Woensdag, 11 Mei 2016

Beet blatjang

My ma het ons vreeslik bederf met hierdie slaatjie van haar, gereed in ‘n bottel. Naweke as ek gaan kuier het na universiteit en later as getroude vrou, was dit die eending wat ek net by haar geëet het en ook ‘n traktaatjie huistoe gekry het. Die sousie is nie te loperig nie, die speserye perfek gebalanseer. As daar nou eending van beet is wat ek haat...is dit wanneer dit aan my ander kos raak en dit rooi maak. Daarom dat ek die sousie verdik dat dit nie bloei nie.

Resep
1 kg Beet, gaar gekook en in skyfies of gerasper, jou keuse
2 Uie, groot, fyn gekap
500 ml Bruin of wit asyn
400 g Wit suiker
15 ml Kerrie poeier
1 ml Gemmer poeier
2 ml Swart peper, fyn
5 ml Sout
60 ml Maizena

Metode:
1. Plaas asyn en suiker in vlekvrye staal kastrol en roer dit oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Kook die stroop met die uie vir 5 minute op hoog.

2. Voeg die beet by die kokende stroop en kook vir 10 minute lank op medium hitte. 

3. Skep bietjie van die vog af en maak die kerriepoeier en sout met die voeg en roer weer by die kokende mengsel.

4. Maak die maizena, peper, gemmer en sout aan met 100ml water en roer goed deur die kokende mengsel. Laat die mengsel kook vir 3 minute en roer versigtig om aanbrand te voorkom.

5. Bottel die blatjang dadelik terwyl warm in gestriliseerde warm flesse.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, epos adres: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 1 kg

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking