Vrydag, 29 April 2016

Makataan en Pynappel konfyt

My ma het aan die agterkant van ons plaashuis, by die wasgoed draad, ‘n groente tuin gehad. Meeste van die was water het daarheen filtreer. Ek het ‘n slim vader wat sy hande goed kan gebruik en het afval water goed aangewend met sy vindingryke filtrasie stelsel. So het ma altyd makatane gehad. In ons geweste het hulle teen einde Desember begin ryp word en ma het sommer die stoorkamer vol gepak met die boepens makatane. Van die goed was so swaar as 60 kg! 

Ons het ‘n Japie gehad wat vir ons gewerk het. Hy moes dan met die groot vleis byl die makataan loop slag in kleiner dele vir moeder. Saam met my mammie was daar my ander ma, Joyce Mokone. Sy is pik git swart van gelaat (sy reken haar pa was 'n Mosambieker en haar ma Shangaan), maar ‘n hart witter as wit, ‘n colgate smile wat tot agter haar ore sit en ‘n perfekte afrikaans, voorste vrou in haar kerk. Sy is ‘n lopende resepte boek van my ma. As ek iets wil weet van hoe mammie dit en dat gedoen het, bel ek ouma Joyce. Mammie het haar leer lees en skryf, so het ouma Joyce haar eie kos reis ervaar. Sy het ons leer pap en Marog eet. Hoeder derms wat sy soos uieringe in meel doop en diep vet braai... Aai hoe water my mond nou. Selfs mopanie wurms wat met marog fyn gemaal is, in hopies op die dak gedroog en so dit preserveer! Ek het onlangs besluit om vir haar ‘n band opnemer te gee. Ek het haar gevra om elke resep wat sy oor die volgende jaar van mammie onthou, op te neem. Ek wil die storie hoor. Ek het haar mooi geleer. Soos ons werk en praat het ek opgeneem. Sy moet met die bandspeler praat of dit ek is. My ma se boek vorder goed en ek wens soms ek kan in ouma Joyce se kop klim en alles “sien”. 

Verlede week bel sy my: “Anna, ek verlang nou te veel. Die klomp kleintjies maak my mal, ek kom kuier! Kry my môre by die taxi staanplek”. So gedaan. Moenie dink ons sit en koek en tee nie...Oooo neee...ons werk in die kombuis. Ek weet nie of ouma Joyce korter word en of sy net vetter word nie, maar daardie groot lyf, KAN werk! Ons het makataan en pynappel konfyt gemaak en ook lekker Gemmer Achaar van Makataan oorskiet gemaak...so ons was vodde. Ouma Joyce het haar eie plekkie by my en kom en gaan soos sy lus kry. Vir my is elke kuiertjie met haar, 'n skakel na ‘n groot gat wat gelaat is, my ma!

Wenk: Hierdie resep kan met gemak halveer word.

Resep
Week van Makataan
5 kg Makataan, gerasper of gemaal
45 ml Koeksoda
5 liter water

Metode:
1. Week die gerasperde makataan in  die koeksoda water vir ‘n uur en spoel dan goed af. Ek skep die rasper stukkies af en plaas in ‘n sloop en spoel goed af.

Kook van konfyt
5 kg Makataan
1.125 liter Water
2.5 kg Pynappel, geskil, gerasper
4 kg Wit suiker
5 cm Stuk Gemmer wortel, gekneus
5 ml Wynsteen suur of sitroen suur
2.5 ml Sout


Metode:
1. Plaas al die bestanddele in ‘n vlekvrye kastrol en verhit eers baie stadig. Roer totdat al die suiker goed opgelos het. Was die kante van die kastrol af met water om suiker kristalle op te los. 

2. Sodra die bestanddele opgelos het kook die mengsel dan baie vinnig totdat dit begin verdik het. Ongeveer 60 minute. Wat lekker is van hierdie konfyt dit kan loperig of styf wees. Beide maniere is dit heerlik. 

3. Verwyder die gemmer wortel en bottel dadelik in gesteriliseerde flesse.

Bron: Annelien Pienaar, Joyce Mokone, 2016, boerekostwist@gmail.com

1 opmerking:

  1. Hallo A by 'Kook van konfyt' sê jy 5g Makataan...? Moet dit bie die 5 kg wees nie?
    Dankie

    AntwoordVee uit