Vrydag, 17 Maart 2017

Papaja en Lendeskyf vinnige ete

Wie het tyd om vir ure in die kombuis te staan? Wel, hierdie gereg kan binne 30 minute op jou tafel wees en die Filistyne kan gesonde kos eet sonder enige preserveermiddels. As 'n reël in die Pienaar huishouding word daar weekliks 'n kilogram aartappels in sterk sout water gekook en dan in die yskas gehou om sodoende net te kan gryp en gebruik. Dus, waarvoor wag jy?

Porsies: 4

Bees lendeskyf
500 g ontbeende lendeskyf (sirloin)
5 e olyflolie
¼ t komyn
¼ t masala

Meng die olie en speserye saam. Vryf in die lende skyf in en laat rus vir ongeveer 10-30 minute, afhangende hoe taai of hoe sag die vleis is. Oornag is ook perfek vir taaier vleis.

Braai dan die vleis in voorverhitte pan met olyfolie vir 7 min aan beide kante vir medium gaar. Sout en peper na smaak. Laat vleis rus op snyplank terwyl die slaai berei word.

Aartappelskyfies
500 g baba aartappels, gaar
5 e olyf olie
1 e geelsout (resep op blog onder soute)

Meng al die bestanddele saam en plaas op bakplaat en bak by 180C vir 20 minute.

Slaai
200 g gemengde blaarslaai
200 g kersie tamaties
500 g papaja
100 g feta kaas
50 g uie ringe
50 g boontjie spruite

Rangskik bestanddele mooi in opdien bord.

Sous
½ k gewone joghurt
½ k room
1 suurlemoen wiggie se sap
sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele saam en skep in mooi sous potjie...hierdie sous kan ook as doopsous vir die aartappels dien of as slaaisous. Raklewe van sous is 2 weke.

Bron: Annelien Pienaar. Hoop om jou eendag in een van my kook klasse te kan ontmoet. Lekker eet. epos: boerekostwist@gmail.com


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking