Donderdag, 01 September 2016

Herderspastei

As jy moeg word vir die lewe en net nie lus is vir kos maak dan is hierdie wandelpad om te volg. Ek kroek baie deur aartappels in groot maat te koop, blansjeer en vries. Gebruik dan soos nodig. Onlangs weer die waarde van moeder se voorsienigheid besef toe ek die aartappels uit die vrieskas haal en vinnig die pastei aanmekaarsit. Ek dink ook my ma het alles geweet en wens ek kon haar onuitputbare kennis van kos nog ‘’n keer beleef...                                                          Porsies: 6

Kapokaartappels
6 groot aartappels, gekook, ontvel
2.5 mℓ (½ t) neutmuskaat
100 g botter of margarien
65 mℓ (¼ k) melk
2.5 mℓ (½ t) sout

Plaas al die bestanddele in voedselverwerker en puree. Indien jy nie ‘’n voedselverwerker het nie, kan die aartappel deur ‘’n sif gevryf word om fyn te kry sonder enige klonte. Hou eenkant terwyl die maalvleis berei word.

Vleisvulsel
500 g (2 k) maalvleis
60 mℓ (4 e) olyfolie of botter
1 groot ui, fyngekap
3 wortels, gerasper
1 seldery stingel, gekap
5 mℓ (1 t) kerriepoeier
5 mℓ (1 t) borrie (turmeric)
Vars gemaalde swartpeper na smaak
Sout na smaak
½ k perske blatjang
150 g (1 k) gerasperde cheddar kaas

Voorverhit oond na 180 en smeer ‘’n pastei bak.

Braai ui, wortel en seldery in olyfolie tot glansend. Voeg die kerrie en borrie by en braai vir ‘’n minuut. Voeg maalvleis by en roer om klonte uitmekaar te breek tot gaar.

Voeg dan die sout en peper asook perske blatjang by. Verwyder van hitte.

Smeer ’n lagie kapokaartappels onder in die bodem van die bak. Skep al die maalvleis bo-op en maak toe met nog kapokaartappels.

Rond af met cheddar en bak vir 30 minute by 180 ℃.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Kook klasse: boerekostwist@gmail.com



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking