Donderdag, 03 Maart 2016

Gedroogde Perske Blatjang

Ek het altyd onthou hoe my ma gekla het as die perske blatjang klaar geraak het en sy wil dit bedien met haar heerlike kerries. Dan het sy haar vrieskas oop gemaak en die gedroogde perskes wat sy die vorige seisoen sorvuldig gedroog het, begin verwerk in perske blatjang. Ek het later jare baie bederf geraak met die gedroogde weergawe dat ek nie meer my mond wil sit aan vars perske blatjang nie. Ja, dit is duurder, maar as jy dit eers geproe het, wel dan kan Mrs Ball’s nie kers vashou by ma se resep!

In die resep praat ek van ‘n piekel speserye bondeltjie. Die bondeltjie bestaan uit ‘n stukkie gaas of kaasdoek wat die speserye bevat, dit word toe gebind en bly in die mengsel tot aan die einde waar dit dan verwyder word, voordat die eindproduk gebottelleer word. Die mooi naam vir hierdie tegniek is Bouquet Garni.

Resep
900g Perskes, gedroogde formaat
150g Rosyne
1.5 liter Bruin druiwe asyn 
1.5 liter Witwyn asyn
2 ½ kg Wit suiker 
500 g Uie, fyn gekap
120 g Sout 
5 g Cayenne peper 
5g Chillie flakes
5g Knoffelvlokkies
5g Swart peper korrels, grof gemaal
20g Piekelspeserye in bondeltjie gebind

Metode:
1. Week vrugte oornag in die druiwe asyn met die Piekelspeserye bondeltjie. 

2. Kook dan in asyn tot sag en dreineer die asyn en hou eenkant om later weer te gebruik. 

3. Maal in klein stukkies in 'n meul of gebruik ‘n voedsel ververwerker om die perskes fyn te kap. Ek persoonlik hou van growwe blatjang, dus maak ek die mengsel nie so fyn nie...maar dit is persoonlike keuse en sal nie die eindproduk nadelig beinvloed nie.

4. Los die suiker in die asyn wat jy terug gehou het op en voeg dan die vrugte en die uie by en kook vir 2-3 ure totdat die mengsel verdik het na jou keuse. 

5. Voeg die geurmiddels by en roer goed deur en kook vir verdere 5 minute. Haal van plaat en laat 5 minute staan voordat jy dit warm bottel in warm gesteriliseerde flesse.

6. Draai die botteltjies goed toe, draai op hul koppe om af te koel. Rede hoekom dit op hul koppe gedraai word: Die waterdamp wat vorm is ‘n teelaarde vir bakteriĆ« wat die produk kan laat bederf. Dus as die botteltjie omgedraai word deur higroskopiese aksie sal die waterdamp se vog eweredig deur die hele mengsel versprei. Ek gee elke botteltjie in elk geval ‘n skud as ek dit omdraai om die vog eweredig te versprei.

Bron: Hantie Bezuidenhout, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za


Hoeveelheid: 2kg se eindproduk.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking