Woensdag, 04 Januarie 2017

Heel of fyn Vye konfyt

Die resep is geskik vir vye wat begin sag word tot baie sagte vye. Jy kan met hierdie resep heel halwes en heel vye kook of fyn vyekonfyt. Al wat ek wel voorstel vir die kook van die fyn vye is daarom vooraf fyn te maal. Jy kan dit sommer met die voedselverwerker fynmaak of grof kap met die hand. Verder word alles op dieselfde manier gekook.

1 kg vye, skoongemaak en gesny na keuse
800 g witsuiker, lou gehou in die oond...dit help die suiker vinniger oplos
2 k warm water
1 t sitroensuur of 4 e suurlemoensap, vars gedruk
1 gemmer toontjie, geskil en in dun skyfies gesny
1 vyeblaar

Maak die vye vooraf skoon en sny soos verlang.

Plaas water in diep kastrol en voeg verhitte suiker by. Roer die suiker oor baie lae hitte sodat die suiker kristalle kan oplos. Maak baie seker die kante van die kastrol het geen suiker kristalle op nie. Jy kan die deksel van die kastrol opsit sodat die stoom in die kastrol die suiker laat oplos vir ongeveer 5 min. Of jy kan met ‘n kwassie wat in water gedoop is die kante van die kastrol afwas. Maar baie belangrik dat die mengsel nie mag kook voordat die suiker opgelos het nie.

Plaas die vyeblaar en gemmer in die kokende water. Voeg dan die vye handjie vol op ‘n slag by sonder dat die stroop ophou kook. Hou so aan totdat al die vye in is. Kook dan die vye op ’n hoë hitte. Terwyl die vye kook skep die skuim af, sonder om stroop saam te skep met ‘n soplepel. Die vrugte sal deurskynend word as dit reg is vir bottel...verder sal die stroop ook aansienlik minder word. Sodra jy merk dat die stroop soos melk wil begin borrels maak en lyk of dit rollend kook voeg dadelik die suur by en roer goed deur.

Haal kastrol van hitte af en laat 5 minute staan om af te koel. Bottel in warm gesteriliseerde flesse en seël dadelik. Die staan van die vye voordat dit gebottel word, voorkom dat vrugte styg. Draai die bottels op hul deksels en laat so afkoel. Die rede vir die omdraai is: daar vorm damp wanneer die produk afkoel. Hierdie damp is vog waarin mikroörganismes maklik kan groei. Sodra jy die bottel wel omdraai as dit afgekoel het, sal die water deur osmose met die suiker oplos en eweredig versprei. Jy sal nooit weer ’n groen skilletjie op jou produk kry as jy oopmaak.

Bron: Annelien Pienaar se BKT Toetskombuis, 2017, www.bosenbergguestfarm.co.za

Resep toetser: Hanru Pienaar

Hoeveelheid: 4 x 375 ml botteltjies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking