Woensdag, 11 Mei 2016

Van Koeistal tot Kookskool!

Sussie en haar gansies! 
Sjoe, waar begin mens hierdie wonderlike storie van my lewe as Kook instuktriese by my alteljee? Onlangs het ek besef na ‘n reeks praatjies wat ek gedoen het, dat ek nooit die storie van my Koeistal tot Kookskool vertel het nie. Mens raak so besig met jou lewe dat jy vergeet waar jy vandaan kom en die pad wat jy gestoei het om jou drome stukkie vir stukkie waar te maak. Die dag toe ek uit tree as formele dosent het ek gedink my wêreld gaan staan stil en was die dam onder my uit!
 
Hierdie skrywe rig ek aan almal wat kan droom...Ek het as kind vir almal: my sussies, diere, niggies, nefies, bome, klippe, bosse en die veld skool gehou. Ek het vir alles en almal koekies gebak en al was die deeg soms vuil, het my ma dit geproe en seker skelmpies uitgespoeg! My ouers was mense wat geglo het om ‘n kind te laat groei, sonder om hulle te vorm in iets wat hulle wou hê. Ek was nie ‘n kind wat gedruk was om te presteer oor goed wat die ouers self nie bereik het, of om in tel te wees met die rykmense van die gemeenskap nie. Ons was kinders van die veld en die wind! My ma het geglo ons leer deur speel, boom klim, stof strepe in die sand trek, jou fiets versier met goete en dinge, die honde goete leer...dit was hoe ek groot geword het!

En toe word ek groot...

Die begin van 'n droom
Die droom vervolg....











As getroudes het ons van Kanada terug gekom en permanent op ons familie plaas kom woon. Oupa en Ouma het beide nog gewerk en ons was dus nie in mekaar se pad nie. Let wel die oupa en ouma was al in hul 70’s en skool hou was maar in ma se bloed en oupa het besighede elders gehad. Elkeen het sy lewe gehad. My man en ek het gependel van Skeerpoort na ons onderskeie werke. My man het die verste gewerk en ons het mekaar maar min gesien. Bitter vroeg oggend uit en saans donker weer terug. Ek het gesukkel met die afstand tussen die oudste se speel groepie en toe ook nog swanger met die middelste kind. Ons het gesukkel om swanger te raak en die middelste kind was ‘n wonderwerk dat hy die swangerskap oorleef het. Ons het toe die besluit geneem dat ek vir eers moet tuis bly en die seuns groot kry voordat ek weer begin met klas gee.

Die droom leef voort!
Die huisie op die plaas waar ons ingetrek het was eers die koei- en melkstal gewees. My skoonpa het die plekkie pragtig in gerig in ‘n kothuis gevoel met die Hartbeeshuis-Jonkheer  effek gekombineer. Die plafonne was nog die oorspronklike balke, die stal deure en venstertjies was ook in ‘n mate behoue gewees. Voor ons ingetrek het, het pa die huis uitverhuur as ‘n gemeenskaps kliniek en ook dokters spreek kamers. Menige jong dokter van ons omgewing se praktyk het hier afgeskop! Met die groeiende Pienaar gesinnetjie, het ons toe die huisie vergroot en ekstra kamers aangebou.

Die droom voltooi!
Ek is van nature ‘n besige mens en het nie lank stil gesit voordat ek weer vanaf die plaas uit my kombuis en eetkamer klasse begin gee het. My vriendinne van my ou werk en mede dosente het my aangemoedig om met die kook klasse en naaldwerk te begin. Eers was dit net demonstrasies soos wat ek vir groot handelsmerke gedoen het. Maar later het die mense meer betrokke geraak by die demonstrasies en so het die kook klasse gestalte gekry. Dit was aanvanklik moeilik om die klasse uit te werk vanuit die vertrekpunt dat die kliente mense is wat nie Voedsel en Kleding akedemiese agtergrond het nie. Ek moes hard skaaf en skuur maar die suksesse het ingestroom en die klasse het uit hul nate begin bars. Aanvanklik toe ek met die familie vergader en my plan om klas te gee uit die huis uit, het almal dit afgeskiet want: “Wie gaan so ver ry vir klas?”. Wel ek is ‘n under cover rooikop en ek het geveg, self my droom laat werk. Geen ekstra befondsing gehad vir my droom, net die genade van Bo het my gelei. As ek nou terug kyk weet ek by tye was ek nie bewus daarvan, maar dan het Hy my deur die dinge gedra, want selfs my man sê hy kan nie glo die goed wat ek gedoen het om die droom waar te maak. Dankie Abba Vader dat U my nooit los al is ek soms hard horend! Elke klas se geld ingeploeg vir die volgende klas se toerusting. So veel jare se opbou tot die dag wat my man voet neersit en wal gooi. Ek sal nooit my man se woorde vergeet : “My woonhuis is nie meer privaat nie, ek kry nie eens parkering voor my eie plek!”. Daar het ons toe besluit om die koeistal te verruil vir die groot ou plaashuis wat in die 1930’s gebou is. Die seuns het aanvanklik vreeslik na die koeistal verlang, maar namate hul die groothuis gewoond geraak het, het hul aangepas.

Wag-'n-Bietjie kamer...boom name!
Die Koeistal moes groot transformasie ondergaan en dit het 12 maande geneem om die plekkie in ‘n opleidingsfasiliteit en gastehuis te omskep. Die tafels en toonbank is gemaak uit ou stal deure wat op gesny is en verwerk is. Die ateljee het nie gordyne nie, ek het die afval hout van die stal ook verwerk in "shutters" en dit werk wonderlik vir fotografie...dit dien as goeie reflektors van lig as ek die disse met natuurlike lig fotografeer. Die kamers is gerieflik, netjies en prakties. Vir die twee dag klasse werk die oornag fasiliteit goed en die mense geniet die plaas atmosfeer en lang wandelings in die boorde, die kuiertjies op die plaasdam se wal en die diere op die plaas. Dit is niks opgesmuk nie, jy voel tuis en jou huis weg van die huis atmosfeer. 

Op die plaas verwerk ons in die koeistal vars groente en vrugte vir die doel van Plaas konfyte en blatjangs. Plaaswerkers se vroue kry opgelei in higiene, verwerking, groente  tuin bestuur en ook bietjie lees en skryf werk. Hierdie mense besef ook dat kennis mag is. Hulle ploeg hul kennis in die area’s waar hul woon in en maak ook so dan ‘n ekstra inkomste. Wintertyd gebruik ek die vroue om ook met die pekan gradering en verwerking te help. Dit is ‘n oes wat net een maal per jaar inkom en die produk moet ons 12 maand hou vir kontrakte met groot konsessies.  Dus, dop ons die neute vir binnelandse produk en die res van die neute word indop uitgevoer.


So, op die plaas en die koeistal is daar nooit ‘n vervelige oomblik nie! 2003-op hede!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking