Maandag, 18 April 2016

Soet Flan deeg

Hierdie is een van daardie geheime resepte wat jy nie graag wil deel nie! Die eindproduk is ‘n harde, amper karamelagtige bakkie wat sy vorm behou al kry dit ‘n vulsel in wat lank staan. Die deeg behou sy vorm en word nie maklik pap nie. So, as jy waaghalsig is en hou van ‘n mooi tertpan met riffeltjies en karteltjies dan is hierdie jou deeg om mee te spog! In hierdie foto is die vulsel 'n vinnige kaaskoek mengsel met geblikte kersies wat in Kersie likeur gemarineer is....resep vir vulsel onder terte.

Nog 'n geheim om te voorkom dat die tertkors pap word: Nadat die deeg blind gebak is en jy die bone verwyder het, verf geklitste eier en melk op die bodem en kante van die kors. Bak dan verder soos die resep aandui. Die eier vorm 'n waterdigte lagie!

Resep
140 g Koekmeel
2 ml Sout
55 g Strooisuiker
60 g Botter
2 Eiergele
2ml Vanielje geursel

Metode:
1. Sif meel en sout saam. Voeg die strooisuiker by en meng goed deur. 

2. Vryf die botter met jou vinger punte in totdat dit soos broodkrummels lyk. Die hele proses kan natuurlik met die voedsel verwerker ook gedoen word.

3. Voeg die eiergele en die geursel by en meng tot ‘n stywe deeg en knie liggies tot glad. Moenie oor werk soos brood deeg nie. Jy wil nie gluten ontwikkel nie.

4. Rol die deeg dadelik uit na ongeveer 3mm dikte. Voer ‘n pan van 23cm rond uit. Verkoel die pan met die deeg in vir 1 uur voordat dit gebak word. Die verkoeling is baie belangrik sodat die deeg kan set en perfek bak.

5. Bak die deeg blind deur die bodem van die deeg eers te steek met ‘n vurk. Plaas die bakpapier met die bone binne in en bak by 190℃ vir 10 minute en verwyder daarna die boontjies. Smeer die bodem met eier en melk mengsel en bak nog 5 minute lank totdat goud bruin.

6. Laat effens afkoel voordat jy die tert kors op ‘n draadrak uitkeer om verder af te koel.


Bron: Annelien Pienaar, vir Patisserie klasse epos my op boerekostwist@gmail.com, 2016 

Hoeveelheid: 1x 25cm tert dop

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking