Saterdag, 20 Augustus 2016

Gemmerkoekie en Karamel yskas tert

My ma kon hierdie tert so mooi versier het, ek dink as sy aan bak kompetisies moes deel geneem het, sy keer op keer los hande sou wen. Sy was ‘n stil en privaat mens. Sy het gegee aan die gemeenskap, maar nooit gekuier in die gemeenskap. Op haar plekkie het sy haar ding gedoen en die deur vir alle “af-vlerke” was altyd oop. Ja, almal het geweet Hantie se deur is altyd oop en die yskas propvol lekkernye.

Met hierdie resep het ek geleer om room te stabiliseer sodat dit sy vorm behou deur gelatien by die mengsel te klop voordat dit ingevou word. Hierdie tegniek is ook van toepassing as jy room as versiersel op koeke wil spuit en wil voorkom dat dit sal smelt by kamer temperatuur. 

Kors
100g Gemmerkoekie krummels
4e Klapper, fyn
3e Gesmelte botter

Metode:
1. Meng die bestanddele saam en druk in tert bak van 23cm deursnit. Vierkantig sal ook werk.

Vulsel
15 ml Gelatien opgelos in 125ml kookwater, afgekoel tot stroop dikte
125 ml (½ k) Room, yskoud
380 g Karamel treat
250 g Room kaas, nie maaskaas
5 ml Karamel geursel
125 ml Strooisuiker
100g Pekans, gekap

Metode:
1. Smelt die gelatien in kookwater en laat dit dan afkoel tot die dikte van stroop of lou warm. 

2. Plaas die room en strooisuiker in ‘n dieperige bakkie en voeg ongeveer 4e gesmelte gelatien by en klop die room styf. 

3. Meng die karamel, roomkaas, geursel, gelatien saam tot glad en romerig. Vou die room by.

4. Skep in tert bak. Sprinkel bolaag met pekans

Karamel laag
175g Sagte Bruinsuiker (Treacle sugar)
75g Botter
110ml Room (plaas room is die beste)

Metode:
1. Smelt botter en suiker oor lae hitte totdat die suiker gesmelt het. Verwyder van hitte en voeg die room in ‘n dun straaltjie by en kook oor matige hitte vir 2 minute terwyl met ballon klitser geklits word.

2. Giet oor koek en laat afkoel..

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Kook klasse: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 1 x 23cm tertbak genoeg vir 6 porsies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking