Donderdag, 05 Januarie 2017

Cous-cous en Botterskorsie slaai

Cous-cous is my noodhulp vir 'n situasie wat kits slaai benodig. Ek noem dit my alles-in-een slaai: stysel, groente, olie en neute. My kinders is dol oor die slaai en ek pak gereeld vir hulle kosblikke vir na skool met sport en aktiwiteite. Gesond en heilsaam.

1 ½ k cous-cous
3 e olyfolie
1 k kook water
1 t geelsout (resep op blog) of enige ander gegeurde sout
1 t fyn knoffel
1 t vars gemaalde swart peper
400 g gaar botterskorsie blokkies
200 g feta kaas
1 k kersie tamaties
5 basillie blare
3 e olyfolie
3 e balsamiese asyn

Plaas cous-cous in ’n bak en roer die olyfolie, knoffel en geelsout by. Voeg die koppie kookwater by en roer goed deur. Bedek met kleefplastiek en laat eenkant staan vir 5 minute. Roer goed deur sodat vlokkies skei.

Voeg die res van die bestanddele by mekaar en roer goed. Voeg dan by die cous-cous en roer goed deur. Bedien louwarm of koud.

Heerlik om te laat vir die volgende dag. Kan bedien word met een van die slaaisouse in ons sous argiewe. Die yoghurt sous is heerlik.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 6 porsies


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking