Donderdag, 25 Augustus 2016

Tamatiesmoor / Sheba / Chakalaka

Een van die veelsydigste souse in my versameling geblikte produkte op my spensrakke. Hierdie sousie kan vir soveel disse aangewend word. Vir pasta as ’n gladde of growwe sous, hier kan jy besluit of jy die sous wil puree of grof hou. Dan vir papterte of sommer gewone putu pap is dit ook perfek. Dink aan frikkadelle met hierdie heerlike sousie oor of sommer net so oor Franse roosterbrood vir ontbyt. Die lys hou net eenvoudig nie op nie!

Blansjeer: Sny kruisies op tamatie se boudjies en plaas tamaties in kokende water vir 3 minute, dompel dadelik in koue water en trek skilletjies af.

2 kg rooi, ryp tamaties, blansjeer (skil verwyder)
1 kg ui, gekap
1 bossie selderystingels, gekap
5 soetrissies, ontpit, gekap (Green peppers)
1 rooi rissie, ontpit, gekap
l ℓ (4 k) witasyn
1 kg (5 k) witsuiker
15 mℓ (1 e) vars gemmer, gerasper
45 mℓ (3 e) mielieblom
100 mℓ water
45ml (3 e) mosterdpoeier
30ml (2 e) fyn, knoffel
15ml (1 e) gegeurde sout (sien afdeling op blog)
peper na smaak

Kook asyn en suiker saam totdat die suiker opgelos het. Voeg die tamatie, uie, soetrissie, rissie en seldery by en kook vir 30 minute sodat die uie kan sag word.

Maak al die bestanddele wat oorgebly het met water aan en roer by die kokende tamatie mengsel. Kook vir 15 minute tot verdik en geur met ekstra sout en peper na smaak.

Bottel dadelik in warm gesteriliseerde glas houers.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Preservering klasse: www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 4.5kg 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking