Dinsdag, 15 November 2016

Ekonomiese Vrugtekoek van Dorette

Dorette se moeder het vir jare hierdie wonderlike koekgebak en vandag word die tradisie voortgesit. Die koek is heerlik klam en kry fyn pynappelstukkies in die beslag. Die koek is regtig ekonomies en almal kan Kerskoek op die tafel hê. Baie dankie vir die deel van jou familie juweeltjie.

500 g (3 1/3 k) vrugtekoekmengsel
125 g (½ k) bakmargarien of botter
200 g (1 k) witsuiker
1 blik 310 g, fyn pynappel
140 g (1 k) heel glanskersies
5 mℓ (1 t) gemengde speserye
5 mℓ koeksoda
100 g (1 k) pekans of gekapte verglansde vrugte

Kook al die bestanddele saam behalwe die koeksoda en pekans vir 5 minute. Haal van hitte af en roer die pekans en koeksoda by. Laat in erdebak of glasbak oornag staan sodat die vrugte kan uitswel. Indien jy haastig is, sal 2 ure genoeg wees.

2 ekstra groot eiers, geklits 
140 g (1 k) koekmeel
140 g (1 k) bruismeel
1 mℓ sout

Voorverhit oond na 180 en berei een pan van 23cm deursnit voor met ‘n dubbel laag waspapier.

Roer eiers by vrugtemengsel in. Sif droë bestanddele en roer in. Skep in voorbereide pan(ne). Bak bedek teen 180 vir 30 minute en dan verder teen 150 vir nagenoeg 2 ure.

Indien jy verkies om die koek te “dokter” gebruik 125 mℓ sjerrie en giet oor die warm koek. Laat die koek goed afkoel en dokter na ‘’n week weer die koek met 125 mℓ sjerrie. Draai goed toe in foelie en kleef plastiek en die koek kan vir maande gestoor word.

Bron: Dorette Standeer van Rooyen, 2016 vir BKT

Hoeveelheid: 750-800g koek

2 opmerkings:

  1. Vraag – die koeksoda en pekans kom by die meel en eiers deel vd resep (droee bestanddele..) ?
    Ek bak nie gereeld nie en soek biki duidelikheid.
    Baie dankie.
    Flip

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hallo Flip. Ek het met Dorette gepraat oor die resep en die teks aangepas. Die koeksoda en die Pekans word by die gekookte mengsel gevoeg sodra dit van die hitte afgehaal word. Dankie vir die opmerking...nou is die resep perfek vir die ander gebruikers. Lekker bak en kom spog op Faceboek met jou gebak. Groete Annelien

      Vee uit