Maandag, 26 September 2016

Aartappel en Spek Gebak

Abraham Maas het hierdie heerlike resep van sy vriend met ons kom deel. Ek het dit gemaak en dit is regtig heerlik. Foto en resep behoort aan Abraham.

5 medium aartappels, geskil en in blokkies gesny, half gaargekook in sout water 
1 groot ui, gekap
15 mℓ (1 e) olyfolie
200 g (2 k) gerasperde cheddar kaas
5 stingels gekapte spruit uie
250 g spekvleis, gekap
1 blikkie Ideal melk 
½ blikkie gevul met melk
8 Jumbo eiers
sout en peper na smaak

Voorverhit oond na 180 en smeer ’n pyrex bak met botter uit.

Verhit die olyfolie en braai die aartappels tot ligbruin. Gooi die aartappels in voorbereide bak. Pak lae, uie, kaas en spek.

Meng die eiers, ideal melk, melk, sout en peper, giet oor gepakte lae. Sprinkel met spriet uie en bak by 180
vir 45-55 minute of totdat die mengsel gestol het. Laat afkoel vir 10 minute voor bediening.

Wenk: Jy kan die spek vervang met blokkies ham. Idealmilk kan met melk vervang word.

Bron: Abraham Maas vir Boerekos met ’n Twist, 2016.

Hoeveelheid: 12 skywe

Donderdag, 22 September 2016

Sjokolade Salami

Hierdie happie is natuurlik my doodskoot net voor slapenstyd met ’n laaste teetjie. Ek weet dit is ongesond, maar dit doen ek net vir Kerstyd en ek maak genoeg om tot in die Nuwejaar te hou! Die resep is nogal maklik om te maak en die duurste bestanddeel is die sjokolade. Ek koop Lindt plakke en as dit op spesiale aanbieding is, wel, ek maak die rak leeg! Ek dink as smaak en tekstuur vir jou belangrik is, hou by goeie kwaliteit sjokolade. Ek het onlangs ’n slegte stel afgetrap met die gewone bak sjokolade en waardevolle tyd en duur neute gemors. So, vir hierdie resep is daar nie vervanging van bestanddele nie...stick to the gameplan! Dit is duur maar mens maak dit mos ook nou nie elke dag nie of hoe?
                                          
250 mℓ (1 k) gemmerkoekies, fyngemaak
350 g (1 ¾ k) Lindt sjokolade, gekap
225 g (1 k) botter
60 mℓ (4 e) Amarula likeur
2 groot eiergele
100 g (1 k) fyn pekans
Ekstra pekans vir die bedekking van die rol

Smelt sjokolade in dubbelkoker met 1 e botter, roer gereeld. Sodra die sjokolade gesmelt is, verwyder van hitte en plaas eenkant.

Voeg eiergele, botter en Amarula by en roer goed deur. Voeg die gemmerkoekies en pekans by die sjokolade mengsel en meng deeglik. Laat die mengsel vir ’n uur by kamertemperatuur afkoel.

Smeer kleefplastiek met botter en skep afgekoelde vulsel op die plastiek. Maak ’n rol van 20 cm en rol styf op. Rol die rol vêrder in bakpapier toe en plaas op bakplaat en los in vrieskas vir 4 ure.

Sodra dit bedieningstyd is, haal rol uit vrieskas, verwyder lae  en rol die rolletjie in fyn pekans. Pistasie neute se groen vertoon ook mooi. Bedien as heel lang rol of in snytjies.

Bron: Annelien Pienaar, Bos en Berg gastehuis, epos: boerekostwist@gmail.com
 Porsies: 12 snytjies


Woensdag, 21 September 2016

Skaapkerrie

Lamsblad is een van daardie snitte wat nie maklik sny in repe nie. Daarom is ek lief daarvoor om die blad eers in die oond te rooster en dan uitmekaar te trek. Die vleisie word dan saam met groente en ’n heerlike sousie verder gaargemaak om ’n heerlike eenskottel gereg te vorm. Ek is baie lief om Fenegriek in my kerrie disse te gebruik. Die Fenegriek is baie gesond en kan by enige bakkerswinkel gekoop word. Of loer by die rak in jou gunsteling supermark onder Natures Choice vir die heel korrel of die fyn sout. Ek verkies die heel korrel.

1 lamsblad
Sout ’n peper na smaak
15 mℓ (1 e) knoffel
60 mℓ (4 e) roosmaryn
30 mℓ (2 e) olyfolie

Steek gaatjies in blad en vryf al die bestanddele in die blad in. Plaas blad in Prutpot en maak gaar oornag. Of in die oond by 150 vir 4 ure tot vleis van been los kom. Haal al die vleis van die beenaf.

Groente
500 g piekel uitjies, skoongemaak
500 g baba-aartappels, halveer
1 kop brokkoli
250 mℓ (1 k) groente aftreksel
3-6 chillies, ontpit en fyn gekap (opsioneel)

Kook die vleis, aartappeltjies en uitjies tot sag in die aftreksel. Voeg laaste die brokkoli by en sous.

Sous
70 g (4 e) koekmeel
60 mℓ (4 e) botter
250 mℓ (1 k) pansous van lamsblad, vet afgegooi
250 mℓ (1 k) groente aftreksel
15 mℓ (1 e) knoffel
15 mℓ (1 e) fenegriek
15 mℓ (1 e) borrie
15 mℓ (1 e) kerriepoeier
15 mℓ (1 e) roosmaryn, droog
250 mℓ (1 k) room, laate by geroer as dis gaar is.
Sout en peper na smaak

Smelt botter  in kastrol en voeg koekmeel by. Braai die mengsel totdat dit bruin is...amper strooikleurig. Voeg die pan sous en groente aftreksel by en kook tot verdik. Voeg al die geurmiddels by en meng goed. Giet sous oor groente en kook net totdat die sous verdik het. Brokkoli moet nog bros wees en nie pap. roer die room by en bedien met cous-cous, stampmielies of mielierys.

Bron: Annelien Pienaar, 2016 vir Bos en Berg gastehuis, Kook klasse: boerekostwist@gmail.com
Porsies: 6






Maandag, 12 September 2016

Spek, Botterskorsie en Feta Quiche

Ons het in ’n “gesonde huis” grootgeword vanweë ’n diabeet sussie. Ons het baie vars kos gekry. Ma het alles in die groentetuin geplant en ons het so ook die liefde vir groente plant geleer. Daar was die snaaksste kleure en vorms van tamaties, eiervrug en selfs groenboontjies. Hierdie gereg is moeder se stempel in ons gesonder lewenstyl. Hierdie is ’n korslose gereg. Indien jy sou verkies om 'n kors in te sit, sal ek gaan vir die aartappel pastei deeg kors. Rede: Die aartappel verlaag die gluten inhoud van die meel en ook 'n baie gesonder opsie. Resep: http://boerekostwist.blogspot.co.za/2016/06/aartappelpastei-deeg-potato-pastry.html

15 mℓ (1 e) olyfolie
4 repies rug spek (back bacon)
250 mℓ (1 k) room
3 eiers
2 fyn, knoffel toontjies
½ k plat blaar pietersielie
Sout en peper na smaak
5 mℓ (1 t) dill tippies
300 g (1 ½ k) botterskorsie blokkies
100g (½ k) feta, gekrummel

Voorverhit oond na 170 en smeer ‘’n 23cm los boom pan van enige vorm met koekepanne smeer.

Braai spek in olyfolie tot bros. Voeg knoffel en botterskorsie by en braai vir 2 minute.

Meng die room en eiers goed saam asook sout, peper en dill tippies.

Pak die botterskorsie stukkies in die pan en sprinkel die spek oor. Giet eiermengsel oor en rond af met gerasperde feta en fyn pietersielie blare.

Bak vir 20-25 minute by 170 tot geset. Bedien dadelik met ‘’n heerlike groenslaai.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Kook klasse en gesonde eetgewoontes: boerekostwist@gmail.com

Porsies: 4

Donderdag, 01 September 2016

Herderspastei

As jy moeg word vir die lewe en net nie lus is vir kos maak dan is hierdie wandelpad om te volg. Ek kroek baie deur aartappels in groot maat te koop, blansjeer en vries. Gebruik dan soos nodig. Onlangs weer die waarde van moeder se voorsienigheid besef toe ek die aartappels uit die vrieskas haal en vinnig die pastei aanmekaarsit. Ek dink ook my ma het alles geweet en wens ek kon haar onuitputbare kennis van kos nog ‘’n keer beleef...                                                          Porsies: 6

Kapokaartappels
6 groot aartappels, gekook, ontvel
2.5 mℓ (½ t) neutmuskaat
100 g botter of margarien
65 mℓ (¼ k) melk
2.5 mℓ (½ t) sout

Plaas al die bestanddele in voedselverwerker en puree. Indien jy nie ‘’n voedselverwerker het nie, kan die aartappel deur ‘’n sif gevryf word om fyn te kry sonder enige klonte. Hou eenkant terwyl die maalvleis berei word.

Vleisvulsel
500 g (2 k) maalvleis
60 mℓ (4 e) olyfolie of botter
1 groot ui, fyngekap
3 wortels, gerasper
1 seldery stingel, gekap
5 mℓ (1 t) kerriepoeier
5 mℓ (1 t) borrie (turmeric)
Vars gemaalde swartpeper na smaak
Sout na smaak
½ k perske blatjang
150 g (1 k) gerasperde cheddar kaas

Voorverhit oond na 180 en smeer ‘’n pastei bak.

Braai ui, wortel en seldery in olyfolie tot glansend. Voeg die kerrie en borrie by en braai vir ‘’n minuut. Voeg maalvleis by en roer om klonte uitmekaar te breek tot gaar.

Voeg dan die sout en peper asook perske blatjang by. Verwyder van hitte.

Smeer ’n lagie kapokaartappels onder in die bodem van die bak. Skep al die maalvleis bo-op en maak toe met nog kapokaartappels.

Rond af met cheddar en bak vir 30 minute by 180 ℃.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Kook klasse: boerekostwist@gmail.com