Donderdag, 05 Mei 2016

Spons vingers/Boudoir vingers

As student was die verhouding van eierwit tot strooisuiker in ons koppe ingeprent oor en oor. Tot vandag is dit een van daardie resepte wat ek uit my kop kan maak. My kinders is baie lief daarvoor en die bestanddele is nie so duur, daarom maak ek dit sommer baie. Ons het “Cat’s Tongues” geleer maak vir ‘n Franse restaurant en saam met elke koppie koffie of cappuccino was hierdie koekies bedien. Dit het altyd so keurig gelyk as dit in twee kleure soos bruin en vanielje gedoen is...dan sit daar ‘n ogie in die middel! Hierdie spons vingers word as 'n sponskoek geklassifiseer!

Raai wat is die geheim van die perfekte sponsvinger? Wel die verhouding van eierwit tot suiker! Dus maak maar ‘n knoop iewers...Die eierwitte moet presies dieselfde weeg as die strooisuiker wat jy gebruik. Eiergeel bly net so, maar die eierwit se gewig moet aangevul of afgegooi word om die 150g van die strooisuiker te ewenaar.

Resep
4 Eierwitte (ongeveer 75g eierwitte)
2ml Kremetart
150g Strooisuiker
150g Koekmeel, gesif
Knippie sout
4 Eiergele
Versiersuiker vir bolaag

Metode:
1.Berei bakpapier met kleefwerende kos sproei voor en plaas in bakplate. Om seker te maak dat al die sponsvingers dieselfde lengte is, doen ek soos volg. Neem ‘n A4 lyntjies papier en trek met ‘n swart pen of dikpunt merker strepe van ongeveer 10cm. Plaas dit onder die bakpapier om as templaat te dien en te sien waar jy moet spuit. Hou ingedagte dat die mengsel wel effens plat gaan en jy dus voorsiening moet maak dat die koekies nie aanmekaar sal raak nie. Haal die templaat uit soos jy aanbeweeg, dit word nie saam met die baksel gebak nie. Voorverhit die oond na 180℃.

2.Maak seker dat die bak en ook die spane waarmee jy gaan klits goed afgevee is met asyn om alle vetterigheid te verwyder. Verder MOENIE in ‘n plastiek bak ooit eierwitte styfklits nie...die eierwitte gaan nie styfklits soos dit moet nie. Plastiek stel sy eie olie vry as dit gewas word. Goed, klits die eierwitte tot effens skuimerig, voeg die kremetart by. Hou aan klits totdat die skuim ferm maar nie droog is, stywe punt stadium. Voeg al die strooisuiker by en klits totdat opgelos.  Onthou om altyd kremetart by enige resep wat vra dat die eierwitte styf geklop moet word te sit. Dit verseker dat die eierwitte sy volume behou. Kremetart is ‘n suur en dit help die eier proteine stol (koaguleer), asyn of suurlemoensap sal ook werk. 

3.Vou die meel en eiergeel om die beurt by die eierwitte in. Meng sagkens deur om nie die volume van die mengsel te breek nie. Plaas deeg in ‘n spuitsak met ‘n groot ronde neus en spuit vingers op voorbereide bakpapier. Om die punte op die einde mooi af te rond: spuit, lig vinnig in ‘n klein sirkel beweging. Sprinkel die vingers met ekstra strooisuiker voordat dit gebak word. Gekleurde suiker lyk ook pragtig...as jy heel feestelik voel kan 100’s ‘n 1000’s nogal mooi lyk!

4.Bak die vingers by 180℃ 10-12 minute lank. Hou maar ‘n ogie op die koekies, want hulle word vinnig bruin van al die suiker. Indien jou oond dalk te warm gaan wees verlaag die hitte na 160℃ vir 12-15 minute...toets maar die hitte.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, epos: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 24 x10cm vingers.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking