Maandag, 16 Januarie 2017

Toor met Hoender deur Karen Hart

Toor met Hoender...die titel sê sommer als! Karen Hart is die redakteur van Kuier tydskrif en uit haar pen het vele resepte al gevloei. Ek dink die feit dat Karen haar resepte deel sonder voorbehoud en dit as nalatenskap beskou...maak haar ’n ongelooflike mens. Die volgende woorde haal ek aan van Karen sodat julle ‘n kykie in die siel van Toorkombuis kan kry: Iemand vra my waarom deel ek my resepte. Ek het nie kinders nie, dis my nalatenskap dié.”


Die resepte in hierdie boek bevat rand-rekker-idees en vir die huisgesin uiters prakties en ekonomies. Die gebruik van kruie en speserye het my opgeval en dit is keurig in elke dis ingewerk om die beste uit die hoender te kry. Ek is baie opgewonde oor al die kinkels en toor gedagtes wat in elke resep ingewerk is en voor waar ’n fees vir die tuis kok. Verder is daar vir die tuis kok aangedui hoe lank die disse neem om voor te berei en wat vir my as mamma en werkende vrou sommer baie struikelblokke uit die pad gaan skuif.

Hoender Kiep teen die koue is ‘n resep in Toor met Hoender wat dadelik my oog getref het en besef het dat hierdie dis paar wonderlike variasies kan kry. Daarvoor kan julle die boek aanskaf om te sien watter oulike wenke Karen bygesit het. Ek het my eie kinkel ingebring waar ek my dis in die Prut pot gemaak het. Binne 4 ure was die kos op die tafel. Die resepte het elkeen so 'n mooi beskrywende naam...ek het geval vir die vars gemmer in Hoender Kiep teen die koue!


Hoender Kiep teen die koue
2 e olyfolie
2 e botter
3 groot uie, gekap
250 g sampioene, in kwarte (Annelien se kinkel)
3 groot knoffeltoontjies, gekneus en gekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder
en fyngekap
3 cm vars gemmer, geskil en fyngekap
16 hoenderstukke
3 e sjerrie
3 t matige kerriepoeier (gaan loer op bl. 20 hoe
om jou eie te maak)
’n hand vol vars kerrieblare (opsioneel)
’n hand vol sultanas
13 gedroogde appelkose, gesnipper
7 dadels, ontpit en gesnipper
1 k hoenderaftreksel (sien bl. 22)
sout en varsgemaalde swartpeper
’n hand vol gekapte koljanderblare

Verhit die olie en botter in ’n swaarboompot en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, brandrissie en gemmer by en braai vir nog ’n paar minute.

Voeg die hoenderstukke in sarsies by en braai almal alkant goudbruin.

Gooi die sjerrie by en sprinkel die kerriepoeier en -blare oor. Roer goed en voeg die vrugte en hoenderaftreksel by. Maak dig toe en laat prut oor lae hitte vir ongeveer 40 minute tot die hoender begin sag word. Annelien se kinkel: plaas dan al die bestanddele behalwe koljander blare in die Prutpot en laat kook vir 3-4 ure. Roer dan koljander blare by en bedien.

Geur na smaak, strooi die koljanderblare oor en laat prut vir nog 20 minute. Die sous moenie afkook nie, anders sal die geure te sterk wees.

Skep die hoenderstukke met ’n gaatjieslepel op ’n opdienbord. Skep ’n klein bietjie sous oor die hoender en bedien die res apart.

Bron: Karen Hart, Toor met Hoender, 2017, Uitgewer: Human en Rosseau.
Porsies:8 persone

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking