Woensdag, 01 Junie 2016

Outydse Soetkoekies

Hierdie deeg kan vele hantering van klein handjies oorleef! Ek het met hierdie koekie groot geword en my ma het net hier en daar ‘n nuwe geurtjie en tekstuurtjie bygevoeg en die koekie was iets uit ‘n ander wêreld. Wat ek baie van die deeg geniet is die fluweelagtige gevoel van die deeg. Mens kan net nie ophou vroetel met die deeg nie. Selfs rou is hierdie deeg sommer heerlik. Die deeg kan ook in 'n rol gevries word en dan in skywe gesny word en direk gebak word...of rol en druk uit. Die koekie is ook uiters geskik vir die floating tegniek. Die raklewe in die yskas is 10 dae, so vir kleuterskole is hierdie 'n wonerlike reseppie om te gebruik.

Omdat hierdie deeg met baie botter gemaak word is dit raadsaam om die deeg eers vir 30 minute in die yskas te laat rus. Verder wanneer ek enige soort deeg voorberei van pastei, tert tot koekie deeg doen ek die volgende: Plaas ‘n bakplaat vooraf in die vrieskas. Neem kleef plastiek en vorm die deeg in ‘n reghoek van ongeveer ‘n halwe A4 grootte. Vou die deeg toe en rol met koekroller mooi eweredig en draai om en rol weer. Plaas die deeg op die yskoue bakplaat en plaas dan in die YSKAS om vir 30 minute te rus. Die koue van die bakplaat sal die botter ‘n hupstoot gee om gou weer ferm te word. Draai die deeg na 15 minute om. 

Resep
115g Botter of Rama of Stork bake
200g Wit suiker
1 Eier
30ml Melk
5ml Geursel: Karamel, Suurlemoen, Vanielje, Sjokolade, Koffie is heerlike variasies
350g Koekmeel
10ml Bakpoeier
2ml Sout

Metode:
1. My grootste geheim by die maak van koekies en versiersuiker wat baie botter in kry: Rasper die botter as dit te hard is of as jy vergeet het om dit betyds uit te haal. Klits dan die botter eers sonder enige byvoeging tot dit egalig en glad is. Dit neem ongeveer 5 minute om by daardie stap uit te kom. Stop die klitser as die spaantjies verstop raak en die botter gaan vas sit. Krap uit en klits weer.

2. Voeg nou die suiker by en klits die mengsel tot lig geel en donsig. Neem ongeveer 5 minute. Voeg nou die eier, melk en geursel by en klits weer tot lig en donsing. 

3. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en voeg by die eiermengsel. Roer die mengsel met ‘n houtlepel om ‘n bol te vorm. Druk die deeg liggies aan mekaar en vorm in reghoek soos in teks beskryf.

4. Rus die deeg vir 30 minute en rol ongeveer 3mm tot 5mm dik uit. Plaas die koekies ongeveer twee vinger spasies uitmekaar op ‘n gesmeerde bakplaat en bak vir 8-10 minute by 180℃.

Variasies:
1. Sjokolade koekies: 60ml Kakao plus 100g Sjokolade splinters by stap 3.

2. Klapper koekies: 60ml Klapper en amandel geursel by stap 3.

3. Lemoenkoekies: 15ml Suurlemoenskil en vervang melk met suurlemoensap en voeg by stap3.

4. Milo of Hot choloate koekies: 60ml by stap 3.

5. Spesery koekies: 2.5ml Kaneel, 1ml Gemmer, 1ml Neutmuskaat en 100g fyn pekans by stap 3.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, BKT kook klasse: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 50 

1 opmerking:

  1. Hi Annelien,

    Jy het darem maar 'n wonderlike blog - ek kannie wag om hierdie koekies vir my seuntjie te probeer nie!

    AntwoordVee uit