Donderdag, 22 September 2016

Sjokolade Salami

Hierdie happie is natuurlik my doodskoot net voor slapenstyd met ’n laaste teetjie. Ek weet dit is ongesond, maar dit doen ek net vir Kerstyd en ek maak genoeg om tot in die Nuwejaar te hou! Die resep is nogal maklik om te maak en die duurste bestanddeel is die sjokolade. Ek koop Lindt plakke en as dit op spesiale aanbieding is, wel, ek maak die rak leeg! Ek dink as smaak en tekstuur vir jou belangrik is, hou by goeie kwaliteit sjokolade. Ek het onlangs ’n slegte stel afgetrap met die gewone bak sjokolade en waardevolle tyd en duur neute gemors. So, vir hierdie resep is daar nie vervanging van bestanddele nie...stick to the gameplan! Dit is duur maar mens maak dit mos ook nou nie elke dag nie of hoe?
                                          
250 mℓ (1 k) gemmerkoekies, fyngemaak
350 g (1 ¾ k) Lindt sjokolade, gekap
225 g (1 k) botter
60 mℓ (4 e) Amarula likeur
2 groot eiergele
100 g (1 k) fyn pekans
Ekstra pekans vir die bedekking van die rol

Smelt sjokolade in dubbelkoker met 1 e botter, roer gereeld. Sodra die sjokolade gesmelt is, verwyder van hitte en plaas eenkant.

Voeg eiergele, botter en Amarula by en roer goed deur. Voeg die gemmerkoekies en pekans by die sjokolade mengsel en meng deeglik. Laat die mengsel vir ’n uur by kamertemperatuur afkoel.

Smeer kleefplastiek met botter en skep afgekoelde vulsel op die plastiek. Maak ’n rol van 20 cm en rol styf op. Rol die rol vêrder in bakpapier toe en plaas op bakplaat en los in vrieskas vir 4 ure.

Sodra dit bedieningstyd is, haal rol uit vrieskas, verwyder lae  en rol die rolletjie in fyn pekans. Pistasie neute se groen vertoon ook mooi. Bedien as heel lang rol of in snytjies.

Bron: Annelien Pienaar, Bos en Berg gastehuis, epos: boerekostwist@gmail.com
 Porsies: 12 snytjies


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking