Dinsdag, 26 April 2016

Ouma Bets se “Biscuit Poerring”

Ek was ‘n kind van 18 jaar en het hierdie ouma van my man as my eie aangeneem. Ouma Bets Kruger was een formidabele vrou. Sy het vier kinders eie handig groot gemaak. Sy het tennis gespeel, so fyntjies dat jy haar nie kon klop...ja ‘n ouma met ‘n groot hart en diepspore tot vandag! Onlangs kry ek die boodskap van my man se neef, het ek nie dalk ouma se Bisuit poerring resep nie. Ek weet presies waarvan hy praat en stuur so uit die kop die resep. Kyk was die man bly oor die resep. 

Ouma het ‘n swetterjoel klein kinders gehad daar was ma se 4, oom Bertie se 5, tannie Corrie se 2 en oom Carel se 3! Van daardie bondels klein kinders het gekom, agter klein kinders by dosyne en ek dink die getal staan op 29! So, het ouma geleer om min kos baie te maak deur ‘n dun vla te maak en dan Marie koekies grof te breek en dan in die vla te druk met ‘n lagie klapper. Die vla was heerlik soet en die koekies amper iets soos Jodetert geproe! Ek noem dit die arm mans poeding!


Ek maak hierdie nagereggie gereeld. Dit is goedkoop en vinnig! Ek het die mates net soos ouma dit geskryf het vir julle getik. 

Resep
1 liter Melk
4-6 e Suiker (Suiker alternatief kan bygevoeg word, proe soos jy werk)
3e Vla poeier, medium hoogte skeppie
1t Karamel geursel
2e Botter
¾ pakkie Marie beskuitjies
Geklopte room vir versiering vir individuele porsies

Metode:
1. Meng die melk, suiker en vlapoeier saam en roer deeglik sodat die vla goed opgelos het. Plaas in mikrogolf oond en draai vir ‘n minuut en roer met draad klitser. Draai weer ‘n minuut en stop...roer en hou so aan totdat die mengsel verdik. Teen 6 minute sal die mengsel begin verdik. Jy weet die vla is gereed as dit opkook soos melk. Proe aan die mengsel en maak seker dit is gaar en geen melerigheid op jou tong.

2. Haal die vla uit die mikrogolf oond en voeg die geursel en botter by.

3. Breek die beskuitjies in growwe stukke met die hand. Gooi die vla in ‘n langwerpige bak en druk die beskuitjies in die vla en sprinkel met klapper. Indien jy nie van klapper hou, los dit uit! Ouma het soms kersies ingesit! 

4. Laat staan vir ongeveer 4 ure of oornag in die yskas. Bedien met roomys.

Bron: Ouma Bets Kruger, epos: boerekostwist@gmail.com, 2016 
Hoeveelheid: 6 porsies 

2 opmerkings:

  1. Ja, ouma Bets se Biscuit poeding is n bak vol nostalgie net omdat ons dit aan haar tafel kon leer ken en geniet!

    AntwoordVee uit
  2. My ma het iets soortgelyk gemaak: mariebeskuitjies 2-2 opmekaargesit met tuisgemaakte appelkoosjam tussenin. Dan warm vla oorgegooi. Heerlik en goedkoop. As daar bietjie meer geldjies was het sy soms dun skyfies piesang ook bygesit.

    AntwoordVee uit