Saterdag, 20 Augustus 2016

Die Begrafnis en die Sykouse....

Ek nou maar een maal ‘n tradisie vaste vrou as dit by kerk dinge kom. Ek trek nog sykouse aan in die winter met netjiese skoentjies. My boesems word netjies verdoesel en peul nie uit in die kerk. My rok lengte is van ‘n aanvaarbare lengte. Dus, klassiek en eentonig. Vir begrafnisse is dit swart en wit want vir my is dit die kleur van rou. Dit is maar hoe dit met my werk.

Die betrokke dag is dit die begrafnis van ‘n vriendin wat met haar lewe moes betaal teen rowers. Ek het tien duisend takies om af te handel voordat ek vertrek na die diens. Tussen bad en hare soek ek klere. Kry my pakkie klere reg, skoene en kouse. Die pakkie is ‘n rokkie wat tot op die knie hang en ‘n snyers bloesie onder aan. Klaar die hare en dingetjies gedoen en trek aan. Laaste die sykouse en skoene. Tyd staan nie stil en ek moet nog die seuns gaan oplaai vir die diens. Dit is weer ‘n ander kommer want jy moet stap en uitteken. Goed, so speel die dag se dinge wat nog moet gebeur voor my af.

Ek is so in die gedagtes vas gevang en konsentreer nie op die aantrek van die kouse en daar met die optrek van die kouse skeur ek die kouse dat die spoortjies sommer so op en af hardloop. Ag flippen vy! Hemel behoede my wat nou? Dit is my laaste heel paar kouse. Ek dink altyd aan my ma se vermanings oor: “Hou altyd ‘n toe pakkie kouse in jou laai”. Dankie ma, ek mis ma se wyse woorde. Met die gate en al jaag ek na Harties se naaste winkel en doen soos ma gesê het. Koop twee pakkies kouse. So in die haas vat ek die ene wat M wys op die M rakkie, gryp toe sommer twee direk agter mekaar. Goed dit sal mos pas!

Ry na die hoërskool toe en bid, bid hol ek die stegie op na die personeel se kleedkamers en trek gou die nuwe kouse aan. Ook maar goed ek het beide pare ingepak. So met die haas leer ek weer ‘n verdekselse kous, die keer my een groot toon se skewe nael wat die kous haak. Ek het klip hard die F woord gebruik en die volgende pakkie kouse uitgehaal. Daar sit ek! Met bewende hande draai ek die pakkie om en ja, die kouse is nie dieselfde nie en die grootte wel tien keer my size. Dit is van daardie soort wat die prostetute sal aantrek...Pik, git, swart soos ‘n pot se gat, met sulke groot visnet gate. Ek sit en staar na my lang been hare wat ‘n week gelede laas geskeer is. Kaal bene kan ek nie waag om te gaan nie...wel dit was ‘n sterk opsie gewees...maar helaas niet! Sluk sussie, sluk, tyd vir paniek aanvalle is daar nie, tel jou lip op en kry klaar.

Gedwee trek ek die kouse aan, hel dit was nog die maklikste proses van die dag, glip sommer aan. Geen wonder die dames verkies die kouse. My oë kry behoorlik seer om na die ruitpatroon te kyk, maar ja, ek moet nou maar die kop optel en hol. Die lang been hare wys gelukkig nie! So met die stap na die kantoor kan ek sien die ontvangsdame rek omtrent haar maer nekkie 'n entjie langer as die van 'n skilpad, om my te bekyk! Ek trek net ‘n skewe gesig en vra vir die seuns. Ons vertrek na die kerk. Diep in my hart bid ek die kinders sien nie my verleentheid nie! Ag, Vader van genade met die uit klim slag kyk ouboet my aan en sy maat bars uit van die lag en beide sê amper gelyk: “Dit is cool kouse!”. So stap ons die kerkbinne, die ys gebreek en vergete is die kouse episode!

Wat leer ek....koop sommer baie kouse vir die wis en die onwis!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking