Donderdag, 21 April 2016

Beet en Framboos Sop

Hierdie is regtig ‘n heerlike koue- of warm sop. Wat dit so fantasties maak dit kry sjampanje in om dit net daardie ietsie ektra te gee en fantasties te laat proe. Indien jy nie mag alkohol gebruik nie, stel ek voor om gewone Gemmerlin of Sparkling druiwesap te gebruik.

Die resep het sy geboorte oor Kersfees gehad! Ons het vreeslik baie beet en frambose in die groente tuin gehad en ek was verveeld. So, daardie aand nadat ek die hele dag beet verwerk het en framboos stroop gemaak het, het ek die potte by mekaar in gekrap vir die was slag. Om een of ander rede roer ek toe die skraapsels en proe daaraan. Dit was soos in “ching-ching” ek het die goudpot geslaan! Dadelik het ek die vergete bossie beet in die yskas nader getrek en die Filistyne gestuur om nog Frambose te loop pluk. Wel, die res is geskiedenis.

Die geure is dekadent en verassend pikant en geurig. Die tekstuur is glad met die pitjies van die frambose wat jy kan besluit of jy die mengsel deur ‘n sif wil sit en verder gladder maak. Ek hou van die pitjies se voorkoms en tekstuur in die rooi sop. Dus, jou keuse hoe verfynd jy wil gaan.

Resep
8 Bete, Medium grootte, gaar gekook en gekap
1 Rooi ui, Medium grootte, fyn gekap
200 g Frambose (Raspberries)
30 ml Strooisuiker
30 ml Rooiwyn asyn
1.1 liter Groente aftreksel
100 ml Vonkelwyn
5 ml Tiemie, vars
Swart peper
200 ml Room

Metode:
1. Plaas die beet, rooi ui, frambose en strooisuiker in ‘n kastrol en verhit stadig  vir ongeveer 10 minute totdat die frambose begin sag word.

2. Voeg die rooiwyn asyn by en kook totdat die vog met die helfte weg gekook het.

3. Voeg dan die aftreksel by en kook dan oor matige hitte met ‘n deksel op totdat die beet begin fyn kook. Neem ongeveer 30 minute. Laat die mengsel afkoel tot lou warm en versap tot glad en egalig.

4. Voeg die Vonkelwyn by en roer bietjie room by in ‘n patroontjie indien verkies.

5. Kan warm of koud bedien word.

Bron: Annelien Pienaar, epos: boerekostwist@gmail.com, 2016 

Hoeveelheid: 8 porsies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking