Vrydag, 30 Desember 2016

Stollen

Mense skrik vir die resep weens die feit dat dit oor twee dae gemaak word. Maar wees gerus dat die proses maklik is en inpas by jou eie skedule.  Ek verkies om hierdie deeg met my staanmenger te maak aangesien daar baie botter na die tyd in die deeg geknie moet word. Daarom dat hierdie tipe deeg ook as 'n "enriched" of verrykte deeg bekend staan. Maak seker jy gebruik deurgaans die deeg haak van die menger vir die taak.

Dag 1
Spons
345 g Koekmeel
230 g Melk (ja ek weeg, jy lees nie verkeerd!)
Mes puntjie kits gis

Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en meng om ’n eenvormige deeg te vorm. Bedek die bak laat by kamertemperatuur rys.

Vrugte
125 g water
100 g witsuiker
450 g Vrugtekoek mengsel (kies sonder sitrus skil) *
200 g Cranberries
150 g Gedroogde, gekapte appelkose of appel
100 g Rum

* gewig kan opgemaak word uit allerlei vrugte soos rooi kersies, groen kersies, vye, makataan, gekristaliseerde gemmerstukke...solank die gewig net uitwerk op 450g. 

Kook die water en suiker saam vir 5 minute. Voeg die vrugte en rum by en roer goed deur. Laat oornag by kamertemperatuur staan.

Dag 2
500 g koekmeel
Al die spons van die vorige dag
115 g melk
20 mℓ vanieljegeursel
3 ekstra groot eiers
15 mℓ suurlemoenskil gerasper
120 g witsuiker
30 mℓ kitsgis
10 mℓ fyn kaneel
230 g botter
100 g pekans of amandels, gekap

Dreineer die vog van die gemarineerde vrugtemengsel. Die sap kan gebruik word om te drink of ander vrugte in te posjeer...so moenie weggooi nie.

Meng die spons, koekmeel, melk, vanielje, drie eiers, suurlemoenskil, witsuiker, kitsgis, sout en kaneel saam. Knie die deeg totdat dit glad is vir 10 minute per hand of met die menger vir  5 minute.

Neem die botter en sny dit in klein vuurhoutjiedosie stukkies. Terwyl die menger loop voeg die botter letterlik stukkie vir stukkie by die deeg, maak seker al die botter is ingewerk voordat jy nog bysit. Hierdie proses verryk die deeg en verleen die sagte tekstuur aan die eindproduk.
Voeg nou in klein hoeveelhede terwyl die menger loop die vrugte en neute by. Stop en skraap die kante van die bak af en bly meng totdat die mengsel mooi bymekaarbly. Skraap die deeg uit in ‘n gesmeerde bak en bedek. Laat vir 1 ½ h tot 2 ure rus om te verdubbel in volume.

Amandel vulsel
350 g marzipan
1 medium eierwit

Terwyl die deeg rus maak die amandelvulsel aan. Breek die marzipan in stukkies op in ‘n mengbak en voeg die eierwit by. Klits die mengsel totdat dit bymekaarkom en in ’n wors kan vorm. Indien die mengsel loperig is voeg net meer gerasperde marzipan by totdat ’n stewige wors vorm. Rol die mengsel in ‘’n wors van ongeveer 30 cm en bedek met kleefplastiek en plaas eenkant...nie yskas nie asb.

Verdeel die deeg en maak ronde sirkels. Laat weer 20 min rus. Trek die deeg sodat dit ’n effense rugbybal vorm. Neem ‘n rolstok en druk met die rolstok in die middel oor die langste gedeelte ‘n rif. Jy gaan in hierdie rif die amandel rol laat rus.  Deel die amandel mengsel in twee en rol ‘n worsie lank genoeg om nie uit te steek by die punte van die deeg vorm nie. Vou die deeg toe en laat dit op ‘n gesmeerde bakplaat rys vir 45 minute of tot dubbel die volume.

Bak by 160 vir 25-30 minute. Sodra die stolen uit die oond kom, sprinkel met versiersuiker of strooisuiker. Laat goed afkoel.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 2-4 stollens

Maandag, 26 Desember 2016

Die Pantie, die rekkie en die onderrok.

Ek het ‘n niggie wat in Mauritius woon...al vir jare! Sy is ’n baie interessante karakter en leef ’n lewe van eenvoud en saam met haar gemeenskap. Verstaan nou vir my mooi...nie arm nie...nie ryk nie...net gemaklik. So praat ons oor ons kinderjare en sy vra of ek nog onthou van die tannies met die onder rokke wat alewig uitgehang het. Ja, so sit ons en praat oor die onderwerp van onderrokke. Ek sit toe en giggel oor die storie want soos die noodlot dit wou hê, tref ’n ding my mos met ’n verdekselse pantie en jare later die onderrok!

Ek en my sus is in dieselfde jaar gebore. Ek In Februarie en my sus Desember...presies 10 maande tot op die dag uitmekaar. So vir ‘n paar maande van die jaar is ons ewe oud en ek is dan nie meer die ousus nie. My klein sus het my in lengte baie vinnig ingehaal en ek was maar die kleinste van die twee...vandag het sy my pa se lengte en lang bene en ekke die KG! So kom dit mos met drie dogters in die huis dat die grootste se klere na die ander aangestuur word. Ek kry toe mos ‘n “klein-broekie” wat se rekkie effens los is en was gaande oor die ding wat nie geknyp het nie.

Ek was nie die soetste van kinders gewees nie en om ’n rok te dra was vra vir moeilikheid as jy weet wat ek bedoel. Ek was altyd vuil, die soom bruin en daar sit duidelik twee bruin boudkolle agterop...en natuurlik ’n paar hande wat afgevee is. Let wel, ons het rooigrond gehad....so nou weet julle seker hoeveel keer my agterent gebrand het oor die storie. Nou goed, ek en die pantie was onfskeidbaar. Dit het nie geknyp nie en ek het dit altyd saam met my kortbroeke gedra. Nou dat ek daaraan dink, dit was op ’n keer ook ’n swembroek gewees en met vreeslike gevolge. Ons het in die gronddam op onse boude afgegly. Seker so 9 jaar oud gewees. Dit was ’n warm dag en so trek ons kaal uit behalwe die panties. Ons gly teen die hoek van die dam af en plons dan die dieptes in. Pa en ma slaap hul Sondag slapie en ons mos veronderstel om soet te wees. Eish, daardie middag kom ons terug met boude wat brand....letterlik. Toe ons bad het moeder ons boude met vaseline en varkvet ingesmeer want die rooigrond het ons boude laat lyk of dit met borrie bygekom is. Dan nie eens te praat van die krapmerke wat die Leiklippe gemaak het, kompleet of ‘n kat sy kloue ingeslaan het. Duidelik was ’n pak slae nie nodig gewees..ons het ons les geleer.

Dit is mos toe weer ek en pantie se kind. Ma kuier by haar sussie en die tannies drink tee. Ek het my beste kisklere aan en moet soet sit en tanne tel...dit reën buite en stil sit was waaragtig nie maklik nie. So staan ek en gesêls met my ma en sy stuur my weg om ’n koekie te kry. So met die wegloop, duik moeder soos ’n springbok om my te keer. Nog voor sy kan keer slaan ek neer op die vloer...daardie einste pantie het mooi tot op die enkels afgeval en my gepooitjie. Dit was die laaste van die nommertjie gewees! Moeder het geleer om nie onderklere aan te stuur nie.

Maar helaas het ek mos nie my les geleer en onlangs as ’n groot vrou amper weer die konsternasie beleef met ’n onderrok wat ek moes aantrek. Ek het dit by my moeder geërf en die Filistyne het my laat onderrok aantrek want my rok skyn deur. Mhhh...nie ’n goeie idee gewees nie. Ek het gedink die rekkie sal reg wees, maar nee...ek vat ’n koper speldjie en steek toe maar ’n stukkie af sodat dit bo bly. Op ’n stadium voel ek ek trap rok vas, net om te besef, die speld het losgegaan en ek val oor die onderrok! Gelukkig gebeur dit by die speelgroepie van klein Filistyn, ek klim so grasieus soos 'n kameelperd uit die gedoente...of eerder tree uit die wit lappie uit en raai waar kuier onderrok se kind...ja...in die asblik. Van nou af sal ek nooit weer ander mense se ou goed aantrek nie, al is dit mooi en sentimenteel. Jammerte vir ’n ander se goed kan jou in lelike penaries laat beland!



Ingedampte melk / Ideal melk

Hierdie is een faktor wat ek heeltemal uitgeskakel het. Ek koop nie meer die produk nie omdat...dit nie konstante resultate gee nie. Die kwaliteit van die geblikte produk neem af! Ek kry deesdae ongelooflik baie navrae oor Ideal melk wat nie wil styf klits nie of nie wil set in produkte nie. Wel, ek maak al vir 12 jaar my eie en nog nie een keer ‘n probleem ervaar nie. Kan ook met suskses met lae vet melk gemaak word. Liefs nie vet vry nie.

LEES ASB. DIE VOORAFGAANDE!

Die proses vereis dat die melk oor medium hitte gekook word sodat dit met meer as die helfte weg kook. Die water gedeelte verdamp en kook uit. Die proteïene in die melk raak meer gekonsentreerd en dit is ook die deel wat maklik aanbrand en ook ‘n velletjie vorm op die melk. Dus moet daar heeltyd geroer word. Moenie in die versoeking kom om die velletjie af te trek nie, want dan gooi jy die waardevolle proteïene weg en die ingedampte melk sal nie styf klits nie. Ingedampte melk moet met 60% van die volume verminder word. Hoe gedoen?

Stap 1: Meet enige hoeveelheid melk af...ek kook nooit meer as 4 koppies melk. Smeer eers die boom van die kastrol liggies met botter om aanbrand te voorkom. Plaas melk in ’n diep kastrol wat nie maklik sal oorkook en ook aanbrand. Neem ‘n sosatiestokkie of liniaal en plaas in die melk om die vlak te bepaal. Vanaf die vlak waar die melk is, deel dan die stokkie tot onder in tien dele. Soos jy kook plaas die stokkie in die melk om te meet. Die melk moet kook tot op die vierde merkie van onder!

Stap 2: Die melk moet heeltyd met ’n draadklitser geroer word om aanbrand en ‘n skilletjie te voorkom. Teen die einde van die proses sal jy merk dat die melk klonte vorm, maar moenie kommer dit sal later dreineer word met ‘’n sif. Die hele proses neem ongeveer 60 minute vir 2 k melk, wat vir jou ongeveer ¾ k lewer.

Stap 3:
Dreineer die ingedampte melk en plaas in ‘n gesteriliseerde glas fles vir ongeveer 7 dae.

Gebruik in resepte met groot sukses.


Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Vrydag, 23 Desember 2016

BKT Kersfees wense....

Die gedagte aan Kersfees vir my as Christen is een waar ek dankbaar is vir die Seun wat vir ons gegee is om as middelaar en skakel na God die Vader te wees. Dat Jesus vir ons die grootste geskenk is en dat ons as mense geen persente verdien nie. Ons moet ons dankbaarheid wys deur aan ons naaste Sy liefde in alle vorme te betoon. Dat ons as mense liefs tyd met geliefdes, sal sien as tyd wat geleen is...In my lewe is daar mense so kort na mekaar weggeruk...my ma, my skoonma, my sussie en nefie. As tyd ’n kommoditeit kon wees, sou dit vir my ‘n groot geskenk gewees het, wat ek aan almal kon gee. Vir die siekes, die armes, die rykes...aan almal, tyd om lief te hê, reg te maak wat verkeerd is... Tyd te gee om voluit te leef want die lewe is ‘n “One time offer” en ons moet dit verantwoordelik leef. Hier is my “Leef-tyd” storie van Kind-wees....

Ek dink ek was ’n bevoorregte kind met die pa en ma wat ek gekry het. Hulle het ons as kinders altyd eerste gestel, geen bederf nie, baie dissipline en aandag. Geld was skaars en ons het geleer om met respek en oordeel daarmee te werk. Kersfees bring herinneringe op wat seker tot my oudag my sal bybly. Ons het toe reeds op Skeerpoort gewoon en ek kan onthou ek was seker so 8 jaar oud gewees.

My ma se familie was ook woonagtig in Skeerpoort en so het ons ook altyd Kersfees saam met hulle gevier. Ma en pa was kwaai en ons moes leer om te gee. Ons het altyd klein presentjies gekry want dit was die gedagte en samesyn wat tel. Om te kon gee, was vir ons ongelooflik gewees. Ons het vir die werkers op die plaas asook die ouetehuis op Skeerpoort pakkies gepak en die reël was: self gemaak...tuisgemaak.

My oom het ‘n vragmotor gehad en dan het almal opgeklim en oral op Skeerpoort gery om vir die mense te gaan sing. Ek onthou hoe helder die sterrehemel was wanneer ons op kombersies gelê en op kyk het. Die aande was koel maar heerlik gewees. Jy het nie ’n oog toegemaak nie...jy kon nie wag.

Ouma Kittie van die ouetehuis het vir ons by die hekkie gewag en dan het pa vir haar ma se mooi mandjie met happies oorhandig. Ouma Kittie was self al baie oud...as ek nou mooi uitwerk was sy seker self al in die 70 gewees! ‘n Vrou wat hard kon werk en weduwee vir so lank as wat ek kan onthou. Ek onthou haar pyrex bak vol appelkoosblokkies met die aller lekkerste versiersel oor, ons het sommer so op ons kombersies sit en appelkoosblokkies eet. Kind wees was sorgeloos en vol speel...ja sommer baie stofpad stories en stukkende knieë. Remhoogte se pad as hy kon praat, sal seker vertel van al die draf, perdry, fietsry, vry toe ons jonk was en vassit in die modder!

Daar was ook ’n Nederlandse gemeenskappie en het ons geleer van Sinter Klaas en Swarte Piet. Swarte Piet het soms met sy trekker gekom en vir ons lekkertjies gebring. Ek was vreeslik bang vir Swarte Piet, maar later het ek saam met die ander kinders gestaan en wag op hom

So het ons deur die plase gery en gesing. Toe word my oom baie siek en kry ‘n rare leukemie en ek kan so goed onthou oor Kerstyd daardie jaar hoe siek hy was en ons het nie die gebruiklike gedoen nie. Hy is vroeg in Januarie die volgende jaar oorlede. Gys Venter was ‘n legende in die area.

Gesëende Feestyd!

BKT groete Annelien


Woensdag, 21 Desember 2016

Driebone slaai

Almal ken Driebone slaai...maar elkeen het sy eie Twist op dit. Ek dink nie ons besef hoe belangrik peul groente in ons dieet is nie. Peul gewasse se vesel dien as die besems van ons verteringstelsel. Dit bind oortollige suikers, cholesterol en ander skadelike goed vir die liggaam en neem dit uit die sisteem. So, eet meer bone!

Vir die kerrie weergawe voeg net 5 mℓ (1 t) kerrie en 5 mℓ (1 t) borrie by die sous mengsel. Verder geniet ek die dis met al die bestanddele vars en ongebraai. Maar dit is persoonlike keuse. Jy kan die resep net so volg soos in die metode. Dus, een resep met vele opsies. Geniet.

1 x 400 g-blik botterbone, gedreineer en afgespoel
1 x 400 g-blik kekerertjies, gedreineer en afgespoel
1 x 400 g-blik nierbone, gedreineer en afgespoel
15 mℓ (1 e) olyfolie
1 medium rooi ui, fyngekap
1 selderystingel met blare en al fyn gekap
2.5 mℓ (½ t) fyn komyn
65 mℓ (¼ k) balsamiese asyn
½ k (125 mℓ) rooi grapetizer
¼ t sout
¼ t vars gemaalde swartpeper

Meng al die bone in ’n slaaibak.

Braai ui in olyfolie tot sag en glansend. Voeg die seldery en komyn by en braai vir 1 minuut. Voeg die Grapetizer by en kook baie vinnig vir 5 min en verwyder van hitte.


Roer die res van die bestanddele by die pan en giet oor boontjies. Roer die boontjies goed deur en laat oornag marineer voor gebruik. Geure ontwikkel die beste.

Bron: Annelien Pienaar
Hoeveelheid: 6 porsies

Gemmer brood

Hierdie gemmerbrood is vinnig en maklik. Geen kinkels in die kabel. Vir variasie kan 100g gekapte dadels wat in 'n halwe koppie water met rumgeursel gekook is, bygevoeg word. Goue stroop kan met melasse stroop vervang word. 

280 g (2 k) koekmeel
5 mℓ (1 t) fyn gemmer, kan tot 2 t gebruik
2.5 mℓ (½ t) kaneel
2.5 mℓ (½ t) neutmuskaat
5 mℓ (1 t) koeksoda
Knippie sout
115 g (½ k) botter of bak margarien
125 mℓ (½ k) goue stroop
100 g (½ k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
125 mℓ (½ k) kookwater
1 ekstra groot eier

Voorverhit oond na 180 en berei broodpannetjies voor. Pannetjie grootte: 15cm x 10cm en 5cm hoog.

Sif al die droë bestanddele saam. Hou eenkant

Meng die margarien, goue stroop, bruinsuiker en kookwater saam. Roer goed tot opgelos. Meng die eier by en klop weer goed.

Voeg nat en droog saam en meng deeglik met draadklitser.

Skep in gesmeerde panne en bak vir 35-45 minute tot gaar.

Keer uit en laat afkoel.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 2 broodjies

Gesnyde blomme se Viagra!

My moeder het 'n groen hand gehad en alles in haar tuin het geblom, vrugte gedra en mooi gelyk. In moeder se dae was daar nie die luukse van middels wat blomme langer laat hou het nie. 

Ek ontvang die mooiste bos rose en nog 'n bos gemengde blomme. Die rose se koppe hang die volgende dag en ek dink toe dat dit nek omdraai is vir hulle en die blare nou maar droog. 'n Stemetjie sê vir my ek moet ma se tuin resepte boek bydam. In haar netjiese regop handskrif staan die resep geskryf. Koorsagtig soek ek die bestanddeel en begin meng. Sny en gaan te kere. Glo vir my as ek vertel...binne 3 ure het die pap koppe pen orent gestaan. 

Nou het ek my viagra vir gesnyde blomme gekry!

Resep
1 liter koue water
1 e elektroliete

Meng alles met mekaar. Sny die blomme se stingels ongeveer 2 cm onder water af. Dit help dat die vloeistof weer vrylik kan vloei. Ruil die water elke tweede dag met die oplossing. My blomme hou 2-3 weke afhangend van die tyd van die jaar.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 20 Desember 2016

Sitrus gegeurde Eend

Eend is vir ons gewone man op die straat ‘n vreemde item op die spyskaart. Maar raai wat...in die ou dae het die mense dit nogal baie gemaak. Eend is heerlik en maak maklik, net soos hoender gaar. Die vleis is geneig om droog te wees en daarom word dit gestop en die vel effens losgemaak op die rug en bors om die geursel in te kry.

2.5 kg eend
60 mℓ (4 e) botter

Vulsel
250 mℓ (1 k) couscous
2 e botter
1 seldery stingel, dun skyfies
½ ui, baie fyngekap
1 blikkie gerookte mossels, fyn gedruk
60 mℓ olyfolie

Braai die ui, seldery in botter tot sag. Plaas cous-cous in die pan en voeg die olyfolie by en meng baie goed deur. Vul die eend met die mengsel. Steek die nek toe met tandestokkies en bind die bene oorkruis vas.

Sous
15 mℓ (1 e) lemoensap konsentraat
15 mℓ (1 e) suiker
500 ml (2 k) water
1 hoender aftreksel blokkie
45 mℓ (3 e) lemoenskil
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
15 mℓ (1 e) mielieblom
150 mℓ soet sjerrie
40 mℓ van der Hum
Sout en peper na smaak

Vryf die eend met die botter en gooi met sout en peper. Plaas eend op ‘n rakkie in die oond waardeur die souse kan drup. Bak die eend by 180 vir 60 minute en vanaf die 40 minute merk smeer die pan souse oor die eend elke 10 minute.

Kook die lemoensap konsentraat, bruinsuiker, suurlemoensap, water, aftreksel blokkie en suurlemoenskil saam totdat die mengsel met die helfte weg gekook het.

Maak die mielieblom aan met die 2 e water en meng dan met die alkohol. Voeg dan by die kokende mengsel sodat dit kan verdik. Kook vir nog 5 minute en verwyder van hitte.

Haal die eend uit die oond en smeer met die sous. Dreineer al die olie uit die pan en bak weer vir 20-30 minute en smeer die eend elke 10 minute met die sous. Haal die eend uit die oond en laat 10 minute staan voordat dit voorgesny word. Bedien met die oorblywende sous.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 4-6 porsies

Gerookte Snoek patee

Hierdie is voorwaar ‘n treffer op menige spyskaart ek kan as voorgereg of as patee bedien word. Gelatien is die een ding waarvoor almal weg deins en ek kan nie verstaan hoekom? Want ons almal het tog iewers in ons lewe jellie gemaak? Daar is verskeie maniere om gelatien in ‘n dis te gebruik en vandag leer ek jou die makliker manier. Geen stukkies rubber of growwigheid...Jy gaan ‘n eenvormige, satynagtige smaak kry.

15 mℓ (1 e) fyn gelatien
45 mℓ (3 e) kook water
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
45 mℓ (3 e) mayonnaise (ek verkies Cross en Blackwell)
350 g gerookte snoek, fyn gedruk (enige ander vis kan gebruik word: tuna, stokvis...moet net gaar wees)
30 mℓ (2 e) dill tippies (Cape Herb by alle kettingwinkels landwyd)
125 mℓ (½ k) room
125 g roomkaas...nie maaskaas
  
Gebruik ‘n kleinerige glas bakkie en voeg gelatien by kookwater en roer tot goed opgelos. Indien die gelatien nog korrelrig is plaas die bakkie in kookwater en roer dan tot opgelos. Jy kan wel dit in die mikrogolf doen maar die mengsel mag glad NIE kook nie. Letterlik 5 sekondes.

Voeg dan die suurlemoensap en mayonnaise by die gelatien en roer goed deur.

Plaas die snoek en room in mengbak en roer met 'n houtlepel tot glad. Voeg die roomkaas by en meng weer goed. Voeg die gelatien mengsel by en geur na smaak en meng deeglik.

Twee metodes van set:
a. Skep die vulsel in mooi glasies en stol vir 3 ure in yskas. Rond af met fyn avkado of gegeurde roomkaas of room.

b. Vorm: Spoel 'n vorm met koue water uit. Skep die mengsel in die vorm, smeer gelyk bo en plaas in yskas om te stol vir 3 ure. 

Om te ontvorm: Doop vadoek in baie warm water en droog uit. Vou oor agterkant van vorm vir 1 minuut en verwyder. Met ‘n dun punt groente messie, maak die kante van die vormpie liggies los. Breek die sëel deur aan die eenkant, terwyl die bakkie getilt is oor die bordjie, die messie in te druk en die vormpie sal uitgly op bordjie.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 4-6 porsies.

Feestelike Kalkoen

Kalkoen was nogal in die ou dae regtig ’n gereelde item op die spyskaart gewees. Maar namate die samelewing verstedelik het, het die gebruik van kalkoen ook minder geword. Ek dink met geboortebeperking het gesinne se getalle ook gekrimp en een hoender is genoeg om drie of vier te voed i.p.v. die span van 9 mense in die huis...net my gedagte daarop! Onthou ook dat die boere gemeenskappe baie gulhartig hul kos met verbygangers gedeel het en dit was sommer in ‘’n kits dat die voël geslag was.

Hierdie resep is geskik om op die spit of in die oond gaar gemaak te word. Vir die spit moet die kalkoen ook ten minste vir 3-6 ure gaar gemaak word en vir die eerste drie ure bedek met foelie...blink kant na buite. 

Vulsel
45 mℓ (3 e) botter
45 mℓ (3 e) olyfolie
3 seldery stingels, fyngekap met blare en al
1 medium grootte ui, gekap
250 g spek repies, gekap
250 mℓ (1 k) aftreksel (aangemaak en afgekoel)
125 mℓ (½ k) cranberries (geblik of vars)...asb moenie dit uitlaat nie...
2 k vars broodkrummels
2 e salie, gedroog (sage) tradisioneel so gebruik en werk heerlik saam met cranberries
Sout na smaak
Swart peper vars gemaal na smaak
1 ekstra groot eier

Braai die seldery, ui en spek in olyfolie en botter vir 10 minute tot deurskynend. Voeg die afgekoelde aftreksel by die uie mengsel. Roer in die pan totdat die mengsel afgekoel het.

Voeg die res van die bestanddele by en meng baie goed deur. Bind die kalkoen se bene toe sodat die holte toe as jy die vulsel in die keelgat afdruk. Jy kan dit ook andersom doen. Maak seker een-een van die twee gate toe is wanneer jy werk. Die nek kan net met tande stokkies toe gesteek word as jy klaar is. Maak seker beide kante is toe. Die vulsel sit uit as dit bak en dan stoot dit uit.

Smeer die kalkoen aan die buitekant met ‘n halwe koppie gesmelte botter, 5 e knoffel en een eetlepel paprika. Sout en peper na smaak. Maak toe met foelie en bak vir 6 ure by 150 .

Maak nou die Appelkoos sousie:
1 ½ k Appelkoos blatjang
½ k Appel asyn
1/2 t fyn knoffel
1 k Pan sous van die kalkoen

Kook alles saam vir 5 minute en bedien in mooi bekertjie.

Geniet!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Foto: geleen by familie se braai verlede jaar!

Hoeveelheid: Voed ‘’n nasie!

Donderdag, 15 Desember 2016

Fluweelkoek

Die koek word tradisioneel met mielieblom gemaak sodat die gluteninhoud van die koek drasties verlaag. Die koek is kenmerkend klam en veerlig van tekstuur. Verder word die koekkrummel kleur aansienlik witter. Bak perfekte kolwyntjies en groot koeke. Vla vulsels, mousse, karamel en sjokolade sous en vele meer vind hul pad na hierdie perfekte koek.

Wenk om die koek na sjokolade koek om te skakel: Vervang 60 g van die mielieblom met 60g kakao. Sif die kakao by die koekmeel in. 

420 g (2 k) strooisuiker
230 g (1 k) botter of goeie kwaliteit bak margarien
120 g (1 k) mielieblom
250 mℓ (1 k) volroom melk
4 groot eiers
5 mℓ (1 t) vanieljegeursel
280 g (2 k) koekmeel
10 mℓ (2 t) bakpoeier
Knippie sout

Voorverhit oond na 180 en smeer panne met koekepanne smeer op die blog.

Verroom botter en strooisuiker tot lig en donsig. Ongeveer 5 minute. Klits die eiers by een vir een. Los die mielieblom in die helfte van die melk op en klits by die verroomde mengsel. Voeg die vanielje by en klits weer.

Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vou die meel om die beurt met melk by die eiermengsel in.

Groot koeke: Bak vir 45-60 minute tot gaar. Laat goed afkoel voordat jy versier. Op die blog is daar
’n rits versiersel resepte.

Kolwyntjies: Bak 20-25 min by 180 C.

Bron: Annelien Pienaar, (verwerking van moeder se resep). 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 2 x 23 cm koeke of 24 kolwyntjies

Sondag, 11 Desember 2016

Loopbeslag Skonsies

Ek wonder of hierdie skonsie nie dalk sy ontstaan gehad het weens geldelike nood en kosvoorrade wat min was in die ou dae. Ek het in my lewe al soveel variasies op hierdie veelsydige degie gesien dat dit my aan die dink gesit het. Onlangs met ‘n Koekverkoping by een van die Filistyne se skole, het ek hierdie worsie in ‘’n muffin gebak en in bakkies met tamatiesous bedien. Jy kan basies enige iets in die degie sit. Van goedkoop bestanddele, oorskiet vleis tot luukse kase!

Wat net ongelooflik is, is die feit dat die happie so maklik is om te maak. Min moeite. Kosblik happies, vingerhappies...

140 g (1 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
5 mℓ (1 t) sout
250 ml (1 k) melk
125 ml (½ k) sonneblom olie
2 eiers – geklits
12 gerookte rooiworsies in kwarte gesny

Voorverhit oond na 180 en berei mini kolwyntjie pannetjies met Koekepanne smeer voor.

Klits al die bestanddele saam tot glad. Giet in maatbeker met tuit om in die pannetjies te skink...

Giet die kolwyntjie pannetjies ongeveer ¾ vol en druk dan ‘’n worsie in die middel van die beslag.

Bak vir 10 – 15 minute tot gaar en gestol. Laat afkoel in pan en bedien met tamatiesous.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 48 ongeveer

Gekraakte Sjokolade koekies

Hierdie is ‘n spoggerige koekie vir ‘n geskenkie om te gee en ook om voor te sit vir ’n spesiale gas. Een van die geheime van hierdie koekie is die feit dat dit eers verkoel moet word voordat dit gebak word. Die ander geheim is die mengsel van mielieblom en versiersuiker waarin die koekie gerol word voordat dit bak. Moenie in die versoeking kom om net versiersuiker te gebruik nie...die koekie deeg se bestanddele sal die suiker oplos en die wit van die versiersuiker verdwyn tydens die bakproses.

130 g (1 k) versiersuiker
120 g (1 k) mielieblom
200 g donker sjokolade
115 g (½ k) botter of bak margarien
115 g (½ k) strooisuiker
3 eiers
5 mℓ vanieljegeursel
280 g (2 k) koekmeel
25 g (¼ k) kakao
5 mℓ (1 t) bakpoeier
Knippie sout

Sif versiersuiker en mielieblom saam twee maal in ‘n diep bak en plaas eenkant.

Smelt sjokolade en botter in dubbelkoker oor lae hitte en roer gereeld totdat die mengsel gesmelt is. Verwyder van hitte. (Onthou die water onder in die kastrol wat as dubbelkoker gebruik word mag nie die bak wat in die kastrol hang raak nie. Die water mag ook nie borrelend kook nie, want as daar net een klein druppeltjie water in die sjokolade land, skif die mengsel en word een bol. Die proses kan nie omgekeer word nie.)

Roer die strooisuiker by die sjokolade mengsel in en hou aan roer totdat die suiker gesmelt het. Voeg die eiers een vir een by en klits deeglik na elke byvoeging. Voeg die vanieljegeursel by en meng weer goed deur.

Sif koekmeel, kakao, bakpoeier en sout saam. Vou by die sjokolade mengsel in en meng goed. Plaas houer net so in die yskas vir 30 minute om te verkoel.

Voorverhit oond na 160 en berei bakplate voor met Koekepanne smeer (loer op blog).

Haal die mengsel uit die yskas en skep 5 mℓ hopies uit en rol in balletjies. (Indien jy warm hande het, hou ’n bak met yswater eenkant om jou hande koud te maak). Plaas die gerolde balletjies in die versiersuiker mengsel en skud goed om die balletjies te bedek. Ek sit so 5 op ‘n keer in die bak. Plaas versigtig op bakplaat ongeveer 4cm uitmekaar. Die koekies sprei as dit bak.

Bak vir 10-15 minute totdat die koekies redelik hard en ferm is.

Lekkerste koekies ooit!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Bos en Berg gasteplaas.
Hoeveelheid: 50