Dinsdag, 31 Mei 2016

Skeerpoort Ouetehuis en Ouma Kitty Smit

Soms kry mens net ‘n “trigger” om jou gedagtes so ver terug te neem dat jy gedink het als is vergete. Mens is so verbaas dat, na jy amper die helfte van jou verwagte leeftyd op aarde geleef het, nog so ver terug kan onthou! ‘n Klein dingetjie soos Stampmielies wat met skaap en boontjies gekook word, het die hele terug tog in tyd aan die gang gesit.

Ons het in die laat 70’s op Skeerpoort kom vestig. Ek was toe op laerskool. My oupa wou nie by ons woon nie (seker omdat ek so vrek stout was), maar het by ouma Kitty Smit se Skeerpoort Ouetehuis gaan loseer. Oupa het vreeslik gerook en my pa het dit gehaat. Hy het geweier om vir oupa sigarette te koop, pa het altyd gesê hy is nie ‘n moordenaar nie. Oupa het toe maar self moes loop om sy eie twakkies te kry.

Daar het in die tyd wat oupa by ouma Kitty geloseer het, ‘n hegte band tussen haar en my ma gevorm. Die ouetehuis was so 500m van die draai waar die poskantoor was. My ma was werksaam by die sentrale, daardie dae was dit nog die slingertjie draai en “nommer asb?” stories. Ma het elke middag sommer na die ouetehuis geloop en vir oupa loop kuier en sommer lekker saam geëet. So het sy telkemale tuis gekom met die lekkerste appelkoos blokkies, Jodetert, Vleispasteie en tuisgemaakte botter en vele meer lekkernye.

In die vakansies het ons dan met ons fietse met die lang grondpad na ma toe gery om uit die kwaad te bly. Daarna het ons by Amien, die Indiër winkel gestop en vir 5c ‘n sak vol “chappies” gekoop. Dan al kouende met kake wat pyn van ‘n oorvol mond, by oupa gaan kuier. Dit was seker so 10km heen en weer. Daar gekom het ouma Kit vir ons lekker kossies en lemonade gegee. Liesbet moes ons afgevee en dan kon ons weer met oupa kuier. Ek was nie lief vir oupa nie, want hy het altyd met my geraas want ek vra te veel vrae as hy wou rus. As ek nou daaraan dink, ek was spierwit blond, met lang ponie sterte en sproete...met ‘n lekker wille kroontjie....soos Denis the Menice! Ek het myself gou uit die voete gemaak voordat oupa my met die belt bygekom het.

Die losieshuis was deel van die ouetehuis en jy moes deur die groot kombuis van die een kant na die ander loop. Ek kon my altyd verkyk aan ouma Kitty as sy besig was om botter te maak. Sy was ‘n kort klein vroutjie, hare was onversorg en al die rigtings gestaan. Ek het haar Katchekube gedoop, sy was willer as wild, geraas soos ‘n man, gevloek soos ‘n matroos met ‘n hart van goud. Sy was ‘n weduwee wat haar man op die plaas verloor het en toe daar as verpleegkundige haar kinders groot gemaak het en vir ekstra geld die Ouetehuis begin het. Maar soos ons almal weet, moenie ‘n man op sy baadjie takseer nie...

Ons het die slingertjie van die botter karring gedraai dat ons arms gebrand het en sodra die soliede stukke vorm van die room wat skei, moes ons stop. Sy het die botter goed gewas met kouer water en ons het die botter soos stukke klei gebrei. Daarna het sy dit gesout. Ek het my verkyk aan hoe vinnig haar hande die botter papierjies uit die water gehaal het en binne ‘n oogwink was die botter vormpie op en die botter word dan ritmies in die vormpie ingedruk. Daarna het sy die houtspatel met sy riwwe oorgetrek om al die water goed uit te werk. Die vormpie se yster gespe was dan los gehaak en daar staan die perfekte blok! In ‘n kits is die papiertjie gevou en rye goud het gevolg!

Party dae as oupa weer kwaai was, dan het ek op ouma Kitty se bed gaan sit en kyk hoe sy by haar naaimasjien besig was om gesmokte rokkies aanmekaar te sit. As ek vaak geword het, het ek op die naat van my rug gaan lê en as ek op kyk teen die dak, was die patroontjies van die plafonne vir my hipnotiserend. Ek het elke patroontjie uit my kop geken...een keer selfs probeer om dit oor te teken vir ‘n deken wat ek wou quilt! Ek sou seker vir die res van my lewe gewerk het. Die naaimasjien het saggies gewerk, ‘n swart singer met so ‘n lang bonnin, nie soos die kort vettetjies wat ons vandag ken nie. Die masjien het so geting-ting soos sy die trappie getrap het as sy werk. Later jare het my pa vir haar ‘n motortjie op die naaimasjien gesit en sy was net so dankbaar. Sy het my later geleer hoe om die bobbins  vol te maak en dit was my werk om dit vol te hou en die gare te ruil. As ek nou daaraan terug dink, was haar oë seker nie meer goed nie! Op ‘n dag as jong student, gaan kuier ons weer by ouma Kitty en sy gee vir my, my eerste smok masjientjie. Haar persent aan my, omdat ek so “mooi leer” by die Universiteit. Haar masjien was ‘n Reed pleater en myne ‘n Sally Stanley. Ek onhou hoe ek gesukkel het om die naalde wat gekartel is te kry, maar Solomons in Johannesburg het jou wrintie waar dit invoorraad gehad. Ek het een van my finale jaar kleding projekte met Sally gemaak en met ‘n groot prys weg gestap, my heel eerste Bernina!

Ouma Kitty se deur was vir almal oop. Van siekes wat sy moes versorg tot sielkundige vir die afvlerke in die omgewing wie se mans en vroue hul moeilikheid gee. As ek aan daardie ou kombuis met sy houtvloere en ou kombuis kaste dink, sou dit seker soos ‘n Opera geklink het van al die lag, huil en liefde wat daar gedeel is. Gepraat van die kaste. Dit was nog van daardie wat sulke geboogde glas gehad het. Haar mooiste koppies daarin weg gepak. Ek het dit geniet om vir die tannies tee te bedien. Dan het ek na die tyd saam Liesbet die koppies gewas en weg gepak. Ek het seker gemaak die koppies, teepot en melk bekertjies se oortjies kyk in dieselfde ringting. Selfs die suiker lepel moes daardie kant toe kyk. In die lang brëe gang op was daar rye kaste wat tot bo teen die dak gegaan het. Jy kon binne in die diep kaste klim, ons het so baie daar wegkruipertjie gespeel. Op ‘n keer het ek in die meelblik getrap en wat ‘n gemors. Ouma Kitty het hard geraas en ek moes skoonmaak! Vandag is die meelblikke my bedkassies in een van die kamers in my gastehuis!

Ouma Kitty het ook ‘n groen hand gehad. Sy het die mooiste tuin gehad. Ek sien nou nog die swart hekkie by die pad met die bordjie Skeerpoort Ouetehuis teken. Voor langs die pad het die vuurpyle en aggepantise gepryk. Daar was ‘n tamaai hoë palmboom, en oral waar die takke afgesny was het sy heuningblommetjies geplant. Voor op die stoep het die Hen-met-kuiken gehang en Lit-rosies. Sy het altyd steggies uitgedeel aan al wat ‘n mens was. Hoeveel karre het nie voor daardie hek gestop vir ‘n kuier en ‘n lafenis nie. Vandag leef ouma Kitty nog, maar is al so oud soos die berge. Ek dink haar lewe waar sy self alles gedoen het, sonder ‘n man op die plaas, het haar vandag so oud laat word. Ouma Kitty en Nelson Mandela is op dieselfde dag gebore en ewe oud. Sy is tans nog so helder soos gister en huil altyd as ons praat oor my ma en my sus.

Maar deesdae kan sy nie meer so mooi hoor oor die foon nie, en ek het die wonder van skryf ontdek. Soveel wat uit mens se hart vloei as jy ‘n brief skryf. Dan laat dit my dink...wanneer laas het jy ‘n hand geskrewe brief ontvang? Ja, daardie hand geskrewe koevert met jou naam op en die sender se adres agterop? Ek kry gereeld as ek haar briefies in die pos kry sommer sulke lekker vlinders in die maag. Ek gaan sit sommer daar by die poskantoor op die trappie en lees. Ek kan nie wag tot by die veiligheid van die kar nie. Onlangs was ek deur ‘n straatverkoper gemaan dat ek “gevaarlike” dinge doen deur net so my handsak langs op die grond te sit en te lees.


Ek gee nie om nie. Dit is iets net vir my, ‘n laaste kontak met my ma, die ou dae en ‘n dierbare tannie wat ‘n aanneem ouma geword het en my goed geleer het wat geld nie kan koop! Mis jou ouma Kit! xxx Annelien 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking