Saterdag, 01 Oktober 2016

Komyn en Papawersaad broodstokkies

Broodstokkies is vir my persoonlik, een van daardie uiters veelsydige happies, wat amper by alle geleenthede kan inpas op die spyskaart. Dit kan as ‘n happie by ‘n skemerkelkie bedien word, by ‘n ontvangs van ‘n bruilof terwyl die gaste rondstaan en kuier, gewoon net met ‘n braai, wat van die kinders met ‘n partytjie, of...’n lekker boek klub kuiertjie bedien met die aller heerlikste doopsouse en smere.

Daar is geen reël wat sê dat jy komyn en papawersaad moet gebruik nie. Ek het al parmasaan en biltong gebruik, gedroogde olywe, stukkies spek, son gedroogde tamaties en vele meer...Of...bak 3 lekker groot brode!

1kg (7 k)  Snowflake witbrood meel (ek vind Snowflake se meel is ekstra fyn gemaal)
10 ml (2 t) Sout
10ml (2 t) Suiker
1 Kitsgis, sakkie
50 ml (4e) Olyfolie
50 ml (4e) Melk, lou warm
600 ml Sterk lou water (250ml vir gis aanmaak en res vir knie)

Bolaag opsies:
Geroosterde Komyne saad (bo-oor sprinkle)
Cheddar kaas gerasper
Papawersaad
Uie saad

Los die gis en suiker in 250ml sterk louwater op en laat staan 5 minute totdat skuim vorm. Sal lyk soos ‘n diklaag skuim op bier.

Sif meel en sout saam en meng goed.

Vryf die olyfolie in die meel in totdat dit nie meer sigbaar is.

Voeg nou die oorblywende water en melk by meel mengsel en knie vir 10 minute. Todat die deeg los kom van jou hande en die kante van die skottel

Laat deeg rus en rys tot dubbel die volume. Knie af. Weeg die deeg af in 30g balletjies en rol elke bolletjie ongeveer 30cm lank uit. Twist nou die lang stokkie op beide punte Laat die strootjies op ‘n bakplaat vir 30 minute rus sodat dit weer kan rys. Smeer met geklitste eier en strooi die saadjies of kaas oor.


Bak vir 35 minute by 200°C in voorverhitte oond. Die brood is gaar as jy daarop klop en dit het ‘n hol geluid en trek los van die kante van die panne. 

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm,co.za
Hoeveelheid: 100

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking