Maandag, 16 Mei 2016

Tamboesies

Ons het groot geword met die ware Jakob. Nie die kroek kors blaardeeg of skilferkors vir hierdie heerlike vla skywe nie, nee, ons moes rol vir die vale! Omdat my ma baie uit gebak het, het sy die verder gedink om haar werk minder te maak vir ‘n verskeidenheid soet gebak. Sy het die vlavulsel vir die tamboesies ook vir die Vlakoek gebruik. Die vulsel stol pragtig sonder dat dit afloop om loperig is. Dus lê die hele geheim van die perfekte Tamboesie in die vulsel wat sy vorm behou asook ‘n rag fyn lagie van skilfer kors deeg wat nie pap word nie. Die Franse het ‘n pragtige woord vir tamboesies genaamd “Mille feuille”, baie dieselfde konsep wat gevul word met ‘n lieflike bakkers vla. Ons het as studente snaakse name gegee of assosiasies gemaak vir moeilike name en terme as ons moes toets skryf. Vir my was “mielie fielie...windmeul” die maklikste om vir die eksamen te onthou!

Ek het bietjie gaan nalees oor waar die woord Tamboesie vandaan kom en nogal lekker gelag vir die Nederlandse uitspraak...so hier is ‘n interessante verduideliking tov die vorm van ‘n Tamboesie: “'n Tamboesie is 'n gewilde gebak in Suid-Afrika wat van die Nederlandse "tompoes" afkomstig is. Dit bestaan uit 'n lagie skilferdeeg met daaroorheen 'n dik laag vanieljebanketbakersroom of gestolde vla. Dit word dan weer met 'n lagie skilferdeeg bedek wat gewoonlik 'n lagie glasuur (gewoonlik pienk) bevat. Met die Nederlandse Koninginnedag en grootsokkertoernooie waaraan die Nederlandse nasionale sokkerspan meedoen word die glasuur meestal oranje gemaak. Tamboesies het normaalweg 'n vierkantige vorm, terwyl tompoese 'n kenmerkende "baksteenvorm" het.”

Paar puntjies wat ek egter sal wil beklemtoon om jou tamboesie perfek te maak. Begin by die bak van die skilfer kors deeg. Indien jy van winkel skilferkors gebruik wil maak, sal ek die deeg weer vou en rol om ekstra lagies in te werk. Sny elke skyf perfek ewe groot en bak sodat die lagies kan uit pof. Skei die lagies en om te verseker dat die deeg nie sal pap word as dit ‘n vulsel in kry. Moet jy eierwit in die doppie se binne kant smeer. Laat dit dan vir 5 minute in ‘n oond by 150℃ uit droog. Hierdie eierwit lagie is jou waterdigting wat jy doen. Hierdie tegniek kan op ENIGE deegsoort toegepas word, wat ‘n kans staan om pap te word. 

Kenmerke van die perfekte tamboesie:
1. Die deeg lagies is dun en geskei van mekaar. Dit moenie proe of jy klei eet nie, dun bros lagies.
2. Die vulsel moenie pap wees nie, dit moet met ‘n vesierbuis gespuit kan word indien jy mooi vormpies soos ronde bolletjies of sterretjies wil maak.
3. As jy hap moet die tamboesie nie ‘n blerts maak as jy byt, die hele gedoente moet in plek bly! Kom laat ons begin.

Tamboesie vulsel
500 ml Melk
75 ml Vlapoeier
1 ml Sout
250 ml Strooisuiker
125 g Sagte botter of Bak margarien
5 ml Vanielje geursel

Metode:
1. Verhit 400 ml van die melk en los vlapoeier in die oorblywende 100 ml op, voeg sout by.

2. Roer vlamengsel vinnig in warm melk en met ‘n ballon klitser, roer aanhoudend en kook tot dik is. Verwyder van hitte en verkoel deur dit eers by kamer temperatuur af te koel en roer van tyd tot tyd. Smeer ‘n lagie botter oor die lou pap en sit kleefplastiek op die vla. Indien verkies kan die kleef plastiek eers met kleefwerende kos sproei gespuit word. Plaas in yskas om goed te verkil.

3. Sodra die vla verkoel is tot yskoud, klop botter en suiker tot lig en donsig en klop dan by die vla mengsel in. Geur met geursels indien verkies.

Deeg lagies
1 rol Skilferkors deeg 200g
Olie vir smeer

Metode:
1. Sprinkel die deeg met koekmeel en ook die oppervlakte, rol effens uit sodat die deeg eweredig is. Smeer bietjie olie oor die deeg en vou in  helfte. Rol weer langwerpig uit. Sny nou die groottes wat jy verkies vir die Tamboesies. Ek maak myne so 4cm by 6cm. Maar voel vry om te speel. Vormpies soos hartjies en sirkels kom ook mooi uit.

2. Moenie die deeg met eier smeer voor dit gebak word nie. Die deeg kry ‘n glanslagie oor en dus wil jy ook nie die risiko  loop van deeg wat dalk mag brand nie.

3. Bak by 200℃ vir 10-15 minute of tot die deeg opgepof en geskei het. Verwyder uit die oond en skei die lagies van mekaar. Indien daar na dele is, haal uit en eet op! Smeer eier wit oor die doppies se binnekant, laat 5 min staan om in te trek en bak vir 5 minute by 150℃. Laat afkoel voordat dit gebruik kan word.

4. Pak die lagies met die plat onder kante na onder, spuit met ‘n spuitsak vormpies of net lang repe. Plaas die dekseltjie op. Jy kan besluit of jy twee of drie lagies wil hê.

5. Drup ‘n dik lagie van die glans versiersel oor die Tamboesie. Jy kan terwyl die versiersuiker nog sag is, bietjie kakao by die versersel meng en dan ‘n alternatiewe kleur oor sit en dan vormpies maak. Laat set en plaas in yskas en bedien verkoel.

Glanslagie
250 ml Versiersuiker
30 ml Kook water
2 ml Vanielje geursel of suurlemoensap
2 ml Kleursel van keuse

Metode:
1. Sif die versiersuiker en voeg genoeg water by om die mengsel glad te maak.

2. Geur soos dit jou pas en voeg eerder gel kleursel by in plaas van die loperige soort wat die versiersel dalk nog dunner kan maak.

3. Hierdie versiersel kan maklik te loperig wees, gooi die water spaarsamig by.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, epos adres vir klasse: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 30-50 vingers

2 opmerkings:

  1. Ek is mal oor jou blog!
    Heerlike resepte.
    Waar kan ons jou kontak om meer uit te vind oor jou klasse wat jy aanbied?

    Groete

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek bied klasse in die Hartbeespoortdam by my kookskooltjie aan. Ek het 'n gastehuis aangrensend waar die kursusgangers kan oorbly vir gevorderde 2 dag klasse, asook 4 keer per jaar reis ek na Kaapstad vir klasse in Gordonsbaai area. Kontak my by boerekostwist@gmail.com. Loer asb ook op die blog onder die opskrif Klasse vir wat ek doen. Ek plaas net 2 maande se klasse vooruit.

      Vee uit