Saterdag, 12 Maart 2016

Whiskey Marmelade

So ‘n paar jaar gelede het ons in die Natalse Middelande gaan vakansie hou. Op die pad tussen êrens en nêres ry ons by ‘n padstal verby en daar koop ek mos die ongelooflike lekker Whiskey Marmelade. So het ek myself voorgeneem dat ek ook dit self wil maak en het net nooit tyd gekry om dit uit te toets. Verlede jaar laai ‘n vriendin 10 sakkies lemoene by my af. Dit is wonderlike dik skil lemoene en met pitte. My hande het gejeuk en ek het begin kook...so tussen deur bel ek vir pappie om vir my Whiskey van die dorp saam te bring. Pappa weet as ek met drank begin kook dat daar fanstastiese konkoksies opgetower word. So gesê en so gedaan. My “smaak gehue “ het my nie in die steek gelaat nie en ek het by die ware Jakob uitgekom. 

Hier is ‘n paar wenke voordat ons begin met die kook van die marmelade.
1. Lemoene het redelik genoeg van sy eie pektien, hou die pitte eenkant asook die wit binneste gedeeltes van die geskilde lemoen. Ek trek die pektien oornag deur die pitte uit te haal en die wit uit te sny en dan te week in genoeg water sodat dit bedek is. Die volgende dag kook ek dit vinnig saam vir ongeveer 15 minute en dreineer die vloeistof deur dit deur ‘n dubbeld gevoude stuk kaasdoek te gooi. Moenie die doek uitdraai of die vog uit forseer nie, dit moet self uitkom.

2. Gaan loer op die Boerekos Twist blog vir die les oor die kook van Tuisgemaakte Pektien asb...

3. Ek kook botteltjies vir my preservering in grootmaat aan en dan is die berg waarna ek opsien, die was gewoonlik ‘n nagmerrie. Ek het onlangs my skottelgoed wasser begin inspan vir die steriliseer van die bottels en deksels en tot dus ver nog geen probleme gehad met gebottelde produkte wat afgaan nie. Dus, spaar baie tyd. Onthou net, die bottel moet in die oond by 120℃ gehou word sodat dit nie sal bars tydens bottellering nie en ook Clostridium Botulinum word vernietig indien daar dalk ‘n kontaminat teenwoordig sou wees.

4. Onthou hoe vinniger die mengsel kook hoe ligter kook die konfyt in 'n korter tyd...hoe langer jy kook hoe donkerder. Volgens beoordelaars is die ligter weergawe meer die gewenste resultaat.

Resep
1 kg Dikskil of Seville lemoene
2.5 liter Water
1.8 kg Wit suiker
200 g Gekristalliseerde gemmer fyn gekap (opsioneel, maar transformeer die marmelade in iets ongelooflik)
75 ml Vars, Suurlemoen sap
75 ml Whiskey

Metode:
1. Dit is baie belangrik om met ‘n skerp mes te werk wat fyn snitte kan maak. ‘n Stomp mes sny vingers af!

2. Sny die lemoene in die helfte en druk die sap uit. Sny dan die skil af met van die witgedeelte in. Moenie die repies dikker as 5mm maak nie anders gaan jy baie lank kook.

3. Plaas nou die gesnipperde skille, pitte, water, lemoensap wat uitgedruk is in ‘n glas of plastiek bak en laat oornag staan sodat pektien onttrek kan word. 

4. Plaas die bestanddele in ‘n vlek vrye kastrol wat groot genoeg is om al die bestanddele met gemak te kan hanteer en sal oorkook nie. Kook dan die skille vir ongeveer 1 ½ uur tot 2 ure of totdat die skille sag is en met ‘n vuurhoutjie gepenetreer kan word. Indien jy nie die skil sag kook nie gaan dit taai en droog wees en jy kan nie die proses omkeer nie. Doen nou jou pektien toets deur na die nota’s te kyk oor “Tuisgemaakte Pektien” op die blog. Doen dan aanpassings indien nodig.

5. Voeg nou die suiker, gemmerstukke, suurlemoensap by en roer totdat die suiker goed opgelos het. Moenie die mengsel kook voordat al die suiker opgelos is nie, was die kante van die kastrol af met ‘n kwassie en skoon water die heeltyd om kristalvorming tee te werk.

6. Kook die mengsel totdat dit op ‘n suiker termometer ongeveer 105℃ wys of 20-30 minute. Toets die marmelade deur dit op ‘n koue pieringkie uit te gooi en dan te sien of dit set. Sodra die mengsel gereed is, verwyder van plaat en laat vir 5-8 minte afkoel voordat dit gebottel word. Indien jy te vinnig bottel mag die vrugte stukkie na bo dryf en daar bly en set as dit afgekoel het. Daarom dat die eindproduk dan nie eenvorming sal lyk nie. Onthou ook om die skuim die heeltyd af te skep. Voeg nou die whiskey by en roer goed deur. Plaas in gesteriliseerde warm glas bottels. 

7. Draai die bottels op hul koppe en laat so afkoel.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 3.5 liter

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking