Sondag, 28 Augustus 2016

Visvang ekskursies is nie vir sissies

 
 Geseënd is ek voorwaar. Drie wonderlike, welgeskape kinders in soveel opsigte. Persoonlikhede verskil soos dag by nag en so ook belangstellings. Ouboet is vreeslik ingestel op feite en lees baie wyd. Op die gebied van sport verkies hy ‘’n individuele sport i.p.v. ‘’n span sport. So sy keuse van sport is swem. Die middelste filistyn is weer een wat verkies om buite te wees en alle sport soorte onder die son te toets. Een wat ons nooit eens aan gedink het, was visvang. Die probleem is dat ons as ouers se opvatting van visvang nie ‘’n baie positiewe prentjie was nie. In ons dae was dit net “damduikers” met boep pense en bierblikke wat gaan visvang het om die dam. Regtig, nie ’n rooskleurige prentjie nie.

Daar kom die geleentheid by die skool vir die kinders om by ’n nuwe sport betrokke te raak. Wat besluit die kind, hy gaan ook visvang saam met die maters. Ek en my man het mekaar net so gekyk en gedink, hierdie gaan hopelik ’n stil dood sterf, want hierdie rooikop gevaarte van ons is nie mal oor vroeg opstaan nie. Gerat met ’n gehawende visstok wat die buurman vir ons leen gaan pappa en boeta na die eerste vergadering en sogenaamde klassie. Terug by die huis straal die knaap want hy het baie visse gevang. Goed, ons sal sien hoe lank dit hou. Wel, dit hou nog en hier begin die reis saam met sy provinsiale span. Ons was op ’n vlak waar die visvang by die skool net gegaan het oor wie se pappa die beste sy kind kan help om vis te ving...ja, ek dink ons as ouers is almal al deur die stryd.

Hier sit ek met die kind wat boeke verslind rakende vis spesies, knope en verskeie baie interessanthede. My kind wat nie wou lees nie, lees nou boeke wat in Engels is en my mond hang oop oor sy kennis. Ons besef die kind het talent en die skool ding werk nie, want die kinders kry nie die opleiding wat adverteer is nie. Op
’n dag ry ons Krugersdorp toe en verdwaal in ’n stegie en sonder dat ons visgerei gesoek het sien die rooikop die winkeltjie met vis goed in ’n baie swak gedeelte van die dorp. Ons stop en ek sien die lamlendige veiligheidshek en druk die knoppie en ons gaan in. Looks can be deceiving! Hierdie “gehawende” geboutjie huisves alle visvang dissiplines wat net van gedroom word. Daar is drie verdiepings met visgerei...’n Visserman se droom!

Vas sti is nie vir sissies!
Daar het die reis begin vir my kind. Ons ontmoet die voorsitter van die Sentraal Noordwes Vishengel span per toeval. Die man hoor hoe ek en die kind redeneer oor sy ram wat hy verkoop het se geld en die feit dat ek nie sal toelaat dat hy dit spandeer soos in die verlede. Hy moet kundige advies kry oor wat hy regtig nodig, want ek voel hy moet van die begin die regte belegging maak. Die man kom aangestap en stel hom net as Pieter voor en ek sien die vader wat praat in hom. Hy neem ons deur die winkel en verduidelik wat gaan vir wat en waar om eerste te begin. Ek maak lysies en neem kort video’s oor wat die man praat. Die man se passie is so begeesterend dit is ongelooflik. Hy nooi ons uit na ’n werkswinkel vir drie dae in die skool vakansie en stel voor ons koop nou niks. Hy sal ons help op die vakansie opleidingsessie. Die koeël is deur die kerk. Daardie volgende vakansie kry die kind die opleiding wat enige visserman oor kan droom. Supercast se manne kom help. Die span is ongelooflik georganiseerd en groot name in die hengel industrie kom maak die maters touwys. My kind blom, die inligting word in sy eie skrif neergepen en nie lank nie of hy kry span om vir die Penkoppe te vis. Die nasionale kompetisie is om die draai en die knapie oefen dat dit klap. Desember is dit SA’s.
Hey Dude!!! Al weer!!!

Die naweek is mamma en seun naweek, pappa is met die oudste filistyn en sussie met ander verpligtinge besig en die punte waar almal moet wees, vêr uitmekaar. Mamma reël die ander filistyne se akkommodasie en vergeet om akkommodasie in Oranjeville by die Vaaldam te reël en ons moet toe maar van Skeerpoort direk ry. Twee uur Saterdagoggend pak ons die bakkie en vat die lang pad. Dit is die eerste keer dat ek alleen so vêr in die nag ry en is maar skrikkerig. Pappa het ons op sy Tracker via satelliet en sien ons waar ons ry. Ons klim op die N3 en die bakkie se groot wiele sing op die teer. By Heidelberg begin die mistigheid, dit is baie erg, ek volg die karre se liggies. Ons bereik Villiers en die tannie met die stemmetjie sê ons moet nog verby. Ek luister natuurlik sonder om te dink en ons ry. By die volgende Villiers bord draai ons af. Ons ry, in ’n stadium verloor ons sein en bid, bid ry ek en pluk toe maar die padkaart uit.

By die volgende bordjie draai ek af op ’n baie lang grondpad, die mis is nou so erg dat jy skaars 2 meter voor jou kan sien! Ons ry stadig aan 25km grondpad. Ons kom weer op ‘’n teerpad uit wat Villiers regs wys en Oranjeville links. Ek besef toe die GPS was verkeerd, ek is tans op die pad wat ek eers moes gevat het. Ons ry soos die GPS punt wys. Ons kom by die punt aan en daar is geen pad van ‘’n dag oud nie. Ek sit moedeloos in die digte mis en donker nag en copy en paste maar weer die koördinate. Dit toon aan dat ek nog 77km het om te gaan en dit is aan die ander kant van die dam waar ek moet wees. Ek sit met ’n sinkende hart want, ek wou voor die tyd by die plek wees sodat iemand ons kan wys hoe om stroppe te maak.

So met die hart wat klop in die keel kom daar ‘’n voertuig stadig aangery en stop langs ons. ’n Luukse sedan en toe ek vinnig loer sien ek die man het ‘’n klompie visstokke langs sy sitplek en weet die persoon sal ons nie skade doen. Die man vra of ons reg is en ek vra hom of hy weet waar Moolman se visvang plek is. Hy sê dit is net paar meter terug aan die regterkant van die pad en die plek is op ‘’n boer se plaas. Ek dink by myself dat die GPS vervang moet word want ek gaan nie weer in sirkels ry nie. Ons draai om en volg die man. Ry deur die plaas hek en kom onder by die krale aan waar die hoofhek na die dam gesluit is. Ons sit so ’n paar minute en wag en Pieter, die groot indoena van S.NW. kom sluit oop en ry voor. Ons is nog steeds gehul in digte mis en jy kan nie enige bakens op die pad, of selfs paadjies sien nie, jy volg maar die manne.

In ’n stadium vang ons spoed en ry vinniger, ek voel aan die stuurwiel dat die pad meer sanderig word en draai die venster af om na die grond te kyk. So tussen die misbolle deur, voel dit of my oë my bedrieg, want dit lyk soos ’n moeras gebied en die vis karkasse lê oral gestrooi. Ek maak die rooikop wakker en vra hom of ek reg sien. Ek begin stadiger te ry in die konfooi van 4 voertuie waarvan ek heel agter is. My kennis van plaaslewe het my paar goed al geleer, as jy dik sand kry, ry met respek, as die sand begin nat word, is jy in ‘’n vlei. Ek begin nog stadiger te ry en my instink vertel my dat iets nie pluis is!

Die volgende oomblik speel soos ‘’n fliek voor my af, ewe skielik is daar ’n helder kol waar daar nie mistigheid is nie. Die voorste voertuig tref die water op ’n redelike vinnige spoed en dit lyk soos ‘n mini Tsunami golf wat oor die Landcruiser trek. Ek besef nie mooi wat aangaan. Ek stop dadelik en gooi lig op die probleem. Ek klim uit en tot in my enkels in water. Ek spring terug en weet ek moet nou dadelik uit die moeras. Trek agtertoe totdat ek ’n droë kol kry en klim uit en gaan vra of ek kan help. Die man met die luukse voertuig jaag soos ’n ridder op sy swart perd weg, spoorloos, en ons drie 4x4 voertuie staan met ons ligte na mekaar. By nadere ondersoek het Pieter in die Vaaldam ingery! Die sleepwa se gewig trek die agterwiele in die modder in en die bakkie lê op sy as vas.

Die tweede voertuig is ook ’n Landcruiser en so begin die tog om die ander Landcruiser uit te trek. Binne ’n japtrap is die Cruiser uit en ons beweeg versigtig. Wat ons toe nie besef nie, ons is letterlik in die maag van ’n kom en Pieter ry wraggies weer in die laaste been van die kom in, sit weer vas. So besef ek net hoe gevaarlik digte mis kan wees. Ek hou my afstand en bly verkieslik op die enigste klein stukkie droë grond. Ek klim uit om te voet te kyk hoe die terrein daarna uitsien. Ek besluit om die bekwame manne uit te los en self hoër op te karring tot ek iewers ’n teken van ’n pad sien. Na wat ’n ewigheid gevoel het, is ons op beter terrein en vind ’n pad. Klim uit en kyk na die spore en sien dit gaan in ’n noordelike rigting, stadig maar seker ry ons totdat ons by Moolman se gat kom en die ander mense kry.

Ons dag begin in aller yl en die spanne word ingedeel. Die kinders pak hul goedjies uit en die nodige aas word aangemaak. Ek skink tee vir ons twee en so in die koue sit ons tweetjies lag oor al die stres vanoggend. Vinnig help rooikop se spanmaat vir die dag, Tertius, hom om ‘’n paar stroppe te maak en nie lank nie of die twee knape kuier soos ou vriende. Die dag verloop lekker rustig en die mis verdwyn teen tienuur. Maar nou kom daar net een probleem...moeder het ’n piepie groter as die Vaaldam en geen toilet insig. Nie ’n bossie of ’n boom insig nie. Nee, niks! Wat de hel nou? Die dorp is seker so 45km vêr en die ergste is ek gaan nie dit maak om so vêr te ry nie. Heel benoud trippel ek rond en diskreet begin ek die dames vra of hulle wis van ’n plekkie? Hulle lag so dat die trane loop. Die eerste dame vra my of dit my eerste keer hier is...wel, hulle het my natuurlik na die tyd lekker verpes. My inisiasie as nuwe toe treder moeder tot visvang is ingewy. Eenkant in ’n tent met ‘n draagbare toilet vir die dames en...wel...ek was vreeslik dankbaar oor daardie primitiewe en effektiewe bostoilet!

Met daardie krisis uit die weggeruim kom ek terug by die twee vissermanne en ek kan duidelik sien die rooikop se moer meter is deur die dak. As sy lippe so dun opmekaar gedruk is, weet ek hier is moleste. Ek het nie lank om te wonder wat die storie is nie. Die een groot geheim van visvang is die feit dat jy so reguit en sekuur as moontlik moet gooi. Maar eish...die knapie langsaan het nie ’n idee van cast. Hy gooi so skeef dat 6 lyne op ’n slag gekoek word. So hou dit aan vir ’n paar uur, nie een keer kom die man om sy gemors met die ander vissermanne reg te maak. Die kind het die koddigste lyfie en ’n attitude wat stink. Hy hengel op sy eie en blykbaar was die pa besig om by die seniors sy eie kompetisie te vang...seker maak gedink hy kan ons kom pla as wat dit sy probleem gaan wees. Dit het soos ’n Leon Schuster fliek gevoel, elke keer as rooikop en sy maat hul nuwe lyne gelaai het in ingegooi het, doen die knaap mos ook so. Dit is asof die kinders se merkers waar hul ingooi, vir hom ’n magiese aantrekkingskrag het. Hy gooi mooi dwars oor hul lyne. Dan sien hy die kinders kyk hom skeef aan en dan doen hy nog die ergste, hy trek weer sylyn uit en trek hul goed saam. Do het dit aangehou en aangehou, totdat die een senior seun besluit het, tot hier toe en nie vêrder nie!

Hy het die kind se lyne gesny en sy stokke konfiskeer. Hom opdrag gegee met die verduideliking in boere Engels: “This is not on man, you are going to get klapped so hard, you will cry for your mother!” Die kind het onder toesig kolgooi geoefen.

Die knaap staan kop onderstebo en die junior vat sy stokke en laat hom langs hom staan en hy moet kolgooi oefen. Dit is vir my die mooi van die sport, daar is nie die hengse wen motief soos met rugby nie, almal help almal. Daarna het die kinders so ’n uur nog lekker vis getrek en ons het nog ’n klas of twee tussendeur gehad.


Soos die Ingelsman sou sê: “I am hooked!”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking