Saterdag, 12 November 2016

Outydse Doekpoeding of Jan-in-die-sak

Doekpoeding is ’n basies vrugtekoek wat gestoom word binne-in ’n lappie binne ’n diep kastrol. My opinie is die oumense het dalk soms nie toegang tot oonde gehad om vrugtekoek te bak nie en het dan planne soos hierdie gemaak om die koek bo-op die stoof plaat of oop vuur te maak. Ek het baie ou Afrikana kookboeke en het toe die idee gekry dat dit die situasie mag gewees het. Die ander naam wat hierdie poeding genoem word, is Jan-in-die-sak!

Jan-in-die-sak kan met ’n ou kussingsloop of stuk laken gemaak word. Die materiaal moet van dunnerige linne wees. Selfs melkdoek nie kaasdoek, sal ook geskik wees asook ongebleikte linne. In ouer geskrifte lees ek ook dat niervet gebruik is i.p.v. botter, as die smeer in die gebak. Gelukkig is ons dit vandag gespaar!

Vir interessantheid: Die Engelse, gebruik dieselfde waterbad manier om die nagereg gaar te maak. Die nagereg word in ‘n keramiek bak geskep en dan met ’n linne lappie aan die bo-kant toe gebind. Die toutjie word lank gelos aan beide kante om die bak maklik uit te lig. Selfde gaar word tyd, met die waterbad metode. Ek het persoonlik beide tegnieke probeer en dit werk goed. Verlede Kersfees het ek mooi keramiek bakke gekoop en as geskenk die poeding daarin gebak, mooi toe gedraai en die lap hoedjie weer opgesit. Daarmee saam het ek ’n potjie van my dekadente karamelstroop bygesit en die familie was in die wolke.

Wees gewaarsku: Moenie die kastrol se deksel oplig voordat 2 ure verbygegaan het nie!

Bedien met 'n Brandewyn sous of ons is lief vir Karamelsous op die blog. 

1 kg (6 ½ k ) koekvrugte mengsel
160 g (1 k) kersies
100 g (1 k) pekan neute of amandels gebreek
60 mℓ (4 e) gekapte gemmer konfyt
500 g botter
8 eiers
200 g (1 k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
250 mℓ (1 k) gouestroop
500 g (3 ¾ k) koekmeel
5 mℓ (1 t) bakpoeier
2.5 mℓ (½ t) sout
5 mℓ (1 t) koeksoda
5 mℓ (1 t) fyn kaneel
5 mℓ (1 t) fyn neutmuskaat
5 mℓ (1 t) fyn gemmer
120 g (2 k) vars witbrood krummels
2 appels gerasper
125 ml (½ k) brandewyn
125 mℓ (½ k) sjerrie
80 cm x 80 cm linne doek
Ekstra koekmeel

Neem die doek waarin jy die koek gaan stoom en dompel in warm water, droog uit, sprinkel dik met ekstra koekmeel en laat staan. Gebruik ’n siffie om die koekmeel te strooi. Onthou hierdie deel is baie belangrik want dit voorkom dat die koekbeslag sal uitsypel uit die doek.

Meng die vrugtekoek mengsel, kersies, neute, gemmerkonfyt saam. Sprinkel die mengsel met ongeveer 4 e van die koekmeel uit die resep. Werk deur die vrugte. Rede: Die meel keer dat die vrugte in die beslag na onder sak as dit gebak word. Hierdie beslag is loperig teenoor ’n normale vrugtekoek. So dit is belangrik dat dit gedoen word.

Klits die eiers en suiker saam totdat dit lig en romerig is vir ongeveer 5 minute op vinnigste verstelling van jou elektriese klitser. Voeg die stroop by en klits goed. Voeg dan die brandewyn by en plaas eenkant.

Sif al die droë bestanddele saam. Voeg die botter by en vryf in met vingerpunte totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg dan die gerasperde appels en witbroodkrummels by.

Meng die meel- en eiermengsel saam. En roer goed deur. Die beslag sal loperig wees...

Neem doek en skud die oortollige meel versigtig af. Plaas in diep bak en skep die beslag in die lap. Knoop die punte saam, maar laat genoeg spasie vir die poeding om te rys of met toutjie vasbind. Jou keuse.

Neem ’n groot eetbord en plaas in gepaste kastrol, hierdie dien as ’n valsbodem anders kan die poeding brand. Vul dan die kastrol met ’n derde kook water en laat die water borrelend kook. Plaas die poeding versigtig in kokende water, maak seker die poeding is met die water bedek, anders, vul aan met kookwater.

Maak seker die deksel seel dig. Indien nie, plaas ’n ekstra gewig op die deksel. Kook dan 5-6 ure oor lae hitte. Loer by die 2 ure merk of die water nog genoeg is, vul aan met kokende water tot die poeding bedek is.

Sodra die poeding gaar is lig uit en knoop oop en sprinkel die sjerrie oor die warm poeding. Bedien warm of stoor soos vir vrugtekoek.

Bedien met karamelstroop van die blog.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 12 porsies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking