Donderdag, 31 Maart 2016

Heuningkoek

My moedertjie het my geleer lekkergoed maak. Dit was die dae waar daar nie goeters soos suiker termometers beskikbaar was. Ek onthou die lang glaswater en dan die drup van die kokende suiker in die glas om die hardheid van die balletjie wat vorm te bepaal. Tegnologiese vooruitgang het my die kans gegee om my ma se resep bietjie af te stof en te restoureer!

Ja, ons praat van Crunchies soos in die binnekant van ‘n Crunchie sjokolade. Daar is baie resepte wat vra dat jy koeksoda in die kokende stroop sit en as jy nie jou storie ken nie, wel dan sit jy met seep! So het ek ander alternatiewe geraadpleeg en op ‘n dag op my ma se resep afgekom en ek het dit gemaak met ‘n breë glimlag in my hart! Ja, dit kry koeksoda in, maar dit proe nie soos seep nie!

Resep
¼ t Gelatien
10ml Water
300g Wit suiker
125ml Glukose- of Goue stroop
125ml Water
12.5ml Koeksoda (sif asb deeglik om klontjies te verwyder)

Metode:
1. Ek is maar lui vir die smeer van panne, so ek span maar waspapier in vir die takie. Gebruik ‘n bak van ongeveer 15cmx15cm. Net glas of metaal is geskik vir hierdie projek.

2. Sprinkel die gelatien oor 10ml water en laat dit staan sodat die gelatien kan hidreer.

3. In ‘n vlekvrye staal kastrol wat redelik diep is, meng die suiker, glukose stroop en water saam. Verhit die mengsel oor medium hitte en roer totdat al die suiker opgelos het. Was die kante versigtig met ‘n kwassie wat in water gedoop is af. Sodra al die suiker opgelos het, kook die mengsel sonder om te roer totdat jou suiker termometer 153℃ lees.

4. Verwyder die stroop van die hitte en laat dit vir 2 minute afkoel of totdat die borrel opgehou het. Voeg nou die gelatien by die mengsel, wees versigtig die mengsel gaan op kook en jy kan lelik brand. Werk vinnig met die ballon klitser en werk die gelatien deur. 

5. Nou vir die deel waar jy gaan skuim maak, jy kan hier ook brand. Sprinkel die koeksoda eweredig oor die oppervlakte van die suiker stroop. Moenie die koeksoda in een hoop gooi nie!!! Klits die mengsel so vinnig as wat jy kan met die ballon klitser en plaas die kastrol terug op die hitte en klop weer vir halwe minuut. Die storie gaan woes skuim...moenie skrik, dit moet so wees.

6. So gou as moontlik keer die inhoud van die kastrol uit in die uitgevoerde bak. Jy sal sien dat die hele suiker besigheid in een blob uit die pot sal val. Jy het nie nodig om dit uit te skep nie. Moet ook nie poog om die mengsel eweredig te versprei nie. Laat dit net so anders druk jy die lug uit. Laat die mengel staan vir 2 ure of langer voordat jy dit uit die pan haal.

7. Nou vir die breek en sny slag. Dit is ‘n storie der stories om hierdie outjie in netjiese stukkies te sny! Ek het op ‘n keer my man se vleis saag ingespan om die blokkies mooi eweredig te sny. Dus, gebruik ‘n mes met tandjies om die besigheid te sny. Maak eers ‘n snytjie om die lyntjies in te trek. Jy hou aan om so te “score” totdat jy onder uit kom. Of as jy lui en belustig is...wel dan laat jy die bak val op die toonbank sodat dit kan kraak!

8. Plaas in ‘n lugdigte houer. Ek sprinkel rysmeel onder in die bak want dit absorbeer baie van die vog wat in die lug mag wees en voorkom dat die gedoente aan mekaar vasplak of smelt.

9. Jy kan ook die stukke in sjokolade doop!!! Sprinkels opsit! Aaag dit is sommer net ‘n heerlike projek waar jy die kinders kan betrek.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 750ml bottel vol.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking