Dinsdag, 22 Maart 2016

Growwe Karringmelk beskuit met 'n Les

Ek is lief vir my beskuitjie in die oggend en dan weer by 15h00 middag koffietjie. Maar deur die jare sien mens al hierdie dieete wat verby kom en weer ‘n stille dood sterf. Eending is verseker mens kan nogsteeds gesond eet en op ‘n natuurlike manier jou dieet aanvul.

Ek gebruik deesdae gemaalde roulynsaad (Milled Flaxseeds) in my beskuit resepte. Hierdie sade is baie ryk aan Omega’s en verder wanneer dit vog kry swel dit uit. Dus voel jy gouer versadig deur hierdie wonderlike saadjie jou dieet in te sluit. Ongelukkig as jy dit in die onverwerkte formaat gebruik kan die omga’s nie ten volle ontsluit word en jou liggaam absorbeer nie soos wat dit moet. In die gemaalde vorm (jy kan self die sade tuis fyner kap) is die olie ontsluit en kan dit dadelik in die spysverteringstelsel absorbeer word. 

Nog ‘n belanrike feit van omega’s is dit verskaf elektriese geleiding tussen die breinselle...ja, hoeveel keer het ons nie al goed vergeet en kan nie onthou waar ons dit gesit het? Wel, omega’s help met dit. Verder voorkom dit hartvatsiektes en help ons are mooi skoon hou van aanpaksels wat later ander slegte gesondheids toestande tot gevolg kan hê. Dus eet jou liggaam gesond! 

Tekstuur probleme?
Onlangs het ek die navraag gekry van beskuit wat baie hard uitkom. Wel, paar dinge kan fout wees. Begin om na jou rysmiddel te kyk. Ek sit altyd koeksoda as veiligheidsnet in al my gebak. Vir elke 1kg meel wat gebruik word sit ek 5ml Koeksoda by. Ek bly weg van Bruismeel omrede ek al paar keer probleme gekry het. Op die blog het ek vir julle ‘n resep op gesit om jou eie te maak. Loer gerus. 

Die tweede probleem vir ‘n harde beskuit is die margarien wat jy gebruik. Onlangs ontdek ek dat ‘n lid gewone broodjie smeer gebruik. Jy kan net bak margariene gebruik, daar staan op die baksteenagtige blok “bake”, Rama of Stork werk vir my persoonlik baie goed. Maar botter bly die beste. 

Wanneer ons na die derde faktor gaan kyk wat die tekstuur van beskuit kan beinvloed dan is dit die karringmelk wat gebruik word. Amasi is puik want dit is suurmelk en suurmelk is Karringmelk soos ons dit deesdae ken. Oor hierdie punt sal ek ook nog ‘n artikel skryf, want wat ons as karringmelk koop is suurmelk, ons word deur die mark gekondisioneer om verkeerd te leer. Terug by die punt, ek vind dat mense asyn by melk gooi en dan het jy karringmelk, jong nie eintlik reg nie. Jy moet die melk eers verhit, dan die suur by gooi, dan skei die melk dan het jy suurmelk. As jy dit nie so doen nie gaan jou beskuit soos ‘n baksteen wees en nie eens die koffie of tee waarin jy dit doop gaan dit sag maak as dit ‘n volkoring beskuit is.

Resep
500g Botter of Bak margarien
400g Treacle sugar (sagte bruinsuiker)
2 Eiers geklits
500ml Karringmelk
1kg Koekmeel
20ml Bakpoeier
5ml Koeksoda
5ml Sout
200g Allbran flakes
75g Semels
120g Roulynsaad gemaal of 90g heel roulyn sade (Flax seeds)
90g Neute van keuse of Rosyne of enige gedroogde vrugte
50g Klapper

Metode:
1. Smelt die botter en sagte bruinsuiker saam en laat dan afkoel tot lou warm.

2. Klits die eier met die karringmelk en roer by die margarien mengsel.

3. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg die res van die droeë bestanddele by en meng goed deur. 

4. Voeg nou by die droëe bestanddele die karringmelk mengsel en roer totdat al die bestanddele goed gemeng is. Moenie te veel meng nie, jy wil nie gluten ontwikkel nie. As jy te veel meng gaan jou beskuit sy krummelrige tekstuur verloor. As daar nog wit dele sigbaar is, nie te kommer...dit moet so wees.

5. Druk in 30x40 cm pan of twee oondpanne. Sny die vingers vooraf en bak by 180℃ vir 45minute. Half pad met baktyd draai die panne om sodat dit eweredig bruin kan bak.

6. Laat goed afkoel en sny die vinger binne in die pan. Keer uit. Voer jou oond aan die onderkant met foelie uit. Pak dan die beskuit op die draad rakke van die oond uit en droog by 100℃ vir ongeveer 3-5 ure afhangende van die area waar jy woon. Onthou om die oond deur op ‘n skrefie oop te hou sodat die vog kan ontsnap. Kus gebiede neem langer. Laat vingers goed afkoel voordat jy verpak.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016 
Hoeveelheid: 66-70 vingers

1 opmerking:

  1. Na aanleiding van die kommentaar oor karringmelk by die tekstuur probleme. Kan 'n mens ongegeurde en onversoete jogurt in plaas van karringmelk gebruik? Jogurt het ek altyd in die yskas maar vir karringmelk moet ek eers winkel toe gaan.

    AntwoordVee uit