Woensdag, 13 April 2016

Tannie Poppie Koekedoor!

My getekende Kopie persoonlik afgelewer

Tannie Poppie Coetzer was vir my net ‘n “gesiggie” op Faceboek wat by my groep, Boerekos met ‘n Twist aangesluit het. Nog 'n lid wat ek met raad en daad bygestaan het, of so het ek gedink! Ek het nie besef sy is ‘n “celebrety” nie. Ek het nie DSTV gehad met die Kokkedoor no1 reeks nie. Maar ek het wel die boek gekoop en haar gesiggie daar gesien het. So, kuier ons heen en weer op Bakkiesblad en ek nooi haar om te kom koffie drink op die plaas as sy ooit verby kom. Ons leer mekaar so ken en ek sien die laaste 4 maande wat ons kuier hoe besig sy is en besef hier is iemand wat ek eendag beter wil leer ken. Ek hou van stories uit mense trek en sal graag haar storie wil hoor. Ek kry die inbus per Bakkiesblad wat vra of hulle vir twee daggies net by my kan kom afpak en rus. Alles is gereel en tannie Poppie en oom Jan arriveer sondag oggend nadat hulle demonstrasie werk in Brits gedoen het die afgelope saterdag. Min het ek besef hoe ‘n diep spoor sy nie al reeds in die Suid Afrikaners se harte getrap het nie. Hoeveel sy uitdeel en omgee nie.
Tannie Poppie hou van mooi broodjies bak!

Sondag boek ek my twee gaste in en gesêls ‘n rukkie voordat ek af hol na my huis om ‘n koek klaar te versier vir ‘n verjaardag waarheen ons genooi is. Ek kom weer terug met ‘n arsenaal boeke wat ek dink tannie Poppie baie interessant sal vind en vertrek toe na die geselligheid met my Filistyne. Ek verduidelik waar die naaste ordentlike restaurant in my omgewing is en stuur hulle daarheen. Tannie Poppie hulle het die kuier omtrent geniet by die Ou Pastorie. By die deur word hulle gegroet en hulle hoor Ou Pastorie is vol en dat hulle vooraf moes bespreek het! Een van die gaste kom verby en herken tannie Poppie en draai die arm van die eienaar met die woorde dat tannie Poppie ‘n kook “celebrety” is. Daar kry hulle ‘n pragtige tafeltjie in die tuin met die lekkerste kos. 

Sondag aand kuier ons vir die eerste keer rustig voort en ek moet rëel dat ek laat oggend vir ons gaan ontbyt maak, want sussie moet teater toe vir ‘n klein operasietjie. Terug op die plaas maandag oggend, besluit ek ons gaan ontbyt by my bure, van Gaalen kaasmakerij eet. Die setting is pragtig met ‘n 180grade uitsig op die Magaliesberge.  Ons het ‘n “House platter” met kaas bestel en oom Jan het soos dit ‘n man betaam, ‘n spek en eiertjie bestel. Daar het ons heerlik gesit en kuier. Tannie Poppie het toe baie vrae gevra oor die hoe, die wat, die waarom van Boerekos met ‘n Twist, my agtergrond en hoe my klasse werk. Ek het ook my sarsie van vrae gehad oor die wie en wat tannie Poppie is. Toe gaan ons na die mooi snuisterye winkeltjie toe, loer na die kase in die kaaskamer en sien hoe hulle besig is om gouda te maak.


Sal liefs nie hardop my woorde herhaal....
Ek en tannie Poppie het baie raak punte. Beide van ons het plaaslewe geken, onthou kos, tradisionele en familiekos lê ons baie na aan die hart. Ons gesinne is en bly eerste prioriteit. Ons is dol oor mense en hou van uitreik, uitdeel en verryk ander mense se lewens sonder om iets in ruil daarvoor te verwag. Ek sit by myself en dink dat ek die tannie bewonder vir haar toewyding en energie. Hoe sy so kan rond rits en oral optree. Tussen in hoor ek sy is ook maar moeg en wil ook begin rustiger raak, maar vir nou is daar geen einde aan haar idees en geesdrif.



Om te sny of nie te sny...dit is die groot vraag!
Tannie Poppie moet in Junie gaan spysenering doen vir ‘n troue met ‘n knapsak begroting. Ons bespreek paar idees vir die troue, die klein begroting wat sy met ‘n groot hart aanpak. Toe deel ek resepte boeke uit vir haar om deur te werk en sy het behoorlik navorsing gedoen. Oh....en het ek lekker raas gekry! Ek kla oor die mense wat resepte uit my boeke skeur maar ek buig boeke se hoekies om! Whahaha ek het lekker gelag oor die perfeksionis wat tannie Poppie is. Vir haar, net soos vir my is ‘n boek heiligdom. Ons moet boeke koester weens die feit dat die digitale era besig is om oor te neem. Daar is net niks wat kom by die reuk van gedrukte papier, die kraak van die bladsy, die gevoel onder jou vingers...die trek van ‘n potlood oor ‘n rëeltjie wat jy wil memoriseer vir latere navorsing...boeke is net weergaloos.



Ons kon nie meer ons lag hou!
Ek luister en sien ook hoe sy en oom Jan mekaar aanvul en ek dink in my binneste hoe ek dit begeer om eendag ook so oud te word en my maat so te geniet. Tannie Poppie en oom Jan is hierdie jaar al 51 jaar getroud! Beide al 70 jaar oud en so wakker en energiek dat ek wonder of hulle dalk opkikkers gebruik. Tannie Poppie het tog lekker uit haar maag gelag toe ek dit noem. “Nee, my hartjie, dit is lekker om te lewe! “ kom dit vriendelik van haar. Oom Jan knik net saam om haar woorde te beaam. Hulle is ‘n gedugte span.
75% Hidrasie, lang fermentasie!

Tannie Poppie vertel staaltjies van haar dae waar sy self met varke, hoenders en groente geboer het. Sy vertel die staaltjie waar sy op ‘n keer met hoenders wou boer. Sy doen navraag oor  kuikens en stel in so 1000 belang wat sy wou bestel. Haar hokke is knie hoogte gebou en daar kom laai die mense sommer die vrydag die hoendertjies af, ‘n maand te vroe! Wat nou? Sy gaan vra die buurman of sy die lëe sementdam kan gebruik. Hulle rus die dam toe met die nodige waterdruppers, ligte, voerbakke en dinge. Maak die dam toe met ‘n seil en groot genoeg gat vir ventilasie. Te vrede verlaat hulle die dam. Die volgende oggend word sy wakker en besef dit het deur die nag gerëen...Kom by die dam en daar dryf die kuiekens... So kom en gaan drome! 

Ons gesêls oor broodbak en ek gee vir tannie Poppie een van my ma se suurdeeg plantjies wat  al 4 geslagte in ons familie loop. Die smaak is wonderlik en dit het woema as jy dit gereeld voer. Oom Jan spog te lekker met sy vetkoeke wat hy bak en ons gesêls toe oor die perfekte vetkoek. Oom Jan en Annelien se standaarde is die beste vetkoek, ‘n hol vetkoek!


Vars brood laat almal glimlag!
Ek sit maandag middag met tannie Poppie op die rusbank in ons woonkamer en probeer haar leer hoe om die Bakkiesblad sharing ding te doen en goed oor verkeer te trek ens. Man en daar vang ons twee toe so nonsens aan dat goed gepost word dat dit lyk of ons twee saam besig is om ‘n kookboek te skryf...of so lei die sin wat ek onder my naam post, min besef ek dit moet op tannie Poppie se rekening gedoen word. Wel, dit het vir ‘n hele paar opgewonde oomblikke vir die Boerekos met ‘n Twist lede gelei en toe moes ek die regstelling doen en hulle “bubble” bars. Dadelik delete ons die post en doen dit oor...Eish!

Maar....raai wat? Tannie Poppie is besig met haar tweede kookboek! Ek mag nie uitpraat, maar laat ek julle vertel, as die resepte van die gehalte is soos die in haar eerste boek, gaan dit ‘n blitsverkoper word. So, hou die posts dop want hier kom ‘n lekker kersgeskenk of twee. As ek na die eerste boek kyk en die pragtige handgeskrewe resespte wat gebruik is oral in die boek, die mooi foto's van tannie Poppie, dan kan ek nie wag vir die tweede ene. Ag, ek wens jy wat nou hier lees kon op my rusbank langs tannie Poppie gesit het, sy het elke foto in haar boek verduidelik hoe dit geneem is, hoe sy so sprankel en kon lag. Ek het ander mense wat ek ook maar deur Bakkiesblad leer ken het, nog beter leer ken uit die oog van tannie Poppie. Mense wat deel was van die maak, skryf en opstel van die eerste boek. Dit was vir haar 'n ongelooflike reis! Daar is regtig nog wonderlike mense wat ander mense help, ondersteun en bystaan. Baie dankie tannie Poppie vir my kookboek asook die mooi boodskappie en die positiewe houding teenoor Boerekos met ‘n Twist. Saam gaan ons nog ‘n baie lang pad stap! 
Oom Jan, het tannie Poppie oë agter in haar kop?

Dinsdag oggend is dit groet. Tannie Poppie hulle moet nog tot in Warmbad en ons het ‘n vergadering elders. So sit ek en tannie Poppie weer so en klets terwyl oom Jan geduldig die kar pak, dat ontbyt bietjie laat gemaak word en tannie Poppie spring in en dek die tafel terwyl ek inderhaas die ontbyt aanmekaar slaan. Duidelik staan hierdie tannie se hande reg vir alles. Beide manne loer ons twee aan oor ons so klets. Dit is toe dat ons so lekker gek skeer met die “sourdough” broodjie met oom Jan wat beduie hoe ons moet poze vir die foto's! Ons speel ons eie “chop-chop” speletjie...op ‘n stadium beduie oom Jan om agter tannie Poppie te staan en maak of ek haar gaan kap met my lang kaasmes en sy antwoord so ewe droog: “Ek sien vir jou, sak daai arm of die brood oorleef dit nie!” Hhahaha...ons het lekker tye gehad en ons kan almal sê ons batterye is gelaai en reg vir nuwe dinge! 

Voorspoed en alle sëen aan tannie Poppie en oom Jan. Mag julle nog baie jare gelukkig saam wees, geseën word met tonne goeie gesondheid om al julle drome waar te maak. Want gesondheid is die grootste geskenk wat ons elke dag kan ontvang...Geniet julle Swaeltjies kuier en veilig reis!

Skeerpoort en Boerekos met ‘n Twist Liefde

Annelien!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking