Vrydag, 03 Junie 2016

Pikant - Sonia Cobano

Wat kan ek van hierdie briljante dame Sonia Cobano sê. Sy is iemand wat haar sê kan sê en haar kos ken! Sy is nie bang om met smake te eksperimenteer nie en het ‘n ongelooflike sin vir humor. Sy stel intens in die mens se wel en wee belang en probeer ‘n verskil maak. Sy is ook ‘n bekende blogger en het onlangs haar nuwe blog bekend gestel om ons te vertel waar in die Kaap ons kan gaan eet, kuier en slaap...sommer net ‘n wonderlike tydjie te kan geniet... besoek die skakel tussen hakkies om te sien wat sy alles doen en waar sy oral gaan kuier vir ons die verbruiker. http://eatdrinkcapetown.co.za/ 

Kom ons gaan terug na haar boek Pikant. Ek koop nie maklik boeke nie, ek sal seker twee of drie keer deur ‘n boek blaai en dink voordat ek die geldjie uitgee. Ek sal letterlik gaan sit en deur die voorwoord lees om die persoon wat die boek geskryf het te leer ken, nog voordat ek die inhoud “judge”. Ek wil in die outeur ‘n belegging maak en daarom voel ek elke boek moet met my praat. Met hierdie boek het ek plat op my boude op Jasmyn vars plaasprodukte mark se vloer gaan sit...Ek het begin lees en gedink, jip hierdie tannie weet wat sy van praat. Dit klink asof ek die teks geskryf het, dit is presies hoe ek kook. Lief vir my kombinasies van kruie en speserye om die beste uit my disse te haal. Ek kon nie vinnig genoeg deur die boek kom nie. Ek het na die prys van die boek gekyk en besef...dit is regtig goeie vakkundige inligting en die prys is letterlik weg gee!
So staan ek by die til, draai om en stap terug. Koop 10 boeke! Kersfees was 2 maande gelede en wel, dit is ‘n belegging vir my. Ek het op die plaas gekom en begin aantekeninge maak, lysies van bestanddele gemaak vir my nuwe eksperimente! Mense, mense! As jy op ‘n reis van geure, kleure en teksture wil gaan dan is jy op die regte plek...die boek is voorwaar ‘n kullinêre reis. My boek word op ‘n weeklikse basis gebruik. Hoekom geniet ek die boek so? Ek leer elke dag iets nuut daaruit, die boek is in Afrikaans (en Engels beskikbaar), die bestanddele is maklik verkrygbaar en ongelooflike praktiese wenke en uiteensetting van metodes!

Afdelings lyk soos volg: gegeurde soute en suikers, droë en klam vryfmiddels, marinades, aftreksels en souse, pasta souse, slaai en doopsouse, speserymengsels en -pasta's, gegeurde olies en asyn, tuisgemaakte suiwel produkte, piekels en ingelegde produkte, kruiesouse en smaakmiddels...en vele meer! Hierdie is ook oulike idees vir geskenkies asook vir mense wat graag 'n ekstra inkomste wil verdien by markte...die entrepreneur sal regtig baat by hierdie boek van Sonia!

Onlangs het ek en Sonia oor die foon gekuier en ek het weer oor die boek met haar gesêls. Dit is wonderlik om te hoor dat Cullinary skole ook haar boek as handleiding vir studente aanbeveel om te koop. Dus, is hierdie ‘n wonderlike toevoeging vir my tot ‘n meer “leer-vriendelike” boek met waarde vir geld.

Groete

Annelien
boerekostwist@gmail.com

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking