Dinsdag, 22 Augustus 2017

Gevulde Sampioene

My gevulde sampioene is ‘n gereelde item op ons braaivleis spyskaart. Die geheim van hierdie lekkerny is in die olie marinade wat ek doen met die sampioen die oggend van die braai. Verder is dit gesond en maak ‘n bord altyd mooi lyk. Ek het op ‘n keer ‘n vriendin verbaas met die sampioene, want haar man eet glad nie sampioene nie! Hy het daardie aand die bak alleen leeg gemaak...hopelik was die wyn nie die oorsaak nie!

Paar goedjies oor ‘n sampioen. Vee dit af, moenie dit afspoel nie. Omdat ‘n sampioen sponsagtig in tekstuur is sal dit water soos ‘n spons optrek en die eind resultaat sal wees ‘n waterige gemors. Jou vulsel gaan uit die sampioen doppie gly. So, vee die sampioen met ‘n klam lappie af. Indien jy nie botter  het nie kan jy witsous maak met enige van die Bake margarien wat in die handel beskikbaar is. Moenie die margarien wat jy op jou broodjies sou smeer gebruik nie.

Resep
6 Sampioene, groot, skoon gevee
100g Botter (vir die marineer van die sampioene)
5 Knoffel toontjies grof gekap
Gerookte Paprika
60g Botter (vir die witsous)
40g Koekmeel
500ml Melk
3e Spriet uie, vars gekap
5ml Sout
250g Spek, bros gebraai
150g Cheddar kaas
150g Droëe broodkrummels
100ml Olyf olie
Sout en peper na smaak

Metode:
1. Vee die groot sampioene af met ‘n klam lappie en plaas eenkant. Indien jy nie grotes kry nie, gebruik medium grootte knopies sampioene, maar breek dan die steeltjies uit om baie meer vulsel in te sit. Smelt die botter en olie saam en voeg die knoffel en paprika by. Sprinkel mildelik oor die sampioen se swart gedeelte en geur met sout en peper. Laat ongeveer 6 ure staan in ‘n bak in die yskas.

2. Maak nou die witsous. Smelt eers die botter en voeg die koekmeel by en roer totdat al die koekmeel met botter bedek is. Voeg nou die melk by en roer met ‘n ballon klitser om klonte te voorkom asook aanbrand. Daar is niks so aaklig soos gebrande witsous nie. Sodra die sous verdik het, verwyder van plaat en voeg spriet uie, sout en peper na smaak by.

3. Haal die sampioene uit en sprinkel al die spek repies binne in die omgekeerde sampioene. Skep dan vol met die witsous. Sprinkel twee eetlepels per sampioen met broodkrummels, rond elke lagie af met gerasperde kaas. Sout en peper weer.

4. Bak die sampioene by 180℃ vir 25-35 minute tot goud bruin en bros buite. Die gesmelte kaas en die broodkrummels maak ‘n heerlike bros doppie oor die witsous en keer dat dit uitkook...

Indien jy wil kan jy die resep vir Ketelgebraaide uie (soos Spur sin) fyn maak en saam bedien oor die sampioene!

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016
Hoeveelheid: 6 Groot sampioene

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking