Vrydag, 04 November 2016

Suurlemoenstroopkoek met Mascarpone versiersel

As ek aan 'n fyn en dekadente happie dink, dan sien ek altyd hierdie heerlike botterkoek van my moeder met die klam tekstuur en die geure van suurlemoen. Hierdie resep is 'n alles in een resep met die koek, stroop en versiersel ingesluit. Geniet. 

Koek
250g Botter of Rama bak margarien
400 g (2 k) Suiker
4 ekstra groot Eiers
125 mℓ (½ k) Melk
420 g (3 k) Koekmeel
15 mℓ (1 e) Bakpoeier
5 mℓ (1 t) Vanielje geursel
15 mℓ (1 e) suurloemoenskil
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
2.5 mℓ ½ t Sout

Voorverhit oond na 180 en smeer twee ronde koekpanne van 25 cm deursnit met koekepannesmeer. Voer die panne se bodems uit met waspapier.
Verroom die botter en suiker saam tot lig geel en donsig.

Voeg dan die eiers een vir een by, klits eers baie goed voordat die volgende eier bygevoeg word. Die mengsel moet weer lig en donsig word.

Voeg die melk, suurlemoenskil en –sap by en meng deeglik.

Sif koekmeel, sout, bakpoeier saam en vou met draadklitser by die eiermengsel in.

Bak die koeke vir 45 minute totdat die toets stokkie skoon uitkom. Haal uit oond en giet suikerstroop oor koek en laat afkoel.

Suikerstroop
250 mℓ (1 k) water
100 g (½ k) witsuiker
125 mℓ (½ k) vars gedrukte suurlemoensap
1 kaneelstokkie
15 mℓ (1 e) suurlemoenskil

Kook al die bestanddele saam vir 10 minute en giet oor warm koek en laat goed afkoel. 

Mascarpone versiersel
200 g Botter of Rama/Stork bake koud, gerasper
500 g Versiersuiker
30 mℓ (2 e) Melk
60 ml (4 e) Kook water waarin 1 e gelatien opgelos is
30 mℓ (2 e) Suurlemoensap
15 mℓ (1 e) Suurlemoenskil
15 ml (1 e) Cocorico of klappergeursel
20 ml Vanielje geursel of geursel van keuse
150 g Mascarpone (kan ook met roomkaas vervang word)

Gelatien: voeg gelatien in kook water, roer tot opgelos en soos stroop lyk. Indien nog korrelrig, plaas bakkie in kookwater en roer weer.

Klits die botter tot sag en romerig. Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die mascarpone en gelatien mengsel. Klits weer tot baie lig en donsig. Dit neem met 'n elektriese klitser ongeveer 5 minute. Voeg dan die mascarpone en gelatien by en klits weer 5 minute.

Halveer elke koek sodat daar vier lae is. Smeer met versiersel en eindig met mooi versiersel rose. Indien versiersel loperig is, verkoel vir 5 min en voel die dikte of dit reg is vir spuit. Oppas om te lank te los dit kan kaaskoek word!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, vir Bos en Berg gasteplaas.

Hoeveelheid: dubbel lag koek

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking