Maandag, 04 April 2016

Ouma se Klapperys

Ek was as kind nie baie lief vir klapper nie. Daarom dat ek eers toe ek ouer geword het die wonder van klapperys ontdek het! Op ‘n dag doen ek die spysenering van ‘n Babatee waarvan die geslag van die baba nie bekend is nie. Dit was omtrent ‘n kopkrap gewees. Op die ou einde het ek met klapperys verskeie geure en kleure gemaak, alles in pastel en die hele reënboog se kleure daarin vervat. Ek het weg beweeg van die gewone vierkante met die twee kleure en een soliede kleur gemaak en uitgedruk met koekie drukkers in diere vormpies...eendjies was die gewildste. Deesdae is ek oor die baba ding en doen dit in groot blokke met een kleur. Jy is welkom om die tradisionele metode met die twee kleure te doen. Maar ek het lui geword om dit twee keer te doen en nou hou ek by my kroekery.

In die regte lewe gaan jy dus die mengsel twee keer aanmaak. Eers die wit laag en dan die pienk laag bo-oor mekaar. Die een moet eers set voordat die ander oor gegooi word. Daar is ook verskeie resepte om Klapperys te maak. Sommiges word met kondensmelk gemaak en ek vind dit effens taaierig. Dan die ou tradisionele manier: kook van stroop en verleen ‘n regte sandsuiker fudge tekstuur aan die eind produk. My resep is die tradisionele een.

As jy nou mooi na suikerwerk of lekkergoed maak gaan kyk sal jy merk dat die tegniek wat gebruik word om Klapperys te maak, ooreenstem met fondant maak. Die geheim kom in die klop op die regte tyd om die mengsel so mooi wit te kry asof dit versiersuiker ingekry het...

Kleure en Geure
Deesdae is daar so baie nuwe geure op die mark en ook handelsmerke. Maak seker dat die geur middels nie te sterk is nie. Onlangs dit oorgekom dat iemand vir my 'n olie basis geurmiddel gegee het van oorsee. Moeder liefde 5ml was soos gal en die reuk afskuwelik..."eu de too much!" Dus maak seker. Die gewone Moirs en Robertsons sal 10ml van die geure en kleure die ding doen.

Kombinasies van Kleure en Geure
Rooi: Kersie, framboos(raspberries), roos water
Groen: Mint, cream soda
Blou: Bubblegum, ment, sherbit
Geel: Piesang, lemoen, suurlemoen
Wit: karamel, vanielje, vla
Bruin: sjokolade, koffie, rum, brandewyn
Karamel: toffie, koffie, rum, brandewyn

Resep (verdeel die resep vir twee kleure)
400g Witsuiker
¼ tSout
150ml Water
¼ t Kremetart
20ml Vloeibare glukose
Verskeie geure van jou keuse
Verskeie kleure van jou keuse
180g Klapper, gebruik die fynstes wat jy kan kry

Metode:
1. Plaas suiker, sout, kremetart en glukose in ‘n kastrolletjie en smelt oor lae hitte.

2. a. Sodra die suiker gesmelt is kook die mengsel tot 120℃. Indien jy nie ‘n suiker termometer het nie, toets jy dan soos volg: Gooi water in ‘n lang glas. Drup 5ml van kokende stroop in die glas water in. Daar sal ‘n bolletjie vorm wat sy vorm sal behou. Dit sal nie plat val in die glas. As jy dit uithaal kan jy dit soos klei brei. Hierdie kokery neem ongeveer 30-60 minute afhangende van jou hoogte bo see spiëel. 

b. Laat die mengsel afkoel tot lou warm (60℃) ,voeg die geursels en kleursels by. Hier is nou die maak of breek. As jy te lank klop met die houtlepel gaan die mengsel te vinnig dik word en jy gaan nie die klapper in geklop kry nie. Dus, klop die mengsel met ‘n houtlepel tot dit net begin wit word. Laaste voeg jy die klapper by.

3. Druk die mengsel in gesmeerde of uitgevoerde bakplate. Laat effens set en sny liggies met mes. Ek het ‘n 60cm lem mes waarmee ek afdruk en perfekte blokke sny. Die koekie drukker kan ook gebruik word. Stoor die blokke in ekstra klapper. Bêre in lugdigte houer!

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 50 blokke, besluit self hoe dik of dun jy wil gaan.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking