Donderdag, 03 Maart 2016

Lams Kofta

Hierdie wonderlike Lamsmaalvleismengsel maak die heerlikste Kofta's asook frikadelletjies! Daar is 'n yoghurt doopsousie by die resep wat oor die vleis bedien word. Tradisioneel word die dis saam met platbrode en ongesuurde brode soos Chapapti, Paratha en Roti of gesuurde brode soos Naan en Pita brood bedien. 

Die idee is dat die vleis in die "wrap" vasgehou word terwyl jy die stokkie uit trek, dan die sousie en ander groentes bo-op gesit na smaak. My kinders kan nie genoeg van hierdie eenvoudige kuierkos kry. Die rëel in die huis spel dit duidelik uit, daar moet ten minste 2 groentes saam met die platbroodjie en vleisie geëet word. Dit is so lekker dat nie een siel kla en die berge kos verdwyn soos mis voor die son.

Roti
Vleis
1kg Gemaalde Lamsvleis
50ml Sesam sade
1 Ui, medium, fyn gekap
5ml Gemmer, fyn
10ml Knoffel, fyn gedruk
5ml Sout
5ml Rissie poeier
10ml Gemaalde koljander
100ml Koljander blare, vars, gekap
1 Eier

Metode:
1. Meng al die bestanddele saam en roer goed deur.

2. Plaas sosatie stokkies vir paar minute in water. Weeg dan 100g-150g  vleis balletjies af en rol langwerpig. Plaas op ‘n bakplaat en laat dit in die vrieskas staan vir ongeveer 30 minute om te set.

3. Neem die vleis uit die vrieskas en vorm dit soos ‘n wors om die sosatie stokkie. Plaas in yskas en verhit pan.

4. Sodra die pan verhit is, voeg genoeg olie oor die vleis stokkies en smeer met kwassie oral oor. Plaas dan die stokkies twee-twee in ‘n pan en braai tot  half gaar. Ek verkies om eers my kofta’s in ‘n pan gaar te maak en dan verder direk oor die kole. As jy dit so doen sal daar nie stukkies vleis in die kole val nie. Seel dus eers die vleis voordat jy kole toe gaan. Moenie die stokkies aan die steeltjies optel as jy in die pan werk nie. Die hele gedoente kom los en dan sit jy met maalvleis onder in die pan. Gebruik ‘n spaan. Sodra jy kole toe gaan kan  jy die stokkie hanteer want dan het die vleis gestol.

Sous:
250ml Griekse styl of Bulgaarse styl yoghurt
100ml Peperment blare, vars, gekap
5ml Knoffel, fyn gedruk
30ml Olyf olie
1k Water
1t Suiker
sout en peper na smaak.

Metode:
1. Meng al die bestanddele saam en hou koud en bedien met roti’s of naanbrood met die kofta’s.

Bron: Naceema Patel, 2013, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6-8 porsies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking