Woensdag, 02 November 2016

Torrone Nougat

Hierdie metode van Nougat maak is vir my persoonlik die maklikste manier. Jy sal dadelik teen die einde van die proses die gevoel kry en ook sien as die nougat gereed is. Die tegniek wat hier gebruik word, is lank, maar dit is die oer oue manier van nougat maak. Dit is egter baie belangrik om heeltyd te roer en wanneer die neute bygevoeg word, seker te maak dat al die bestanddele warm ingaan. Indien dit nie gedoen word sal die nougat onmiddellik set en jy kan nie dit vorm nie. So, hou neute en vrugte warm in die oond. Ek het vir hierdie resep pekans gebruik maar jy kan met die 400 g neute speel en 100g vrugte stukkies in werk en die res gemengde neute. Jou keuse.

Indien jy nie ryspapier het nie: 250 ml mielieblom saam gesif met 250 ml versiersuiker. Voer jou bak net met kleefplastiek uit. Spuit lagie kleefwerende kos sproei en sif dik laag mengsel. Sodra die nougat in die bak gedruk is, sprinkel weer met mengsel en bedek met kleefplastiek. 

350 g (1 1/3 k) heuning (hoe ligter in kleur die heuning, hoe ligter die nougat)
50 g glukose stroop (indien jy nie het nie kan dit met heuning vervang word)
250 g witsuiker (1 k + 3 e)
2 jumbo eierwitte, kamertemperatuur
Knippie sout
1 t vanieljegeursel
4 k (400 g) Pekannneute
Ryspapier
Ballon klitser van metaal

Voer 'n A 4 grootte bakplaat kleef plastiek uit, ongeveer 4 cm diep. Plaas ’n vel ryspapier met die glanskant na buite op die bodem.

Plaas heuning, glukose stroop en suiker in kastrol en verhit teen lae hitte vir 30 minute en roer heeltyd. Die suiker moet teen die einde gesmelt wees.

Klits die eierwitte tot sagte punt stadium met ‘n draadklitser of ballon klitser (whisk). Gebruik hier asb. ’n metaal draadklitser en nie plastiek nie, die mengsel word baie dink teen die einde en plastiek sal inmekaar te druk.

Skep met die draadklitser ’n hopie van die eierwitte en klits met die hand deur die heuning mengsel. Hou so aan totdat al die eierwitte ingewerk is. Dit sal ongeveer 6 byvoegings wees.  Onthou jy kook die hele proses oor lae hitte, niks mag borrel nie.

Plaas so lank neute in bakplaat en verhit by 100 .

Hou aan roer oor lae hitte vir ongeveer 40 minute. Die mengsel sal dik begin word, die kleur sal glansend wit wees. Om te toets of die meringue gereed is: Lig die klitser op en as dit linte trek en bo-op die meringue gaan lê, moet dit meer as 5 sekondes neem om te verdwyn en nog steeds bo-op  lê. Is die mengsel  gereed om die verhitte neute by te voeg.

Voeg die neute en vanielje by die meringue en werk baie, baie vinnig. Roer alles met houtlepel deur en skep in bak. Neem ‘n skoon deegskraper wat met olie afgevee is en druk die mengsel plat. Plaas weer ryspapier bo-op die mengsel met die blink kant na bo. Plaas kleef plastiek bo-op en neem ’n nog ’n bakplaat wat presies dieselfde grootte is en druk dit bo-op die nougat sodat die oppervlakte van die nougat gelyk kan word. Druk op die kante van die bakplaat en nie in die middel nie, verwyder die bakplaat en laat die nougat goed afkoel en stol vir 5 ure. Sny met skerp mes in blokkies.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Notas: Lekkergoed klas vir Boerekos Twist

Hoeveelheid: 1 A4 vel 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking