Vrydag, 18 Maart 2016

Ouma Joyce se Groente sop

Ons het ‘n huishulp gehad wat ons help groot maak het, sy het van die lande gekom met net St1, maar so gewillig gewees om te leer. Net die feit dat sy kon lees en skryf het vir haar werelde oop gemaak. Haar naam is ouma Joyce Mokone en sy is my familie. My ma het haar leer groente sop maak, koekbak en alles van kosmaak. So het ouma Joyce deel van ons lewe geword en is nou al meer as 35 jaar deel van die familie. Sy was ook die een wat hierdie resep begin verander het tot wat dit vandag is.

Ouma Joyce en ek het altyd agter naby die asgat ons eie groente tuintjie gehad, so het ons probeer groente kweek vir die huis. Een van ouma Joyce se beste eienskappe was haar vrede liewende siel. Sy is kort en goed geset, ‘n breë bors waarteen menige baba van my aan die slaap geraak het as ek gaan kuier. Sy is lekker bekkig en sit jou gou op jou plek as jy verkeerd is. Sy is regverdig, werk hard vir haar kerk, en saam met my ma het die twee sop, koeksisters en koeke gebak om haar kinders deur die skool te kry. Ouma Joyce se kinders was slim en het almal verder gaan studeer. Dankie ouma Joyce vir jou liefde en omgee, jou gebede vir my en my gesin...God seën vir jou uit jou skoene!

Resep
1/2k Rooi soetrissies, gekap
1/2k Groen soetrissies, gekap
1/2k Ui, gekap
1k Seldery, blare en stokkies, fyn gekap
2k Wortels, gerasper
2k Botterskorsie, gerasper
2k Rape of radyse, gerasper
2k Aartappel, klein blokkies
2k Murgpampoentjies, gerasper
1/4k Olyf olie
4 liter water
5e Ina Paarman, Vegetable stock powder
2t Kerrie poeier, medium, rajah
3 Sopbene (opsioneel as jy vegetaries is)

Metode:
1. Plaas die aand voor jy die sop maak die bene in water om die vleis sappe te onttrek. Braai die soetrissies, ui en seldery saam met die kerrie poeier om geure te ontwikkel.

2. Voeg die res van die groente by en braai liggies.

3. Voeg die water en aftreksel by en kook totdat die groente sag is...ongeveer 'n uur.

4. Druk die groente effens fyner en voeg sout en peper na smaak by.

Bron: Joyce Mokone, 1999, www.bosenbergguestfarm.co.za
Lewer: Ongeveel 5-6 liter sop

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking