Saterdag, 30 April 2016

Geroosterde Lams lendeskywe met tamatie konfyt en kaas

Ek het hierdie snaakse dis by Kanadese een aand geproe. Of kom ons stel dit so, ek het die gasvrou dop gehou soos sy werk en my wenkbroue gelig oor die toppings voor die vleis gebak word. Vandag is dit ‘n algemene item op ons spyskaart. Jy kan die tamatie konfyt op die kant bedien...

Resep
250ml Tamaties, geblansjeer
250ml Wit suiker
80ml Sherry, indien iemand nie alkohol mag gebruik nie, laat uit en vervang met asyn
Sout en Peper na smaak
6 Lams lendeskywe (lende tjoppies)
1 Eier
70ml Melk
80g Koekmeel
250ml Brood krummels, gedroog
60ml Olyf olie
500ml Cheddar, gerasper

Metode:
1. Kook die tamties, suiker en sherry saam vir ongeveer 20-30 minute op vinnig. Die mengsel moet dik word soos ‘n konfyt moet wees. Verwyder van hitte en laat afkoel.

2. Meng die eier en melk. Sout en peper die vleis na smaak. Plaas die vleis in meel en druk goed vas. Plaas die vleis in die eier mengsel en dan in die brood krummels. Laat die vleis rus vir 1 uur in die yskas sodat die krummels kan set.

3. Vlak vet braai die vleis om mooi bruin te word. Plaas die vleis in ‘n oondskottel en plaas een eetlepel van die tamatie konfyt op ‘n skyf vleis, bedek met baie kaas. Plaas die oondskottel in die oond sonder ‘n deksel en bak vir 10 minute by 190℃ of totdat die kaas goed gesmelt het en begin verbruin.

4. Hierdie gereg kan ook in ‘n gasbraaier of weber gedoen word maar moet dan toegemaak word as dit braai.

Bron: Annelien Pienaar, boerekostwist@gmail.com, 2016 

Hoeveelheid: 6 porsies

Vrydag, 29 April 2016

Makataan en Pynappel konfyt

My ma het aan die agterkant van ons plaashuis, by die wasgoed draad, ‘n groente tuin gehad. Meeste van die was water het daarheen filtreer. Ek het ‘n slim vader wat sy hande goed kan gebruik en het afval water goed aangewend met sy vindingryke filtrasie stelsel. So het ma altyd makatane gehad. In ons geweste het hulle teen einde Desember begin ryp word en ma het sommer die stoorkamer vol gepak met die boepens makatane. Van die goed was so swaar as 60 kg! 

Ons het ‘n Japie gehad wat vir ons gewerk het. Hy moes dan met die groot vleis byl die makataan loop slag in kleiner dele vir moeder. Saam met my mammie was daar my ander ma, Joyce Mokone. Sy is pik git swart van gelaat (sy reken haar pa was 'n Mosambieker en haar ma Shangaan), maar ‘n hart witter as wit, ‘n colgate smile wat tot agter haar ore sit en ‘n perfekte afrikaans, voorste vrou in haar kerk. Sy is ‘n lopende resepte boek van my ma. As ek iets wil weet van hoe mammie dit en dat gedoen het, bel ek ouma Joyce. Mammie het haar leer lees en skryf, so het ouma Joyce haar eie kos reis ervaar. Sy het ons leer pap en Marog eet. Hoeder derms wat sy soos uieringe in meel doop en diep vet braai... Aai hoe water my mond nou. Selfs mopanie wurms wat met marog fyn gemaal is, in hopies op die dak gedroog en so dit preserveer! Ek het onlangs besluit om vir haar ‘n band opnemer te gee. Ek het haar gevra om elke resep wat sy oor die volgende jaar van mammie onthou, op te neem. Ek wil die storie hoor. Ek het haar mooi geleer. Soos ons werk en praat het ek opgeneem. Sy moet met die bandspeler praat of dit ek is. My ma se boek vorder goed en ek wens soms ek kan in ouma Joyce se kop klim en alles “sien”. 

Verlede week bel sy my: “Anna, ek verlang nou te veel. Die klomp kleintjies maak my mal, ek kom kuier! Kry my môre by die taxi staanplek”. So gedaan. Moenie dink ons sit en koek en tee nie...Oooo neee...ons werk in die kombuis. Ek weet nie of ouma Joyce korter word en of sy net vetter word nie, maar daardie groot lyf, KAN werk! Ons het makataan en pynappel konfyt gemaak en ook lekker Gemmer Achaar van Makataan oorskiet gemaak...so ons was vodde. Ouma Joyce het haar eie plekkie by my en kom en gaan soos sy lus kry. Vir my is elke kuiertjie met haar, 'n skakel na ‘n groot gat wat gelaat is, my ma!

Wenk: Hierdie resep kan met gemak halveer word.

Resep
Week van Makataan
5 kg Makataan, gerasper of gemaal
45 ml Koeksoda
5 liter water

Metode:
1. Week die gerasperde makataan in  die koeksoda water vir ‘n uur en spoel dan goed af. Ek skep die rasper stukkies af en plaas in ‘n sloop en spoel goed af.

Kook van konfyt
5 kg Makataan
1.125 liter Water
2.5 kg Pynappel, geskil, gerasper
4 kg Wit suiker
5 cm Stuk Gemmer wortel, gekneus
5 ml Wynsteen suur of sitroen suur
2.5 ml Sout


Metode:
1. Plaas al die bestanddele in ‘n vlekvrye kastrol en verhit eers baie stadig. Roer totdat al die suiker goed opgelos het. Was die kante van die kastrol af met water om suiker kristalle op te los. 

2. Sodra die bestanddele opgelos het kook die mengsel dan baie vinnig totdat dit begin verdik het. Ongeveer 60 minute. Wat lekker is van hierdie konfyt dit kan loperig of styf wees. Beide maniere is dit heerlik. 

3. Verwyder die gemmer wortel en bottel dadelik in gesteriliseerde flesse.

Bron: Annelien Pienaar, Joyce Mokone, 2016, boerekostwist@gmail.com

Donderdag, 28 April 2016

Huiskok Glanskok

'n Rukkie gelede skuif ek my hele kookboek versameling van my Kookateljee af na my hoofhuis, weens mense wat nie respek het vir boeke. Ek begin die deurmekaar spul sorteer in Engelse en Afrikaanse boeke en dan per Vakgebied. Deesdae is ek baie besig met navorsing oor ons Kosgeskiedenis en twee boeke trek gisteraand my oog. By die een haak ek toe so lank vas, dat ek soos 'n student gevoel het wat deurnag!

Huiskok Glanskok is een van die laaste boeke wat ek van my sus ontvang het. Vandag is sy nie meer met ons nie, maar sy het my groot bederf met hierdie ene!

Huiskok Glanskok is nie net 'n boek uit die pen van Francois Ferreira en Errieda du Toit nie. Dit is 'n versameling van jare lange wen resepte wat hulle saam gevoeg het in 'n bundel. Die resepte was ou en nuwe resepte wat van hul dae saam met RSG kom. Vir amper 14 jaar het hulle Suid Afrika op 'n weeklikse basis vermaak, ingelig en geinspireer om te kook. In 2014 het die program tot 'n einde gekom en toe begin haar program op RSG: Die kos wat ons ken...Daar was alledaagse disse, daar was flambojante en waaghalsige disse net soos Errieda se wonderlike borrellende geaardheid. As ek dan dink aan die praatjies, dan sien ek die resepte suksesvol deur getrek na die boek....Daar is die mooiste kos foto's, styllering en dan die wonderlikste resepte. Ek het die boek al deur gekook en kan met vertroue vir julle as lesers sê: Die boek werk! 

Daar is baie kosboeke op die rakke deesdae beskikbaar, maar die ene is anders. Die bestanddele is goed deurdag, en vir elke Jan Rap en sy maat toeganklik. Tegnieke is nie 'n ellelange lysie van stappe nie en jy voel sommer lus om 'n hele spyskaart daarmee saam te stel. Ek is nie seker of die boek nog in druk is nie, maar ek dink as dit is....MOET dit op jou WENS lysie kom.

Verder kan julle ook gaan soek vir Francois Ferreira se boek genaamd Okkasies en hy het ook 'n  kookskool waar hy wonderlike opleiding in die Cullinary arts gee. Dan uit Errieda se pen is daar die Kokkedoor en Koekedoor boeke en ek het 'n voëltjie hoor fluit daar is 'n wonderlike familie resepte boek oppad! So, wees op die uitkyk vir twee van SA se geliefde kookboek skrywers se werke.



Geniet die boek liewe leser!

Groete Annelien
boerekostwist@gmail.com

Dinsdag, 26 April 2016

Ouma Bets se “Biscuit Poerring”

Ek was ‘n kind van 18 jaar en het hierdie ouma van my man as my eie aangeneem. Ouma Bets Kruger was een formidabele vrou. Sy het vier kinders eie handig groot gemaak. Sy het tennis gespeel, so fyntjies dat jy haar nie kon klop...ja ‘n ouma met ‘n groot hart en diepspore tot vandag! Onlangs kry ek die boodskap van my man se neef, het ek nie dalk ouma se Bisuit poerring resep nie. Ek weet presies waarvan hy praat en stuur so uit die kop die resep. Kyk was die man bly oor die resep. 

Ouma het ‘n swetterjoel klein kinders gehad daar was ma se 4, oom Bertie se 5, tannie Corrie se 2 en oom Carel se 3! Van daardie bondels klein kinders het gekom, agter klein kinders by dosyne en ek dink die getal staan op 29! So, het ouma geleer om min kos baie te maak deur ‘n dun vla te maak en dan Marie koekies grof te breek en dan in die vla te druk met ‘n lagie klapper. Die vla was heerlik soet en die koekies amper iets soos Jodetert geproe! Ek noem dit die arm mans poeding!


Ek maak hierdie nagereggie gereeld. Dit is goedkoop en vinnig! Ek het die mates net soos ouma dit geskryf het vir julle getik. 

Resep
1 liter Melk
4 - 6 e Suiker (Suiker alternatief kan bygevoeg word, proe soos jy werk)
3 e Vla poeier, medium hoogte skeppie
1 t Karamel geursel
2 e Botter
¾ pakkie Marie beskuitjies
Geklopte room vir versiering vir individuele porsies

Metode:
1. Meng die melk, suiker en vlapoeier saam en roer deeglik sodat die vla goed opgelos het. Plaas in mikrogolf oond en draai vir ‘n minuut en roer met draad klitser. Draai weer ‘n minuut en stop...roer en hou so aan totdat die mengsel verdik. Teen 6 minute sal die mengsel begin verdik. Jy weet die vla is gereed as dit opkook soos melk. Proe aan die mengsel en maak seker dit is gaar en geen melerigheid op jou tong.

2. Haal die vla uit die mikrogolf oond en voeg die geursel en botter by.

3. Breek die beskuitjies in growwe stukke met die hand. Gooi die vla in ‘n langwerpige bak en druk die beskuitjies in die vla en sprinkel met klapper. Indien jy nie van klapper hou, los dit uit! Ouma het soms kersies ingesit! 

4. Laat staan vir ongeveer 4 ure of oornag in die yskas. Bedien met roomys.

Bron: Ouma Bets Kruger, epos: boerekostwist@gmail.com, 2016 

Hoeveelheid: 6 porsies 

Donderdag, 21 April 2016

Beet en Framboos Sop

Hierdie is regtig ‘n heerlike koue- of warm sop. Wat dit so fantasties maak dit kry sjampanje in om dit net daardie ietsie ektra te gee en fantasties te laat proe. Indien jy nie mag alkohol gebruik nie, stel ek voor om gewone Gemmerlin of Sparkling druiwesap te gebruik.

Die resep het sy geboorte oor Kersfees gehad! Ons het vreeslik baie beet en frambose in die groente tuin gehad en ek was verveeld. So, daardie aand nadat ek die hele dag beet verwerk het en framboos stroop gemaak het, het ek die potte by mekaar in gekrap vir die was slag. Om een of ander rede roer ek toe die skraapsels en proe daaraan. Dit was soos in “ching-ching” ek het die goudpot geslaan! Dadelik het ek die vergete bossie beet in die yskas nader getrek en die Filistyne gestuur om nog Frambose te loop pluk. Wel, die res is geskiedenis.

Die geure is dekadent en verassend pikant en geurig. Die tekstuur is glad met die pitjies van die frambose wat jy kan besluit of jy die mengsel deur ‘n sif wil sit en verder gladder maak. Ek hou van die pitjies se voorkoms en tekstuur in die rooi sop. Dus, jou keuse hoe verfynd jy wil gaan.

Resep
8 Bete, Medium grootte, gaar gekook en gekap
1 Rooi ui, Medium grootte, fyn gekap
200 g Frambose (Raspberries)
30 ml Strooisuiker
30 ml Rooiwyn asyn
1.1 liter Groente aftreksel
100 ml Vonkelwyn
5 ml Tiemie, vars
Swart peper
200 ml Room

Metode:
1. Plaas die beet, rooi ui, frambose en strooisuiker in ‘n kastrol en verhit stadig  vir ongeveer 10 minute totdat die frambose begin sag word.

2. Voeg die rooiwyn asyn by en kook totdat die vog met die helfte weg gekook het.

3. Voeg dan die aftreksel by en kook dan oor matige hitte met ‘n deksel op totdat die beet begin fyn kook. Neem ongeveer 30 minute. Laat die mengsel afkoel tot lou warm en versap tot glad en egalig.

4. Voeg die Vonkelwyn by en roer bietjie room by in ‘n patroontjie indien verkies.

5. Kan warm of koud bedien word.

Bron: Annelien Pienaar, epos: boerekostwist@gmail.com, 2016 

Hoeveelheid: 8 porsies

Aspersie, Prei en Aartappelsop

Hierdie soppie neem net 30 minute om te maak van begin tot einde. Indien die bestanddele nie in rou formaat beskikbaar is nie en jy met die geblikte produk soos aspersies en poeier kappok aartappel werk maak jy die sop binne 10 minute. Die vars produk bly nog die heel lekkerste, maar as tyd druk, dan kroek ons almal maar soms.

30 minute Resep
30 g Botter
1 Prei of Ui (klein), fyn gekap
250 g Aartappels, geskil en grog gekap
500 ml Water
1 Groente Aftreksel blokkie
500 g Aspersies as dit vars is, stokkerige onderste gedeelte verwyder en in 2cm stukkies gesny 
¼ t Borrie
150 ml Room
15 ml Dill tippies, gedroog. Vars 40ml

Metode:
1. In ‘n diep kastrol smelt die botter en braai die ui tot sag vir 5 minute.

2. Voeg die aartappels, water en aftreksel by. Kook die mengsel vir 15 minute totdat die aartappels sag is. 

3. Voeg dan die aspersies en borrie by en kook totdat die aspersies al-dente is vir ongeveer 3-5 minute.

4. Neem die helfte van die sop en puree dit. Voeg plaas die sop terug by die res van die sop in die kastrol en voeg die room en dill by. Bedien warm met Ketel gebraaide uie (sien resep op blog) of bros gebraaide spek repies.

Vinnige resep
30 g Botter
1 Prei of Ui(klein) opgekap
1 pakkie Smash original
1 blikkie Aspersies
Hou die vog van die aspersies en vul aan met water tot 500 ml
¼ 15 ml Dill tippies, gedroog. Vars 40 ml

Metode:
1. In ‘n diep kastrol smelt die botter en braai die ui tot sag vir 5 minute.

2. Plaas water en aspersies in die kastrol met die uie in en verhit tot kookpunt.

3. Voeg die smash by en roer tot verdik. Voeg die res van die bestanddele by, puree die mengsel en bedien dadelik.

Bron: Annelien Pienaar, epos: boerekostwist@gmail.com, 2016

Hoeveelheid: 4 Porsies

Dinsdag, 19 April 2016

Moir's Romantiese Parfait met 'n Twist!

Hierdie is my idee van 'n Romantiese Parfait met Meringue gebou. Die resep bestaan uit drie dele waarvan die eerste deel die maak van die meringue insluit en die res word uit 'n pakkie aangemaak. Dus is hierdie eintlik 'n blits resep, want jy kan die doppe van die meringues lank voor die tyd maak en vries of op die rak laat staan, alles lugdig gesëel.

Ek het hierdie projek vreeslik geniet en die eindresultaat het die kinders laat jubel. Elkeen het sy eie toring van Babel gebou en dit was omtrent heerlike familietyd om die tafel. Die kommentaar op elkeen se nagereg was speels en lig...Onthou hierdie "party truuk" vir ietsie anders met 'n kuietjie met gaste op verjaardag! Oud en jonk kan speel. Dankie Moir's vir die uitdaging ek het die ontwikkelling van die dis baie geniet en nuwe produkte ontdek wat ek andersins nooit sou koop!

Meringue
230g Strooisuiker
3 Eiers, geskei by kamer temperatuur
5ml Asyn
15ml Mielieblom, maizena
2.5ml Moir's Bakpoeier
5ml Moir's Vanielje geursel

Metode:
1. Klop die eier en bakpoeiertot stywe punt stadium, NIE droog en vlokkerig nie!

2. Klop die asyn en mielieblom by.

3. Voeg die strooisuiker 2 eetlepels op ‘n slag by…klits 5 minute en voeg weer 2 eetlepels by…hou so aan totdat al die suiker ingewerk is. Toets die meringue of dit reg is…kyk na die glans, dit moet ‘n lint vorm as jy die klitser oplig en die suiker moet opgelos wees.

4. Vou nou die geursels en kleursels by. Om die marbling gedoen te kry, moet jy 'n druppertjie of tande stokkie neem en kleursel optrek. Dan skep jy individueel ongeveer twee eetlepels opgehoop van die meringue uit en plaas in 'n bakkie...drup drie druppels kleursel op verskillende plekke.


. Met een beweging in 'n figuur 8 draai die lepel. Skep op en sprei in sirkels wat jy op die bakpapier getrek het. Maak seker jy trek 4 groot (8cm) en 4 kleiner (4cm).


5. Bak vir 1 ½ uur by 110°C of toets of dit droog is…ek hou van hulle so effens taai. Hou die oond deur effens oop as jy dit droog.

Vulsel
1 Pakkie Moir's Heritage range Vanilla flavour instant pudding
600ml Melk
200ml Room

Metode:
1. Klits alles saam en moenie in die yskas bêre nie. Anders stol dit en jy kan dit nie op die meringue smeer nie.

Stroop
1 Pakkie Moir's Black Mulberry jelly
125ml Granaat pitte
5ml Moir's Mixed citrus peel
400ml Water
10ml Maizena

Metode:
1. Voeg al die bestanddele saam in 'n kastrolletjie en verhit totdat die mengsel verdik. Laat eenkant om af te koel voor bediening. Moenie in die yskas stoor nie.

Aanmekaar sit van nagereg
Jy kan vrugte wat tans in seisoen is gebruik...jy is die skepper van jou eie kunswerk. Sien die foto's. Ek het Moir's se Marachino cherries gebruik vir garnering.

Bron: Annelien Pienaar, epos: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 8x6cm sirekels

Boek resensie: Hartskombuis!

Verlede week was ek betrokke by ‘n skool in die omgewing en het bietjie met hulle gesêls oor die beroepe in die Voedsel industrie. Ons het gekyk na diploma kursusse tot graad kursusse en die kinders het altyd gedink jy kan net ‘n sjef word met Gasvryheids! Ek het my beroepsloopbaan met hulle gedeel en dit was lekker om die geesdrif in die kinders se gesiggies te sien. Toe ek my praatjie afsluit het ek hulle met een gedagte gelaat...”Dit is die een beroep waar daar altyd hoop sal wees en ook werk sal wees, want almal moet eet!”
As dankie vir die praatjie het hulle vir my Elria Wessels se Hartskombuis “Boerekos van die Anglo-Boerekoorlog tot vandag” kook boek oorhandig. Min het ek besef wat hulle vir my gee. Gisteraand maak ek en sussie die pakkie oop en my hande gly oor die blaaie van die boek. Ek sien die juweeltjies op geteken van ons kosgeskiedenis...goed soos biltong en stormjaers (vetkoek) wat in die saalsakke nie gou afgegaan het nie. Ek begin koorsagtig lees aan die inleiding en besef hierdie boek gaan oor die Anglo-Boere oorlog, konsentrasie kampe, oorlogskos vir die manne op Kommando. Ek steek vas by die teks wat ek met hakkies vir julle gemerk het, my oë word dof! My keel trek saam, ek kan nie sluk, my asem uit my bors. Dit voel of ek die mamma is wat daar sit met die sterwende kind in my arms wat nie vir die smekende kind water kan gee...al wat gegee word is jou trane". Julle moet die stukkie lees...
Julle mense, hierdie boek is net “one of a kind”! Dit is goue stukkies geskiedenis verweef in ragfyn draadjies van resepte met ‘n skatkis vol beloftes. Ek sit en dink aan die tragedies van gevange wees, geen kos, geen kontak met geliefdes. Dan haal ek diep asem en sê dankie Vader dat ek in my land vry is. Ek is nogsteeds in beheer en kan my mense versorg, lief hê en koester. Mag al daardie vroue en mans, wit en swart se siele in vrede rus vir dit wat hulle vir ons land voor geveg het. Ons het murg in onse pype! Dankie Elria Wessels, Vicky Heunis en jou span vir nog ‘n puik boek!
Hierdie is voorwaar 'n boek wat in jou persoonlike versameling moet kom. 

Groete:
 Annelien Pienaar, April 2016


Maandag, 18 April 2016

Soet Flan deeg

Hierdie is een van daardie geheime resepte wat jy nie graag wil deel nie! Die eindproduk is ‘n harde, amper karamelagtige bakkie wat sy vorm behou al kry dit ‘n vulsel in wat lank staan. Die deeg behou sy vorm en word nie maklik pap nie. So, as jy waaghalsig is en hou van ‘n mooi tertpan met riffeltjies en karteltjies dan is hierdie jou deeg om mee te spog! In hierdie foto is die vulsel 'n vinnige kaaskoek mengsel met geblikte kersies wat in Kersie likeur gemarineer is....resep vir vulsel onder terte.

Nog 'n geheim om te voorkom dat die tertkors pap word: Nadat die deeg blind gebak is en jy die bone verwyder het, verf geklitste eier en melk op die bodem en kante van die kors. Bak dan verder soos die resep aandui. Die eier vorm 'n waterdigte lagie!

Resep
140 g Koekmeel
2 ml Sout
55 g Strooisuiker
60 g Botter
2 Eiergele
2ml Vanielje geursel

Metode:
1. Sif meel en sout saam. Voeg die strooisuiker by en meng goed deur. 

2. Vryf die botter met jou vinger punte in totdat dit soos broodkrummels lyk. Die hele proses kan natuurlik met die voedsel verwerker ook gedoen word.

3. Voeg die eiergele en die geursel by en meng tot ‘n stywe deeg en knie liggies tot glad. Moenie oor werk soos brood deeg nie. Jy wil nie gluten ontwikkel nie.

4. Rol die deeg dadelik uit na ongeveer 3mm dikte. Voer ‘n pan van 23cm rond uit. Verkoel die pan met die deeg in vir 1 uur voordat dit gebak word. Die verkoeling is baie belangrik sodat die deeg kan set en perfek bak.

5. Bak die deeg blind deur die bodem van die deeg eers te steek met ‘n vurk. Plaas die bakpapier met die bone binne in en bak by 190℃ vir 10 minute en verwyder daarna die boontjies. Smeer die bodem met eier en melk mengsel en bak nog 5 minute lank totdat goud bruin.

6. Laat effens afkoel voordat jy die tert kors op ‘n draadrak uitkeer om verder af te koel.


Bron: Annelien Pienaar, vir Patisserie klasse epos my op boerekostwist@gmail.com, 2016 

Hoeveelheid: 1x 25cm tert dop

Woensdag, 13 April 2016

Tannie Poppie Koekedoor!

My getekende Kopie persoonlik afgelewer

Tannie Poppie Coetzer was vir my net ‘n “gesiggie” op Faceboek wat by my groep, Boerekos met ‘n Twist aangesluit het. Nog 'n lid wat ek met raad en daad bygestaan het, of so het ek gedink! Ek het nie besef sy is ‘n “celebrety” nie. Ek het nie DSTV gehad met die Kokkedoor no1 reeks nie. Maar ek het wel die boek gekoop en haar gesiggie daar gesien het. So, kuier ons heen en weer op Bakkiesblad en ek nooi haar om te kom koffie drink op die plaas as sy ooit verby kom. Ons leer mekaar so ken en ek sien die laaste 4 maande wat ons kuier hoe besig sy is en besef hier is iemand wat ek eendag beter wil leer ken. Ek hou van stories uit mense trek en sal graag haar storie wil hoor. Ek kry die inbus per Bakkiesblad wat vra of hulle vir twee daggies net by my kan kom afpak en rus. Alles is gereel en tannie Poppie en oom Jan arriveer sondag oggend nadat hulle demonstrasie werk in Brits gedoen het die afgelope saterdag. Min het ek besef hoe ‘n diep spoor sy nie al reeds in die Suid Afrikaners se harte getrap het nie. Hoeveel sy uitdeel en omgee nie.
Tannie Poppie hou van mooi broodjies bak!

Sondag boek ek my twee gaste in en gesêls ‘n rukkie voordat ek af hol na my huis om ‘n koek klaar te versier vir ‘n verjaardag waarheen ons genooi is. Ek kom weer terug met ‘n arsenaal boeke wat ek dink tannie Poppie baie interessant sal vind en vertrek toe na die geselligheid met my Filistyne. Ek verduidelik waar die naaste ordentlike restaurant in my omgewing is en stuur hulle daarheen. Tannie Poppie hulle het die kuier omtrent geniet by die Ou Pastorie. By die deur word hulle gegroet en hulle hoor Ou Pastorie is vol en dat hulle vooraf moes bespreek het! Een van die gaste kom verby en herken tannie Poppie en draai die arm van die eienaar met die woorde dat tannie Poppie ‘n kook “celebrety” is. Daar kry hulle ‘n pragtige tafeltjie in die tuin met die lekkerste kos. 

Sondag aand kuier ons vir die eerste keer rustig voort en ek moet rëel dat ek laat oggend vir ons gaan ontbyt maak, want sussie moet teater toe vir ‘n klein operasietjie. Terug op die plaas maandag oggend, besluit ek ons gaan ontbyt by my bure, van Gaalen kaasmakerij eet. Die setting is pragtig met ‘n 180grade uitsig op die Magaliesberge.  Ons het ‘n “House platter” met kaas bestel en oom Jan het soos dit ‘n man betaam, ‘n spek en eiertjie bestel. Daar het ons heerlik gesit en kuier. Tannie Poppie het toe baie vrae gevra oor die hoe, die wat, die waarom van Boerekos met ‘n Twist, my agtergrond en hoe my klasse werk. Ek het ook my sarsie van vrae gehad oor die wie en wat tannie Poppie is. Toe gaan ons na die mooi snuisterye winkeltjie toe, loer na die kase in die kaaskamer en sien hoe hulle besig is om gouda te maak.


Sal liefs nie hardop my woorde herhaal....
Ek en tannie Poppie het baie raak punte. Beide van ons het plaaslewe geken, onthou kos, tradisionele en familiekos lê ons baie na aan die hart. Ons gesinne is en bly eerste prioriteit. Ons is dol oor mense en hou van uitreik, uitdeel en verryk ander mense se lewens sonder om iets in ruil daarvoor te verwag. Ek sit by myself en dink dat ek die tannie bewonder vir haar toewyding en energie. Hoe sy so kan rond rits en oral optree. Tussen in hoor ek sy is ook maar moeg en wil ook begin rustiger raak, maar vir nou is daar geen einde aan haar idees en geesdrif.



Om te sny of nie te sny...dit is die groot vraag!
Tannie Poppie moet in Junie gaan spysenering doen vir ‘n troue met ‘n knapsak begroting. Ons bespreek paar idees vir die troue, die klein begroting wat sy met ‘n groot hart aanpak. Toe deel ek resepte boeke uit vir haar om deur te werk en sy het behoorlik navorsing gedoen. Oh....en het ek lekker raas gekry! Ek kla oor die mense wat resepte uit my boeke skeur maar ek buig boeke se hoekies om! Whahaha ek het lekker gelag oor die perfeksionis wat tannie Poppie is. Vir haar, net soos vir my is ‘n boek heiligdom. Ons moet boeke koester weens die feit dat die digitale era besig is om oor te neem. Daar is net niks wat kom by die reuk van gedrukte papier, die kraak van die bladsy, die gevoel onder jou vingers...die trek van ‘n potlood oor ‘n rëeltjie wat jy wil memoriseer vir latere navorsing...boeke is net weergaloos.



Ons kon nie meer ons lag hou!
Ek luister en sien ook hoe sy en oom Jan mekaar aanvul en ek dink in my binneste hoe ek dit begeer om eendag ook so oud te word en my maat so te geniet. Tannie Poppie en oom Jan is hierdie jaar al 51 jaar getroud! Beide al 70 jaar oud en so wakker en energiek dat ek wonder of hulle dalk opkikkers gebruik. Tannie Poppie het tog lekker uit haar maag gelag toe ek dit noem. “Nee, my hartjie, dit is lekker om te lewe! “ kom dit vriendelik van haar. Oom Jan knik net saam om haar woorde te beaam. Hulle is ‘n gedugte span.
75% Hidrasie, lang fermentasie!

Tannie Poppie vertel staaltjies van haar dae waar sy self met varke, hoenders en groente geboer het. Sy vertel die staaltjie waar sy op ‘n keer met hoenders wou boer. Sy doen navraag oor  kuikens en stel in so 1000 belang wat sy wou bestel. Haar hokke is knie hoogte gebou en daar kom laai die mense sommer die vrydag die hoendertjies af, ‘n maand te vroe! Wat nou? Sy gaan vra die buurman of sy die lëe sementdam kan gebruik. Hulle rus die dam toe met die nodige waterdruppers, ligte, voerbakke en dinge. Maak die dam toe met ‘n seil en groot genoeg gat vir ventilasie. Te vrede verlaat hulle die dam. Die volgende oggend word sy wakker en besef dit het deur die nag gerëen...Kom by die dam en daar dryf die kuiekens... So kom en gaan drome! 

Ons gesêls oor broodbak en ek gee vir tannie Poppie een van my ma se suurdeeg plantjies wat  al 4 geslagte in ons familie loop. Die smaak is wonderlik en dit het woema as jy dit gereeld voer. Oom Jan spog te lekker met sy vetkoeke wat hy bak en ons gesêls toe oor die perfekte vetkoek. Oom Jan en Annelien se standaarde is die beste vetkoek, ‘n hol vetkoek!


Vars brood laat almal glimlag!
Ek sit maandag middag met tannie Poppie op die rusbank in ons woonkamer en probeer haar leer hoe om die Bakkiesblad sharing ding te doen en goed oor verkeer te trek ens. Man en daar vang ons twee toe so nonsens aan dat goed gepost word dat dit lyk of ons twee saam besig is om ‘n kookboek te skryf...of so lei die sin wat ek onder my naam post, min besef ek dit moet op tannie Poppie se rekening gedoen word. Wel, dit het vir ‘n hele paar opgewonde oomblikke vir die Boerekos met ‘n Twist lede gelei en toe moes ek die regstelling doen en hulle “bubble” bars. Dadelik delete ons die post en doen dit oor...Eish!

Maar....raai wat? Tannie Poppie is besig met haar tweede kookboek! Ek mag nie uitpraat, maar laat ek julle vertel, as die resepte van die gehalte is soos die in haar eerste boek, gaan dit ‘n blitsverkoper word. So, hou die posts dop want hier kom ‘n lekker kersgeskenk of twee. As ek na die eerste boek kyk en die pragtige handgeskrewe resespte wat gebruik is oral in die boek, die mooi foto's van tannie Poppie, dan kan ek nie wag vir die tweede ene. Ag, ek wens jy wat nou hier lees kon op my rusbank langs tannie Poppie gesit het, sy het elke foto in haar boek verduidelik hoe dit geneem is, hoe sy so sprankel en kon lag. Ek het ander mense wat ek ook maar deur Bakkiesblad leer ken het, nog beter leer ken uit die oog van tannie Poppie. Mense wat deel was van die maak, skryf en opstel van die eerste boek. Dit was vir haar 'n ongelooflike reis! Daar is regtig nog wonderlike mense wat ander mense help, ondersteun en bystaan. Baie dankie tannie Poppie vir my kookboek asook die mooi boodskappie en die positiewe houding teenoor Boerekos met ‘n Twist. Saam gaan ons nog ‘n baie lang pad stap! 
Oom Jan, het tannie Poppie oë agter in haar kop?

Dinsdag oggend is dit groet. Tannie Poppie hulle moet nog tot in Warmbad en ons het ‘n vergadering elders. So sit ek en tannie Poppie weer so en klets terwyl oom Jan geduldig die kar pak, dat ontbyt bietjie laat gemaak word en tannie Poppie spring in en dek die tafel terwyl ek inderhaas die ontbyt aanmekaar slaan. Duidelik staan hierdie tannie se hande reg vir alles. Beide manne loer ons twee aan oor ons so klets. Dit is toe dat ons so lekker gek skeer met die “sourdough” broodjie met oom Jan wat beduie hoe ons moet poze vir die foto's! Ons speel ons eie “chop-chop” speletjie...op ‘n stadium beduie oom Jan om agter tannie Poppie te staan en maak of ek haar gaan kap met my lang kaasmes en sy antwoord so ewe droog: “Ek sien vir jou, sak daai arm of die brood oorleef dit nie!” Hhahaha...ons het lekker tye gehad en ons kan almal sê ons batterye is gelaai en reg vir nuwe dinge! 

Voorspoed en alle sëen aan tannie Poppie en oom Jan. Mag julle nog baie jare gelukkig saam wees, geseën word met tonne goeie gesondheid om al julle drome waar te maak. Want gesondheid is die grootste geskenk wat ons elke dag kan ontvang...Geniet julle Swaeltjies kuier en veilig reis!

Skeerpoort en Boerekos met ‘n Twist Liefde

Annelien!


Vrydag, 08 April 2016

Cape Herb & Spice

Ek is nie bang om met kruie en speserye te eksperimenteer nie. Ek het deur die jare 'n geur gehue opgebou en baie geure wat ek lanklaas geruik het kan my soms van my voete ruk as dit op 'n stadium op my pad kom. Onlangs het ek ook so 'n "gevoel" gekry toe ek by 'n snuitsterye winkeltjie verby geloop het en deur die oop venster geloer het hoe die dame besig is om komyne saad te rooster. Die hele proses was ongelooflik gewees om te ervaar.
Eers het die reuk my neus al langs die straat afgelei, toe oor die pad en reg voor die venstertjie van die kombuisie laat stop. Ek het op my tone gestaan en soos 'n stout kind ingeloer. Sy was glad nie bewus daarvan dat ek haar dopgehou het nie. Sy het 'n hele proses aan die gang gehad. Die sade was eers gespoel om dit te suiwer. Dan word dit op groot oop siwwe uitgesprei en wind gedroog. Die gedroogde Komyne saad word dan gerooster vir die verskillende mengsels wat hulle verkoop. 
Haar hande het ritmies heen en weer oor die pan geskraap met haar plat houtspaan waarvan die een kant al af gewerk is na iets wat amper lyk soos 'n verkwas met 'n hoek. Sy kyk op en glimlag, nooi my om deur die winkel te stap. Ons ken mekaar van geen adamskant, maar ons het baie ingemeen...kos! Ons groet en sy vra waar vandaan ek is. Ons begin oor kontrei geure gesêls want sy is van die Wes Kaap en die geure wat hulle gebruik is baie verskillend as die waaraan ek gewoond is. So het ek seker vir 3 ure gekuier, heerlike appeltee gedrink, halwa gehad en toe met pakke goedjies daar uit. 
Wat ek eintlik wil vertel vir diegene van julle wat nie so waaghalsig is soos ek...hier is 'n produk wat my keer op keer oorrompel met sy kwaliteit. Cape Herb & Spice weet net wat hulle doen. Ek het aanvanklik net die Dill tippies gekoop want ek gebruik dit baie by disse wat ek 'n romerige of botteragtige nasmaak wil versterk. Disse soos kappok aartappels, hoender en toebroodjie vulsels. (Ek sal nog 'n paar resepte post met hierdie produk in). Ek kan nie meer frikkadelle maak sonder die Smoked Spanish paprika, die rook reuk is intens, dit kielie eers jou neus en daarna voel jy soos Pavlov se hond waarvan jy die kwyl nie kan keer. Ek geniet hierdie reekse van Cape Herb & Spice. Ek sien hulle berei nou vinnig uit met nuwe reekse en sal elke een probeer en toets. Dus, volgens my kry hulle baie goeie punte vir kwaliteit, billike pryse en smaak ontploffing soos min!

Te koop by alle kettingwinkels landwyd!

Groete Annelien Pienaar, April 2016.


Maandag, 04 April 2016

Ouma se Klapperys

Ek was as kind nie baie lief vir klapper nie. Daarom dat ek eers toe ek ouer geword het die wonder van klapperys ontdek het! Op ‘n dag doen ek die spysenering van ‘n Babatee waarvan die geslag van die baba nie bekend is nie. Dit was omtrent ‘n kopkrap gewees. Op die ou einde het ek met klapperys verskeie geure en kleure gemaak, alles in pastel en die hele reënboog se kleure daarin vervat. Ek het weg beweeg van die gewone vierkante met die twee kleure en een soliede kleur gemaak en uitgedruk met koekie drukkers in diere vormpies...eendjies was die gewildste. Deesdae is ek oor die baba ding en doen dit in groot blokke met een kleur. Jy is welkom om die tradisionele metode met die twee kleure te doen. Maar ek het lui geword om dit twee keer te doen en nou hou ek by my kroekery.

In die regte lewe gaan jy dus die mengsel twee keer aanmaak. Eers die wit laag en dan die pienk laag bo-oor mekaar. Die een moet eers set voordat die ander oor gegooi word. Daar is ook verskeie resepte om Klapperys te maak. Sommiges word met kondensmelk gemaak en ek vind dit effens taaierig. Dan die ou tradisionele manier: kook van stroop en verleen ‘n regte sandsuiker fudge tekstuur aan die eind produk. My resep is die tradisionele een.

As jy nou mooi na suikerwerk of lekkergoed maak gaan kyk sal jy merk dat die tegniek wat gebruik word om Klapperys te maak, ooreenstem met fondant maak. Die geheim kom in die klop op die regte tyd om die mengsel so mooi wit te kry asof dit versiersuiker ingekry het...

Kleure en Geure
Deesdae is daar so baie nuwe geure op die mark en ook handelsmerke. Maak seker dat die geur middels nie te sterk is nie. Onlangs dit oorgekom dat iemand vir my 'n olie basis geurmiddel gegee het van oorsee. Moeder liefde 5ml was soos gal en die reuk afskuwelik..."eu de too much!" Dus maak seker. Die gewone Moirs en Robertsons sal 10ml van die geure en kleure die ding doen.

Kombinasies van Kleure en Geure
Rooi: Kersie, framboos(raspberries), roos water
Groen: Mint, cream soda
Blou: Bubblegum, ment, sherbit
Geel: Piesang, lemoen, suurlemoen
Wit: karamel, vanielje, vla
Bruin: sjokolade, koffie, rum, brandewyn
Karamel: toffie, koffie, rum, brandewyn

Resep (verdeel die resep vir twee kleure)
400g Witsuiker
¼ tSout
150ml Water
¼ t Kremetart
20ml Vloeibare glukose
Verskeie geure van jou keuse
Verskeie kleure van jou keuse
180g Klapper, gebruik die fynstes wat jy kan kry

Metode:
1. Plaas suiker, sout, kremetart en glukose in ‘n kastrolletjie en smelt oor lae hitte.

2. a. Sodra die suiker gesmelt is kook die mengsel tot 120℃. Indien jy nie ‘n suiker termometer het nie, toets jy dan soos volg: Gooi water in ‘n lang glas. Drup 5ml van kokende stroop in die glas water in. Daar sal ‘n bolletjie vorm wat sy vorm sal behou. Dit sal nie plat val in die glas. As jy dit uithaal kan jy dit soos klei brei. Hierdie kokery neem ongeveer 30-60 minute afhangende van jou hoogte bo see spiëel. 

b. Laat die mengsel afkoel tot lou warm (60℃) ,voeg die geursels en kleursels by. Hier is nou die maak of breek. As jy te lank klop met die houtlepel gaan die mengsel te vinnig dik word en jy gaan nie die klapper in geklop kry nie. Dus, klop die mengsel met ‘n houtlepel tot dit net begin wit word. Laaste voeg jy die klapper by.

3. Druk die mengsel in gesmeerde of uitgevoerde bakplate. Laat effens set en sny liggies met mes. Ek het ‘n 60cm lem mes waarmee ek afdruk en perfekte blokke sny. Die koekie drukker kan ook gebruik word. Stoor die blokke in ekstra klapper. Bêre in lugdigte houer!

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 50 blokke, besluit self hoe dik of dun jy wil gaan.