Saterdag, 28 Januarie 2017

Italian meringue botterversiersel

Hierdie versiersel neem bietjie tyd en tegniek. Moenie kommer, sodra jy hierdie resep een keer deur gewerk het, sal dit kinder speletjies wees die tweede keer. Hierdie is die perfekte versiersel vir warm dae as jy koek moet maak wat vervoer moet word of selfs vir tuis en die koek nie in die yskas wil stoor nie. Hierdie versiersel smelt nie!

Kom ons begin. Onthou jy kan maklik brand, so indien jy nie 'n staanmenger het nie en met 'n handmenger klits, kry iemand wat kan help om die kastrol vas te hou. Belê in 'n suiker termometer sodat jy akkuraat kan werk. 

200 g (1 k) witsuiker
125 mℓ (½ k) water
5 medium eierwitte
50 g (¼ k) witsuiker - vir meringue
230 g (1 k) botter, klein blokkies van 2cm x 2cm
5 ml geurmiddel van keuse

Smelt die 200 g (1 k) witsuiker met water en kook tot 118 ˚C. MOENIE die mengsel roer nie, skud net die kastrol!

Sodra die stroop 110 ˚C bereik, begin die eierwitte klits tot sagte punt stadium en voeg die 50 g (¼ k) witsuiker by en klits verder tot styf.

Sodra die suiker stroop 115 ˚ C bereik, haal van hitte af en kontrolleer die temp om nie oor 118 ˚ C te gaan nie. Plaas die kastrol in koue kraanwater as dit 118 ˚ C bereik het om te verhoed dat die suikerstroop brand.

Voeg die stroop in ’n dun straaltjie by die meringue terwyl die menger aan is. Die menger se stelling moet op medium wees. Voeg laaste geursel en kleurmiddel by.

Klits die mengsel vir 20 minute totdat dit koeler as kamertemperatuur is. Voeg dan die botter klontjie vir klontjie by, die mengsel sal lyk of dit skif, hou net aan dit sal weer glad word.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 48 cupcakes en 2 groot koeke

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking