Woensdag, 19 Oktober 2016

Eiervrug blatjang

Hierdie resep is eens op ‘n tyd uit nood gebore. My groentetuin was op “turbo boost” en die eiervrugplant wou nie ophou vrugte produseer nie. So was ek uit nood gedwing om maar verskeie opsies te ondersoek om die vruggie weg te werk, want weggooi dit doen ek nie. Uitdeel ja! Maar as jou buurvrou begin verskonings soek, dan is ‘n geskenk dalk ook soms ’n oorlas!

2 kg eiervrug
3 e sout
5 groot uie, geskil en grof gekap
1 liter asyn
1.3 kg (6 ½ k) witsuiker
4 e geel mosterdsaad
1 k rosyntjies
4 e swartpeperkorrels
1 k water
3 e mielieblom
1 e achaar masala (sien resep op blog)
1 e fenegriek sade
4 e fyn knoffel
½ t fyn gemmer
½ t mosterdpoeier

Sny eiervrug sonder om te skil in 2 cm repe. Sprinkel elke skyf met sout en laat 10 minute staan, spoel af.

Kook asyn, suiker, mosterdsaad, rosyne, peperkorrels saam. Voeg uie en eiervrug by en kook die mengsel vir 45 minute op hoë hitte.

Maak die mielieblom aan met water, masala, fenegriek, fyn knoffel, gemmer, mosterd poeier. Kook die mengsel totdat dit verdik vir ongeveer 5 minute.

Bottel warm in gesteriliseerde flesse.

Bron: Annelien Pienaar, boerekostwist@gmail.com, 2016

Hoeveelheid: 2 liter

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking