Maandag, 15 Augustus 2016

Franse Hoender en Ui-Briedie

 Wat kan ek sê oor Die #EEN? Die dag toe ek die boek ontvang was dit ‘n groot gedoente in die Pienaar huishouding. Ek was nie tuis ten tye van die aflewering nie en manlief het namens my die pakkie ontvang en oop gemaak. So kom die whatsapp deur: “Franse brood, Gruyere kaas, spinasie asb”. Ek dink toe, manlief is seker lus vir lekker kos en koop die items op sy lysie. Groot is die glimlag toe ek tuis kom en hy gee my ‘n vetdruk en lekker lang soen. Hy wil vanaand vir ons kook...my man, hy KOOK NIE, behalwe as hy kwaad is! Ek dink by myself:”Pappie is in die moeilikheid...wat se geliefie, diefie is dit die?”. 

Daardie aand het ons lekker geëet uit DIE #EEN! Na afloop van die ete bring hy die boek te voorskyn met 'n breë glimlag en sy woorde: “Baie dankie vir ‘n manne boek!”. Toe lag ek te lekker...hierdie boek het sowaar my man aan die kook. Hy het baie maklik en vinnig die gereg aanmekaar gesit, min skottelgoed en beste van alles: hy is gemotiveer om elke week ietsie uit die boek te toets. Die bestanddele is nooit meer as 12 items op die lys, bekostigbaar en kan met alledaagse bestanddele gemaak word. 

Die resepte boek kry my “stamp of approval” oor die feit dat die disse eenvoudig, kort en kragtig is. Ek hou van die Urban en effense Retro gevoel van die teks en uitleg. Die hele gesin kan van die boek gebruik maak en ja, selfs die kinders kan hierdie boek gebruik. As ek dink aan studente en jongmense is hierdie die perfekte boek om in hul versameling te hê, veral as hulle op knapsak begrotings werk. Vir iemand wat in ‘n klein plekkie woon sal hierdie boek definitief ‘n groot aanwins wees, weens die feit dat min toerusting nodig is. 

Daarom liewe leser, Kersfees is om die draai en die boek sal ‘n perfekte persent wees vir al jou geliefdes en jouself inkluis! 

My slotsom: die boek is kortpad, prakties, sakpas, tyd besparend en alles omvattend om 'n volledig maaltyd vir jou gesin op die tafel te sit.

Dankie Callie en Mari-Louise vir nog ‘n spog boek!

Resep
Die resep wat ek gekies het om ‘n resensie oor te doen is die einste een wat my man gemaak het. Die resep is ‘n kruising tussen ‘n Franse Uie sop en ‘n eenskottel vleis gereg, al die disse waarvan ek hou in een! Die kersie natuurlik op die koek...die franse broodjie met die ekstra kaas op, gerooster tot bros. Skep die sousie en die vulsel sommer so uit die bak! 

Ek het lank na my man se keuse vir ‘n dis gekyk en tot die gevolgtrekking gekom dat dit letterlik binne 30 minute gemaak en bedien kan word. Dus, die man het met ‘n plan gewerk. Ek het nie oorskiet hoender gehad vir die dis nie en toe oorskiet bees lende skywe van die braaivleis gebruik en die gereg is nogsteeds ‘n treffer. Hierdie is een van daardie resepte met vele variasies...dink uit die “boks”. Ek sien ‘n maaltyd wat maklik vir 50 gaste in individuele porsies bedien kan word. Weereens, sakpas en pragtig!

Vulsel
125g Botter, gesmelt
2e (30ml) Olyfolie
6 Uie, medium, in skyfies gesny
2 Knoffel huisies, gekap
2 Lourier blare
2 Takkies vars tiemie, gebruik slegs die blare
Sout en peper na smaak
¾ k (190ml) Wit wyn
1e (15ml) Sagte Bruinsuiker
3e (45ml) Koekmeel
4k (1liter) Hoender aftreksel of groente aftreksel
½ Hoender, gaar oorskiet vleis (Variasie: 450g Bees lende braaivleis)
100g Spinasie, gesnipper
½ Franse brood, dik skywe
½ k (50g) Gruyerekaas, gerasper

Metode:
1. Meng die botter, olyfolie, uie, knoffel, lourierblaar, wyn en suiker in ‘n groot kastrol.

2. Bak vir 10 minute in die oond, roer dit een keer deeglik deur en bedek met aluminiumfoelie. Bak vir nog 20 minute, of tot die uie baie sag gekook en gekarameliseer het. 

3. Sprinkel meel oor die gereg en roer dit deeglik daarby in. Voeg die aftreksel, hoender en spinasie by, bak vir verdere 10 minute. Skakel nou die oondrooster aan.

4. Rangskik die snytjies brood op die bredie en sprinkel kaas oor. Oondrooster onder element vir 4-5 minute tot die kaas lekker borrel.

5. Bedien warm.

Bron: Een Pot, Een Pan, Een Bakplaat, 2016, Mari-Louise Guy en Callie Maritz, p.67, Uitgewers: Human en Rossouw.
Porsies: 4-6

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking