die vrugte totdat glansend, hierdie proses neem nogal lank.
As die vrugte nog nie deursigtig is en die stroop is amper klaar, maak dan die ekstra stroop aan en voeg dit kokend by die kokende blokke.

9. Na hierdie byvoeging kan die sitroensuur of wynsteensuur bygevoeg word.
Ek ondervind deurlopend dat daar geen sandsuiker vorm as ek dit teen die einde van die kook proses byvoeg nie.

10. Bottel warm.

NOTA
My ma het soms die stukke halfpad gekook en dan oornag laat staan om nog stroop op te trek. 
Die volgende dag het sy die blokke uit geskep en die stroop weer verhit, dan weer die stukke bietjie vir bietjie by die kokende stroop gesit. 
Haar blokke was deursigtig en blink! 

Makataan se ander name is ook, Karkoer of Kafferwaatlemoen.


BRON: Hantie Bezuidenhout, 1975.


CHOUX DEEG - POFFERTJIES




In die Afrikaanse mond staan dit as room poffertjies bekend.
Waar kom dit vandaan?
Wel dit het sy ontstaan gehad in Frankryk en glo dit of nie, dit het die vorm van ‘n vrou se bors voorgestel!
Vandag word die deeg vir baie ander geregte gebruik soos die algemene profiteroles, eclairs, croquembouche, churros, dauphines en vele meer.

LES
1. Die rede waarom Choux deeg onder pastei deeg val is, dit bevat geen rysmiddel en die water teenwoordig, sit om in stoom wat dan as rysmiddel dien. Dit word ook verryk deur botter en eier wat bygevoeg word.

2. Wanneer die deeg voorberei word moet die water nie te lank kook nie, anders gaan daar vog verlies wees en dan gaan daar nie genoeg stoom geproduseer word vir die poffertjie om te rys nie. Die botter moet smelt in die water, nie kook nie.

3. Nadat die poffertjie gebak is moet die stoom uitgelaat word. Elke poffetjie kry in piep klein snytjie aan die kant sodat die stoom kan ontsnap. As jy dit nie doen nie gaan die poffertjie wat hol is aan die binnekant ‘n vakuum suig as dit buite staan en afkoel.
Moenie die pan uit die oond haal nie, werk baie vinnig in die oop oond en draai die pan liewers om en gaan voort.

4. Soet en sout vulsels kan gebruik word.
Kyk die konsistensie van die deeg, dit behou vorm!

5. Vul altyd net voor bediening om te voorkom dat die poffertjie pap word.

6. Hoe moet die perfekte poffertjie lyk?
Mooi uit gepof, dubbel die volume voor dit gebak is, die binnekant moet perfek hol wees, dus moet daar soos ‘n eier net ‘n dop wees.

7. Nadat die snytjies gemaak is, moet die bolletjies verder in die afgeskakelde oond uitgedroog word.

8. PROFITEROLE
Ronde bolletjies.

9. CROQUEMBOUCHE
‘n Piramide van profiteroles op mekaar gestapel, die bolletjies word met warm karamel suiker aan mekaar gesit of ganache.

10. GOUGÉRES
Berei die choux deeg voor, maar haal 1 eier uit. Meng dan in die beslag 60 g fyn gerasperde Gruyere kaas by en spuit bolletjies. Besprinkel met ekstra kaas en bak soos gewoonlik.

11. ECLAIRS
Lang reguit vingers.

12. CHURROS
Lang vingers choux deeg wat diepvet gebraai word en dan met suiker besprinkel word vir ontbyt.

13. DAUPHINES

Choux deeg word met kappok aartappels gemeng en dan diepvet gebraai en as sout bykos bedien.

14. GEHEIM
Werk altyd net met ‘n houtlepel as jy die meng werk doen.
15. Wees geduldig met die byvoeging van die eier, die mengsel gaan aanvanklik skei, hoe meer jy roer, hoe vinniger gaan dit.
Vulling van poffertjies

RESEP
150 g koekmeel - gesif
250 ml water
½ tl sout
100 g botter
4 - 5 eiers - geklits voor byvoeging (large eiers is hier gebruik) en ek het net 4½ gebruik

METODE
1. Sif die koekmeel en sout saam.

2. Verhit die water met die botter daarin. Die water mag effens kook maar nie te veel nie.

Hol binnekante is uiters belangrik     
3. Sodra die botter gesmelt is voeg die koekmeel by en roer dan baie vinnig die mengsel totdat daar ‘n los bal vorm. Die mengsel kom los van die kante van die pan. Kook nog so 1 minuut en verwyder van die hitte.

4. Laat die deeg afkoel. Sprei dit oop in ‘n apparte bak. As jy die eier te vinnig byvoeg, mag dit dalk roereier word. Sodra jy jou vinger in druk, moet dit nie brand nie maar lou warm wees. 

5. Klits 2 eiers eers saam. Voeg dit by die mengsel en roer dit in by die deeg. Dit gaan aanvanklik ‘n gemors wees maar byt vas, dit sal weer een bal word.

Crouquembouche
6.      Voeg nou een eier na elke deeglike roer by. Dit is nie te sê dat al die eiers gebruik gaan word nie. Die perfekte dikte van die mengsel moet sy vorm behou, dus as jy ‘n bolletjie uitskep op ‘n piering, moet dit soos skuimpies sy vorm behou en nie pap raak nie. Moenie minder as 4 eiers en nie meer as 5 gebruik nie.

7. Die deeg sal op die ou einde so ‘n satynagtige glans kry.

8. Spuit op vooraf gespuite bakplate in die verlangde vorms. Met die agterkant van ‘n lepel wat in eier mengsel gedoop is, druk ongewenste punte plat. Dit help ook met ‘n mooi glans lagie.

9. Bak by 200 ˚ C vir 20 - 25 minute.

10. Sodra reg, steek gaatjie in kante en laat verder uitdroog in oond wat afgeskakel is.

11. Vulsel kan met ‘n spuitsak in gespuit word van onder af of van die kante.

Doop die bo kante in gesmelte sjokolade of bedruip met ‘n melba sous.

HOEVEELHEID: 35 - 40 meduim poffertjies.

BRON: Annelien Pienaar.
























BAKPOEIER .. MAAK JOU EIE!


Bakpoeier is 'n vermening van koeksoda en kremetart, anti-klontvormende bestanddele, preserveermiddels.

Wanneer jy sien dat daar koeksoda in 'n resep gebruik word en geen bakpoeier sal jy besgtanddele soos karringmelk, appelkoos konfyt, piesang, asyn ens aantref. Hoekom sal jy vra? Koeksoda het 'n suur nodig om hom te aktiveer. Kremetart is ook 'n suur en is die katalisator vir koeksoda met die byvoeging van 'n vloeistof.

Ongelukkig word daar deesdae soveel preseveermiddels en buffermiddels in bakpoeier gegooi, wat nadelig is vir ons gesondheid. Daarom dat ek kies om my eie bakpoeier te meng. Ek voeg ook bietjie rysmeel per koppie bakpoeier wat ek maak by om te voorkom dat die bakpoeier een soliede massa word. Gewoonlik 1 t per koppie wat ek maak. Ek het al gelees mense sit mielieblom by...maar kan nie die sin daarvan insien nie.

½ tl koeksoda
¼ tl kremetart

METODE
1. Meng alles saam.

Onthou: 1t aangemaakte bakpoeier het genoeg aktiwiteit vir 250ml of 140g koekmeel

TOETS JOU RYSMIDDELS SE AKTIWITEIT GEREELD.

KOEKSODA 
½ tl koeksoda gemeng met 2 el asyn - dit moet 'n fizz maak.

BAKPOEIER
½  tl bakpoeier gemeng met 2 el water - dit moet 'n fizz maak.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

BRUISMEEL .. MAAK JOU EIE !


As jy soos ek op 'n plaas woon en die naaste winkel is 20 km weg dan is hierdie die beste plan ooit.
Sedert my Ma hierdie resep vir my gegee het as student, het ek nog nooit weer bruismeel gekoop nie.

500 g koekmeel
2 tl koeksoda
4 tl kremetart

METODE
1. Sif die mengsel 4 keer saam om die bestanddele eweredig te versprei.

BRON: Hantie Bezuidenhout.

Maandag, 08 Junie 2015

KLAM SJOKOLADE MUFFINS / KOLWYNTJIES


Hierdie “death by Chocolate” dekadensie is verby lekker.
Die binnekant is klam en sag, terwyl die buitekant effens krakerig is.
My sus het hierdie sjokolade kolwyntjies altyd vir my tuisnywerheid gebak.
Sy het maar net ‘n hand vir hierdie tipe werk.
Graag deel ons 2 susters met julle hierdie resep!

RESEP
310 g koekmeel
100 g kakao
15 ml bakpoeier
2.5 ml koeksoda
2 ml sout
250 g wit suiker
100 g botter - gesmelt
350 ml karringmelk of gewone yoghurt
3 eiers
150 g donker sjokolade - baie grof gekap - opsioneel





METODE
1. Sif koekmeel, suiker, kakao, bakpoeier, koeksoda en sout saam.

2. Meng die botter, karringmelk en eiers deeglik saam.

3. Meng die gesifte koekmeel mengsel met die karringmelk en meng versigtig.
Nie ‘n woeste geroer nie, net totdat al die bestanddele gemeng is.

4. Vou die helfte van die sjokolade in die beslag in en skep in vooraf bereide muffin panne wat met koekie papiere uitgevoer is.
Sprinkel die res van die sjokolade oor.

5. Bak by 200 ˚ C vir 20 - 25 minute of totdat die toets stokkie skoon uitkom.

PORSIES: 12.

BRON: Maryke Botha.

FOTO: Vergunning van Pinterest.

Donderdag, 04 Junie 2015

SONSKYN SUSTERS KARAMEL FUDGE



My Ma en haar sussie was in Skeerpoort as die "Sonskyn Susters" bekend omdat hulle altyd aan die lag en kook was. As ek een woord vir die 2 dames moes gee, hulle was BORRELLEND!
As ek aan hierdie fudge dink dan, dink ek aan daardie soet herinneringe van klein tyd met hulle twee.
Hulle was onafskeidbaar tot die dood.

RESEP
1 blik kondensmelk
3 kop suiker
1 kop melk
250 g botter of Rama / Stork bake
knippie sout

METODE
1. Smeer die kastrol waarin jy die fudge gaan kook, se bodem en kante eers met olie uit. Dit sal voorkom dat dit aanbrand. My ou stoompot werk wonderlik vir hierdie resep, dit het nog nooit aangebrand nie.

2. Voeg al die bestanddele in die kastrol en roer oor lae hitte totdat al die suiker opgelos het. Was die kante van die kastrol af as daar suiker kristalle tydens hierdie proses vasklou. Vat 'n kwassie en maak dit klam met water en vee die kristalle af. Die olie teen die kante help ook dat die suiker nie vas sit en die was proses maklik maak.

3. Sodra die suiker mooi opgelos het laat die mengsel by medium hitte kook totdat dit karamel bruin word en dik is. Roer af en toe, stadig met jou houtlepel. Na die einde se kant toe, geen roer! Dit kan enige iets van 40 - 60 minute neem. Onthou dit moet ‘n dik massa word. Sodra die kante van die kastrol af geskraap word soos jy roer en sien dit maak sand suiker is die mengsel amper gereed. Skep bietjie op koue piering uit en toets na 'n minuut of dit sandsuiker word.


4. Voeg geursel van jou keuse by. Klop die mengsel goed met 'n houtlepel. Ek speel baie met die geure, amarula, karamel essence, koffie ekstrak, vanielje geursel en vele meer. Jy kan ook hier neute wat vooraf warm gemaak is by die laaste stap invou, milo, sjokolade splinters.

5. Skep dadelik uit in vooraf gesmeerde oondpan. Laat effens set, sny in blokkies en laat verder afkoel.

LEWER: Halwe oondpan.

BRON: Die Sonskyn Bezuidenhout susters! Hantie en Ina. Annelien Pienaar

Woensdag, 03 Junie 2015

SPEK EN SAMPIOEN PAP TERT



Vanaf Donderdag spook ons om die skape aan te ry na die Veilingslokaal buite die Ooste van Pretoria. Vrydag word die skape geinspekteer en dit is ‘n gewas, skeer en skrop om die diere spierwit te kry. Weet julle hoe vetterig is so ‘n skaap se pels...wel my wintershande lyk sommer weer pragtig na al die lanolien behandeling! Hoewe en horings gelukkig die vorige week geknip en gebrand.

Vandag is saterdag en die manne ry na die veiling en die skou, ek sal met die eerste sarsie se aflaai na 13h00 saam ry. Die gastehuis is volbespreek en die ateljee word beset deur 4 predikante wat besig is met spanbou en ek moet die dag se etes voorsit. Hulle eet te lekker aan die oorskiet Hummingbird koek lae.

Die manne kom, ons los die twee seuns tuis en ry vir die laaste oplaai sessie. Ek het vir die kinders oorskiet gelos van die etes van die predikante en so gaat ons op ons tog. Daar gekom is dit sterk skemer en die mense het die store gesluit en die laaibrug is toegesluit. Ou George, ons ou tuinman wat moes oppas het paar “happies” in en vreeslik spraaksaam. Die duiwel allenig weet waar hy die voggies gekry het! George gooi net hekke oop en dit is een moewiese gemors, die ramme en die ooie meng, die nuwe kudde en die ou kudde wat nie verkoop is raak deur mekaar.

Ek skree soos ‘n mal mens, hy moet stop, hoe meer ek skree en waai met die arms om te stop, hoe yweriger gooi hy die hekke oop...George hoor niks met die malende, blêrende skape nie! Ek spring van die een hekkie na die ander, net om die man te loop stop, my voet hak vas en ek donder na benede met ‘n hengse slag. My man hoor die remoer en kom om die hoek... die een ram besluit hy is ‘n springbok en seil oor die tralies en tref my man met die horing op die wangbeen. Die arme man is vir paar sekondes uit soos ‘n kers! Die bloed loop en en George verstaan nie wat de emmer nou aangaan, hy maak net hekkies oop...te lekker.

Moedeloos help ek eers my man en ons begin met die sorteer werk van die deurmekaar skape, die ramme wil net werk en dit was nie die plan nie. Al die diere word opgetel om in die wa te gaan. Twee ure later laai ons die ramme en “springbok” is nog op vrye voet...ons kry die meneer gevang en net vir my man om weer neer te slaan en sy knie velle te verloor. Sy woorde was nie so mooi en ek weet ons gaan verseker hierdie week slag! Ons is moeg, honger en stink net skaap. Dit is na 20h00 wat ons die pad terug huistoe aanpak.

Op die pad kry ek die oproep: “Mamma, hoe maak mens mieliepap, die vleis is klaar gebraai.” Ek verduidelik en die kinders bel nie weer nie. So neem ek aan die manne is mos nou reg. Kom by die huis, laai af en skrop myself om van die skaap reuk ontslae te raak. Ons gaan sit aan vir lekker braaivleis, pap en kuier met die kinders. Die pap het toe so bietjies te veel uitgekom want boetie het die hele 2 kg meel in die kleine potjie gegooi. Lang storie kort, die geboorte van die paptert is soos volg.

STYWE PAP
1 liter water
10 ml sout
30 ml botter
625 ml mieliemeel - grofste wat jy kan kry!!


METODE
1. Kook die water, botter en sout saam.

2. Roer die mieliemeel by die borrellende water by en hou aan roer totdat jy voel die meel verdik.

3. Plaas deksel op en prut op stadig vir 30 minute.

4. Laat die pap afkoel terwyl jy die vulsel voorberei

VULSEL
250 g spekvleis - opgekap of maer ham
250 g sampioene - fyn gesny
1 ui - baie fyn opgekap
125 ml spinasie puree - opsioneel
250 ml room of lae vet melk
400 ml cheddar kaas
1 groot blik pit mielies
1 groot blik suiker mielies
sout en peper na smaak
origanum vir bo op strooi
ekstra kaas vir bo op strooi
In ringkoekpan gebak!

METODE
1. Braai spek, sampioene en ui tot glansend en bros.
Laat effens afkoel.

2. Voeg die room, kaas, mielies en geur middels by.

3. Pak die pap en die vulsel in lae op mekaar.
Eindig met ‘n vulsel laag.
Sprinkel met kaas en origanum.

4. Bak vir 30 minute by 180 ˚ C.

Variasies:
1. Maak die lagies in kolwyntjie pannetjies vir individuele porsies.
2. Laat afkoel en sny in perfekte vierkant skywe of vorms van keuse.

PORSIES: 8 - 10 persone.

BRON: Hantie Bezuidenhout.