Woensdag, 22 Junie 2016

Perde drolle is nie vye nie!

Vrydag besluit moedertjie dit is tyd vir ‘n wegbreek daggie sondag want dit is vadersdag en my man werk hom dood vir ons, dus was die dag bedoel om ‘n bederf in oormaat te wees. Gastehuis se mense gaan bitter vroeg lugbalonne ry en ons kan ook sommer 05h00 as hulle ry die plaashek vir die dag sluit. Moeder beplan ‘n hele piekniekmandjie spyskaart en die manne takel die padkaart van Pilansberg Natuur reservaat. Daar word uitgewerk hoe lank dit gaan neem van punt a na b, sodat ons by uitkyk punte kan stop vir ontbyt en dan later vir middagete!

Sondag oggend ry ons net na 04h30 en die bakkie se wiele skeur deur die teer om by Pilansberg te kom. Op ‘n stadium mis ons die afdraai na Sun City en ry toe na die naaste vulstasie om te hoor of ons iewers ‘n afrit sal kry wat ons sal herlei na die Sun City pad. Die mannetjie by die pomp reken toe, ons moet sommer deur Rustenburg na Pilansberg ry. Pappa en een Filistyn loop ‘n draai.  Pappa waarsku hard en duidelik: “As julle nie nou ‘n draai loop, ek gaan nie weer stop, die volgende stop is Pilansberg!” Goed, ek tik toe die nuwe destinasie in vir die tannie met die hees stem. Sy begin beduie en ons is vort. Elkeen met ‘n stomende koppie warm liefde in die hand. Na ‘n halfuur bereik ons die voorstede van Rustenburg. Suster Sêra word wakker met ‘n baalse gejuig! Sy wil piepie! Nee, sy wil NOU piepie! Die snelweg is gevaarlik en stop is nie ‘n opsie. Kry die eerste afrit na Rustenburg en ons soek weer na ‘n vulstasie met ‘n swetsende pappa-lief! Kom by die vulstasie aan en ek sien die nonsens op ‘n myl! Die plek lyk regtig gorrierig en vuil.

Jy moet deur sulke draai hekke gaan en munte insit om die hek te kry om te draai. “Oh, hell has no fury!" Hierdie moeder se kind kan nie meer knyp nie. Ek het nie die regte soort munte nie, pappie sit net en smile, ek word so kwaad...hardloop met sus op die heup na die kassiere 50m verder om die regte munte te kry. Hol terug met sussie, kom by die draai hek, sit die munt in...en hier kom die gemors! Sussie moet eerste deur gaan en dan volg mamma. Nee, madam weier en ons twee moet toe met haar op die heup saam deur die draai hek. Mhf! Boetie staan en lag vir ons twee, pappa lees koerant...ek draai die knoppie, die munt gaan deur en ek druk die hek...die hek gaan vorentoe en ons is net halfpad deur en die hek steek vas! Ek is nou by die punt van bemoerd verby! Ek gil soos ‘n matroos se vrou in vele tale en pappa mors sy koffie op die sitplek en vlieg orent. Ek ruk en pluk aan die hek...ek het beknopte spasie vrees...

Hy klim traag uit die groot bakkie met ‘n donker frons en vra dat ek net kalmeer! Ek kan nie meer nie, ek begin sommer huil van woede. Sussie skree die dak af...Die hekkie wil nie vorentoe of agtertoe. Daar staan ek soos ‘n koei wat gedoseer moet word in klampe vas geknyp! Sussie is klein en kan deur die opening kruip na veiligheid...haar pa se arms. Ek staan daar en beveel dat sy nou maar ‘n sit piepie moet maak, want sy kan regtig nie meer nie. So staan ek en wag dat pappie vir sussie klaar help.

Hy gaan roep die bestuurder en so reken die dame: “It is because you were dishonest and try to steel money, by going through the gate two by two! I saw you cheat!”. Die Vader van Genade het seker my hande langs my sye vas gepen, want sy sou ‘n 2x2 taai klap van my gekry het! Vandag wens ek, ek was liewe Heksie wat vir Griet kon toor en om die Geel of is dit nou die Pers heks te byt, reg in die agterent! My man is toe ook nou warm onder die kraag en vra haar dat sy asb die geld wat ek gaan wissel het sal vergoed, omdat ons reeds 6 x R5 muntstukke in die gaatjie verloor het. Die slot word ontsluit en sy laat my vry. Die dame het haar boude gewip, tong geklap en met ‘n “Aikôna” horende doof my man se pleidooi met ‘n hand beweging af gewaai en die pad gevat na haar majesteit se high chair agter die kasregister!

Ek het my man ‘n kyk gegee en in die kar geklim sonder my draaitjie wat ek wou loop. So sydelings na my man gekyk en nie ‘n woord gerep want sy gesig was bloed rooi! Toe wonder ek hoeveel mense sy nie met die skelm truuk vang met hekke wat nie wil draai nie? 

Vir R30 was dit nog die duurste piepie ooit! By Pilansberg is dit gratis, skoon en lekker! Toe ons die grens binne gaan...is die hele affêre vergete en die aand terug op die pad het ons geskerts oor die hele storie...

Groete A


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking