Maandag, 30 Januarie 2017

Roosblaar konfyt / stroop

Hierdie resep kan tweeledig gebruik word. Die eerste opsie is daarom soos ‘n stroop te berei sonder pektien. Die eindproduk gaan loperig, amper stroperig voorkom. Die tweede opsie is om jou eie tuisgemaakte appel pektien by te voeg sodoende ’n meer jellierige eindproduk te kry. Verder moet die stroop ook die geur van roos bevat en daarom as jy nie roosblare in die hande kan kry wat heerlik ruik nie, kan jy die geur inbring deur bietjie rooswater by die mengsel wat kook te voeg. Onthou hoe donkerder die rose hoe meer kleur...ek het onlangs wit blare gebruik en bietjie kappertjie blomme bygesit en as bo laag vir kaaskoek gebruik. Was amper feetjie mooi gewees. So speel met eetbare blommetjies. 

Kortom: die eindproduk sal nie nadelig beïnvloed word as jy die rooswater of pektien uithaal nie. Die keuse bly joune watter konsistensie (dikte) die eindproduk moet wees. So...kom ons begin.

500 g (2 ½ k) witsuiker
500 g (2 k) water
200 g (5 k ongeveer) roosblare met sterk geur, goed gespoel
¼ t (1 mℓ) rooswater (opsioneel as rose sterk reuk het, is dit nie nodig nie)
30 mℓ (2 e) vars suurlemoensap
*125 mℓ tuisgemaakte pektien (opsioneel indien jy net stroop wil maak)

*sien les by volgende skakel om Appel pektien te kook..Baie maklik en vinnig en kan gevries word: http://boerekostwist.blogspot.co.za/2016/03/tuisgemaakte-pektien.html

Nee ongeveer 150 g (¾ k) suiker en voeg dit by die blare. Vryf baie liggies met jou vinger punte die korrels van die suiker teen die blare, sodoende die geure en kleure te ontsluit. Die blare sal effens gekneus lyk en dit is die doel.

Verhit die water en giet oor blare. Dreineer die vog wat afkom en plaas terug in kastrol en hou blare eenkant. Verhit die rooswater en voeg die res van die suiker saam en roer totdat die suiker kristalle opgelos het. Was die kante van die kastrol met skoon water af. Die mengsel mag nog nie kook nie. Sodra al die kristalle opgelos is kook die stroop vir 5 minute en voeg dan die roosblare by. Kook die mengsel vir 30 minute.

Na 30 minute sal jy merk dat die roosblare nie meer bo dryf nie en eweredig versprei...hull krimp. Voeg dan die suurlemoensap, rooswater en pektien by. Kook weer vir 5 minute.

Bottel in steriele skoon warm bottels en seel dadelik. Draai die bottels op hul koppe sodat waterdamp op die einde eweredig kan versprei en skimmel voorkom wat op die oppervlakte kan vorm voorkom.

Geniet met skons, roomys, gewone yoghurt, vla, stoop oor koeke, kaaskoek...die lys hou nie op nie.

Bron: Annelien Pienaar, 2017, www.bosenberggeustfarm.co.za

Hoeveelheid: 450 mℓ konfyt.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking