Dinsdag, 19 April 2016

Boek resensie: Hartskombuis!

Verlede week was ek betrokke by ‘n skool in die omgewing en het bietjie met hulle gesêls oor die beroepe in die Voedsel industrie. Ons het gekyk na diploma kursusse tot graad kursusse en die kinders het altyd gedink jy kan net ‘n sjef word met Gasvryheids! Ek het my beroepsloopbaan met hulle gedeel en dit was lekker om die geesdrif in die kinders se gesiggies te sien. Toe ek my praatjie afsluit het ek hulle met een gedagte gelaat...”Dit is die een beroep waar daar altyd hoop sal wees en ook werk sal wees, want almal moet eet!”
As dankie vir die praatjie het hulle vir my Elria Wessels se Hartskombuis “Boerekos van die Anglo-Boerekoorlog tot vandag” kook boek oorhandig. Min het ek besef wat hulle vir my gee. Gisteraand maak ek en sussie die pakkie oop en my hande gly oor die blaaie van die boek. Ek sien die juweeltjies op geteken van ons kosgeskiedenis...goed soos biltong en stormjaers (vetkoek) wat in die saalsakke nie gou afgegaan het nie. Ek begin koorsagtig lees aan die inleiding en besef hierdie boek gaan oor die Anglo-Boere oorlog, konsentrasie kampe, oorlogskos vir die manne op Kommando. Ek steek vas by die teks wat ek met hakkies vir julle gemerk het, my oë word dof! My keel trek saam, ek kan nie sluk, my asem uit my bors. Dit voel of ek die mamma is wat daar sit met die sterwende kind in my arms wat nie vir die smekende kind water kan gee...al wat gegee word is jou trane". Julle moet die stukkie lees...
Julle mense, hierdie boek is net “one of a kind”! Dit is goue stukkies geskiedenis verweef in ragfyn draadjies van resepte met ‘n skatkis vol beloftes. Ek sit en dink aan die tragedies van gevange wees, geen kos, geen kontak met geliefdes. Dan haal ek diep asem en sê dankie Vader dat ek in my land vry is. Ek is nogsteeds in beheer en kan my mense versorg, lief hê en koester. Mag al daardie vroue en mans, wit en swart se siele in vrede rus vir dit wat hulle vir ons land voor geveg het. Ons het murg in onse pype! Dankie Elria Wessels, Vicky Heunis en jou span vir nog ‘n puik boek!
Hierdie is voorwaar 'n boek wat in jou persoonlike versameling moet kom. 

Groete:
 Annelien Pienaar, April 2016


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking